Satyn Omnibus 8. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 8 - Ettie Bierman страница 28

Satyn Omnibus 8 - Ettie Bierman

Скачать книгу

skakel die rekenaar af, skaam oor haar verregaande verbeeldingsvlug. ’n Passievolle nag saam met Thys op ’n verlate strand … Genade! Waar kom sy daaraan? Uit een of ander stroperige fliek wat sy gesien het? Wie is sy om ’n beskuldigende vinger na Ruan te wys? Sy wat amper net so skuldig soos hy was, al was dit net in haar gedagtes.

      In ’n mate kan sy haar in Ruan se posisie indink. Sommige mans sou die situasie geniet het, selfs uitgebuit het: twee vroue smoorverlief op hom, wagtend met ope arms dat hy een van hulle kies. Was haar pa een van daardie soort gewetenlose mans?

      Ruan het oortree, maar hy is nie gewetenloos nie. Hy wroeg en probeer ’n fatsoenlike uitweg vind, die skaal balanseer en almal tevrede hou. En in die proses word hy self in stukkies gekerf en fyngemaal. Deur ’n sif gedruk, het hy dit genoem. Want dis nie moontlik nie. Met drie komponente daarby betrokke, kan die skaal nie balanseer nie. Daar is altyd een wat uitskot word, wat op die grond val en seerkry.

      11

      Nikka kry nie kans om ’n bietjie van die begrip te toon waarvoor Ruan gevra het nie. Dit word donker en Millicent en Andries is lankal huis toe, toe werk hy steeds met ’n lig op die dak, besig om geroeste spykers en dakskroewe te vervang. Sy maak fudge, malvalekkermuise en gestopte hoender vir aandete. Dan gaan sit sy in die sitkamer met die koerant wat Ruan gebring het.

      Anders as wat hy verwag het, slaan sy die nuusberigte oor en begin agter, by die sportbladsye. Daar is tennis, sokker en krieket, maar die Super14-rugby oorheers alle ander sportnuus, met Ruan van der Hoven se naamreël prominent boaan elke bladsy. Ruan het lang ure gewerk. Afgesien van sy dekking van afsonderlike wedstryde, het hy ook individuele spelers se prestasies ontleed, insluitend dié op die reserwebank wat die laaste twintig minute op die veld verskyn het. Hy het ’n profiel gedoen oor die skeidsregters wat vir elke wedstryd geblaas het, asook die speler van die wedstryd. Hy waag selfs ’n gemotiveerde voorspelling, drie kolomme lank, oor die uitslag van die twee halfeindstryde.

      Die skryfstyl is vlot en behendig, sy taalgebruik suiwer. Geen wonder hy het in matriek onderskeidings in Afrikaans en Engels gehad, dit sy hoofvakke op universiteit gemaak, en albei in sy finale jaar gecum nie. Ruan het ’n natuurlike aanvoeling vir tale, hy en Thys albei, daarom dat hulle die joernalistiek as loopbaan gekies het.

      Nikka tel die aantal bladsye wat getuig van dae en dae voor ’n rekenaar. Daar kon nie veel tyd vir ander bedrywighede gewees het nie – vir amoreuse versoekings en verleidings nie. Sy wonder of die vaal flerrie daarmee tevrede was.

      Die gedagte beur haar op, al is dit duidelik dat Ruan haar vermy en geroeste dakspykers bo haar verkies. Sy gun hom die alleentyd, die ruimte en afstand wat hy nodig het. Toe dit laat word, sit sy sy bord kos in die mikrogolfoond en gaan slaap.

      Die volgende oggend toe sy in die gang verbystap, is die spaarkamer se deur toe. Maar sy hoor die stortkrane en sit solank koffiebekers reg. Toe sny sy die fudge in blokkies en pak die verjaarsdagmuise met snorbaarde en liquorice-sterte op ’n skinkbord oor.

      Haar hande verstil toe Ruan by die kombuis inkom. Hy is skoongeskeer en sy hare effe krullerig van die stort. Maar dit lyk of hy heelnag op die dak was en niks geslaap het nie.

      “Hallo,” groet hy versigtig.

