Schalkie van Wyk Keur 15. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 15 - Schalkie van Wyk страница 12
Briand skud Sunette se hand van syne af, kruis sy arms oor sy bors en sê verskonend: “Ek is jammer, ta Trynie. Ek het met behulp van die twee lere in julle erf geklim en die voordeurklokkie gelui, maar toe kom die … e … die meisie en dring daarop aan dat ons Kayla verras. Ek is Briand Olivier, ta Trynie. Ek hoop tannie is bly om my te ontmoet. Ek sal nou in die sitkamer gaan wag.”
“Staan, Briand-broertjie!” beveel Trynie, beskou hom van kop tot tone en kom tydsaam orent. Sy draai na Kayla met ’n salige glimlaggie wat om haar mondhoeke plooi. “Verbeel ek my, liefietjie, of is die man langer as ek?”
“Hy is definitief ’n paar sentimeters langer as tannie,” bevestig Kayla Trynie se vermoede en glimlag toe sy die uitdrukking van verwarring op Briand se gesig merk. “Ta Trynie gaan stap graag saam met mans wat langer … e … met lang mans, Briand. Sy sal jou uitnooi om saam met haar inkopies te gaan doen en om Sondag saam met ons kerk toe te gaan.”
“Ek is ook dol op lang mans … veral lang blonde mans met valkoë wat dwarsdeur my kyk en my koue bewerasie op my maag gee,” sê Sunette hees en kyk van onder haar flikkerende wimpers na Briand.
“’n Knippie koeksoda in asynwater sal jou maagkwaal vinnig genees, Sunette. Jy sal die bestanddele in my kombuis kry, maar bly uit my spens en my koekblikke uit. En kry jy daarna nog koud, klein oorlas, sal ek vir jou ’n trui leen,” sê Trynie ongeduldig en wend haar tot die stilswyende Briand. “Ek is bly om jou te ontmoet, Briand, veral nadat Kayla jou omgery het.”
“Wanneer het dit gebeur? Hoekom het jy my nie daarvan vertel nie, Kayla?” vra Sunette afgehaal, kyk na Briand en vervolg met ’n waarderende glimlaggie: “’n Man van staal – hy het nie eens ’n skrapie aan hom nie. Ek dood oor ’n man met spiere!”
“Sunette,” begin Trynie, haar stemtoon ’n onheilspellende gerammel in haar bors, “ek het jou vanoggend ontsien, maar ek breek die professortjie se kosbare porseleinborde op jou kop as jy nog een woord met Briand praat. Die jong man is ons gas, nie joune nie. Verstaan ons mekaar?”
“Ek sal nie name noem nie,” praat Sunette met die naaste skildery teen die muur, “maar ek mag seker hardop wonder of daar vir my ’n blyplekkie in die buurhuis sal wees, want hier in Huis Kanferfoelie sal iemand my in my slaap vermoor en my liggaam in die kelder tussen die spinnekoppe en rotte begrawe.”
“Sover ek weet, is al die kamers verhuur,” antwoord Briand, knipoog vir Kayla en wend hom tot Trynie. “Oom Sebastiaan het my gestuur om te hoor of tannie sal omgee as hy en Sheilah en Ben liewer hierheen kom om koffie te drink – as hulle mag. Sien, oom Sebastiaan bekommer hom oor tannie se veiligheid, want die motorfietsryers het nou ’n nuwe speletjie: hulle jaag die een ná die ander by die voorhek uit, ry heen en weer in die straat, en jaag terug huis toe. Dis soos oom Sebastiaan sê: die verkeer is nogal hewig voor die buurhuis.”
“Ag, hoe uiters bedagsaam van die goeie Sebastiaan,” sê Trynie. “Sebastiaan en sy mense is meer as welkom, Briand, en ek hoop jy sal ook saamkom. Jy en Kayla gesels juis so lekker.”
“Ek sal graag oorkom, dankie, ta Trynie. Ek probeer nog om Kayla te oorreed om my assistent te wees, maar sy verkies om prentjies te teken,” skerts hy.
“Ta Trynie, mag ek nou asseblief praat?” versoek Sunette bedees.
“Ja wat, stout kind, want stilbly, kan jy nie. Moet net nie verwag dat ek jou gaan uitnooi vir middagkoffie nie, want ek wil die kuiertjie saam met my bure geniet, nie versondig word nie.”
