Droomberig. Luné Olivier

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Droomberig - Luné Olivier страница 6

Droomberig - Luné Olivier

Скачать книгу

is niks op die aarde lekkerder as koffie nie,” gesels hy haar ongemak weg. Skielik kyk hy reguit na haar. Sy glimlag vra onomwonde: Hou jy van wat jy sien?

      Sy bloos.

      “Al die suiker is vir die skok,” gesels hy verder. “Jy lyk vir my bekend. Het ons al voorheen ontmoet?”

      Sy sou graag wou antwoord: Ja, net ’n paar dae gelede in my droom het jy my gesoen, en …

      “Ek glo nie. Jy het my seker op Délicieux gesien. Ek is ’n programaanbieder en soms, soos vandag, doen ek veldstories.”

      “Dis reg!” glimlag hy. “Anelia le Roux … jy lyk anders in lewende lywe.”

      “O.” Sy sou eerder ’n woord soos “mooier” of selfs “vriendeliker” verkies het. Sy herroep sy laaste sin. Die manier waarop hy haar naam uitspreek, klink soos heuning vir die gode.

      Konsentreer, Anelia.

      O aarde, haar hare! Geen wonder die man kyk so na haar nie. Sy probeer haar hare platstryk, maar dit maak stellig geen verskil nie.

      Hulle neem albei ’n sluk van hulle koffie.

      “Ek moet gaan.” Sy staan eerste op. “Lewis wag vir my.”

      “Wil jy nie my naam weet nie?”

      Sy geamuseerde oë volg die beweging van haar hande toe sy die los hare agter haar oor probeer indruk. Vir die eerste keer sien sy die kuiltjie in sy wang raak. Dit maak haar lighoofdig terwyl haar hart onreëlmatig begin klop.

      “Nee. Ek bedoel, ja. Jammer,” Anelia kan nie glo sy stotter so nie. Sý wat voor ’n kamera met duisende mense dwarsoor die land praat.

      Hy steek sy hand plegtig uit. “Leon le Hanie.”

      Sy sterk vingers vou warm om hare. Dit voel of haar hele arm lam word. Sy maak haar keel skoon. “Ek sal ongelukkig nou moet gaan. Die kameraman wag nog vir my.”

      Anelia tel haar wegneembeker op, en Leon volg haar voorbeeld.

      “Kan ek ten minste jou nommer kry voordat jy gaan?” vra hy.

      “Ja. Ek bedoel, nee … Jammer.” Wat besiel haar?

      “O.”

      Stilte.

      “Ek sal jou tot by die bussie help. Nou-nou waai jy weer weg,” glimlag hy.

      Sy tel haar handsak op en gooi haar blou skoene daarin. Om straataf te hinkepink sal haar waardigheid net meer skade doen.

      “Tot siens, mevrou,” groet Leon die eienaar hoflik.

      “Tot siens,” groet Anelia ook.

      “Kom gerus weer,” antwoord die dame vriendelik.

      “Ek sal beslis, die koffie is heerlik, dankie.”

      Sjoe, maar die man kan met ’n vrou toor. Selfs die oë van die ouer vrou agter die toonbank blink toe sy groet. Hulle stap tot by die glasdeur.

      Met sy hand op die deurhandvatsel, draai hy na haar: “Jy sal my weer sien, mooie Anelia.”

      Vir haar klink dit soos ’n belofte. Sy sluk die droogheid in haar keel weg.

      Hy staan nader aan haar. Sy hand vou om haar elmboog. Sy vingerpunte streel sagkens oor haar voorarm totdat hy sy vingers deur hare strengel.

      “Hou styf vas,” glimlag hy vir haar voordat hy die deur oopmaak en haar tot by die bussie begelei. Hy maak die deur so vinnig moontlik oop en help haar in. Net met moeite kry hy die deur weer agter haar toegedruk.

      “Uiteindelik!” raas Lewis en trek met ’n vaart weg.

      “Ek is jammer jy moes vir my wag.” Nou voel sy skuldig omdat sy nie daaraan gedink het om vir hom nog ’n koffie te bestel nie en neem’n sluk van hare.

      “Ek het gesien wat gebeur het.”

      Anelia kyk by die venster uit en sien hoe ’n windverwaaide Leon die bussie ’n paar sekondes agterna kyk, sy bene ’n ent uitmekaar geplant om sy ewewig te behou.

      Dan draai hy om en probeer teen die wind aanstap.

      Lewis ry om ’n draai sodat sy Leon nie meer kan sien nie. Sjoe! Sy sit haar hand op haar hart en haal diep asem. Dit is seker hoe ’n mens voel wanneer jy ’n noue ontkoming gehad het.

      Of een van ’n aantreklike vreemdeling!

      Later daardie week droom Anelia van geheimsinnige groen oë wat haar dophou.

      Sy staan onder ’n lou stort terwyl die bewonderende oë elke beweging van haar volg sodat sy van hom af wegdraai en haar kop onder die water indruk. Net toe sy haar arms oplig om haar hare uit haar gesig te vee, gaan die stortdeur oop. Sy skrik toe hy met klere en al in die stort klim. Onthuts kyk sy op na sy gesig en sien hoe sy lippe naderkom. Sy tree terug totdat die kraan teen haar rug druk. Met dié draai die kraan warm kant toe en brand haar vel.

      Sy skrik wakker.

      Haar hele lyf is aan die brand sodat sy huiwerig oor haar skouers vryf. Gelukkig het sy darem nie regtig gebrand nie, maar dit voel wel of sy vuurwarm aan die binnekant is.

      Sy haal ’n paar keer diep asem om weer tot verhaal te kom. Hoe verklaar sy dié drome? Sy het die man skaars ontmoet, en hy spook snags by haar.

      Inteendeel, hy het haar al in haar drome besoek nog voordat hulle ontmoet het.

      Die volgende oomblik gaan die wekker af.

      Traag staan sy op en stap kombuis toe om die perkoleerder aan te skakel, want sy glo aan ordentlike koffie. Veral vir ontbyt. Daarna stap sy badkamer toe om haar gesig met koue water af te spoel, haar liggaam steeds ietwat koorsig.

      Hierdie storie moet nou end kry.

      Later in die dag is sy so besig met navorsingwerk saam met die span dat sy van haar droom vergeet. Sy geniet die werk en leer baie.

      Daardie middag skakel Zack haar weer. Sy antwoord sonder entoesiasme. In haar kop het sy reeds vrede gemaak daarmee dat sy hom nie meer as deel van haar lewe wil hê nie. Soos Mercia gesê het, laat hy haar nie in die nag wakker lê of hartverskeurend huil nie.

      “Prinses, wil jy dan nie vanaand saam met my gaan uiteet nie? Asseblief?” drup die heuningkwas.

      “Ek het planne met Mercia.” Gelukkig hoef sy nie weer te jok nie.

      “OK, kan ek jou dan môre vir middagete iewers kry, asseblief?” Hy begin nou desperaat klink.

      “Goed,” stem sy in, al is dit net, besluit sy, om hom af te sê.

      “Wonderlik, by He/Brew’s?” vra Zack.

      Hulle was nog nooit saam daar nie, maar hy onthou blykbaar dat dit haar gunsteling-koffiewinkel is. Hy gaan net die hele koffie-ondervinding daar vir haar bederf.

      “Ek

Скачать книгу