Stroomop. Adeline Radloff
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Stroomop - Adeline Radloff страница 8
In die badkamer drup die kraan onophoudelik.
Later trek sy die boksie Red Vixen nader en tap vir haar ’n bad water.
Hoe rooier hoe mooier, het die oumense mos gesê.
Sy klim in die water, kyk hoe die bad stadig ál voller word.
Al voller en al rooier.
Al rooier en al mooier.
Hoe rooier hoe mooier.
Hoe rooier
hoe
rooier
hoe
rooier
Diona
Toe Diona in die vroeë oggendure by die huis kom, pyn alles. Die artritis in haar vingers is ’n nuwe ding, maar die seer in haar skouers en die kloppende hoofpyn agter haar oë is goed waarmee sy al jare sukkel. Om van die gevoel in haar hart nie te praat nie.
Sy het só uitgesien na die rukkie weg. Só gehoop dat dinge hierdie keer glad sal verloop. Dat sy vir haarself en haar gesin ook ’n tydjie sal kan afknyp.
Sy vryf oor haar moeë oë, probeer haarself daaraan troos dat haar harde werk darem vrugte afgewerp het. As hierdie dringende aansoek nie geslaag het nie, was ’n onskuldige man nou in die tronk en sy vyfjarige dogter in pleegsorg.
En wat van jou eie man, Diona? Wat van jou eie dogter?
Sy sug, probeer die stem van haar gewete stilmaak met al die ou argumente. Haar werk is belangrik, nie net omdat sy haar gesin só onderhou nie, maar ook omdat sy elke dag veg vir wat reg is. As sy ’n man was, sou die samelewing haar sonder enige voorbehoud gerespekteer het vir wat sy doen. Niemand sou eens gedroom het …
Maar dan stap sy die sitkamer binne en elke rasionele argument verdwyn eensklaps.
Ag, David.
Daar is ’n tent opgeslaan in die middel van die vertrek, en danksy die lig binne-in kan sy die skadu’s van haar man en dogter se slapende figure uitmaak. Sy probeer die styfheid agter in haar keel wegsluk, versigtig om hulle nie wakker te maak nie, maar toe sy kniel om haar kop by die tentflap in te steek, sien sy dat David reeds wakker is.
“I am so sorry.” Haar fluisterstem is dik van onderdrukte emosie.
Hy trek haar saggies nader, sonder ’n woord van verwyt.
Soos altyd.
Diona skop haar skoene uit, laat rus haar kop op sy bors, vind haar veilige plek teen die holtes van sy lyf.
Dan reik sy met ’n verlangende hand na haar dogter uit en hou Nixie se slapende skouer liggies vas terwyl David die kampeerliggie afskakel en sy haarself uiteindelik – uiteindelik! – toelaat om te ontspan.
Sy word vroegoggend wakker toe David stilletjies by die tent uitklim.
“I’m going to make Pixie Pancakes,” fluister hy toe hy sien dat haar oë oop is.
Sy glimlag, fluister saggies terug: “Ons het nie melk nie.”
“I’ll go get.”
Toe hy by die tentflap uit verdwyn, staar sy vir ’n rukkie na haar dogter se rug voordat sy weer haar oë toemaak.
Alles gaan oukei wees.
Haar man weet hoe Nixie se kop werk; hy sal die nuutste krisis ook reg hanteer. En daar sal nog kampeer-trips wees. Daarvan sal sy seker maak. Een van die dae lag hulle almal weer saam om ’n vuur.
Dankie tog vir David.
Sy weet regtig nie wat sy sonder hom sou doen nie.
Adrie
Dis al na twee toe Charl by die kombuis inkom. Adrie bring die mes aggressief neer, weer en weer, asof sy al haar frustrasies op die hulpelose koolkop wil uithaal. Op die stoof langs haar staan ’n groot pot sop reeds en prut.
Hy snuif ’n paar keer in die lug. “Wat ruik so?”
Sy antwoord sonder om op te hou kap: “Christine sê jy kan drie kilo’s ’n week verloor op koolsop.”
Dis sy stilte wat haar dwing om op te kyk. Dan frons sy, asof sy vir die eerste keer regtig die situasie inneem. Die onbeskaafde uur op die kombuishorlosie. Die groot pot wat staan en prut. Die berge opgekapte groente. Die moeë man wat so onbegrypend na haar staar.
“Ek maak genoeg om te vries,” voeg sy by, asof dit alles verduidelik.
Dan kyk sy weer af. Begin weer kap.
Teen negeuur die oggend is alles reg vir haar vriendinne. Adrie rangskik vir die soveelste keer die red velvet cupcakes op ’n bord. Sy het nogal lanklaas mense onthaal en is meer senuweeagtig as wat sy gedink het sy sou wees.
Dis jou oudste vriende wat kom, herinner sy haarself terwyl sy vir die duisendste keer haar oë oor die sitkamer laat gly. Daar’s niks om voor bang te wees nie.
Solank alles net perfek is.
Sy onderdruk ’n sug. Dit voel of dit haar jare geneem het om die plek so mooi te kry, maar as jy fyn kyk, kan jy nog steeds die vlekke teen die bank uitmaak – Leon het met jogurt gespeel – en die pienk spatsels op die mat waar Ben ’n bottel rooiwyn omgestamp het.
Nou ja. Ten minste weet sy haar cupcakes sal ’n prys kan wen. Sy neem vinnig ’n foto en stuur dit vir die groep met ’n trotse stemnota daarby: “Tuisgebak.”
Dit neem nie lank voordat die ander se stemnotas inkom nie.
Judy: “Hoop dis banting?”
Régtig? Adrie rol haar oë dakwaarts. Red velvet cupcakes sonder carbs of suiker? Het mense heeltemal mal geword?
Melissa: “Jammer, girls, ek gaan dit nie kan maak nie. My nanny het my gedrop.”
Christine: “Ek hoop jy fire haar, ek’t nog nooit van haar gehou nie.”
Judy: “Dit gaan nie dieselfde wees sonder jou nie. Wag, ek het ’n idee …”
Voordat Adrie kan uitvind wat Judy se idee is, kom haar drie seuns die kamer ingebars, ’n warrelwind van arms en bene en bloedstollende gille. Soos gewoonlik is die sesjarige Sebastiaan weer die meesterbrein agter hulle kattekwaad. Hy het sy vier jaar oue boetie Ben soos ’n wilde perd aan leisels beet, en hulle jaag mekaar soos mal goed om die koffietafel terwyl klein Leon sukkel om by te bly met sy kort beentjies.
“Sebastiaan! Ben! Stop dit! Onthou, van lekker lag kom …”
Wag ’n bietjie.
Daardie twee stouterds!
Ben se “leisels”, sien sy nou, is gemaak uit ’n string van haar bra’s wat hulle aan mekaar vasgebind