Stroomop. Adeline Radloff
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Stroomop - Adeline Radloff страница 10
Hy sit in die wagkamer langs ’n ouer vrou en teken. Die vrou lyk rustig en glimlag simpatiek toe Adrie hygend nader gestorm kom.
“Jammer … dis my seun … dankie.”
Adrie voel hoe die vertrek om haar begin tol. Sy probeer haarself regruk, maar die amperse geweld van die verligting klief deur haar skanse, en dis asof al die gevoelens wat sy so lank reeds onderdruk tegelyk oor haar spoel.
Dis te veel. Dis alles net te veel.
Sy kan nie meer nie.
“Sit.” Die vrou, sien sy, het ’n naambordjie wat Dr Ezra lees.
Adrie steier na ’n stoel, val daarin.
En dan, genadiglik, word alles om haar swart.
Lana
Daar is altyd ’n laaste druppel wat die emmer laat oorloop. ’n Laaste strooihalm wat die kameel se rug breek. ’n Laaste oomblik wat selfs die sterkste wil laat knak. Vir Lana kom daardie oomblik op ’n gewone oggend, na ’n gewone noodgeval – ’n doodgewone, eintlik alledaagse tragedie vir iemand met ’n werk soos hare.
Die feite was eenvoudig. Motorongeluk. Die pasiënt het nie sy veiligheidsgordel gedra nie – die gewone storie: ’n paar blokke van sy huis, net vinnig gaan melk koop – en is deur die windskerm geslinger. Long platgeval. Ernstige interne bloeding. Eksterne kopwonde. Breinbesering.
Dit was net nog ’n geval, totdat sy vrou en sy dogter in ’n stadium deur die teaterdeure gebars het. En toe …
Selfs maande daarna sou Lana nie regtig verstaan wat toe gebeur het nie. Maar iets is daardie dag in haar losgeskud. Iets wat so diep in haar psige begrawe was dat sy dit nie op haar gewone gedissiplineerde manier kon verwerk nie.
’n Sterk wil en ’n skerp intellek kan jou ook net só ver bring. Sekere wonde lê so diep dat die rasionele brein dit glad nie kan bykom nie.
Dit was nadat die pasiënt reeds dood verklaar is dat haar hande vir die eerste keer begin bewe het. Dit was asof al haar diepste emosies, al die vrese en onsekerhede wat sy elke dag so ver wegsluit, skielik ’n agterdeur gevind het om by te ontsnap en die lewe te vernietig wat sy so sorgvuldig gebou het.
Hoe kan jou eie liggaam jou so verraai?
Die onregverdigheid daarvan. Die magteloosheid.
Na die tyd het sy nie die moed gehad om met die man se familie te gaan praat nie. Dokter Beukes, wie se arendsoë niks gemis het nie, het aangebied om dit namens haar te doen en sy moes van ’n afstand kyk hoe die nuus ’n ma en dogter se lewe in ’n duisend skerwe laat spat.
Dit was net nog ’n dag.
Net nog ’n geval.
Daar was absoluut geen rede waarom dit só moes eindig nie.
Nixie
Die een oomblik is jou lewe ’n gemors omdat jy jou ouers teleurgestel het en jou kursus gedop het en jou loopbaan vernietig het en die leuen waarmee jy al so lank leef net ál groter en groter word.
En dan, die volgende oomblik, stop ’n polisiekar een oggend voor jou ouerhuis, en kom jy agter dat al daardie goed eintlik niks was nie. Simpelgeit en alledaagse dramas en stupid ou probleempies. Klein jakkalsies.
Dis eers as jy jou pa se gebroke lyf in die hospitaal se noodeenheid sien lê, dat jy weet wat regtig in die lewe saak maak. Maar dan is dit te laat, want die masjien is reeds besig om te flatline en die dokter se hande op jou pa se bors is bloedrooi en papnat.
Dis as jy buite wag, daardie sprankie hoop soos ’n brandende pyl in jou hart, dat jy vir die eerste keer regtig leer wat swaarkry beteken.
Dink jy dan.
Dink jy voordat die dokter uitkom, ’n middeljarige wit vrou, en jou vertel dat sy ongelukkig verskriklike tragiese nuus aan jou moet oordra. Hulle het hulle bes gedoen.
Alles wat hulle moontlik kon.
Dis weird, maar as jy eers daardie woorde hoor, wens jy met jou hele hart dat jy kon teruggaan in die tyd. Nie al die pad nie, jy weet reeds dat die wêreld nie soveel genade vir jou het nie – maar net vyf minute.
Twee minute.
Jy wens dat jy nog daar kan staan soos ’n paar minute gelede, toe die pyl van hoop nog in jou hart gebrand het, en jy in jou naïwiteit gedink het dít maak seer.
Toe die trane oor jou wange begin loop, sit jou ma haar arms om jou, so ewe asof dit jou sou kon troos. Niks kan jou troos nie.
Jou pa is dood.
Die ongeloof. Die verskrikking.
Die besef dat niks ooit weer dieselfde gaan wees nie.
Jy hardloop uit die hospitaal uit, histeries, verdwaas.
Alles is gebreek.
Alles.
Jou hele lewe is ’n gemors en niks sal dit ooit kan beter maak nie.
Lana
Die ry swartgeraamde mediese grade en toekennings is die enigste persoonlike items in Lana se moderne oopplan-woonstel. Alles anders is duidelik van ’n hoë gehalte – funksioneel, prakties, duursaam – maar ook effens klinies en sonder karakter.
Dis die woonstel van ’n vrou wat nie tyd het vir tierlantyntjies nie. Iemand wat nog altyd op haar loopbaan in plaas van haar leefstyl gefokus was – wat goed weet waarheen sy op pad is en wat sy van die lewe wil hê.
Iemand, dink Lana met ’n wrang trek op haar gesig, wat haarself nou bitter graag wil wysmaak dat die kaartehuis waaraan sy so lank gebou het, nie op die punt is om inmekaar te stort nie.
Sy haal haar kos uit die mikrogolfoond, staar lank na die wit hoenderborsie. Dan hou sy haar mes soos ’n skalpel vas en fokus stip op haar hand terwyl sy die vleis oopsny.
Haar hand is doodstil, haar bewegings absoluut presies.
Fantasties, dink sy. Ek kan my eie hoender sny.
Maar die sarkasme is bloot ’n refleks, ’n verdedigingsmeganisme, en daaronder lê só ’n enorme verligting dat sy eintlik skrik.
Dis eers in die vroeë oggendure dat die slaap haar oorval. Sy het ure lank daarteen geveg, haar intellek ingespan en voluit gefokus op die nuutste mediese boeke en joernale, vasbeslote om ’n antwoord te vind vir ’n probleem wat sy steeds nie werklik wil erken bestaan nie. Maar selfs die sterkste wil kan die liggaam se behoeftes net só lank ignoreer, en toe die moegheid haar inhaal, word sy diep, diep meegesleur, tot by …
’n Grys begraafplaas.
Die verwese figuur van ’n klein dogtertjie, haar skraal lyfie vol hulpelose verlange na iemand wat sy nooit eens regtig geken het nie. Langs haar staan ’n man. Die warm gevoel van sy groot hand in hare. Die bekende reuk van sy naskeermiddel.