Operasie droomvrou. Jade Mc Menamin
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Operasie droomvrou - Jade Mc Menamin страница 5
Hulle vriendskap het verdiep, maar die alomteenwoordige skeiding het gebly. En in haar hart het ’n vermoede gevorm dat hy nie oor álles met haar gepraat het nie.
“Sulke mans het almal daardie aura,” het Annabel gesê.
“Mens kan dit beswaarlik ’n aura noem.”
“Dis wat hulle so onweerstaanbaar vir vroue soos ons maak.”
Vroue soos óns?
Annabel Labuschagne het, tot groot ontsteltenis van haar skoonfamilie, geweier om die tradisionele uitspraak van haar getroude van te gebruik. En toe die Franse uitspraak ’n omstrede kwessie word, eenvoudig weer haar nooiensvan begin gebruik.
Dit het Bernard Labuschagne min gepla. Dit was deel van die formidabele Annabel se bekoring.
Elmien het haar ouma ondersoekend aangekyk. Daar was iets onweerstaanbaars omtrent haar. Iets waarop jy nooit jou vinger sou kon lê nie. Beeldskoon. Op ’n klassieke manier. Ook wêreldwys. Want sy het wyd gelees en wyd gereis. Sy het die lewe geken. Mans geken. Soos die gemiddelde vrou ’n man nooit sal ken nie.
Elmien was allesbehalwe ’n femme fatale, ’n sogenaamde “man’s type of woman”. Sy was ’n platjie. Haar ma se plantengel. Haar pa se patatrankie. ’n Natuurkind. Altyd aan ’t luister na die wind in die bome, met een oor gespits vir die aarde se hartklop.
Annabel het goed bedoel, maar haar woorde het Elmien net meer verwar. Met haar ma kón sy nie praat nie. En met haar vriendinne het sy nooit haar hartsgeheime gedeel nie. Toe, in plaas van praat, doen sy wat enige jong liefdesgroentjie sou doen: Sy klap toe soos ’n Venus-vlieëvanger.
3
“En dit?” wil Elmien weet toe Riekert haar kombuis vroegoggend met ’n bonkige lêer onder die arm binnestap.
Hy glimlag soos ’n man met ’n plan. “Dít, my liewe Mienkie, is Operasie droomvrou.”
Sy frons geïrriteerd. Die rede vir sy laaste besoek lê nog pynlik vars in haar geheue. Kan die man nie aanvaar nee is néé nie?
Die uitdrukking op haar gesig gaan by Riekert verby. Hy sit die lêer op die kombuistafel neer, neem oorkant haar plaas. “Ek het heelaand op die internet gesoek: Google, Wikipedia, oral. Uitdrukke gemaak van als wat ek gevind het.”
“Umpff,” sluk sy ’n wind toe hy die lêer oopmaak. Die dik pak uitdrukke is netjies geliasseer in deursigtige plastieksakkies, met helderkleurige verdelingskartonne van een tot tien gemerk tussenin.
Riekert leun vooroor, neem die koffiebeker nonchalant uit haar hand en vat ’n fris sluk. “Mmm … nes ek daarvan hou.”
Elmien se frons verander in ’n nors uitdrukking. Sy vou haar arms dramaties oor haar bors. “Het jy dalk oornag ’n gehoorprobleem ontwikkel, Riek? Of het jy eenvoudig net besluit om my nie ernstig op te neem nie?”
“Die uitdrukke is drukstukke van elke item op die doenlys,” gaan hy voort, reeds verdiep in die inhoud van sy lêer. “Items een tot tien.” Hy glimlag selfvoldaan. “Sodoende kan ons spesifiek soek en nie onnodig tyd mors nie.”
Elmien kantel haar kop iesegrimmig na haar oënskynlik onbewuste vriend. “Óns? Soek?”
Riekert neem nog ’n sluk koffie. “Jy was tog nie eergisteraand ernstig gewees nie, was jy? Toe jy gesê het dat jy my nie kan help soek nie.” ’n Verleë glimlag word ’n jy-kan-tog-nie-nee-sê-nie-glimlag. “Jy kan my nie los om alleen te soek na die liefde van my lewe nie, of hoe, ou Mienkie? Sê nou net ek kry haar nie?” Hy sluk die laaste van die koffie af, plak die beker op die tafel neer. “Dan gaan jy jouself vir die res van jou lewe verwyt omdat jy jou beste vriend nie gehelp het om sy trouvrou op te spoor nie.”
Bliksem.
“Jy gaan my wraggies nie help soek nie!” sê hy ongelowig toe haar houding hom eindelik opval.
Stadig skud sy haar kop heen en weer.
“Regtig, régtig nie?”
Nee, skud haar kop.
“O,” sê hy afgehaal, “ek’t aangeneem dat jy my nie wou help nie omdat jy moeg was, gemeen ’n goeie nagrus sal jou van plan laat verander.”
Daar was sedert eergisteraand g’n rus vir haar onstuimige gemoed nie, Riekert Rossouw. Sy voel die bloed na haar gesig stoot toe hy op ’n sekere manier na haar kyk. Dáái kyk. Asof hy totaal en al verlore sonder haar is.
“Riek …”
Hy glimlag vir haar. En asof dit nie erg genoeg is nie, kantel hy sy kop ook nou, nes sy.
En hy het sowaar nog nie geskeer nie. Haar hart reageer oudergewoonte. Vars stoppelbaard en dáái verdomde kyk!
Bliksem.
“Ag, toe nou, Mienkie, seblief, man.”
Verlore sonder haar? Ga!
“Jý is die georganiseerde, metodiese, planmatige een … nie ek nie.” Dit lyk of hy haar in die rede wil val, maar haar hand skiet omhoog. “Wag. Wat is die woorde wat jy eergisteraand gebruik het tog? Ah! Goed gestruktureerd. Wel, ek’s nie so ’n goed ge-struk-tu-reer-de mens soos jy nie.”
“Wel, ek ís soort van goed gestruktureerd, maar jy hoef nie sarkasties te wees nie.”
Elmien lag ’n aangeplakte laggie. “Jy kan nie stry nie, jy’t vir daai een gevra.”
“Ja, goed, maar dis ’n sensitiewe saak … oukei.”
Elmien vryf oor haar oë, alte bewus van die feit dat sy nie ’n goeie nagrus gehad het nie. Haar hart is ook nog dig toegerank met iets wat soos vrees voel. “Ek sal nie weet waar om te begin soek nie, nie so deeglik soek nie … jy’t my nie nodig nie.”
“Ek hét jou nodig, mejuffrou Jordaan. Jy’s my beste maat. Ons is ’n span. Was nog altyd, sal altyd wees.”
Gmf. Altyd?
“Miskien moet ek jou herinner dat jy met studieverlof is met die uitsluitlike doel om jou tesis klaar te skryf en nie om na die spreekwoordelike naald in die hooimied te soek nie.”
“En miskien moet ek jóú herinner dat ons alles saam doen.” Hy glimlag weer oorrompelend. “Toe, kom nou, sê jy sal my help.”
Elmien staan op om vir haar koffie uit die platboomkoffiekan op die stoof te skink. Sy maak die beker wat na haar uitgehou word, ook weer vol. Dan gaan staan sy met haar rug teen ’n kombuiskas. “Wat verwag jy van my? Wat wil jy nou eintlik hê moet ek doen?”
“Dit sal gaaf wees as jy saam met my deur die lys kan gaan. Plekke identifiseer waar sy heel moontlik gereeld kom. Name en telefoonnommers kry. ’n Bietjie rondbel. Miskien selfs ’n