      “Môre.” Nikka groet luiters, asof niks gebeur het nie. “Lekker dag, is dit nie?”

      Hy kyk deur die venster. “Sonskyn, ja. Dis goed vir jou piekniek.”

      “En die krieket op Wanderers.”

      “Ek hoop om die kinders se onthalwe dit reën nie.”

      “Ons hou die partytjie by die lapa, wat darem beskut is. As dit reën, sal die kapokkies daar skuiling soek en goeie vermaak vir die kleintjies bied. Die grasdak lek gelukkig nie meer nie, ek het mense gekry wat dit met ’n ekstra deklaag dig gemaak het.”

      “Ek het by Thys gehoor, ja. Ook van die kapokkies en die pad wat geskraap is. Dis goed.”

      So, hy het darem genoeg belanggestel om Thys na haar doen en late uit te vra? Of dalk het Thys net vertel en hy het geluister.

      “Ek het heelwat onkoste gehad, maar nie my banklening oorskry nie.”

      Ruan lyk ongemaklik. Hy bekyk die verjaarsdagkoek, tel een van die aapmaskers op om dit van nader te ondersoek, en kug dan effens. “Ek is jammer ek het gesê jy is onverantwoordelik. Jy is nie. Jy weet hoe om met geld te werk.”

      Nikka waardeer die verskoning, maar sy vryf dit nie in nie. “Ook maar net soms. Ek laat my maklik deur ’n mooi rok of ’n paar skoene in ’n winkelvenster verlei.”

      “Dis ’n vrou se goeie reg. Sy verdien om mooi te lyk.”

      Dit kom moeilik en hy sukkel, maar Ruan probeer hard. Nikka wens sy kon hom help. Maar sy is ook nie op haar gemak met hom nie; sy loop ook maar katvoet. Voorheen sou dit soveel makliker gewees het om hom net ’n soentjie te gee, ’n drukkie, iets in sy oor te fluister en hom gangaf te sleep.

      En hy sou hom ook nie teëgesit het nie, hom ewe gewillig laat saamsleep het. Haar halfpad in die gang af in sy arms opgetel het … Tussen die lakens kon hulle altyd enige probleem oplos, maklik en vinnig en spontaan. Sy mis dit.

      Ruan wys na die luiperdkoek. “Het jy dit gebak?”

      “Nee, my ma.”

      “Kom sy met die piekniek help?”

      “Laas keer het sy. Hierdie keer het ek verkies om alleen reg te kom, met Millicent se hulp.”

      “Weet sy … weet jou ma van ons probleme? Dat ons dalk gaan … e …”

      “Nee,” help Nikka hom. Omdat sy ook nie daardie gewraakte woord wil hoor nie en steeds daarvan wegskram. “En jou ouers? Het jy hulle al gesê?”

      “Nee. Ek wil hulle nie ontstel nie. Kom ons hou dit voorlopig so.”

      “Voorlopig,” eggo sy met ’n onderstebo glimlag. Nuttige woord daardie …

      Hy draai weg en bekyk die pienk muise in eenderse rye op die skinkbord uitgepak. “Is hulle ook vir vanmiddag se piekniek?”

      “Ja. Eet een, as jy wil hê.”

      “Gaan jy nie kort raak nie?”

      “Nee, daar’s volop. Ek onthou hoe versot jy en …” begin sy, maar keer haarself, gedagtig daaraan dat Thys gisteraand een van die hoofrolspelers in hul argument was. “Hoe versot jy altyd op liquorice was,” voltooi sy die sin.

      “Hondebloed,” onthou hy ook.

      “Die oumense het dit so genoem.”

      “Bobbejaanbloed, het jy dit genoem.”

      “Dit het jou nie afgeskrik nie. Jy kon pakke vol daarvan inryg, tot jou mond later pikswart was.”

      Hy lag, al bly sy oë somber. “En as ek gedreig het om jou te soen, het jy gegril en weggehardloop.”

      “Dit was om jou te terg, sodat jy my kon jaag. Ek het geweet jy sal my inhaal, want jy kon twee keer so vinnig hardloop as ek.”

      “Drie keer.”

      “Tien

Скачать книгу