Die antie met die pienk rok en ander stories. Jan Spies
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die antie met die pienk rok en ander stories - Jan Spies страница 6
Die werklike towerfluit wat ’n mens nodig het, smaak dit my, sou een moes wees waarmee jy tegelyk vir rotte van spek en rosyntjies, vir kinders van speelgoed en wafels, vir dié van dít en vir dárie van dát, en dan vir molle ’n stilte kon fluit.
Met só ’n fluit sou ’n mens vir almal ware geluk kon bring, of vreeslike ellende.
Die dinges is ’n watsem
Ek en my vrou ry eenkeer by mense aan by wie ons vir jare nie ’n draai kon maak nie. En ons kom so teen skemeraand daar aan. En ná ons die tante gegroet en vir haar gesê het ons vertoef so ’n bietjie om darem weer ’n slag ’n paar murgbene saam uit te stamp, toe het sy eers ’n rukkie nodig gehad om tot verhaal te kom van die blydskap. Want dié mense het gewoonlik ook maar net mekaar se geselskap gehad en nie dikwels besoek ontvang nie.
En ná sy eers so ’n rukkie geweifel het voor sy ons die huis innooi, miskien om sy gewonner het oor hoe sy die kuier moet aanvoor lat hy sy loop lekker kan neem, toe sê sy: “Nou maar kom, dan wys ek net vir julle waar die dinges is, lat julle kan watsem as julle wil. Ek het mos nou ’n dinges innie huis.” En sy wys ons die badkamer.
Ek sê: “Dankie, Tannie. Dit sal darem lekker wees om ’n slag die stof van ’n mens se gesig af te spoel.”
Sy sê: “Nou maar verskoon my, lat ek net die dinges opsteek en ’n bietjie watsem kook want julle is darem seker al lus vir ’n bietjie dinges.”
Toe ons ná ’n rukkie by haar in die kombuis kom, sê sy: “Jy kan maar solank hier agter by die dinges deur loop. Die oom is daar innie watsem doenig met die dinges want dié se dinges is stukkend en ons wil môre na die watsem toe dinges.”
Ek sê: “Dankie, Tannie; ek sal oom Harmaans kry. Ek weet mos darem nog waar die motorhuis is.”
Maar ek wag toe maar eers vir die koffie, en toe loop ek na die waenhuis toe deur. En ek kom daar, en ek sê:
“Naand, oom Harmaans.” Hy sê: “Is dit tog nie dinges se watsem wat ek hier hoor nie?”
Ek sê: “Ja, Oom, dis eie ek.”
Die ou beur toe so effe onner die kar uit, waar hy aan die werk was, en hy hou my die een hand se pols sodat ek nie vol teer moet word nie. En met die ander hand hou hy die liggie so dat ons mekaar darem op ’n manier kan sien. En ek groet ook vir Klein-Harmaans wat langs die kar staan en die rol van handlanger moet vervul.
Oom Harmaans skuif toe weer onner die kar in terwyl hy sê: “Jong, jy moet maar solank gesels lat ek hier kan aangaan want die dinges is in sy watsem in en ek moet môre hierdie stuk sinkplaatwatsem afdinges dorp toe.” En vir Harmaansie sê hy: “Harmaansie, vat hiersó die watsem en dan lig jy daar vorie dinges en dan kyk jy vir my die watsem daar want hierie orige dinges draai innie watsem.”
En Harmaansie gee hom daar van voor die kar af ’n stuk gereedskap uit ’n bondel werkgoed wat daar op ’n sak lê. Maar sommer so op die voel af sê oom Harmaans: “Nee, man, nou gee jy dan vir my die dingesgrip, en ek het jou die watsem gevra.”
Harmaansie sê toe: “O, ek het gedog die watsem is beter. Wag, ek gee vir Pa die dinges.” En hy bring hom die tang.
Maar toe begint word die oom warm. Hy sê: “Moet ek nou hier onnerie dinges uitwatsem om vir jou te kom wys hoe die dinges lyk? Gee vir my die wátsem – ons het nie dinges nie en netnou watsem dinges lat ons moet kom dinges en jý kén vir dinges: sy’s watsem as ’n mens nie daadlik dinges as sy roep om te kom watsem nie.”