“Ek verstaan, ta Trynie,” antwoord Sunette met ’n soet stemmetjie. “Ek en Kayla sal nie hier kan wees nie, want ek het vir ons werk by ’n restaurant gekry, en ons skof is van vier tot middernag … of dalk later, hangende af hoeveel kliënte ons het en hoe laat hulle saam kuier en drankies …”
“Oor my dooie liggaam!” onderbreek Trynie haar streng. “Ek meen ek praat namens Annelize ook, want sy was destyds met vakansie toe julle twee stouterds skelmpies saans in ’n restaurant gaan werk het – kamma om ekstra sakgeld te verdien. Kaylatjie, jy weet voor jou siel jou tannie sal nooit toelaat dat jy laatnag ’n spul beskonke en vatterige mans in ’n restaurant bedien nie.”
“Wag nou, tannie,” pleit Sunette voordat Kayla kan reageer. “Dis ’n deftige restaurant en as die manne getrek raak, gee hulle groter fooitjies. ’n Ouerige oom het my een aand al die note in sy beursie gegee: ’n hele duisend rand! Kayla, dink net hoe vinnig sal jy vir jou ’n vliegkaartjie kan koop!”
“Ek sal nooit ’n suksesvolle kelnerin kan wees nie, Sunette,” keer Kayla. “Ek weet jy sê dis net toneelspel, maar ek weet nie hoe om met wildvreemde mans te flankeer en boonop toe te laat dat hulle kamtig per ongeluk aan my raak nie. Ek het nooit sulke groot fooitjies soos jy gekry nie.”
“Ek sal jou help om werk te kry, Kayla,” sê Briand, opsigtelik in sy skik met Kayla se reaksie. “Ons kuier netnou weer. Tot siens, ta Trynie. Baie dankie dat tannie nie omgee dat ons oorkom nie.”
Sunette wag ongeduldig dat Briand groet en die eetkamer uitstap en sê pleitend aan Kayla: “Ons het dan besluit om alles saam te doen, vriendin. Ons kan ons fooitjies deel as …” Sy swyg verward toe sy driftige voetstappe in die gang hoor nader kom.
“Daardie man!” sê Annelize en storm ontsteld die vertrek binne. “Ek weet wie hy is en ek wil hom nooit ooit weer in my huis betrap nie!”
4
Kayla en Trynie staar Annelize verbysterd aan, net half bewus van Sunette wat gretig nader tree aan Annelize en plegtig beloof: “As ek hier in Huis Kanferfoelie saam met tannie-hulle kom woon, sal ek persoonlik sorg dat Briand Olivier nooit weer sy voete in tannie se huis sit nie. Is Briand ’n misdadiger, tannie Annelize? Word hy deur die polisie gesoek? Wie het hy vermoor?” Haar oë rek dramaties en sy vervolg benoud: “Ons sal nie seker wees van ons lewens solank as wat die moorddadige Briand op vrye voet is nie!”
Annelize kyk na Sunette met ’n byna tasbare ergernis en beveel ysig: “Sunette, gaan weg … hoe verder weg, hoe beter. Ek het ’n persoonlike saak om met my huismense te bespreek en jou teenwoordigheid is beslis nie welkom nie. Stap, dogter!”
“Ek sou sê tannie kon darem ’n klein bietjie dankbaar gelyk het ná my groothartige aanbod om Briand hier weg te hou,” sê Sunette geraak en vervolg verwytend: “Ek sal oudergewoonte in die kelder gaan wegkruip en hoop die rotte vreet my nie lewend op nie. Kayla, kom soek my asseblief voordat net my kaalgevrete geraamte oorbly.”
Trynie wip orent en kry Sunette aan die arm beet. “Jy, skepseltjie, is veronderstel om in ’n restaurant te gaan werk en sakke vol fooitjies te verdien. Ek sal jou na die voordeur vergesel en die deur agter jou sluit en grendel.”
“Tannie kneus my sensitiewe velletjie!” protesteer Sunette luidkeels. “Los my arm, ta Trynie! Ek het van die werk in die restaurant vergeet, maar ek ry nou dadelik. Kayla kan my later van julle kriminele buurman vertel.”
Trynie bly in die eetkamerdeur staan, luister na Sunette se vinnige voetstappe en die toeklap van die voordeur, en draai dan met ’n ontstoke uitdrukking na Annelize. “Pleks dat jy Sunette se afstandbeheer terugeis sodat sy ons nie dag en nag kan pla nie, maak jy sinlose wette asof jy skielik ’n parlementslid geword het. Wat knaag aan jou siel, professortjie? Vir wat kies jy nou skielik my en Kayla se vriende vir ons?” vra sy omgekrap.
Annelize