Omdat jy my liefhet. Elsa Winckler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Omdat jy my liefhet - Elsa Winckler страница 4

“Dis nie my hond nie,” val hy haar in die rede terwyl hy regop kom. “En jy het gesê vroeër eerder as later, onthou?”
“Vroeër beteken nie in die middel van die nag nie!” raas sy en vou haar arms om haar lyf. “Dis koud, dis nag en jy …”
Haar stem klim al hoër, maar sy oë het vasgehaak op haar mildelike borste wat oplig toe sy haar arms vou en hy hoor nie meer wat sy sê nie. Sy het nie onderklere aan nie. Hy weet, want dieselfde rondings het minute vantevore netjies teen hom gepas. Oor die onwillekeurige reaksie van sy lyf het hy geen beheer nie.
Sy struikel oor haar woorde en byt haar onderlip senuweeagtig vas. Sonder om sy oë van haar af te haal, kom hy stadig regop en druk sy hand in sy rug.
“Moenie so vir my kyk nie,” raas sy en swaai weg. “En wat bedoel jy dis nie jou hond nie, wie se hond is dit dan?” Sy kyk rond. “En waar is die hond nou?”
“Ek kon nie in die donker sien hoe hy lyk nie, maar ek wonder of dit nie Skim is nie. Ek het vir Leen belowe om na hom te kyk, maar ek het hom nog nie weer met ’n oog gewaar ná hulle troue nie.” Bart gee ’n tree, pyn skiet af in sy rug, ’n onwillekeurige kreun glip uit. Demmit, hy het so pas herstel van ’n werwel wat geskuif het. Die vallery het heel waarskynlik weer dieselfde werwel laat skuif.
“Wat is fout?” Olivia kom vinnig nader. “Het jy seergekry?”
“Dis oukei. ’n Ou rugbesering. Ek bring die res van die stoele,” kry hy uit en beweeg in die rigting van die bakkie. Elke tree is ’n pyniging, maar die laaste twee stoele gaan hy aflaai, al is dit die laaste ding wat hy doen. Uit hierdie vroumens se pad moet hy bly. Hy het laas as skoolseun só op ’n mooi girl reageer.
By die bakkie lig hy die een stoel stadig uit. In die stoeplig sien hy duidelik vir Olivia staan, nog steeds arms gevou. Die bentwood-stoele is darem nie baie swaar nie, maar hy buig sy knieë versigtig voor hy albei optel en terugstap. Hiervandaan gaan hy reguit fisio toe. Gelukkig ken hy Simon goed en hy weet die fisioterapeut sal nie omgee om hom so vroeg al te help nie.
Olivia het reeds die ander vier stoele na die eetkamertafel toe gedra, sien hy. Hy sit die twee stoele neer en dié keer laat die skietpyn hom na asem snak en hy buig vooroor.
“Wat is fout?” vra Olivia agter hom.
“Ek sê mos my rug,” kry hy uit en kom regop.
“Waar?” vra sy.
Hy beduie met sy hand na sy lae rug.
“Buig stadig vooroor,” beveel sy.
Hy buig.
Olivia staar na Bart se breë rug. Dis baie duidelik die man verkeer in pyn. Sy probeer op sy pyn konsentreer, maar sy toestand en woorde van netnou weergalm nog in haar kop: Jy’s bo-op my, jy wriemel en jy’s beautiful. Hoe op aarde vergeet sy daarvan? En hy was … hy was … ’n Warm gloed kruip teen haar nek op. Sy kan nie eens daaraan dínk nie.
G’n man het al ooit vir haar gesê sy’s mooi nie. En g’n man het al ooit presies só na haar gekyk soos wat Bart nou net gedoen het nie. So asof sy werklik sexy en beautiful is. Sy en haar susters is seker nie te onaantreklik nie, maar sy het nog nooit aan haarself as ’n skoonheid gedink nie.
Sy skud haar kop in ’n poging om die lawwe gedagtes weg te vee en gee ’n tree vorentoe. Haar hande skuif die ligte trui wat hy aanhet op teen sy lyf.
