Helena Hugo Tweede Keur. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo страница 18

Walter is nie reg nie en Pierre ook nie. Vir Walter ken sy te goed en vir Pierre te sleg. Sy moet haar kop skoon kry en van voor af begin. Twee-en-twintig is te jonk om vas aan een man te wees. Mense trou nie meer so vroeg nie – nie soos in haar ouma se tyd toe meisies oujongnooiens genoem is as hulle nie voor hul een-en-twintigste verjaardag verloof was nie.
Sy wil verlief wees, dink Magriet, en verlief bly. Sy wil elke keer smelt as sy haar man sien. Sy moet lank met hom uitgaan voordat daar na verloofringe gaan kyk word, sy wil hom goed leer ken. Sy wil weet wat hy graag eet en drink, na watter musiek hy luister en watter boeke hy lees, én of hy kan dans en sportief is. Gaan hy gereeld kerk toe, hou hy van kinders? Sy wil haar gedagtes met hom deel en na syne luister. Hy moet haar die stories van sy lewe vertel, hopelik nie dieselfde een oor en oor nie. Sy wil ’n toekoms saam met hom beplan, ’n huis bou in ’n stad waar hulle albei gelukkig kan wees: op rots, nie op sand nie.
Toe sy eindelik slaap, droom Magriet van stralende paartjies en kerkies vol blomme en kerse. Sy kyk deur haar bruidsluier en sien sy gesig, Pierre s’n, sy kuif wat oor sy voorkop val, sy slanke hande. Sy hoor sy simpatieke stem: “Jy gaan opstaan, kom ek wys jou.”
Sy sal, dink sy in die droom. Sy sal opstaan en haar losmaak en ontsnap uit hierdie gekoekte visnet van foute.
Dinsdagoggend kwart oor ses toe haar pa haar kom wakker maak, slaap sy vir die eerste keer rustig. Sy worstel om wakker te word.
“Is dit al oggend?”
“Ja, ek was ’n kwartier gelede ook hier. Jy het so vas geslaap, ek kon dit nie oor my hart kry om jou te pla nie. Maar nou móét jy op. Ma is reg om jou te help.”
Haar oë brand en haar bene voel nog swaarder as gewoonlik. “Die mense het te laat gekuier.”
“Ja,” sê haar pa stroef, draai om en stap uit.
Vandag gaan Magriet sukkel om wakker te bly. Die student wat haar moet help, is genadiglik op en wakker en vol vrolikheid. Sy hanteer ’n syferles baie goed en wys die kinders hoe om ’n sigsagpatroon te teken.
Tydens pouse sit Magriet agter haar lessenaar en dut toe Walter bel om te sê dat Noeline die volgende oggend geopereer word. Die spesialis wil elke verdagte merkie op haar lyf verwyder en laat toets. Hy sê sommige van die gewassies is al ver gevorder en chemoterapie en bestraling sal dalk oorweeg moet word. Maar daarvoor moet hulle vir die uitslae van die toetse wag. Hulle sal nie vanaand kan kom kuier nie, want Noeline mag van tienuur af niks eet nie. Maar hulle het gisteraand se braai baie geniet, dankie.
“Vat jy haar môre hospitaal toe?” vra Magriet.
“Ja, my pa is onseker oor die paaie en die verkeer.”
“Ek is jammer, Walter, dis boonop jou besige tyd, met maandeinde en alles.”
“Dis ’n krisis, Jerome verstaan.”
Magriet waag dit nie om hom daaraan te herinner dat hulle twee ook ’n krisis deurmaak nie. Dit sal darem te naar wees. Tog het sy ’n gevoel hy weet waarna sy verwys het met “en alles”.
“Dokter sê sy moet ten minste een nag in die hospitaal slaap. As dit een of twee moesies was, sou sy kon huis toe kom, maar hare sit soos sproete.”
“Die son is so gevaarlik.”
“Hulle het gedag hulle het sterk velle. My pa is gelukkig nog oukei.”
