Kom sit aan. Rudi Swanepoel
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kom sit aan - Rudi Swanepoel страница 3
Met die opening van die restaurant in 2007 het ek 73 kg geweeg. Drie maande later het ek die skaal op 65 kg getrek. Die finansiële druk was geweldig en grotendeels my eie skuld. My en Carina se verhouding het nie die druk vrygespring nie en nog ander verhoudings het swaar getrek. Dit was baie, baie moeilik.
Daar kom altyd ’n dag dat die onafwendbare onafwendbaar is. Die keuses is op. Daai soort dae is hartseer, maar bring ook ’n soort verligting wat nie ver verwyderd is van die verlies nie.
Ons moes toemaak en verkoop en die skuld wat ons kon betaal, betaal. Dit was pynlik.
Ek het ’n sware taak gehad om te probeer sin maak van wat gebeur het. Een van die moeilikste goed wat ek moes doen, was om myself te vergewe vir swak besluite. Met die hulp van baie genade en onvervangbare ondersteuning van familie en vriende kon dit uiteindelik gebeur.
En snaaks genoeg het die mees onverwagte en positiewe dinge, wat nog geslagte lank waarde sal hê, daaruit voortgekom. Dit was dus nie tevergeefs nie.
Daarna het ek heel gereeld gewonder of ek ooit die storie sou kon vertel.
Dit is nie daai storie dié nie.
Dalk is dié woorde ’n poging om dít te bereik: om te integreer, om bymekaar te sit, om die waarde wat ons aan alledaagse dinge kan heg (maar wat verlore geraak het) terug te bring, om heel te probeer hou, om krag te gee en moed in te praat.
Want terwyl eet ’n baie natuurlike ding is, is dit nie altyd maklik en ongekompliseerd nie. Dit omvat baie fasette, baie geskiedenis, baie bestanddele, baie maniere, baie moontlikhede.
My missie met dié boek is om twee dinge te bereik: om mense lus te maak om self te kook, en om mense uit te nooi om saam te eet. En teenwoordig te wees wanneer hulle dit doen.
Ek besef deeglik dat daar baie hindernisse is wat dit moeilik maak: min tyd, gebrek aan selfvertroue of ervaring, selfs vrees.
En tog meen ek dit moet ons nie verhinder nie.
As jy self wil kook, begin klein. Jy hoef nie op dag een al suurdeegbrood te bak of ’n restaurant oop te maak nie. Leer iets. Probeer iets. Gaan kuier by iemand wat weet. As jy desperaat is, kyk ’n YouTube-video, maar gaan leer eerder by ’n regte mens. Luister wat die eksperts jou kan vertel en moenie skrik vir nuwe dinge nie.
As jy alleen is, gaan soek iemand om langs jou te staan. Neem daai stap. Waag dit net.
’n Verbond met ons voedsel
Die kos wat ons eet, is nie bloot koue voorwerpe wat ons verbruik nie. Alles wat ons eet, was eens lewend, het gegroei en is gevorm. Martin Versfeld sê die kos wat ons eet, is ons band met die aarde.
Bybels gesproke is daar natuurlik ook ’n heerlike perspektief hierop: Ons word in Genesis 9 vertel dat God ’n verbond met die hele aarde gesluit het – nie net met die mense nie. Die “hele aarde” sluit plante en diere in!
Daarom, wanneer ons eet, is ons eintlik besig met ’n heilige aktiwiteit.
Dis maklik om te verorber, sonder aandag te eet, te verslind, te veel te eet, sleg te eet en goor te voel omdat jy nie lekker eet nie.
Jy bevind jou op ’n glibberige afdraande pad wanneer jy jou oorgee aan kos wat te maklik na jou toe kom, aan soetgoed en aan feeskos wat spesiaal gemaak is vir ’n feesdag of ’n buitengewone viering.
Om aandagtig te eet, om die spiritualiteit van kos, produkte, voorbereiding en genot te bedink en te waardeer, is nie maklik nie.
Wanneer jy agt of nege of tien (of meer) uur per dag werk, nie ’n sterbeplanner is nie en dus vergeet om vooruit te dink, stop jy vinnig by ’n kitskosplek vir ’n hamburger en tjips, of by Woolies vir ’n maaltyd wat na ’n mikrogolf verlang.
Dis hoe baie mense vandag eet.
Vinnig.
Sonder om te dink.
Met min variasie.
Terwyl ’n kosprogram (dink Masterchef, My Kitchen Rules, Kokkedoor of Come Dine with Me) gekyk word.
En net dan en wan met so ’n bietjie verbeelding en ware plesier. Of saam met interessante mense.
Maar wat is die alternatiewe? Is daar minstens een werkbare, heilsame alternatief vir onnadenkend (en dikwels ongedissiplineerd) eet?
Daar móét eenvoudig wees.
Miskien is die antwoord weggesteek tussen die fyn lyne van spiritualiteit1.
Wat is spiritualiteit? Is dit nie om dieper, verby die voor die hand liggende te soek en te kyk en te sien nie?
Het spiritualiteit nie te make met ander dimensies en meer interpretasiemoontlikhede – van alles wat is, alles wat ons beleef en alles wat ons waarneem – nie?
Is die uiteinde van lewegewende spiritualiteit nie groei en onuitspreeklike tevredenheid nie?
Spiritualiteit is ’n mistieke ding; dis die waardering van die onverklaarbare; dis ’n verwondering oor dit wat is (oor álles wat is), die skeppende vormgewing aan wat kan wees en ’n proses van vrede maak met dit wat nie is (of nog nie kan wees) nie.
Spiritualiteit is om in verbondenheid te leef. Dis om bewus te wees van die onderlinge koppelinge en delikate skakels tussen alles en almal, gebore uit God se verbondenheid met alles en almal wat is.
Redelik aan die begin van die Bybel word die oerverhaal van Noag en die ark vertel. Ons onthou dalk die storie uit ons kinderdae: Dit wat ons bygebly het, is die prentjies van ’n man en ’n gesinnetjie, maar ook veel meer – ’n ellelange ry diere wat doelgerig teen ’n plank op stap tot in die groot, veilige houtskip, twee-twee in perfekte paartjies.
Dan die grys lug, die baie water en die onophoudelike reën vir 40 dae en 40 nagte aaneen.
En natuurlik die reënboog.
Die deel wat ons vergeet, is dat die reënboog juis ’n verbondsteken was.
Ons het natuurlik die besonderhede van die verbond wat God met Noag gesluit het heeltemal misgelees. As jy mooi kyk, doen die skrywer(s) nogal moeite om die omvattendheid van die verbond te beduie. God se verbond met Noag is ’n verbond met hom en sy mense, maar ook met die diere, die plante en al die lewende wesens. Dit staan so. In die Bybel.
Dis asof alles wat is, ingesluit word. Niks wat is, word uitgesluit nie.
Wat sou dit tog beteken?
Dit beteken dat God nie ver is nie, maar verbind, verbonde aan die aarde, aan die lewende wesens wie se lewe almal deur die aarde, Moeder Natuur se kosbare hulpbronne en intiem verweefde ekosisteme moontlik gemaak word.
Dit beteken