Vir ’n oomblik huiwer sy. Die man verkeer in pyn. Sal sy nou staan en kwyl en dit net omdat hy ’n paar sexy breë skouers het? Sexy. Vrek. Dis die laaste ding waaraan sy moet dink. Sy is ’n mediese dokter wat al honderde mans behandel het.
Sy pers haar lippe op mekaar en druk sy trui verder op teen sy lyf. Haar hand sprei oop oor sy rug. Die spiere is opgebondel in ’n poging om die rug te beskerm. “Ek dink …” begin sy, maar haar stem klink verspot hees. Sy maak keel skoon. “Kan jy op die tafel probeer lê? Dit behoort hoog genoeg te wees. Ek kry net ’n room of iets …”
“Ek is op pad na ’n fisio,” sê hy kortaf en kom regop. “Dankie.”
Sy vererg haar. Dis nie asof dit haar skuld is dat sy rug seer is nie. “Ek probeer net help. Kan ek ten minste vir jou ’n voorskrif vir ’n anti-inflammatoriese middel gee?”
Hy knik. “Dankie, ja.”
Haar handsak staan nog op die tafel en sy haal haar voorskrifboekie uit. Vinnig skryf sy vir hom iets voor. “Drink dit saam met etes,” sê sy en gee vir hom die papier.
“Dankie,” sê hy stram en beweeg stadig voordeur toe.
“As jy nie so hardekwas is nie, kan ek jou help,” sê sy ergerlik.
Met sy hand op die voordeur, kyk hy oor sy skouer na haar. Sy oë is halfmas, sy glimlag skeef. “Jy onthou wat gebeur het toe jy bo-op my val?”
Haar wange vlam. “Dis nie nodig om daarna te verwys nie, ek het dit klaar vergeet.”
Sy bruin oë, warm en donker, gly oor haar. “Wel, ek het nie. Jy wil jou hande op my lyf sit. Wat dink jy gaan gebeur?”
Hy is uit by die deur voor sy haar mond kan oopmaak. Haar bene weier om haar langer regop te hou en sy sak neer op een van die eetkamerstoele wat hy reggemaak het.
Vrek. Dis alles die ellendige hond se skuld. As hy nie tussen haar voete beland het nie, het sy nie geval en bo-op Bart gelê nie en … Sy blaas haar asem uit en kreun hardop.
En sou sy nie nou gesit en wonder het wat sou gebeur het as sy nie so vinnig van hom af opgestaan het nie. Of as hy wel op die tafel gaan lê het sodat sy sy rug kon masseer. Of …
Haar foon lui. Dis Leen. Sy kyk op haar horlosie. Dis sowaar al amper agtuur en buite raak dit stadig lig. Dit lyk asof dit bewolk is, die rede hoekom dit nog so half donker is.
“Jy’s vroeg op,” antwoord sy dadelik.
“Ek moet vroegdag ’n leweransier ontmoet, maar ek wou net hoor of alles oukei is by die huis?”
“Ek sou darem bel en dankie sê dat jy die huis laat skoonmaak het.”
“Het iemand die huis skoongemaak? Ek wens ek het daaraan gedink, maar ek het nie. Dis seker Bart. So ’n nice man. Hy het na die tuin gekyk en sou na Skim kyk, maar hy het laat weet hy het nog nie weer die hond gesien nie.”
“Wel, ek en Bart het hom vanoggend gesien. Of liewer, ek neem aan dis hy. Ná hy ons al twee in die bedding laat beland het, het hy soos mis voor die son verdwyn.” Livie kan haar tong afbyt toe die woorde uit is.
“Ja?” lag Leen. “Dit klink baie bekend. Vertel?”
“Is jy nie op pad nie?”
“Ek is, maar ek kan praat en stap. Toe, vertel.”
So bondig as wat sy kan, vertel Livie vir Leen wat gebeur het. Teen die tyd dat sy klaar is, is Leen half histeries aan ’t giggel.
“Dis glad nie snaaks nie,”