Geliefde heler. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Geliefde heler - Malene Breytenbach страница 5
Naomi se kilheid het verdwyn en sy wou lag toe sy die woord “poes” hoor. Daar het die oulikste kuiltjie by haar een mondhoek ingeduik. Wat in Afrikaans ’n vloekwoord is, is die aanvaarde term in sy land.
“Hier in Suid-Afrika gebruik hulle nie die woord ‘poes’ nie, maar ‘kat’,” het hy vir sy mense verduidelik. “Die woord ‘poes’ het ’n ander betekenis.” Hy moes sy lag inhou.
Daphne het omtrent oorreageer, maar haar oë swel op as ’n kat naby haar kom. Pragtige katte, darem. Hy hou nogal van katte en gee nie om dat hulle hier is nie. Solank dit nie vir Daphne op loop jaag nie.
Boonop gaan die wyfie een of ander tyd kleintjies kry. Maar dis Naomi se probleem, nie hulle s’n nie.
“Sjef, die ete was voortreflik,” sê Geert vir die man toe hy die nageregbakkies verwyder. “Ons het heerlik geëet. Nè?” Hy kyk na sy ouers.
“Heerlik, ja,” beaam sy ma.
“Heel goed,” sê sy pa.
Die kos was so goed dat sy foutvinderige pa sowaar met niks kon foutvind nie.
“En jy?” vra Geert vir Daphne.
“O ja, ook heel goed.”
Behalwe dat sy nie juis gesmul het nie. Dit het vir hom gelyk asof sy bloot die kos in haar bord rondstoot. Maar sy is ’n klein eter en haar pragtige lyf getuig daarvan.
“As dit hier so geil gaan, kan julle my gerus weer nooi,” lag Lood.
“Ek is bly julle het dit geniet,” sê die sjef.
Hy is blykbaar “chief cook and bottle washer”, het sy pa nog gespot, dink Geert. Bedien sommer aan tafel ook. Die man het vanaand hard gewerk. Hy moet hom beloon. Dis net hy en die huishoudster, Noekie, wat alles behartig. Daar is darem ’n tuinwerker wat alles buitekant, die swembad inkluis, netjies hou.
Hy kry die indruk dat Noekie, wat glo al lank by tant Merel werk, nie vandag te gelukkig was nie. Omdat sy voor ete Daphne se klere moes stryk toe sy eintlik al wou huis toe gaan? Hy gaan verneem waar die naaste wassery is en van nou af sal hulle al hul klere daar laat was. Die huishoudster het seker te veel werk om dit ook nog te behartig. Hy moet met sy moeder en vader en veral met Daphne praat. Hier kan hulle nie sommer verwag om die dienste van ’n groot personeel te hê wat hulle by die huis as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is ook nie ’n hotel nie.
Sy ma voel aan haar hare. “Ek sal môre na die haarkapper gaan wat Merel aanbeveel het.”
“Ek sal saamgaan,” sê Daphne dadelik.
Geert hoop net die haarkapper is nie vol bespreek op ’n Saterdag nie, anders gaan dit lol. Albei die vroue is baie gesteld op hul voorkoms.
“Kan jy verbeter op hoe jy reeds lyk?” vra Lood vir Daphne.
Sy glimlag gevlei. “Og ja, heelwat,” sê sy guitig.
Lood is nog heelaand baie sjarmant met haar, maar Daphne het dié uitwerking op mans. Hulle dans om haar. Dit is nou maar iets wat hy moet aanvaar. Eintlik vlei dit hom dat sy so deur almal bewonder word, maar sy behoort aan hom.
Hy wou haar gehad het. Hy het Elsje vir haar verlaat. Daphne is die meeste mans se droomvrou.
Geert klim uit die swembad, droog hom af en strek hom met ’n behaaglike sug op die lêstoel uit. Gelukkig kon sy ma en Daphne afsprake by die haarkapper in die dorp kry en sy pa het hulle met tant Merel se Mercedes soontoe geneem.