“Wel, dis ’n wake-up call vir hom ook. Ek bel jou ma vanaand na jou selfoon toe. Hoe laat sal jy by die huis wees?”
“Seker so seweuur. Jy gee nie om dat ons nie by julle eet nie?”
“Nee, natuurlik nie. As ek nie op krukke was nie, het ek kom inloer.”
Magriet is net te dankbaar. Sy sien nie kans vir nog ’n aand se toneelspel nie. Vanaand wil sy vroeg gaan slaap.
“Dankie dat jy verstaan.”
Walter klink vandag ewe soos ’n sensitiewe siel. Sy stem klink selfs vir haar effens hoër as gewoonlik. Nou goed, as hy dalk broos voel met sy ma se dinge, sy sal nie na hul gesprek van Sondag verwys nie, nie nou nie. Maar sy gaan nie toelaat dat dit oorwaai nie. Dit sál nog ter sprake kom.
Sy gaap, sit haar kop op haar arms en dommel in, totdat iemand aan haar mou pluk. Dis Benji, die enetjie met die ouma wat ’n fisioterapeut is. Sy ken rus op die tafelblad langs haar en sy asem blaas warm teen haar wang. Sy kom vinnig orent.
“Ja, Benji?”
“Juffrou, ek het my hand opgesteek, maar juffrou het my nie gesien nie.”
Die kinders maak soggens beurte om te sê hoe dit met hulle gaan. Dié wat wil praat, praat, en dié wat stilbly, kry deur die dag ekstra aandag van hul juffrou. Benji praat te graag en soms moet sy sy hand miskyk.
“Jammer, Benji, maar jy kan nie elke dag ’n beurt kry nie.”
“Vandag was belangrik!”
“Vertel dan maar vir juffrou.”
Hy staan op aandag en lewer sy toesprakie.
“Ek het vir my ouma gesê juffrou gaan volgende week dokter toe en hy gaan die gips van juffrou se bene afsny. My ouma sê as juffrou nie van juffrou se fisioterapeut hou nie, moet juffrou haar bel. Sy maak nie seer nie, sy is my ouma.”
Die outjie swaai ’n blou visitekaartjie in die lug. Dink die vrou regtig sy kan deur haar kleinkind adverteer? Magriet vat die kaartjie by hom en wil dit bekyk, maar sy moet eers gaap. Sy laat val die kaartjie en druk albei hande voor haar mond – ’n ou gewoonte. Sy kan nooit net een hand gebruik nie.
Benji giggel en trek weg met een van sy versies. “Sit jou hand voor jou mond sê die padda vir die hond, sê die aap vir die skaap as jy gaap, as jy gaap.”
Ewe kontant. Hy het ’n hele arsenaal van sulke versies en limerieke.
“Waar leer jy dit, Benji?”
“By my ouma as sy kom kuier. My oupa het weggeloop.”
Hy mis sy oupa, dis duidelik – Magriet en die hele klas het die storie al ’n paar keer gehoor.
Die visitekaartjie lê voor haar op die tafel. Hy tel dit op en gee dit weer vir haar.
“Juffrou moenie juffrou se kaartjie verloor nie. Dis my ouma se telefoonnommer.”
“Dankie, Benji. Sê vir jou ouma ook baie dankie.”
“Oukei, ek sal. Baai, juffrou!”
Hy maak ’n klein bokspringetjie en huppel deur toe waar sy maatjie, Ruan, getrou teen die kosyn staan en wag. Magriet kyk na die kaartjie sonder om te lees wat daarop staan. Sy sal Pierre mos nooit vir Benji se ouma verruil nie. Maar wat sê sy vir die kind? Dat haar fisioterapeut haar nooit sal seermaak nie en al doen hy dit ook, sy vergewe hom by voorbaat?
Magriet druk die kaartjie in haar beursie. Sy het nog vyf minute om op haar arms te lê en droom. Was daar al ooit in die geskiedenis