Droomberig. Luné Olivier
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Droomberig - Luné Olivier страница 5
“Ja, kom ons probeer weer. Staan net so ’n bietjie anderkant toe. Ek wil die lig uit ’n ander hoek probeer kry.”
Anelia lewer dieselfde toesprakie weer.
Dié keer is Lewis gelukkig tevrede: “Reg, ek pak solank op. Sal jy solank vir ons wegneemkoffie bestel, asseblief? Swart met drie suiker vir my, dankie. Ek gaan net eers gou die toerusting in die bussie bêre.”
Terwyl Anelia bestel, loei die wind woedend om die gebou, en kan sy nie anders as om benoud deur die vensters na buite te kyk nie.
’n Man met donker hare stap in die straat af. Wat sou hom besiel om die wind te trotseer?
Lewis stoot die glasdeur met moeite van buite oop voordat dit met ’n harde slag agter hom toeklap. Dis sowaar nog heel.
“Hel, die wind word net sterker. Ons moet so gou moontlik hier uitkom.” Hy neem ’n sluk van sy koffie.
“Ja, kyk net hoe waai daardie baniere. Dit maak my sommer benoud. Ek het juis gisteraand weer video’s op die internet gesien waarin mense aan lamppale en bome vasklou.” stem Anelia saam.
“Ek sal eerste gaan en die bussie omdraai sodat jy net by die passasierskant kan inspring.”
“Dankie, Lewis. Dis bedagsaam van jou.”
Nou trek hy die koffiewinkel se glasdeur weer met groot moeite oop en toe. Dieselfde man van netnou stap weer by die venster verby. Sou hy mal wees?
Lewis toet buite.
Vervaard groet Anelia die koffiewinkeleienaar. Sy het skaars haar hand op die deurhandvatsel gesit toe dit na buite oopswaai en haar tot op die sypaadjie pluk. Sy gryp verwoed na haar handsak wat amper deur die wind weggeraap word.
Sy sal aan iets moet vashou, anders waai sy weg. Onseker van voet trippel sy agteruit teen ’n paal vas en laat val haar stomende koffie op die plaveisel. Die volgende oomblik oorrompel ’n rukwind haar sodat haar blou hoëhakskoen onder haar meegee.
Sy gil en staal haar vir die val.
’n Hand gryp haar aan die arm en die vreemdeling van netnou trek haar in ’n stywe greep vas.
Op ’n vreemde manier laat die spontane omhelsing haar onmiddellik veiliger voel terwyl haar arms na sy skouers … sy nek tas en sy haar balans probeer herwin. Die barmhartige samaritaan beweeg so vinnig moontlik met haar na ’n veilige hawe, want skielik is dit windstil om hulle.
Anelia waag dit om haar oë weer oop te maak.
Sentimeters van haar gesig af, is ’n wit-en-mosgroen strepieshemp met ’n grys das. Sy word intens bewus van ’n manlike reuk. Nou kry sy skaam en ontstrengel haar vingers om sy nek.
Hy verslap nie sy greep nie, maar vryf die gekoekte hare uit haar gesig.
Haar oë volg die netjies geknoopte das tot by breë skouers en ’n bruingebrande nek. ’n Aartjie spring in sy nek. Sy sien vierkantig gevormde kake, skerp gepunte neus, donkerbruin hare en smaraggroen oë.
Haar asem slaan weg toe hy glimlag. Genade, red my! Sy snak na suurstof.
Sy oë hou hare gevange. “Is jy OK?” vra die sterk stem.
Woorde begewe haar, en sy kan maar net knik.
“Ek gaan jou nou stadig laat gaan. Probeer jou balans alleen kry,” en sy greep verslap. “Pas op, jou skoen het gebreek.”
Haar tong plak teen haar verhemelte vas. Verbeel sy haar of is hy …? Sweerlik is hy die man van haar drome, nee, die man ín haar drome.
Dis hy … Haar bene bewe effens.
“Dis beter, jy is nou veilig,” verseker hy haar.
Sy kyk verward om haar rond. Hulle staan sowaar in dieselfde koffiewinkel waar sy minute vroeër die berig gedoen het.
“D … Dankie,” kry sy uiteindelik uit. Haar lyf voel vreemd koel toe die vreemdeling se liggaamshitte van hare af weggeskeur word.
“Kan ons asseblief twee cappuccino’s wegneem?” praat die aantreklike man met die winkeleienaar sonder om sy oë van haar af te haal.
“Joune lê buite op die sypaadjie,” verduidelik hy nog voor sy enigiets kan vra.
Sy het heeltemal vergeet wat van haar koppie lafenis geword het.
Vir ’n oomblik staan sy versteend. Toe val sy op die naaste stoel neer. Asof steeds in ’n droom, haal sy haar foon uit haar handsak en laat weet vir Lewis dat sy OK is. Hy moet net ’n paar minute vir haar in die bussie wag.
Toe sit sy haar foon op die tafel neer en kyk weer vas in ’n paar bekommerde oë.
“Moet ek iemand vir jou bel?” vra hy. “Jy lyk letterlik windverwaaid.”
“Nee. Uhm. Ek is OK,” sê sy steeds verstrooid en haal diep asem om haar kalmte te herwin. “Dankie dat jy tot my redding gekom het. Ek het die wind onderskat.”
“Ek dink nie enigiemand kon voorspel het dat die suidooster vandag so sterk sou waai nie,” maak hy dit af.
“Ek het geweet, want dis my werk, maar dit was nie so erg toe ons netnou by die koffiewinkel aangekom het nie,” verduidelik sy.
“Kan ek jou vriend bel sodat hy kan terugkom om jou te kom haal?”
“Ons werk net saam. Ek het hom laat weet dat hy asseblief vir my in die bussie moet wag.”
Dit lyk vir Anelia of daar verligting op die man se gesig daag. “Wat maak jy in hierdie winderige toestand buite? Ek het jou vroeër twee keer hier verby sien stap.”
“Ek het ’n vergadering in die stad, maar ek is bevrees ek het verdwaal.”
Sy waardeer die eerlikheid. Mans erken hierdie swakheid selde.
“Hoekom?” vra sy nuuskierig.
“Hoekom het ek ’n vergadering? Of hoekom het ek verdwaal?”
Wat ’n simpele vraag! “Het jy dan onlangs hierheen verhuis dat jy verdwaal?” verwoord sy haar vraag effens anders.
“Nee, ek moes ’n vreemde firma kom opsoek, maar hier buite is nêrens ’n naambord nie. Ek het die persoon al ’n paar keer probeer bel, maar hy antwoord nie sy selfoon nie. Hy’t seker ook vir vandag se wind gevlug.”
Dit klink na ’n logiese verduideliking.
Die winkeleienaar sit die kartonbekertjies met koffie voor hulle neer.
Die man teenoor Anelia maak albei deksels oop en gooi vir hulle elkeen drie teelepels suiker in voordat hy dit roer.
Dit gee haar die geleentheid om hom onderlangs dop te hou. Daar is ’n smaakvolle, duur horlosie aan sy pols. Sy groot hande maak die deksels weer stewig toe. Anelia drink elke beweging in. As die roer van koffie so sensueel kan lyk, sal