.
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу - страница 2
Lettie se pen kris-kras op die papier.
Theo se helder oë, sy glimlag, die manier hoe hy sy kop skeef hou en haar aankyk, maak Marissa so senuweeagtig sy klou aan die ruiker op haar skoot. Aangename kennis, wil sy sê of net hallo, maar daar kom geen geluid uit haar mond nie.
Hy buig galant. “Gee my jou hand, skone dame.”
Sy kan nie anders nie, sy hou haar regterhand na hom toe uit.
Hy neem dit, koester dit vir ’n oomblik teen sy lippe. Sy oë vang hare vas.
“Eyes I dare not meet in dreams,” sê hy so gemaklik asof hy die tyd van die dag aankondig.
Daar gaan ’n murmeling deur die omstanders. Iemand giggel.
Haar hand glip uit syne, so liggies hou hy dit vas. Sonder dat sy dit bedoel het, raak sy selfbewus aan haar wang. Terg hy? wonder sy. Verwys hy na háár oë of dalk na syne? Die outydse aanhaling het hy sekerlik nie self uitgedink nie. Is dit Shakespeare? Byron, Eliot? Dis iets wat sy by Dawie gemis het, regte innige waardering vir die ou meesters. Hier kom die man uit die bloute, verras haar en tog … Hy maak dat sy in een oomblik spesiaal en simpel voel. Deksels, daar is immers ’n tyd en ’n plek vir als!
Vir hierdie soort loop sy lig, eiegeregtig en vervlaks gevaarlik met daardie anderste oë!
“Ou Theo moes in die tyd van die ridders geleef het,” probeer Simon walgooi. “Uitgevang! Hier kom sy.”
Die vroumens wat met knakkende knieë en swaaiende heupe op hulle afpyl, is lank en maer en vreeslik bewus van haarself. Sy gryp Marissa se hand en deurboor amper haar gewrig met haar skerp naels. “I knew it! You had to win! So glad you did! Theo, darling, Mom and Dad are waiting for us! You know Dad …”
Sonder verskoning, gryp sy haar “Theo, darling!” en sleep hom agter haar aan.
Hy lig sy hand in ’n groetgebaar.
Eyes I dare not meet in dreams, dink Marissa terwyl sy hom agternakyk. Waarom droom? Ek sal jou nooit weer sien nie.
1
Drie jaar later
Mart sprei haar hande oor die pakkie. Haar naels is professioneel versorg, maar nie met goeie smaak nie. Dit is gans te lank en oorversier met prentjies en blinkertjies wat juis haar breë hande en dik vingers beklemtoon.
Marissa voel skuldig, want sy sukkel al heeloggend om opgewonde te raak oor haar niggie se nuwe klere, én die ontwerpernaels! Was dit nie vir die troue nie, sou sy dalk nog kon maak of sy daarvan hou. Nou wonder sy of Dawie dink dis mooi. Sy het nog nooit sulke naels oorweeg nie en hy trou met Mart wat nie weet waar om die streep te trek nie. Dis nie Marissa nie, dis haar vriendinne wat altyd sê hulle kan nie glo sy en Mart is niggies nie. Marissa is lank en skraal en so taai soos ’n ratel, haar niggie kort, plomp en moeg gebore. Sy boer buite, Mart kan nie uit die kombuis wegkom nie. Sy is universiteit toe om te leer, Mart om man te vang. Toe kom Mart tog maar bedroë huis toe.
Nou trou sy en Dawie en sy wat Marissa is, is een van die strooimeisies.
Sy kan nie help om seergemaak, jaloers, verkeerd en aaklig te voel nie, en sy durf dit nie wys nie. Sy “Oe!” en “Aah!” saam met die ander strooimeisies oor Mart se honeymoon-klere, terwyl sy elke oomblik verpes en liewer wil huis toe. Ongelukkig moet almal die hele naweek byderhand wees. Die tante wat die rokke maak, is tydsaam en wil boonop ’n geheelbeeld kry voor hulle finaal uitmekaar mag gaan.
Marissa kreun amper toe Elsie en Grieta ’n plesierige gilletjie los.
Mart is besig om die sneespapier om die volgende pièce de résistance oop te vou.
Elsie en Grieta is Mart en Marissa se niggies. Lizel en Sandy is Mart se beste skoolmaats en Adriana het saam met Mart in die apteek op die dorp gewerk voordat sy aan Dawie verloof geraak het. Van toe af werk sy nie meer nie, sy berei haar voor vir die troue van die jaar. Jan, Hannes en Kleinjan, drie van hul neefs wat na oupa Johannes vernoem is, gaan strooijonkers wees. Dawie se neef Dawid en sy broers Frans en Chris ook. Ses strooimeisies en ses strooijonkers. Hierdie troue gaan groot wees, ’n uitgebreide familiebyeenkoms, ’n regte egte Karoo-bruilof.
Die pakkie is oop, en almal giggel en gil.
“Haal uit! Wys!”
“Ons wil sien. Ons wil sien.”
“Wat is dit?”
Mart tuit haar mond en rol haar oë. “My Fifty Shades of Grey-outfit vir ons eerste nag. Ek maak julle dood as een van julle vir Dawie vertel.”
“Ag nee, Mart, wie sal nou?”
“Wat van jou?”
“Nie ek nie.”
“Sandy, ek praat nie met jou nie.”
“Marissa! Gaan jy Mart se planne vir haar eerste nag bederf?”
Almal kyk na haar. Sy dwing haarself om presies nes hulle te giggel. “Nee! Ek sal nooit! Ek en Dawie praat anyway nie meer met mekaar nie.”
“Van wanneer af?”
“Wel, vandat ek honneurs begin het.”
“Komaan, almal weet dat Dawie selfs dwarsdeur die winter nog Stellenbosch toe gery het.”
Grieta is ’n regte geitjie, maar Marissa kan nie stry nie, Dawie het haar ses maande gelede nog naweek vir naweek gepes. “Oukei,” gee sy toe. “Dit het my die hele winter geneem om hom te oortuig dat ek nie meer elke naweek plaas toe kom nie. ”
“Toe val jy vir Meneer Karnaval. Kom hy troue toe?”
“Daar is niks tussen my en Armand Joubert nie.”
“Julle is oral saam gesien.”
“Ons was verplig om die universiteit te verteenwoordig.”
“Dawie het nie daarvan gehou nie.”
“Ons het uitgemaak, ons is jare nie meer verloof nie.”
“Ter wille van Armand Joubert?”
“Hy trou oor twee weke met Chanté de Villiers.”
“Shame! Wil jy nie ook trou nie.”
“Ek sê mos nee! En nie met hom nie!”
“Oukei, moenie ’n aar bars nie.”
“Julle hou aan met moeilikheid soek.”
Elsie draai na haar. “Ons is maar net verbaas omdat jy en Dawie van skooltyd af uitgaan, toe breek jy die verlowing. Wat het jou besiel?”
Sy het benoud gevoel, vasgedruk, te gou gevang. Dis wat haar besiel het, maar sal hulle dit verstaan? “Los my nou,” sê sy, “dis Mart se dag.”
Mart kyk haar reg in die oë en nie juis vriendelik nie. “Jy wou Dawie vir ewig op sleeptou