1 Recce, volume 2. Alexander Strachan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan страница 6
Hulle loop die hele nag deur. “Toe die son opkom, is ons uit daai gevaargebied uit. En ons hoor nie geluide nie, ons hoor absoluut niks nie. Ons hoor nie dat ons agtervolg word nie en daar is ook nie vliegtuie nie.” Die groep hou aan beweeg en bly die aand in ’n tipe tydelike basis. Blaauw probeer weer om die uitlig te bewerkstellig. “Ek praat met Rundu en sê niks het gedurende die dag gebeur nie. Dit is alles stil en in hierdie stadium positief, so die onttrekking kan nou gedoen word.”
Maar hy sit steeds met 31 mense wat Savimbi wil uitlig. Diegene wat nie deel van die groep van 31 is nie, moet aangaan na die Klein Cunene-gebied waar daar ’n basis is. Die troepe moes eenvoudig net aanhou loop en in ’n westelike rigting hou. Die vroue was op ’n soortgelyke maar ander roete. Hulle was teen hierdie tyd ver van Savimbi en daar was geen kontak met hulle nie.
Dit het begin donker word en Blaauw sê vir Savimbi hy sal sy bes probeer om te reël dat al 31 mense uitgelig word. Dit was al 21:45 toe die helikopters uiteindelik radiokontak met Blaauw maak. John Church, ’n goeie vriend van hom, is die missieleier. “My roepsein is Moby Dick en John s’n is Retriever. ‘Okay, Moby Dick, we are 10 minutes out,’ sê hy. ‘Retriever, ek het ’n probleem, ek sit met 31 mense,’ lig ek hom in.” Church antwoord vinnig: “Jis, dis ’n chopper hierdie, nie ’n Londen-bus nie.” Kan hulle nie ’n plan probeer maak nie, wil Blaauw weet, al moet hulle van die brandstof ontslae raak?
“John sê hulle sal kyk wat hulle kan doen en hier kom hulle … hy sê ook ons sal vinnig moet maak want oral om ons sien hy vure en dit lyk asof ons omsingel is.” Met dié kom die helikopters in om te land. Blaauw neem beheer op die grond en deel hulle in twee groepe in van vyftien elk. Net 27 van Savimbi se 31 kan saamgaan. Savimbi, Ana en die Fransman is in Blaauw se groep.
Toe die twee helikopters land gaan Blaauw vorentoe om hulle te ontmoet. John sê dis reg, hulle gaan brandstof uit die twee Pumas dreineer. Dit duur ’n volle tien minute en Blaauw se senuwees knaag. As hulle net die groep kan uitlig tot by Omauni en daar herbunker of selfs oorslaap – hulle moet net so vinnig as moontlik uit die gebied padgee.
Toe genoeg brandstof gestort is, wys Church dat die helikopters kan opstyg. “Ek het nooit gedink tien minute se wag kan so lank voel nie. Gelukkig verloop alles baie ordelik met Savimbi en sy offisiere. Chiwale bly in die bos agter en Ben Ben en Alcides Sakala is in die tweede groep. Diegene wat agtergelaat is, is nou in ’n baie benarde situasie maar dit is seker maar hoe oorlog is.”
Uit die lug sien Blaauw oral vure brand. “En dis nie veldbrande nie, mens kan sommer sien daar is ’n teenwoordigheid. Ons draai suid en daar gaat ons.” In ’n stadium roep Savimbi vir Queiroz nader. Hy wil by hom weet wat die probleem is, want hulle vlieg nie, die helikopter staan dan stil in die lug. “Ek sê hy moenie bekommerd wees nie, die chopper vlieg wel. Maar die Unitas is oortuig dat die chopper net op een plek vibreer.”
Blaauw sit met die kopstuk op en hoor Church sê hulle is naby “die witpad. Dit is so ’n wit kalkpad en die maanlig skyn helder daarop. Die oomblik toe ons oor die pad gaan, trek ons vuur en ek sien hoe die ligspoorkoeëls by ons verbykom.” Church wil by Blaauw weet waar Savimbi is? “Hy sit hier reg by my in die chopper, wat is die probleem?” vra Blaauw, waarop Church hom inlig dat die tweede helikopter raakgeskiet is.
