Schalkie van Wyk Keur 15. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 15 - Schalkie van Wyk страница 8
“As tannie weier om koeksisters te bak, vertel ek tannie niks van die omie met die blou-blou ogies en die skaam glimlaggie nie,” antwoord Kayla vermakerig.
“Sê jy jy het my … e … ons goeie buurman vanoggend omgery, my sussie? Maar ’n man van sy jare en sy postuur sal … Ek meen nou maar, hy lyk nie vir my soos ’n man wat graag voor sonop op ’n fiets sal wil rondjaag nie,” sê Trynie met verslae ongeloof. Haar oë rek bekommerd. “Hoe erg is die arme man beseer, Kaylatjie? Kon jy hom darem terughelp huis toe?”
“Die man wat met sy fiets in my motor vasgery het, het gister by die pa- en ma-hippies gekuier, ta Trynie. Sy naam is Briand Olivier en hy het my van die omie met die blou-blou ogies vertel. Die omie se naam is Sebastiaan van Oldenbarneveldt.” Kayla moet op haar onderlip byt om nie te giggel oor die naam nie. Sy sien hoe Trynie eers diep beïndruk na haar kyk en dan met ’n uitdrukking van verwondering op haar gesig nikssiende voor haar uitstaar.
“Ek was ook sprakeloos toe ek die kleinerige omie se groterige naam gehoor het, ta Trynie,” sê Kayla simpatiek.
“Sprakeloos, ja, Kaylatjie. Die goeie man se naam klink so adellik: Sebastiaan van Oldenbarneveldt,” antwoord Trynie eerbiedig en beklemtoon elke lettergreep. “Ek kon sommer met die eerste oogopslag sien Sebastiaan is ’n man uit een stuk, edel van inbors en waarskynlik uit die adelstand gebore. Sebastiaan sal elke meisie en vrou met die grootste respek behandel, want hy het innerlike adel.”
“Dis waar, tannie. Oom Sebastiaan behandel ook sy kaalvoetsuster met die grootste respek,” stem Kayla saam.
“Sy wát, liefie? Agge nee a, moenie jou laf hou nie, kind. Vir wat sal my … ons Sebastiaan se suster sonder skoene loop?” vra Trynie ergerlik.
“Omdat sy ’n hippie – ’n blommekind – is, my tannie. Onthou tannie nie die ma-hippie met die lang grys hare en die kaal voete nie? Haar naam is Sheilah Stassen en sy is oom Sebastiaan se suster. Briand het my vertel Sheilah het jonk getrou om van haar ontsagwekkende van ontslae te raak,” vertel Kayla bedees.
“Ja, toe, sussietjie, die beste families het swart skape,” keer Trynie. “Nie dat ek dink die goeie Sheilah is ’n swart skaap nie. Sy en haar ou man is nou wel brandmaer, maar hulle lyk nie soos daggarokers of mense wat drank misbruik nie. Ek sou sê hulle is sagmoedige, vredeliewende mense wat ongelukkig deur hulle spul wilde seuns uitgebuit word. Dis darem nie reg om so ’n klomp kinders te moet grootmaak en dan nog op jou oudag met hulle opgeskeep te sit nie.”
“Ja, tannie. Gelukkig is die spul motorfietsryers nie Sheilah en Ben se seuns nie, dis hulle loseerders.” Kayla frons onbegrypend toe Trynie haar oorbluf aanstaar. “Het ek iets skokkends gesê, ta Trynie? Dis tog nie ongehoord vir getroude mense om kinderloos te wees of om loseerders te hê nie.”
“Dis ons redding, my engel! Die rumoerige derduiwels is net loseerders! Ek en jy en jou tant Annelize ken hope jong mense wat op soek is na losies. Ons soek vir Sheilah en Ben nuwe loseerders wat nooit hulle lewe op ’n motorfiets sal waag nie, en ons kan weer in rus en vrede in Huis Kanferfoelie woon,” kom dit triomfantelik van Trynie.
Toe Kayla haar in stilte aankyk, kom sy ongeduldig orent en haal haar voorskoot af. “Ek gaan nou dadelik op die leer klim en my aan Sebastiaan van Oldenbarneveldt voorstel en met sy gawe suster en sy swaer kennis maak. Dalk kan ek ’n melktert of twee saamneem, net om hulle in ons buurt te verwelkom.”
“Ta Trynie … wag!” roep Kayla, gryp Trynie aan die arm en trek haar terug na haar stoel toe. “Dink, my liewe tannie. ’n Mens gaan kuier nie voor agtuur in die oggend by jou nuwe bure nie – nie eens gewapen met twee melkterte nie. Ons kan beurte maak om op die leer te staan en as oom Sebastiaan weer sy verskyning maak, kan tannie hom oornooi vir ’n koppie tee.”