Vir ’n wyle skep hy toe eers asem, voor hy min of meer op dieselfde trant voortgaan: “Géé my die watsem, man. En maak dinges, jong. Jy weet tog die ou watsempie hier orie dinges se kop is te klein om die watsem by in te druk en hom vas te hou lat hy nie in sy dinges in in die rondte watsem nie.”
Ek sê: “Jong, jou pa wil die skroewedraaier hê.”
Hy sê: “Nou waarom sê Pa nie Pa willie dinges hê nie?”
Toe’s oom Harmaans glad nie meer lekker nie en hy smaak ook sommer na krag-maak: “Jy moet ophou watsem! Ek sal vir jou dinges; jy’s deesdae glads te watsem.”
Nou ja, uiteindelik het hy toe die boutjie uit, en die affêre in orde gewatsem en weer aanmekaargedinges en toe vra hy ek moet tog asseblief in die dinges klim en die watsem trap en sê wanneer hy hom genoeg opgestel het.
En toe ons omtrent klaar is, toe roep die tante: “Pá-á, julle moet nou kom dinges.”
Hy skree toe trug: “Ja, Ma, ek wil net my dinges met ’n bietjie watsem was.”
En hy laat suig toe vir Harmaansie ’n bietjie watsem met die watsem uit die dinges, en hy sê vir my: “Moet nou net nie jou dinges hier by my opsteek nie; dan slaan ek anie watsem.”
Aan tafel is daar toe vir dié ’n bietjie dinges en vir dárie ’n stukkie watsem aangegee tot ons almal geholpe was, en die oom sê: “Nou toe, hou toe julle dingese, lat ons watsem.”
En toe was dit vreeslik snaaks toe hy reg bid, want ek het in my sondigheid verwag: “Segen Watsem, gee ons dinges.”
Waaksaam op die vlug
’n Ou vriend van my uit die Kaokoveld van weleer vertel my eenkeer van die grootste wat hy ’n hond ooit vir ’n leeu sien skrik het.
Die hond se naam was Waaksaam.
Maar, sê die ou vriend vir my, dit het met die naamgeëry van dié hond gegaan soos in die geval van baie mense. Die kleintjie het nog net ’n paar nat luiers agter sy naam, dan word hy gedoop Churchill sus en so. Maar die naaste wat hy ooit in sy lewe aan die politiek kom, is om darem af en toe ’n kruisie te trek.
Of hy heet Napoleon of De Wet en die naaste wat hy aan ’n slagveld kom, is dalk om na ’n boksgeveg te gaan kyk.
Of die meisiekind word vernoem na Elizabeth Taylor, en dan bly sy haar lewe lank met net een man getroud.
Net so onvanpas was Waaksaam se naam; hy moes eerder geheet het: Slaapsaam.
Want hy het heeldag en aldag rondom die huis teen die fondament lê en slaap – in die somer in die koelte langs, en in die winter agter die son aan.
En net so lui as wat hy was, net so dom was hy ook. Al wat hy in sy lewe geleer gekry het, was om ’n klip agterna te sit as jy dit vir hom êrens heen gooi, en om dan die klip trug te bring sodat jy weer kan gooi en hy weer kan hardloop.
Van dié veilige speletjie het hy baie gehou, en hy was glo ook die ene lewe en jaglus wanneer iemand ’n klip optel en maak of hy gaan gooi.
Nou ja, dit was in Waaksaam se vreedsame leeftyd dat daar ’n trop leeus – waarskynlik van die Etoshapan se kant af – hulle intrek in die omgewing neem en van Waaksaam se baas se plaas hulle hoofkwartier maak.
En hulle begin vang bees, allervreesliks.
En die boere van die omgewing word van die onheil laat weet en op ’n afgesproke dag kom trek hulle met hulle gewere, hulle jaghonde en hulle spoorsnyers by my ou vriend saam.