Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo страница 23
Sy neem ’n slukkie. “Perfek.”
Die lagplooitjies om sy oë trek saam. “Nie so perfek soos jy nie.”
“Dankie! Vir die sap ook.” Eintlik hou sy van hom en is bly hy is haar metgesel.
Vernon kom maak hom tuis tussen haar en Diana. Hy slaan sy arms om hulle. “Ook maar goed dis nou pouse, anders het die tissues opgeraak,” terg hy. “Wat dink jy, Gunter? Jy is die kenner.”
“Oor die opera of die performance?”
“Albei.”
“Die storie en die musiek is briljant. Die ingevoerde tenoor kom nie die mas op nie. Butterfly is pragtig. Sy kan sing.”
“So treurig,” sug Diana. “Ag, al my verlore liefdes …”
Vernon kyk om hom rond. “Waar is Vernon Palmer? Het iemand vir Vernon Palmer gesien?”
“Hier! Hy is nog hier!” gil Diana en gooi haar arms om hom.
Gunter lag en druk Marissa teen hom vas. Hy voel so sag soos ’n teddiebeer, ’n ligrooi teddie met sulke gretige groen ogies.
Die klokke begin lui om die einde van die pouse aan te kondig en sy het nog nie al haar sap gedrink nie. Gunter neem die glas by haar oor en maak dit met een teug leeg. “Kom, my skat, ek vat jou sitplek toe.” Hy stuur haar in die rigting van hul ingang. “Ek moet gou ’n draai loop.”
“Gaan, ek sal oukei wees.”
“Jy seker?”
En op daardie intieme noot kyk Marissa op, reg in twee onpeilbare grys oë. Theo, met Sylvia aan sy arm, loop teen hulle verby. Hy kyk na haar en maak of hy haar nie ken nie! Maar miskien het hy haar nie herken nie, miskien is hulle te vinnig by mekaar verby. Sy was lanklaas so verward.
Diana sluit by haar aan en hulle stap saam na hul sitplekke. “Lyk of jy en Gunter regkom?” vra sy toe hulle sit.
“Hy’s gaaf.”
“Vernon sê my hy is mal oor jou.”
“Hy ken my nie eens nie.”
“Daar is so iets soos love at first sight.”
“Sjuut,” keer Marissa toe die vrou voor hulle haar kop draai asof sy luister.
Diana sit haar vinger voor haar mond en hou dit daar tot Vernon langs haar inskuif en sy sy hand vat. Die orkes stem hul instrumente en die mense gesels opgewonde. Marissa dink aan die eerste keer dat sy in Theo se oë gekyk het – by die kroning, toe hy haar met sy sjarme gevang het.
“Eyes I dare not meet in dreams.” Dis hy wat dit gesê het.
Vanmiddag, toe Diana haar aan daardie aand herinner het, is sy woorde soos neonligte in haar geheue aangeskakel en het sy goed onthou hoe hy na haar gekyk het. Haar oë is haar beste bate, soms blou, soms amper pers. Maar wat van syne? Die tweede keer dat sy in sy oë gekyk het, was in die sinkdam op Gannavlei terwyl sy water trap en haar verstom oor die kleur.
Sy is verlief op Theo Wessels, hopeloos verlief!
Gunter daag net betyds op. Hy het sjokolade gekoop wat hy vir haar aanbied. Die musiek begin en die gordyne gaan oop. Die storie op die verhoog stuur af op die onafwendbare einde. Nie lank nie of sy veg weer teen haar trane. Hoe kan sy aan liefde dink nadat sy Dawie se dood veroorsaak het? Sy is niks beter as luitenant Pinkerton nie.
Op die swaard waarmee Butterfly selfdood pleeg, staan geskryf: To die with honour when one can no longer live with honour. Is dit wat in Dawie se kop aangegaan het?
