Helena Hugo Tweede Keur. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo страница 5
“Mejuffrou Margarita Vlok. Een splinterfraktuur, een draaifraktuur.”
“Dokter het gesê ons kan vandag begin.”
Met wat, wonder Magriet en waag dit nie om deur se kant toe te kyk nie. Die groepie is duidelik aan die nader beweeg. Sal hulle haar uitlos as sy maak asof sy slaap?
O nee, dit help nie. ’n Sagte hand val op haar skouer.
“Juffrou Vlok, ek is suster Diedericks.” Die suster probeer moederlik klink. “Jou fisioterapeut is hier.”
Ag nee, alreeds reg vir die marteling, en al wat Magriet vandag wil doen, is slaap, slaap, slaap.
“Suster, lyk vir my die pasiënt slaap nog.” Die man klink haastig.
Is dit … kry sy die geur van daardie heerlike cologne wat Carol laas vir Johan vir sy verjaardag gegee het? Wat was dit nou weer, iets soos Desire?
“Juffrou Vlok?” Hoe simpatiek klink hy skielik!
Maar sy laat haar nie bluf nie. Sy het ondervinding van die Kees van Klapwyk-terapie wat sy ’n slag moes verduur toe sy op skool na hom is met ’n sportbesering. Fisioterapeute is mense wat jou net wil seer maak. Sy hou haar oë bot toe.
“Gee kans. Ek help eers langsaan, dan sien ek haar oor twintig minute.”
Papiere ritsel en hulle gaan weer uit. Het sy haar verbeel, of was dit regtig daardie spesifieke sexy mansparfuum? Sy maak haar oë oop en sien ’n flitsbeweging by die deur, kompleet soos ’n gespierde arm, of was dit dalk ’n vlerk? In die kamer langsaan lag almal hartlik, iemand giggel, die manstem paai. Die saalsuster en ’n verpleegster loop by haar deur verby sonder om in te loer.
Magriet het die nare gevoel dat sy iets goeds gemis het. Maar sy sal haar nie onverhoeds laat betrap nie. Sy spuit asemverfrisser in haar mond, kam haar hare, pluk haar slaapklere reg en wag in spanning terwyl sy die duiwe op die vensterbank dophou.
Hulle pronk en koer en loop vol selfvertroue op die dun lysie rond. Sy hou nie van hulle nie. Hulle is vet en uitgevreet en lyk meer soos valke as duiwe. Magriet wag en wag.
Haar ma-hulle het vir haar ’n Sarie in haar oornagsak gepak. Sy tel dit op en haar blik gly oor opskrifte, glanspersoonlikhede, kunsfoto’s van handwerk en resepte. Toevallig sien sy die datum onderaan die blad raak. Wag … dis vandag die hoeveelste Januarie?
Sy klap die tydskrif toe. Haar ma het gister verjaar. Dit was mos gister? Ja, sy het nog net een nag in die hospitaal geslaap. En haar ma verjaar die vierde Januarie. Die skool begin die elfde en die onderwysers moet hulle reeds op die negende aanmeld. Dít kan sy dalk nog mis, maar die eerste skooldag is te belangrik vir die graadeentjies.
Sy sal moet gaan – al is dit op krukke. Magriet roer haar tone as proeflopie. Sy het nie tans pyn nie en sy besluit om die fisioterapeut haar volle samewerking te gee, kalm te wees en haar oefeninge getrou te doen.
Met dié maak sy die Sarie weer oop en wil Nataniël se rubriek begin lees toe iemand saggies aan die deur klop.
“Kan ek inkom?”
Sy kyk op.
Dis hy! Die engel. Hy’s hier!
Vra hulle dan of hulle mag inkom? Wat sê jy vir ’n engel soos dié? Ek voel beter vanoggend, jy kan huis toe gaan, maar as jy wil, kan ons eers ’n rukkie gesels?
Hy laat nie op hom wag nie en stap flink na binne – ’n engel in slenterdrag, die sonstrepe in sy hare ’n ligkrans. Langs haar bed steek hy sy hand uit.
“Pierre de Meyer, jou fisioterapeut. Juffrou Vlok?”
Waar maak hulle sulke mans? Sy het sewe broers en haar vriendinne sê hulle is aantreklik. Magriet dink self hulle is nie te lelik nie, veral noudat hulle groot is en haar nie meer so aanhoudend pes nie. Walter is ook nie sleg nie, al is hy kort en so harig soos Esau.
Maar hier staan hý, haar ideale man. Hy lyk sowaar soos ’n engel, ’n lenige, gespierde engel. Sy sit en staar so intens sy vergeet om hand te gee.
Hy laat sak syne en klap sy lêer oop, en Magriet besef hoe ongeskik sy moet lyk. Sy probeer diep asemhaal en woorde vind.
“Was dit ’n ongeluk?” vra hy.
Sy kan steeds nie ’n geluid uitkry nie. Sy knik.
“Kar?”
“Tram … trampolien.” Sy skraap haar keel skoon.
Die engel gee vir haar ’n glas water aan, maar amper laat val sy dit toe haar vingers per ongeluk aan syne raak. Sy lees altyd sulke goed in stories, tydskrifkortverhale en so aan. Dan dink sy dis simpel, die skrywer skryf sulke goed net om die bladsy vol te maak.
Maar hier voel sy dit self – die wonderlike aanraking! Dis iets soos ’n elektriese skok. Hoewel sy nog nooit een gekry het nie, kan sy haar voorstel dat dit so moet voel: nie ’n doodskok nie, net ’n onverwagse sensuele prikkel.
Die water in die glas klots teen die kante. Sy vat so ’n groot sluk dat dit langs haar mond af loop en sy vinnig moet keer. Het hy gesien? Hy bestudeer sy lêer, hopelik nie.
Sy leun oor om die water terug te sit op die bedkassie en hy vat die glas by haar.
“Oulike rosies,” sê hy en raak ligweg aan Walter se geel rosies. “Vars soos jy.”
Magriet bloos. “Uhm …” Sy klink dom!
“Laat ons kyk.”
Sonder verdere omhaal lig hy die laken op, vou dit oop en begin die kussings uithaal wat sy en die verpleegster met moeite onder haar ingepak het. Gelukkig is haar bene so goed toegedraai dat sy skaars kan voel wanneer hy aan hulle raak.
“Hou jou bene so reguit soos jy kan.”
Sy doen dit. Hulle is twee dik wit boomstompe.
“Beweeg jou voete, op en af en op en af. Weer.”
Sy doen dit gedwee. Haar voete is bruingebrand van die vakansie by die see, haar arms en hande en alles wat uitsteek is ook bruin. Dit lyk minstens goed, en die naellak op haar tone is toe nie so sleg afgedop nie. Haar ma sal moet help om dit weer mooi te maak.
Maar haar bene! Dié lyk of hulle aan die verskriklike sneeuman behoort.
“Sirkelbewegings met die voete, kloksgewys … nou antikloksgewys. Stadig. Mooi! Lig die regterbeen, eers net effens. Lig en sak, lig en sak.”
Dis nie te erg nie, al is die bene swaar. Magriet is nie verniet van kleins af sportief nie.
Hy kyk reguit na haar. Sy oë is simpatiek. “Het jy die trampolien misgespring?”
Sy spring nie trampoliens mis nie! Op universiteit het sy dan aan nasionale gimnastiekkampioenskappe deelgeneem.
“Nee,” sê sy half moeilik en lig haar