Blaauw stel voor dat hulle eers met albei helikopters by Omauni land – die een wat getref is, het darem nie te ernstige skade opgedoen nie. Hulle kan hom daar los en met Savimbi na Rundu vlieg. Toe hulle op Omauni land, besef Blaauw dat hy ’n groot probleem het. “32 Bataljon se troepe op Omauni is almal oud-FNLA-soldate. En nou daag ek met die klomp Unitas hier reg in hul midde op. Dit is mos moeilikheid soek. ’n Konfrontasie tussen die twee groepe is amper onafwendbaar.
“Luister,” sê ek vir die bevelvoerder, “hier is nou ’n probleem want die Unitas in die chopper moet vanaand hier in julle basis oorbly. Ons kan nie almal in een chopper na Rundu vlieg nie. Jy moet asseblief al jou wit offisiere en onderoffisiere kry om tussen die twee groepe te slaap sodat daar nie ’n bakleiery tussen die twee faksies uitbreek nie.”
Die tweede helikopter het koeëlgate net voor die stertrotor gehad en die vlugingenieur sê dit is ondiensbaar. Hulle vlieg toe in die ander een Rundu toe. Daar aangekom, reël Blaauw en die skakeloffisier vir Savimbi verblyf in die klein Unita-basis by Rundu en kry self slaapplek in Rundu se militêre basis. Eksteen is dadelik hospitaal toe waar hy met malaria opgeneem is. In die bos het dit trouens so sleg met hom gegaan dat vier Unitas hom op ’n grondseil tussen twee gekapte pale moes dra. Sy toestand het so versleg dat dit met die landing op Rundu gelyk het of hy in ’n koma wil gaan.
Die volgende oggend is hulle sommer vroeg al by Savimbi. Hy bedank die Recces weer en weer vir wat hulle gedoen het. ’n Tegniese span is na Omauni gevlieg om die stukkende helikopter te herstel, waarna die res van die Unita-groep ook na Rundu gebring is.
“Ek het Savimbi amptelik aan kol Flip du Preez oorhandig, waarna ons hom gegroet en die beste toegewens het. Hy was skoon aangedaan toe hy ons weer ’n keer bedank het. Ons het geen verdere kontak met hom gehad nie want ons vertrek uit Rundu terug na Suid-Afrika was op hande.”6
* * *
Savimbi se redding het volgens Thirion en Blaauw verreikende gevolge vir die Bosoorlog gehad. Sonder die charismatiese en welsprekende Savimbi sou Unita leierloos gewees het omdat daar niemand met dieselfde statuur was om by hom oor te neem nie. Die Unita-groepering sou waarskynlik in los bendes en wildstropers opgebreek het met geen sigbare samebindende faktor nie, asook geen ondersteuning van buite af nie.
Omdat Savimbi en sy leierselement as’t ware voor die vyand se neuse weggeraap is, kon Unita as ’n bondgenoot van Suid-Afrika ontwikkel en groei. Indien die vyand Savimbi gevang het, sou hulle hom beslis toegesluit het of dalk ter dood veroordeel het. Dit sou die hele situasie rondom die Bosoorlog verander het. Met Savimbi op vrye voet kon hy Unita weer eens mobiliseer en die hele Oos-Angola oorneem. Dit het Swapo van die Suidwes-Afrika-grens weggehou en derhalwe die oorlog verleng.
Volgens Blaauw het MI later bevestig dat die MPLA in Londen aan ’n militêre inligtingsagent genoem het dat hulle Savimbi beslis sou gevang het as die Suid-Afrikaners hom nie daardie aand uitgelig het nie. Hulle het geweet waar hy was en sou die volgende oggend toegeslaan het.
DEEL 1
Operasies in Rhodesië
1
SAW ontplooi skakeloffisiere in Rhodesië
Die Rhodesiese Bosoorlog het ook bekend gestaan as die Second Chimurenga7 en verder as die Zimbabwe War of Liberation. Hierdie burgeroorlog het van Julie 1964 tot Desember 1979 geduur.
Aan die een kant van die konflik was Ian Smith se Rhodesiese regering en later biskop Abel Muzorewa se Zimbabwe-Rhodesiese regering. Aan die ander kant van die spektrum was die opponerende groepe: Robert Mugabe se Zimbabwe African National Liberation Army (Zanla) en Joshua Nkomo se Zimbabwe People’s Revolutionary Army (Zipra).
In Maart 1979 word ltgenl George Peter Walls GLM DCD MBE bevelvoerder van die Rhodesiese weermag. Die Rhodesiese Bosoorlog was nog in volle swang. Dit word georganiseer en beheer vanuit Combined Operations (COMOPS) wat Rhodesië in sewe operasionele gebiede verdeel het. In elke gebied is ’n Joint Operational Centre