Operasie droomvrou. Jade Mc Menamin
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Operasie droomvrou - Jade Mc Menamin страница 6
Sy haal diep asem, wel wetend dat dit meer van ’n toets as ’n soektog gaan wees. ’n Toets vir haar. “Nou goed dan.”
“Dankie, Mienkie!”
“Nie so haastig nie,” perk sy sy entoesiasme in. “Ek sal saam met jou deur die lys gaan en maak soos jy voorgestel het, maar as jy haar nie binne die eerste week vind nie, is jy op jou eie. Oukei?”
“Oukei … wanneer begin ons?”
Die bykans kinderlike ywer waarmee hy wil begin soek, pluk aan haar hart. Sy vou beide hande om haar beker. “Net nie vanoggend nie.” Sy blaas ’n paar keer oor die koffie, sluk versigtig, blaas weer toe sy besef dat dit steeds te warm is. “Vanoggend moet ek vroeër by die kwekery wees. Ek en George het ’n vergadering met die personeel oor die watertuinskou.”
Riekert strek sy arms behaaglik bo hom uit. ’n Paar fris bo-arms bult aanloklik toe sy hempsmoue terugskuif. Daai blêrrie kyk, die glimlag, stoppelbaard en arms; en dit als op ’n nugter maag! Sy slaan haar oë af, maar toe hy sy hande agter sy kop vou, loer sy tog. Net om deur die oplettende oë betrap te word.
Sy draai gou na die opwaseenheid en sit die beker met die res van haar koffie in die opwasbak neer. Hier moet sy uit. “Jy kan jou lêer môreaand bring, dan kyk ons wat ons kan doen.”
“Môreaand eers?”
“Sien dit as ’n voorsprong,” laat sy vermakerig hoor.
“Gmf!” blaas hy kamma verontwaardig, maar glimlag nietemin dankbaar.
’n Frons kreukel haar voorkop. “Wat van jou tesis?”
“Daar’s genoeg tyd daarvoor.”
“Daar is dalk, maar is dit raadsaam om jou aandag nou te onderbreek? Om die draad te verloor, uit daardie konsentrasiesone te beweeg. Ek meen, jy’t so hard gewerk om tot hier te kom. Dit sal jammer wees as jy die pad nou moet byster raak.”
“Byster raak?”
“Wel, as jy jou fokus moet verloor.”
“Ek sal nie.”
“Belowe?”
“Ek belowe.”
Party beloftes klink eenvoudig asof hulle gemaak is om gebreek te word. Die liefde is nie net blind nie, dis roekeloos. Sy onderdruk ’n sug. “Ek moet gaan.”
Sy sal hom help omdat sy hom liefhet, en om géén ander rede nie, besluit sy terwyl hulle na haar motor stap. Dis ’n hartsbesluit. Want die hart wil hê wat die hart wil hê. En die hart het boonop sy eie manier van doen.
Riekert soen haar oudergewoonte op die wang.
Sy sal hart en siel in die stryd werp. Al is dit dan met ’n lag en ’n traan. Al beteken dit dat sy hom heel moontlik gaan verloor. En as sy hom moet verloor, sal dit ter wille van die liefde – en die liefde alleen – wees.
Maar as hulle vriendskap die soektog oorleef, is hulle dalk net vir mekaar bedoel.
Sy vat aan haar wang waar sy soen nog brand.
4
“Hoekom het Ma-hulle my Elmien gedoop?”
Haar ma hou op skil aan die aartappel. Die groentemessie hang roerloos in die lug terwyl sy haar dogter verbaas aankyk. “En waar kom dít nou vandaan?”
“Ag, ek vra sommer … ek dink deesdae aan sulke goed.”
Haar ma frons. “Watse goed?” Onraad kan sy van ver af ruik. Sy kan dit in ’n hospitaal vol siekte en dood ruik.
“Ek’t net gewonder hoekom juis Elmién.”
“Hoekom wonder jy?” Haar ma se besorgdheid sit gou om in agterdog.
“Ek wonder maar net. Hoekom het julle nie iets meer romanties of eksoties gekies nie?”
“Jy wonder mos nooit oor sulke goed nie … hoekom nou?” hou haar ma vol.
Elmien is spyt sy het gevra. “Vergeet dit.”
“Moet jou nou nie wip nie.”
“Ek wip my nie. Ma oordink al weer als.”
“Jy’s nie jouself nie.”
Elmien sluk selfbewus, vermy haar ma se ondersoekende blik. Ma’s en hulle voorgevoelens en aanvoelings en instinkte! “Ek wil net weet hoekom Ma-hulle nie vir my ’n meer romantiese of eksotiese naam gegee het nie, dis al.”
Die sekonde of twee voordat haar ma antwoord, voel soos minute. Elmien druk ’n stukkie aartappelskil in haar mond en knibbel kamma ongeërg daaraan.
“Soos wat nogal?”
“Wel, iets soos Allegra, Alyssa of Anouk.”
“Allegra, Alyssa of Anouk?” Dit lyk asof Hester die aartappel en groentemes wil neergooi en hardloop vir haar noodhulptas.
“Jip.”
“Tsk, jy’s mos g’n ’n Allegra, Alyssa of Anouk nie.”
“Hoe kan Ma so sê? Ek meen, hoe kon Ma destyds al so seker gewees het ek gaan nie ’n Allegra, ’n Alyssa of ’n Anouk word nie?”
“Gmf, ek het net geweet. Maar, glo my, as ons die naamgeeëry aan jou ouma oorgelaat het, sou jy sekerlik Allegra, Alyssa of Anouk gewees het.”
“Sy’t Ma dan ’n tradisionele familienaam gegee.”
“Op aandrang van jou oupa, ja. En sy het hom nooit vergewe nie … so lief soos sy hom gehad het.”
“Wie’t besluit om my Elmien te noem?”
“Ek en jou pa het saam ’n klompie name uitgesoek, maar jy’t jou naam eintlik self gekies.”
“Ek onthou dat Ma gesê het dat ek die eerste keer beweeg het toe Ma my naam hardop –”
“Jy’t nie net beweeg nie, jy’t geskóp.” Haar ma sit die aartappel en die groentemessie neer om te beduie presies hoe en waar daar geskop is. “Ek was besig om my lysie babaname hardop te lees, nogal omdat jou ouma daarop aangedring het dat ek kwansuis eers moes voel hoe die name in my mond sit, toe ek jou voel skop het. Ek het jou vroeër al voel beweeg, maar dit was die eerste keer dat jy geskop het … asof jy vir my iets wou sê.”
By die aanhoor van die woord “lysie” het elke breinsel in Elmien se kop penorent gespring. “Was Ma een vir lysies? Ma weet, doenlysies, om-te-lysies.”
“Nee wat, buiten die kruidenierslys teen die yskas het ek nooit erg aan lysies gehad nie.”
Elmien sug.
“Wil jy regtig oor jou naam praat of is daar iets anders waaroor ons behoort te gesels?”