Trynie byt op haar onderlip en tik-tik met die vingerpunte van haar regterhand op die tafelblad. “Noudat ek ’n bietjie nadink oor die situasie …” begin sy, haar stemtoon yl, en kyk pleitend na Kayla toe sy vervolg: “Jy ken my jou lewe lank, my hartlam. Ek was altoos ’n skaam, inkennige vrou wanneer dit by mans kom. As ’n vrou so lank soos ek is, bly sy liewer stil in ’n geselskap, want maak sy haar mond oop, kyk almal op na haar. Jy sal nie weet nie, Kaylatjie, maar dis ’n aardige gevoelente as die mans altyd opkyk na jou, so asof jy ’n kameelperd is.”
“Ja, tannie, maar mense vergeet van –”
“Sjoes, liefie, ek praat nou. Ander mense vergeet dalk van my lengte, maar ék kan nooit vergeet nie. Maar gister toe ek op die leer staan en in Sebastiaan se blou oë vaskyk en sy skaam glimlaggie sien … Dit was ’n onvergeetlike oomblik in my lewe, sussie, want ek was skielik so sielsgelukkig, so asof ek ’n wonderlike present gekry het. As ek vyftig jaar jonger was, sou ek gesê het ek is verlief, maar op my ouderdom is ek doodgewoon stuitig … Nee, ek sal maar liewerste uit Sebastiaan se pad bly en jou en jou tant Annelize toelaat om met ons bure te onderhandel,” antwoord Trynie en sug verwese.
“Dis nie sonde om …” begin Kayla paaiend en swyg verras. “Luister, tannie! Die motorfietse het ophou brul!”
Trynie luister saam met Kayla na die welkome stilte, en dan kyk hulle vraend na mekaar toe die voordeurklokkie lui.
“Haai, Kayla … ta Trynie! Ek het die manne met die motorfietse oorgenooi vir ’n drankie! Het tannie genoeg bier in die yskas?” roep Sunette en bly met ’n selfvoldane glimlag op haar gesig in die deur van die ontbytkamer staan.
3
Trynie word rooi van boosaardigheid, kom toornig orent en troon oor Sunette wat eers regs mik, dan skielik links swenk en by Trynie se rapende vingers verby na die verste punt van die vertrek hardloop, waar sy voor ’n antieke staanhorlosie vassteek asof dit haar beskerming sal bied.
“Jou goddelose klein sieletjie!” bulder Trynie verwoed. “Ek sukkel van jou eerste skooldag af om van jou ’n fatsoenlike kind te maak, maar daar is geen salf aan jou te smeer nie. Vandag prop ek jou onder my arm en dra jou na een van ons solderkamers toe. As ek jou by die venster uitsmyt en sorg dat jy op jou kop val, sal jy hopelik nooit weer die rus in Huis Kanferfoelie versteur nie.”
“As tannie net ’n sentimeter nader kom, klim ek in die staanhorlosie en hang my aan die ketting van die pendule op! Wil tannie my dood op tannie se gewete hê? Asseblief, ta Trynie, ek is te jonk om sag heen te gaan,” dreig en soebat Sunette beurtelings en pers twee groot trane uit haar oë, haar hande biddend voor haar bors saamgevat.
Trynie ruk in haar spore tot stilstand, draai stadig om na Kayla wat onbesorg bly sit het, en sê bitter: “Te jonk om sag heen te gaan, sê die stout kind.” Haar kop ruk om na Sunette, wat net betyds ’n glimlag van haar gesig afvee, en sy vervolg boos: “Jou soort, klein niksnuts, land met ’n harde slag op die ou duiwel se drietandvurk in die verderf!”
“Ta Trynie, hoekom hou tannie nie van my nie? Ek probeer so hard om tannie te help,” sê Sunette verwytend.
“Dis waar, tannie,” kom dit vinnig van Kayla. “Luister net hoe stil is dit: ek kan selfs tannie se boosaardige gesnork hoor. Moet ek nie vir tannie ’n bloeddrukpilletjie gaan haal nie?”
Trynie plof ergerlik op haar stoel neer en gluur Kayla aan. “Jy weet ek het nie hoë bloeddruk nie, kind, en ek drink net vitamienpille. Sukkel jy oor my bloeddruk omdat jy hoop ek sal vergeet van die klein klits en al daardie lawaaimakers wat in ons huis