Die antie met die pienk rok en ander stories. Jan Spies
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die antie met die pienk rok en ander stories - Jan Spies страница 2
* * *
Vir die duur van die week pamperlang die kêrel toe die oog met allerlei rate: Engelse sout, boressiekwater, kasterolie en so aan.
En teen die einde van die week toe kan hy al weer die lewe met een en ’n halwe oog in die gesig staar.
Maar daardie Maandagmôre toe hy by die werk kom, toe staan dárie oog geswel lat daar nie eens ’n haar uitsteek nie.
En die manne sê vir hom: “Het jy nou die oog wat aan die beter word was, gaan vier, en toe moer die ouens hom van voor af toe?”
Hy sê: “Nee, weer binne-in die kjerk.” En hy vertel sy storie verder:
Ek het Sondagmôre weer opgestaan en my gebad en geskeer en my kjerkklere aangetrek en my Boeke gevat en aangestryk kjerk toe.
En op die pad het ek weer gekyk hoe mooi skyn die son. En ek het seker gemaak daar is nie soveel as ’n enkele wolkie voor die son nie. Uit ’n kale hemel het die son geskyn.
En ek stap die kjerk in met ’n lied in my hart.
En – soos ons mense nou maar is (en dit was die fout) –loop sit ek weer op my ou plekkie van laas Sondag.
En ek druk my Boeke in die rakkie van die rugleuning voor my. En ek laat sak my kop. En ek bid. En ek hoor die sawwe orrelmusiek. En ek lees weer die psalm-en-gesangbordjie, en ek lees weer die teks op die kansellap en ek kyk weer rustig hier en ek kyk rustig daar.
Maar skjierlik is dit skjemer in die kjerk.
En ek kyk sommer dadelik links na die sydeur toe. En daar kom die antie weer orent aan die binnekant van die kjerk.
Sy het dieselle pienk rok aan.
En dieselle seeppothoed op, met die Mini-tjoep vir ’n band en die Bedford-taier vir ’n rand. En die veer staan halfpad sielieng toe. En die antie gôi haar dwars in die sygangetjie en sy loop soos ’n krap na die middelgang toe. En sy draai reguit na my toe, en daar kom sy. En sy kom sak neer op die punt van die bank voor my.
En weer is die preekstoel weg. En sy sit van links van die linkerkonsistoriedeur af tot regs van die regterkonsistoriedeur. En links van haar steek net ’n deel van die psalm-en-gesangbordjie uit. Daar staan: Gs. Ps. Ps. Ps. Gs.
En regs van haar staan: 47, 97, 11, 43 en 153.
Maar ek dink: Al sou sy die hele kjerk toe-sit, gaan ek bly sing.
En ek hoor weer ’n deur kraak. En links van die antie loop drie ouderlinge uit, en regs van haar loop drie dijakens uit.
En Oudominies spreek weer die seëngroet uit met net die voorste litte van sy drie langste vingers aan elke hand bo-oor die hoed van die antie. En hy gjee die voorsang op.
En die orrelis speel, en die gemeente lig hulle.
En die antie kom ook orent, en sy knyp darie pienk rok weer alleraardigs vas. Maar ek hou my boek voor my oë of daar geen antie is nie, en ek sing.
Maar toe buk die donner wat laans my staan vooroor en hý trek die rok uit.
En om ek toe weet sy hou nie daarvan nie, druk ek hom toe trug.
’n Poort deur die koue
(ter nagedagtenis: Johnny Rose)
Vroeër dae was daar op Keimoes ’n sersant Jônie Louw wat die arm van die gereg baie ver moes uitstrek om te kon bykom tot by die uithoeke van die yslike gebied wat onder sy gesag geval het. En wat dit vir hom glad nie maklik gemaak het nie, was dat sy vinnigste ryding bloot sy perd was; dit was lank voor die dae van polisiemotors.
Onder dié omstandighede kry hy laat een namiddag berig van ’n moord op Kenhardt. En hy moet dringend suintoe om die saak te ondersoek.
En sersant Louw vertel dit was net mooi in die middel van een van die bitterste winters wat daardie geweste kon beleef het. En hy sou dwarsdeur die nag moes ry om die anderdagmôre op Kenhardt te wees.
Hy maak toe gou klaar en teen die koue van die nag koop hy ’n bottel brandewyn en steek dit in die saalsak.
En met nog so ’n stukkie son val hy in die pad.
Maar sommer vroe-aand is dit al so koud dat sy tande kletter. En hy hou stil en hy klim van die perd af en rek so bietjie litte en haal die bottel uit die saalsak.
Maar net wat hy die bottel wou oopmaak, hoor hy iets met die pad aankom. En hy luister, en hy hoor dat dit ook ’n pêrruiter is. En hy druk die bottel trug in die saalsak, en nie lank nie, of die ander reisiger word duidelik in die skemerdonker.
Van die grond af groet Jônie Louw: “Naand, vriend; ek is sersant Jônie Louw van Keimoes.”
Die donker gedaante op die ander perd groet trug met ’n ouerige stem: “Naand, Sersant. Ek is pater Hoeflies, en ek hoef seker nie by te sê: van Keimoes, nie.”
“Nou ja, ek is op pad Kenhardt toe om ’n moord te ondersoek,” sê sersant Jônie Louw. “Miskien is die geluk aan my kant sodat ek môre die moordenaar kan vastrek. Sonuit wil ek aan die werk spring.”
“Ek is ook op pad Kenhardt toe,” sê pater Hoeflies. “Oor dieselfde moord; ek moet die vermoorde gaan begrawe.”
En daar ry hulle twee toe saam – die dienaar van die gereg en die dienaar van die geregtigheid.
Maar vir sersant Jônie Louw verloop die eerste ent van die reis met gemengde gevoelens. Die pater gesels lekker en dit maak die nag korter. Maar die bottel brandewyn sit net skuins agter hy wat Jônie Louw is se regterboud, onbereikbaar ver weens die pater se teenwoordigheid.
Hy is baie bly, sê pater Hoeflies, dat sersant Louw vir hom gewag het toe hy hom agter in die pad hoor aankom het. Want die pad Kenhardt toe was vir hom nog altyd ’n eensame pad.
Dit laat hom dink, sê hy, aan die pad van Jerusalem na Gasa, waarop Filippus by die hofdienaar van Ethiópië uitgekom het. Dit is ’n eensame pad, staan daar geskrywe.
Dit kon netsowel die pad tussen Keimoes en Kenhardt gewees het, as dit van die eensaamheid moes afhang, sê pater Hoeflies.
Ja, sê sersant Jônie Louw, die pad tussen Jerusalem en Gasa ken hy nié, maar die een tussen Keimoes en Kenhardt is so eensaam lat hy éénsaam is. Daaroor kan daar sowaar, indien nie wragtag nie, geen twyfel wees nie.
“Ja,” sê pater Hoeflies, “teen die eensaamheid het ons vannag darem mekaar se geselskap. Maar nou is die pad pleks van eensaam so uitermate kóúd.”
Dis toe die pater van die koue praat, het sersant Jônie Louw agterna vertel, dat dit hom voel of sy weerstand teen die koue heeltemal knak.
Sy keel brand en die klamte aan sy neus is pure ys en sy bene is van sy knieë af morsdood dwarsdeur die rybroek se pype en deur die kamaste, en sy voete is so dood dat dit vir hom smaak of hy met twee sementstene in die stiebeuels trap.
En dit was tóé dat sersant Jônie