1 Recce, volume 2. Alexander Strachan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan страница 4
Saam met Blaauw-hulle in die vliegtuig is ’n Unita-verteenwoordiger wat Engels kon praat. Dis ’n helder, skoon aand en daar is nêrens rook nie. Die vliegtuig stabiliseer op net meer as 1 800 m bo grondvlak sodat hulle genoeg hoogte vir die sprong het. Omstreeks 23:00 sê die vlieënier dat hulle nou die gebied nader waar die afgooistrook is.
Die drie Recces spring reg bo die teikengebied uit. Op die grond het Unita – soos afgespreek – drie vure in ’n driehoek aangesteek om die landingstrook aan te dui. Al drie land binne die driehoek, reg bymekaar, waarna hul eskort hulle na die Unita-basis lei – ’n staptog van sowat twee uur.
Die volgende oggend bevestig die basisbevelvoerder, genl Chiwale, dat Savimbi in aantog is. Daardie aand beleef die drie Recces iets wat hulle allermins in die bos verwag het: ’n aandete in ’n mooi hut gevolg deur ’n dansparty met twee elektriese orkeste. Vroue het dit lekker op die dansvloer uitgekap. Ná die ete dring die Angolese daarop aan dat die Recces ook moet dans. Dit was omtrent ’n storie gewees, vertel Blaauw.
“Die volgende dag omstreeks 10:00 sê Chiwale: ‘Come, come,’ en kry ons bymekaar. ‘We must go north. We must go and meet the president.’ Ek dog jislaaik, hier gebeur nou iets want ons sien so ’n rimpeling deur die basis trek. Hy sê: ‘Come, we must go forward. The president is on his way’.”
Die Unitas het ’n ou Mercedes-trok (’n “groentelorrie”) gehad en Blaauw se span is op die trok met ’n eskort. Daar is twee voertuie en hulle ry al op ’n bospad. Teen vroegmiddag stop hulle onder die bome. “We wait here,” sê Chiwale. Die Recces sit onder die bome en wag en in ’n stadium kom daar ’n roering deur die bos. “En daar kom die groep aan! Savimbi is heel voor en hy kom so majestueus daar aangestap. Hy het sy kamoefleerdrag aan en dra ’n .375-rewolwer met ’n kolf van ivoor. Dit is die een wat hy altyd gedra het as hy saam met sy gevolg was.” Blaauw let op dat die president netjies en skoon is en vermoed hy het ’n rukkie tevore gestop om te was en te verklee.
Chiwale en die Unita-eskort ontmoet hom eerste, verneem oor en weer na die ander se welstand en slaan mekaar uitbundig op die rug. Toe kom hulle vorentoe en die drie Recces word aan Savimbi voorgestel. “Terwyl ons so staan, sien ek hier gebeur ’n ding. Een van Savimbi se lyfwagte het Amilcar herken en hy sê vir sy president: ‘Dit is Amilcar Queiroz, ek ken hom’.”
Queiroz was ’n gewese Unita-lid. Blaauw sien hoe hy en Savimbi mekaar in die oë kyk. “Ek dink, jislaaik, hier gaan nou ’n ding uitbars. Savimbi kan hom dalk vra ‘Nou wat soek jy hier en hoekom is jy nie saam met ons in Angola nie?’” Blaauw wag vir die uitbarsting, maar die volgende oomblik kom Savimbi nader, omhels Queiroz hartlik en hulle klap mekaar op die rug … Tot Blaauw se verbasing is daar ook ’n wit man saam met Savimbi se groep. “Ek kyk die ou so en wys duim op en hy maak ook so.” Later het die man vir Blaauw gesê toe hy so wys het hy geweet hulle is van Spesmagte. Die man was ’n joernalis wat voorheen ’n lid van die Franse Vreemde Legioen was.
Almal is toe op die voertuie en Savimbi wil hê Blaauw moet voor langs die bestuurder sit, maar hy sê Savimbi moet voor sit. Hulle ry terug en toe hulle naby die basis kom, bars daar ’n opskudding uit. “Dis tromme wat slaan, vroue wat skreeu, al wat leef en beef juig en klap hande. Dit is omtrent konsternasie toe Savimbi afklim. Hy het eers met sy mense gepraat en hom toe gaan verfris.”
’n Ruk later kry die Recces ’n boodskap dat hy om 16:00 met die hele basis wil praat. Almal, ook die drie Recces, moet daar wees. “Die hele kamp word bymekaar gemaak, die troepe is aangetree, die skare is daar en langsaan is die vroue met kinders oral tussen hulle. En daar steek Savimbi die mees dinamiese toespraak denkbaar so reg uit die vuis af. Ek kan sien hoe sweep hy die mense op en voer hulle met sy dreunende woorde mee. Die mense besef hier is hul redding nou, die uitkoms waarop hulle gewag het, is in lewende lywe hier reg in hul midde.”
