Kom sit aan. Rudi Swanepoel
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kom sit aan - Rudi Swanepoel страница 7
Ons leef geïsoleerd.
Ons het verbondenheid vergeet.
Ons is alleen en kwaad.
En ons sorteer nie regtig ons issues uit nie.
Daar is al baie gesê en geskryf oor hoe ons deesdae ons keuses maak in terme van waarna ons kyk, na wie ons luister en wat ons lees. Die feit bly dat ons kies: In die wêreld waarin ons vandag leef, kiés ons ons bronne. Ons maak mense bymekaar van wie ons hou, met wie se menings en vertrekpunte ons saamstem. Dan luister ons na hulle en wat ons vermoed, word versterk. Ons vooropgestelde idees word bevestig en nie noodwendig uitgedaag nie.
Dit veroorsaak polarisasie en ekstremiteite, asook onverdraagsaamheid en onbuigsaamheid.
Ons het steeds ’n geweldige invloed op mekaar, maar dit gebeur per geleentheid, en hoewel die invloed hoegenaamd nie net negatief is nie, ervaar ons nie die onderlinge verbondenheid wat moontlik is tussen mense nie. In dié wêreld is dit moontlik om mekaar af te maak en af te skryf, weg te skuif en selfs te vergeet dat daar ander menings en stemme en perspektiewe is.
Ons begin onder die wanindruk leef dat ons altyd reg is, en dat ander meestal verkeerd is.
Tensy ons in dieselfde vertrek kom, tensy ons saam-saam sit, tensy ons by ’n tafel is met ons ore en harte oop.
Wanneer ons luister, wérklik na mekaar luister, onbevange en sonder vrees na mekaar luister, ontspring verbondenheid. Ons hoor mekaar nie net nie, ons sien mekaar ook. Ons sien en ons kry begrip, ons oordeel raak sagter en ons bekom insig.
Maar om te luister is nie so maklik soos om die ketel aan te skakel of die roosterbrood te verbrand nie. Luister is ’n kuns, ’n gesogte vaardigheid; dit is iets wat sielkundiges met baie moeite leer doen en wanneer hulle dit goed doen, gee hulle vir jou die gevoel dat jy gesien word, dat jy nie ’n blote toevalligheid of ’n ontydige lastigheid is nie.
Om te luister moet jy pause druk. Jy moet jou gedagtes, jou bekommernisse, jou menings en jou eie storie eers parkeer, ten minste terughou, vir ’n rukkie bêre.
Wanneer jy dit doen, maak jy plek. Jy skep ruimte tussen jou en jou genoot, ruimte vir die prater om te deel. Jy laat haar toe om play te druk, om haar waaksaamheid te laat gaan en maar net te gesels. Jy gee hom ’n onbekostigbare geskenk, die gevoel dat hy kan ontspan, dat sy ervaring en besorgdheid nie nietig is nie, dat dit in die oopte mag wees en nie weggesteek hoef te word nie.
Die waarheid maak ons vry.
Jou tafel kan jou plek van waarheid wees. Julle plek van waarheid. Alle waarhede, van gemaklik en ongekompliseerd tot dié met skerp kante en ontelbare fasette.
Maar jy moet daai tafel toe-eien, jy moet hom oormerk, jy moet hom opsy sit, jy moet hom dek. Selfs mooimaak. Kerslig kan die swaarste ontboeseming minder neerdrukkend laat voel.
Jou tafelgenote moet weet dat jou tafel ’n plek sonder vaardige oordeel en vinnige kritiek is. Hulle moet voel dat nie net hulle lywe nie, maar ook hulle angs en hartseer en humor en klein vreugdes welkom is, dat hulle sonder ongenaakbare sensors en met min genoeg vrees kan saamsit. Dat hulle plek het.
Wanneer jy mense by jou tafel verwelkom, is jy nie net ’n verbondsmens nie, maar ook ’n verbondskepper.
Offerkos (iets sterf sodat ons kan lewe)
’n Mens kry jou energie uit dít wat jy eet. Die plant en dier wat op ons bord beland, het ’n wyle terug nog geleef: die dier deur die klop van ’n hart en die plant deur ’n magiese proses van fotosintese en absorpsie van water, minerale en ander voedingstowwe.
Die groeiproses is egter beëindig voor die kos in jou yskas of op jou bord beland het. Dood het ingetree en as verwerking of bewaring nie sou plaasvind nie, sou verrotting die uiteinde wees.
Maar dis juis weens dié onafwendbare feit – die feit van die dood – dat ek en jy aan die ontvangkant van lewensonderhoudende energie beland. Ons kan eet en leef omdat iets gesterf het.
Daar is baie mense op die aarde. Miljarde. Dié mense moet almal eet en drink om aan die lewe te bly. Die volume kos wat deurentyd nodig is om die wêreldbevolking te voed is aardskuddend.
Kan jy jou dit indink?
In Amerika alleen word daar beraam dat 39 000 000 hektaar grond gebruik word vir mielieverbouing. Sowat 94 400 000 beeste bewandel die lengte en breedte van Amerika. Ongeveer 135 000 000 hoenders word daagliks wêreldwyd geslag.
Kolossale bedrywe bestaan en ontstaan rondom die mens se behoefte aan kos. Die verbouing van voedsel en neweprodukte benodig tallose werkers, maar die landskap verander vinnig en voortdurend weens onder meer meganisering.
Die feit bly staan, kos is groot. Kos is lewend, gaan dan dood, verskaf dan energie en lewe. En die siklus gaan aan.
Ek wonder soms hoeveel mense dink aan die dood wanneer hulle aansit vir ete. Die naakte werklikheid is dat alles op jou bord, of dit slaaiblare of biefstuk, graanvlokkies of skaapvleisblokkies is, eens geleef het. Die plante het nou wel nie noodwendig ’n hartklop gehad nie, maar hulle het gelewe.
En toe plante gepluk is, of begin verwelk het, of diere geslag is, het die dood ingetree. En verrotting.
Of begín intree.
Dis dié dood – die dood van ’n plant of ’n dier – wat vir my en jou lewe gee. Sonder dood kan daar nie lewe wees nie en kan energie nie oorgedra word nie.
Die oordra van energie is op sigself ’n wonder.
Dink maar aan koring. Die koringplante groei, is geil en groen op die lande en vorm koringare. Dit bereik die einde van hulle lewe, verbruin stadig en “sterf” uiteindelik. Die koring word geoes en gemaal. Die koringkorrels se doppe word uitgewan; die kosbare korrels wat oorbly, word gemaal.
Meel is gemaalde koring. Meel lyk dood. En as dit ongebleikte meel is, vaal.
Maar vaal meel kan weer lewe. Dit kan lewe kry, nadat dit met water en gis gemeng is. As die verhouding tussen die elemente reg en die toestande gunstig is, groei die deeg, dit rys en het die potensiaal om brood te word.
As dit teen ongeveer 200 °C gebak word, word dit eetbaar, smaaklik en voedsaam. Dit bevat energie, dit géé energie. En onderhou lewe.
Energie is oorgedra. Wat “dood” was, gee lewe. Gee wéér lewe.
Is dit nie ’n wonder nie? Is dit nie die mees fantastiese daaglikse wonder nie?
Ons lewe nie daagliks (of gereeld) met die bewustheid dat iets gesterf het sodat ons kan eet en leef nie.
Hoekom nie? Want ons verbou nie ons eie kos nie. Baie min van ons leef in voeling met eetbare plante en diere.
Verbeel jou ’n oomblik dat jy nog nooit op ’n