Helena Hugo Tweede Keur. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo страница 16
Almal wonder: Waar is Walter?
“Hy slaap,” maak Magriet verskoning. “Die son het hom gister sleg gevang.”
“Hy moet sy vloeistofinname dophou en sy dokter gaan sien as hy ’n hoofpyn het wat nie wil weggaan nie,” sê Berdine ernstig, goeie dokter in wording.
“Hy sal drink as hy dors is,” sê Magriet dubbelsinnig.
“Wanneer raak julle twee verloof?” Berdine weet niks van die dreigende afskeid nie.
“Nie gou nie,” antwoord Magriet vaag.
“Jy wil seker eers ontslae wees van daai krukke.”
Walter ken sy storie. Maandagmiddag toe sy van die skool af kom, staan daar ’n ruiker met ’n hartvormige boodskap op die eetkamertafel.
“Walter het dit kom afgee,” sê Millie, heel oorbodig.
“Dis môre Valentynsdag. Kan ek hom afsê op Valentynsdag?”
Millie haal haar skouers op. “Dis seker net so goed soos enige ander dag.”
Magriet SMS vir Walter: Dankie vir die Valentynsblomme. Dit help nie. Ons moet praat.
Hy SMS terug: Maandeinde. Kan nie van die werk af wegkom voor negeuur vanaand nie. Jammer oor Valentynsdag, ons kan uitgaan as jou spalke af is.
Sy: Valentyn is ’n geldmaakfoefie. Kom môremiddag hiernatoe.
Hy: Sport tot sesuur.
Sy: Oormôre?
Hy: Afgespreek.
Magriet gee haar selfoon vir haar ma sodat sy die hele gesprek kan lees.
“Teen oormôre is julle albei afgekoel. Skryf vir hom ’n behoorlike brief, swart op wit.”
Magriet gaan sit voor haar skootrekenaar en komponeer ’n essay vir Walter. Sy herinner hom aan hul eerste ontmoeting en die goeie tye saam, maar noem ook die slegte dae en vele misverstande. Sy is versigtig om niks oor vis en visvang te sê nie. Sy neem die skuld op haar. Sy is jonk, skaars twee-en-twintig. Sy sien nie kans vir ’n lang verlowing nie en sy wil nie binnekort trou nie. Sy vra haar vryheid en gee hom syne met geen verwyte nie. Hopelik sal hulle vriende bly. Dis totsiens en nie vaarwel nie.
Sy bekyk die laaste sin. Netnou kry hy die idee dat sy speletjies speel, terwyl sy doodernstig is. Hoe sluit jy so ’n brief af?
Totsiens, Walter. Vaarwel, Walter.
Magriet vee die brief uit en begin van voor af.
Liewe Walter, ek was eerlik toe ek Sondag gepraat het. Ek kan nie meer met jou uitgaan nie. Dit was lekker toe ons vriende was, maar ek moes nooit toegelaat het dat ons verhouding in ’n romantiese rigting ontwikkel nie. Ek moes jou nooit toegelaat het om my te soen en te druk nie.
Sy lees die laaste sin oor, vee dit uit en vervang dit met: Ek het ’n fout gemaak en dit kan nie so aangaan nie. Ons moet liewer nou uitmekaar gaan voor ons trou en die fout van ons lewe maak.
Ek hoop jy stem saam.
Magriet.
Sy druk die brief, vou dit netjies en steek dit in ’n koevert, vat dit saam slaapkamer toe en gaan lê op die bed, die koevert op die bedtafel langs haar. Die besigheid met Walter maak haar moeg, maar sy kan nie tot rus kom nie.
Oor ’n week sien sy haar fisioterapeut en dit bly ’n aangename vooruitsig, al is hy verloof en arrogant. Dalk skuif hy haar boonop oor na Nicola, maar sy moet steeds ontslae raak van Walter. Hy het haar immers teleurgestel voor sy eens geweet het daar is iemand soos Pierre de Meyer. Sy doen die regte ding.
Sy sit regop op die bed, haal die brief uit die koevert en lees dit weer deur. Dis ’n simpel brief, onbeholpe en kortaf gestel. Dit sal nie deug nie. Sy sit dit terug in die koevert en lê weer.
Deur die newels van moegheid kyk Walter na haar. Hy lyk moedeloos en verstote, hy skud sy kop teleurgesteld. Sy is hartseer en voel lus om te huil, al weet sy nie regtig hoekom nie. Alles word sag en vaal en dan swart in haar kop.
Sy het seker geslaap, want sy raak eers weer bewus van die kamer om haar toe iemand aan die deur klop.
“Is jy wakker?” Haar ma stoot die deur oop. Dis skemer. Het sy so lank geslaap?
“Skies, ek wou net bietjie gelê het.”
“Jy was moeg en ontsteld.” Millie trek die kamerdeur agter haar toe en kom staan langs haar bed.
“Daar’s nog iets wat jou gaan omkrap.”
“Wat?”
“Jy sal nooit raai wie’s hier nie.”
Magriet sit vinnig regop. “Wie?”
“Walter se ma-hulle.”
“Nee! Wat soek hulle hier?”
“Nie so hard nie,” keer haar ma.
Magriet voel of sy onder die bed wil inkruip. “Is dit hy wat hulle laat kom het?”
“Hulle is in Johannesburg om ’n velspesialis te sien. Noeline het moesies op haar rug en skouers wat kankeragtig geword het.”
Magriet is verlig, maar sy kry Noeline jammer. Sy is juis so lief vir die son.
“Siestog, dis naar. Wat sê sy?”
“Sy’s nou spyt dat sy heeldag en aldag in haar baaikostuum rondloop.”
Moeisaam swaai Magriet haar bene van die bed af. “Waar bly hulle? Tog nie hier nie?”
“By Walter, maar ek het hulle vir ete genooi. Jy beter jou hare kam en vorentoe kom.”
“Hoekom het hy nie gesê nie?”
“Hulle sou volgende week eers kom, maar die moesies het vererger. Toe bel hulle die spesialis en kry ’n kansellasie.”
Haar blik val op die koevert met die afsêbrief. “Weet hulle van my en Walter se rusie?”
“Ek het niks gesê nie.”
“Los dit liewer tot Noeline klaar geopereer is.”
“Dis die beste. Hulle is erg oor jou.”
“Dis gaaf, maar hulle maak dit so moeilik vir my!”
“Jou pa sê hulle is sout van die aarde.”
“Eerder sout van die see,” brom Magriet terwyl sy orent kom. Sy keer vir Millie voor dié kan teruggaan. “Wat dink Ma van hulle?”
“Ek kan sien wat jou hinder. Hulle is anders as ons.” Millie trek die kamerdeur toe en praat sag.