Toe Savimbi klaarmaak, draai hy om en kyk na Blaauw. “Major, do you have a message for my people?” Die onverwagse versoek slaan Blaauw uit die veld. “Jislaaik, fluister ek vir Amilcar, wat nou?” “Luister majoor, jy sal nou maar net iets moet sê,” antwoord Queiroz. Blaauw weet hy het nie ’n mandaat nie en kan geen beloftes maak nie.
Hy sê toe die basiese dinge: Hulle waardeer Unita se stryd en al die ontberinge wat hulle moet deurgaan. Die Suid-Afrikaanse regering het simpatie daarmee. By die huis gaan hy oor alles terugrapporteer. Sodra die situasie gestabiliseer het, gaan hulle terugkom en Unita in sy stryd ondersteun, want Suid-Afrika is in dieselfde stryd teen kommunisme gewikkel en dis verskriklik. “Ek bly maar vaag want daar is regtig nie iets wat ek kan sê of doen nie.” Die toespraak word vir Savimbi in Portugees herhaal.
Daardie aand eet hulle saam met Savimbi. Al sy beamptes en personeel is teenwoordig en die drie Recces sit regoor hom. Hy bedank Blaauw en sê hy waardeer sy toespraak baie. Hierop verwys hy na die inspirasie en aanmoediging wat hulle uit die Suid-Afrikaners se besoek put en hoe dit hul moreel lig. Blaauw sê toe vir hom dit was maar bloot ’n gedagte en Savimbi antwoord: “It will be a long struggle.” “Ek stem toe saam en voeg by: ‘Rome wasn’t built in one day’.”
Die mense saam met Savimbi was eintlik sy hele kabinet. Sy hoof van die weermag, genl Ben Ben (Arlindo Pena), was daar, asook genl Samuel Chiwale, hoof van die leër, en ’n senior stafoffisier wat ook as skakeloffisier opgetree het, genl Alcides Sakala Simões. Daar was ook ’n jong, regop kaptein, Tito Chingunji, wat vlot Engels gepraat het. Hy het in Amerika studeer en Savimbi het hom as ’n toekomstige ambassadeur iewers beskou.
Tito word toe afgedeel aan Blaauw as sy skakeloffisier. Daarby kry hy ook ’n persoonlike lyfwag met die naam Abel. Hy is korterig en geweldig sterk en is ook sy geweerdraer. Abel trek toe sommer dadelik oor na die Recces se hut toe en “hy is orals en alles”.
Die volgende dag staan hulle vroeg op. “Ons hang maar in die basis rond, want daar gebeur nie juis iets nie.” Tydens die vorige aand se ete het die Fransman egter vir Queiroz gewaarsku dat dit nie naastenby so veilig is as wat dit lyk nie. ’n Sterk vyandelike groep volg Savimbi al van anderkant die Benguela-spoorlyn af. Die groep Fapla- en Kubaanse soldate het ook helikopters tot hul beskikking.
Dit bly in Blaauw se agterkop maal: “Omstreeks 09:00, die son was al lekker op, hoor ons ’n vegvliegtuig. Ons gaan uit en kyk onderdeur die bome en ek sien dit is ’n Mig-21. Hy vlieg laag oor die basis, so laag dat ek die vlieënier se helderwit helmet duidelik sien. Ek sien hoe duik hy en hy draai so skuins om ons, maar die basis is goed versteek. My eerste gedagte is al die vure maar gelukkig het hulle teen hierdie tyd van die oggend al klaar gekook.”
Die vegvliegtuig draai om oor die basis in die rigting van die spruitjie aan die suidoostekant waar die vroue water skep en was. “Die vlieënier sien hulle, kry sy vliegtuig se aanloop reg en bestook die vroue. Ons hoor hoe skiet hy vuurpyle af so 500 m van die basis en toe is hy weg. Hoewel hy nie die basis self gesien het nie, weet ek die basis is nou gekompromitteer.”
Tito kom na Blaauw toe aangehardloop. “You must join the president immediately!” Hulle gryp hul uitrusting, hardloop saam met hom en sluit by Savimbi se groep aan. “We must evacuate the base,” sê Savimbi. “We must move out!”
’n Ent weg van die basis kom die groep tot stilstand en bly die hele dag onder die bome. Behalwe vir die vegvliegtuig wat oorgekom het, gebeur daar niks verder nie. Later sluit Tito weer by die Recces aan en sê dat hulle die aand gaan uitbeweeg. Hulle bly onder die bome tot so 17:00, waarna hulle eers weer terugbeweeg na die basis. Daar wag hulle tot net voor donker toe Tito hulle kom haal.
Die drie sluit saam met hom by die groot konvooi aan. Dis vir Blaauw duidelik dat Savimbi die hele basis laat ontruim het. “Alles en almal is daar: vroue, kinders, bokke en wat ook al, alles wat beweeg, word bymekaar gemaak. Van die mense het hoenderhokke