Hy moet oor ’n uur of so na Lood se spreekkamer gaan. Intussen geniet hy die warmte van die son op sy vel. Die sonskyn is een van die voordele van Suid-Afrika. In Europa is dit nou winter en bitter koud. Hier in die warm suide sal sy wit vel gou genoeg kleur kry.
Dié tyd van die jaar gaan hulle en Daphne gewoonlik na die suide van Frankryk of Spanje. Suid-Afrika sal vir hulle ’n heel nuwe belewenis wees.
Hy hoor iets agter hom en kyk om. Dit is Naomi, in ’n swart baaibroek en kort wit-en-swart jakkie, met ’n veelkleurige strandhanddoek oor haar arm gedrapeer. Hy kom orent.
“Dag.”
Sy lyk asof sy skrik. “Môre, ek het gedink julle is almal uit.”
“Nee, net die ander. Ek moet binnekort spreekkamer toe gaan, maar ek wou net eers afkoel. Ons klomp Kase is nog nie gewoond aan dié hitte nie.”
Sy glimlag vir sy grappie, maar bly staan, asof sy onseker is wat om te doen. Die jakkie is oop voor en die gedeelte van haar lyf wat sigbaar is, is slank met net die regte rondings. Haar bene is goed gevorm en sy is mooi sonbruin. Kyk hoe blink daardie hare. Sy is wragtig ’n lus vir die oog. Dit doen iets aan sy lyf. Nee, hy mag nie so reageer nie, betig hy homself streng.
“Moenie skaam wees nie, jy kan gerus kom swem,” terg hy. “Moenie dat ek jou keer nie.”
Sy bloos sowaar. Vinnig beweeg sy na die ander lêstoel en sit haar handdoek neer. Hy kan sien sy is selfbewus en dit amuseer hom. Hy kan die glimlag nie van sy gesig afhou nie. “Ek gaan die warm somer geniet terwyl ek hier is.”
“Ja, sonnige Suid-Afrika is seker lekker vir oorsese besoekers.”
Sy kyk nie na hom nie, trek net haar jakkie uit. Nou sien hy duidelik die slanke nek, die regop rug. Sy beweeg met die grasie van ’n danser. Dalk het sy op ’n tyd ballet geneem? Sy oë volg haar na die swembad. Sy duik in en swem met lang hale na die oorkant, draai en kom terug. Daphne sal nie sommer in ’n swembad duik nie; haar grimering sal afwas en sy is versigtig vir haar hare.
Naomi klim na ’n paar lengtes uit. Haar hare is vasgeplak teen haar kop en hang in nat slierte teen haar nek. Sy het geen grimering aan nie; haar nat wimpers koek saam. Sy is soos die Nereïde, die seenimfe in die Griekse mitologie.
Moenie verspot wees nie, Geert Bouwman, dink hy. Maar hy kan homself nie help nie. Hy staar na haar en sy word selfbewus. Hy kyk weg, maar loer sydelings na haar. Sy droog haar af, skud haar hare en vryf dit droog. Hy dink sy gaan sit, maar sy tel haar jakkie op en glip dit aan. Nee, sy wil vlug. Hy moet haar keer.
“Gaan jy nie eers sondroog word nie?” vra hy. “Jy sal ’n nat spoor in die huis los.”
Sy huiwer, kyk na hom – onwillig en nogal geirriteerd. So asof sy dink dis haar ruimte dié en hy verjaag haar. ’n Indringer wat dit vir haar kom bederf.
“Ag, goed, ek sal seker eers ’n rukkie in die son kan lê. Ek is vandag en môre af, nou ontspan ek.”
Sy trek weer die jakkie uit, hang dit saam met die handdoek oor ’n stoel en gaan strek haar ook op ’n lêstoel uit.
“Af?” vra hy. “Jy sê skilder is net ’n stokperdjie. Wat is jou nering dan?”
Sy draai haar kop en die groot donkerbruin oë kyk direk na hom. Dit laat sy polsslag effens versnel.
“Ek is ’n verpleegster by die Medihelp. Eintlik ’n teatersuster.”
Hy kyk verbaas na haar. “Teatersuster? Tante Merel het my niks daarvan vertel nie. As ek opereer, gaan ek jou seker daar