***
Theo wens hy kan huis toe ry en sy sorge verdrink. Wat soek Marissa in die geselskap van Gunter Winterbach? Dit lyk boonop of hulle ou bekendes is. Seker vanselfsprekend aangesien sy en Diana vriendinne is. Hulle het natuurlik afgespreek om mekaar vanaand te ontmoet en hy gaan maak so ’n gek van homself om te dink Marissa het sy ondersteuning nodig. Hoekom het Diana hom nie ingelig nie? En vanaand … Sy is so ongelooflik mooi, hy kon nie help om om te kyk nie. Toe is sy besig om in Gunter se oor te fluister. Gek! Sy het ’n gek van hom gemaak en hy hou nie daarvan nie.
“Ek wens ons kan reguit huis toe gaan,” sê hy vir Sylvia toe hy die deur van die Maserati vir haar oopmaak.
“Oom Uncle onterf my as ons nie vanaand daar opdaag nie.”
Sy klim in. Die spleet aan die kant van haar rok gaan oop en haar been wys tot by haar heup. Hy buk oor, streel van haar enkel af boontoe. Sy hand verwarm oor die sygladde koelheid van haar vel.
“Nie hier nie, my darling.” keer sy. “Later …”
Oukei, dink hy, dalk help dit om my teleurstelling in Marissa du Plessis te versag. Hy gooi die deur toe en loop flink om na sy plek agter die stuurwiel.
“Is jy kwaad?” vra sy toe hy sy deur toeklap en die motor aanskakel.
“Nee, gefrustreerd.”
“Moenie alleen voel nie. Me too.”
Hy sit die CD-speler aan om verdere gesprek te vermy, probeer sy moerigheid oor die Marissa-meisie onder beheer kry, ry soos van hom vereis word reguit na oom Uncle se drieverdiepingkasteel in Houghton. Die ou skelm regeer die onderwêreld van korrupte sake met soveel sluheid, niemand durf in sy swart boekie beland nie. Vriend en vyand sal hom vanaand omring asof hy die begin en einde van hulle bestaan is, wat nie onmoontlik is nie aangesien hy baie toutjies in sy pofferhande hou en dit kan trek soos hy wil.
Ek is ook een van sy marionette, dink Theo, en ek hou nie daarvan nie. Hy pers sy lippe op mekaar. Maar dis die soort lewe wat ek gesoek het, dink hy, en een wat ek so maklik soos my luukse motors beheer. Sy Maserati, wat hy met sy pinkie kan bestuur, seil soos ’n droomskip oor hobbels en gate in die pad. Die klankstelsel is van die heel beste en die musiek is só suiwer. Wanneer hy sy oë toemaak, kan hy hom verbeel hy is terug in die konsertsaal en hoor die uitvoering eerstehands.
Musiek was destyds so deel van hul huishouding. Sy musikale susters het klavier en viool gespeel, hy nogal altviool. Hy was nie so geduldig met die lang oefentye nie, maar die musiek in hul huis het hom altyd kalmeer, soos nou ook. Dit, glo hy, is die rede waarom hy tot hiertoe die lewe wat hy gekies het, kan leef. Hy het musiek, ander luukshede ook. Vanaand of môreoggend, wanneer hy tuiskom, duik hy in sy swembad en raak ontslae van elke stukkie stres wat in sy liggaam opgebou het. Hy is in beheer. Waarom sal hy toelaat dat ’n plattelandse meisietjie soos Marissa du Plessis hom ontstig? Hy sal haar nog vasvat, maar nie vanaand nie. Vanaand is dit eers oom Uncle, en dan Sylvia.
Met die aankomslag by die kasteel, besef hy weer hoeveel mag die ou skurk oor sy volgelinge het. Motors staan bankvas reg om die blok geparkeer, maar Theo huiwer nie om na die hoofhek te ry nie. Hy word deur die hekwag deurgewuif en by die voordeur deur ’n lakei ontvang wat hom verseker dat hy weet hoe om ’n Maserati te parkeer. Theo het in die verlede daarop aangedring om self sy kosbaarste motors te parkeer, maar die mannetjie lyk vir hom bekwaam en hy oorhandig sy sleutels. Met die wegstap besef hy dat dit een van sy gewese renjaervriende is. Scotty was sy naam, sy van ontgaan hom. Hy onthou dat die kêrel omtrent uitgeroei is deur slegte skuld en enige werkie doen om kos op die tafel te sit. Skielik