Geliefde heler. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Geliefde heler - Malene Breytenbach страница 6
Een van die wit katte kom aangeloop. “Kietsie,” roep hy. Die kat is glad nie skaam nie en kom sommer dadelik nader vir aandag. Gelukkig is Daphne nie nou hier nie. Hy streel die dik pels dat die kat spin. “Pragtige kat.” Hy durf nie die ander woord gebruik nie.
Naomi reageer nie; lê net daar met toe oë.
Met ’n sug staan hy op. “Ek moet seker gaan. Terloops, jy kan gerus vanaand saam met ons eet. Mits jy nie ander planne het nie.”
Haar oë gaan oop en sy kyk na hom. “Ek … nee, ek …”
“Ag toe, ons sal jou nie opeet nie,” terg hy.
“Nou goed dan … Ek gaan nie vanaand uit nie.”
Aha. “Kom drink eers saam met ons skemerdrankies, so teen sesuur. En jy kan gerus môre ook saam met ons kuier.”
“Wel … mits ek nie uitgaan nie.”
Sy klink nie geesdriftig oor die uitnodiging nie. Wat is dit met haar? Wou sy dalk môre saam met ’n man uitgaan? Watter man is so gelukkig om haar te kry?
“Tot later dan,” sê hy.
“Tot later, dokter.”
“Ag nee, jy kan my gerus Geert noem.”
’n Klein fronsie keep tussen die mooi gevormde donker wenkbroue. “As jy wil … Geert.”
Hy glimlag en loop. Dit was omtrent nodig om ’n afspraak met haar te maak. Sy sou seker nie andersins vanaand haar gesig gewys het nie. Sy is soos ’n pragtige wilde katjie wat ’n mens moet vang. ’n Katjie wat sommer sal byt, en naels het wat terugtrek en soms uitkom om seer te krap.
Hy draai sy handdoek om sy onderlyf en loop met lang treë die huis in.
Hy sou darem graag nog ’n rukkie na haar wou sit en kyk.
3
Naomi trek ’n wit T-hempie, denimromp en plat sandale aan. Sy het gestort en hare gewas en stileer dit om blink en reguit tot op haar skouers te hang. Sy wend ligte grimering aan en dra silwer oorringe. Nie te sleg nie, Naomi, dink sy toe sy in die spieël kyk – maar jy gaan in elk geval afsteek by die blonde godin.
Nie dat sy enigiemand wil beïndruk nie.
Suzy Wong sit naby haar. Die kat lyk ongemaklik met haar groot magie. Sy kyk na Naomi. “Wat sien jy?” vra Naomi. “Lyk ek darem oukei? Jy moenie naby daai Daphne gaan nie, hoor. Sy gee reeds genoeg probleme. En pas op vir suur ou Jan-Karel. Hy hou nie van diere nie. Sê vir Ching Wong hy moet ook van hulle af wegbly, hoor.”
Sy kan sweer Suzy Wong lyk moedswillig. Asof sy te kenne gee dis mos haar en Ching Wong se huis dié. Waarom kan hulle nie gaan waar hulle wil nie?
Naomi kyk by die venster uit. Die klomp Nederlanders sit naby die swembad by ’n tafel waarop drankbottels staan, elkeen met ’n glas in die hand. Sy moet seker nou afgaan, langer kan sy dit nie uitstel nie.
Toe sy uitstap, sien sy dat sjef Dwayne doenig is by die braaiplek aan die punt van die stoep. “Braai jy vanaand vir ons?” vra sy glimlaggend.
“Ja, Naomi. Die mense wil ’n tradisionele Suid-Afrikaanse braai hê.”
“Gaan jy vir hulle poetoepap voorsit?”
Hulle kyk betekenisvol na mekaar en lag.
“Ek sal dit nie waag om sommer vir hulle straight pap te bedien nie,” sê hy saggies en knipoog. “Ek maak ’n paptert met kaas en groente.”
Naomi giggel saggies. “Heerlik. Dankie, Dwayne. Nou moet ek myself seker gaan oulik hou by die mense, en ek het nie juis lus vir hulle nie.”
Hy grinnik. “Hulle is ’n lekkerbekkige en veeleisende spul. Die dok is darem oukei.”
O, is hy? dink Naomi.
Sy loop na waar die Bouwmans en Daphne sit en gesels. Sy is gespanne, want om Geert weer te sien, verg rugstyfmaak. Sy is sommer vies vir haarself. Waarom is sy so vatbaar vir sy manlikheid? Hoe kan sy so swak wees? Sy sien dat Daphne se hare reguit gemaak is en in ’n ligblonde waterval om haar kop hang. Mathilda Bouwman se grys hare is styf gestileer, nie een haar uit sy plek nie.
“Hallo, julle twee lyk mooi,” sê sy om haar ongemak te verdoesel.
“Dank je wel,” sê Mathilda glimlaggend.
Daphne vat egter aan haar hare en trek aan ’n stukkie, haar gesig fronsend geplooi. “Dis nie so goed soos waaraan ek gewoond is nie, maar nou ja, ons is in Afrika, hè.”
Naomi moet haar ergerlikheid sluk. Natuurlik sal dié vrou fout vind en die “derdewêreldstandaarde” beklemtoon.
“Og nee, dit lyk tog heel leuk,” berispe Mathilda. “En die haarkapper was heel professioneel, die salon deftig. Merel sal tog nie by ’n tweederangse plek laat hare versorg nie.”
Daphne trek net haar een mondhoek af.
Naomi kyk hoe die mans reageer. Jan-Karel lyk vaagweg geïrriteerd, maar dis niks nuuts nie. Geert is besig om haar noukeurig te beskou asof hy nie gehoor het wat Daphne sê en ook nie omgee nie. Hy dra ’n donkerblou kniebroek en ligblou hemp wat sy oë se kleur beklemtoon. Sy bene is wel nie bruingebrand nie, maar fris. Daar is sandale aan sy groot voete. Waarom moet die man tog so onmoontlik aantreklik wees? Sy kan hom skaars direk aankyk.
Sy voel ’n vreemde fladdering in haar onderlyf –wat sy met mening onderdruk. Sy mag nie, wíl nie so op die man reageer nie.
Hy staan op. “Wat drink jy?”
Naomi gaan sit op ’n stoel en kyk na die drank. “Ek sal van daardie sauvignon blanc neem, asseblief.”
Hy skink vir haar. “Dankie,” sê sy, maar kyk by hom verby.
“Geert vertel ons jy is ’n verpleegster,” sê Jan-Karel met geboogde grys wenkbroue wat Naomi die indruk gee dat hy nie veel van dié beroep dink nie. Woede begin in haar binneste opborrel.
Sy moet haarself dwing om koel en kalm te antwoord: “Ja, ek is ’n teatersuster.”
“Is jy lief vir jou werk?” vra Mathilda, vriendelik-belangstellend.
“Baie lief. Ek weet ek help my medemens. Dis nie sommer net vir my ’n werk nie, dis veel meer.”
“Og, dis nou iets wat ek nooit sou wou doen nie,” sê Daphne neerhalend. Haar rok se hals is so laag dat Naomi nie kan help om daarna te staar nie.
“Waarom nie?” vra Naomi. Sy moet haar groeiende ergerlikheid omtrént sluk.
“Dis so ’n vuil werk – bedpanne en mense skoonmaak en medisyne gee …”
Nou