1 Recce, volume 2. Alexander Strachan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan страница 9

1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan

Скачать книгу

aan hulle toegeken is, gedomineer. 1 Recce het nie slegs saam met die SAS in Gaza gewerk nie, hulle het ook heelparty suksesvolle operasies ter ondersteuning van die Mosambiekse weerstandsbeweging Renamo uitgevoer.

      2

      Operasie Acrobat17

      Aggressiewe optrede aan die Russian Front

      “Die terrs het op ons spoor geloop en gelukkig het ons ’n dogleg gemaak voor ons oplê. Een van die terrs se geweerloop het aan ’n tak gehaak en die geluid het ons gewaarsku. Ons het vuur oopgemaak en van hulle doodgeskiet en ’n paar gewond.”

      Só herroep SW Fourie ’n noodlottige kontak vroeg in Februarie 1978 toe lt Kokkie du Toit se span die spoorlyn in die omgewing van Madulo-pan in die Gaza-provinsie in Mosambiek ge­saboteer het. Daarna beweeg hulle na ’n afgooistrook (AS) vir ’n rantsoenaanvulling. Naby die AS neem die span ’n hinderlaagstelling in. Lt Douw Steyn, die span se vernielingspesialis, lê ’n paar Claymore-myne op hul spore en koppel dit met elektriese kabels aan die ontsteker. ’n Frelimo-groep loop onverwags in die hinderlaagstelling vas en Steyn detoneer die myne.

      ’n Hewige vuurgeveg volg en toe dit bedaar, vorm Du Toit sy span in ’n formasie om die doodsakker op te ruim. Hulle vee in ’n uitgetrekte linie deur die bos op soek na gewonde Frelimo-soldate – maar kyk een mis wat onder ’n bos ingekruip het.

      “Toe die vuur afbreek, het Kokkie vorentoe geloop en teruggekom met een van hul AK47’s,” vertel Fourie. “Hy het my ge­wys daar is ’n tak in die loop afgebreek – die terrs het waarskynlik gedink as iemand die wapen afvuur, sal die loop in sy gesig ontplof. Toe het Kokkie beduie ons moet regmaak om te beweeg. Ons het agter ’n dik boom gelê en hy het linksom beweeg en ek regsom. Hy het nog ’n teken na links gewys … dit was vir die ouens om uit sprei, want ons gaan deur die doodsakker vee.”

      Die gewonde Frelimo-soldaat onder die bos identifiseer Du Toit maklik as spanleier omdat hy die handseine gee en die span beheer. Hy vuur ’n enkelskoot op ’n kort afstand en tref hom in die sy. Kokkie du Toit sterf voordat hy die grond tref.

      “Toe Kokkie vorentoe draai, skiet die gewonde terr hom. Hy het omgetol en agter my geval. Ons het mond-tot-mond-asemhaling toegepas, maar hy was reeds dood. Die koeël is deur sy regterarm en hart en ek dink anderkant uit.”

      Fourie vermoed die gewonde Frelimo was dieselfde een wat vroeër die Claymore-myn se draad op die grond raakgesien het. “Die terr was tussen ons en die Claymore en hy het die draad al na die myn toe gevolg. Toe hy by die myn kom, het Douw dit gedetoneer. Die back blast van die Claymore het hom beseer. Nadat hy vir Kokkie geskiet het, het Joe de Villiers hom onmiddellik met sy wapen uitgehaal.”

      Hierna onttrek die span en dra hul gesneuwelde makker se lyk saam. ’n Helikopter was nie dadelik beskikbaar nie – helikopters was skaars in die Rhodesiese lugmag en deurentyd ontplooi. Die span word nou geforseer om aan te hou beweeg.

      Fourie onthou hoe hulle met die draagbaar gesukkel het: “Ons het sulke primitiewe draagbare gehad, daarom moes vier ouens vir Kokkie dra. Dit het ons met min ouens oorgelaat wat effektief kon skiet. Later jare sou die mediese toerusting verbeter en het hulle ’n draagbaar ontwerp wat net deur twee ouens gedra word wat boonop nog kon skiet ook.”

      Teen laatmiddag sak ’n digte mis toe wat dit onmoontlik maak vir ’n helikopter om Du Toit se lyk te kom haal. “Ons het tot don­ker geloop en skuiling gekry teen ’n koppie wat baie ruig was. Nie een van ons wou naby die lyk lê nie en ons het ’n ent daarvandaan in rondomverdediging gegaan,” vertel Fourie.

      Du Toit het altyd ’n bottel rum in sy rugsak saamgedra en daar­die aand in die oplêplek haal Steyn die bottel uit en elkeen drink ’n sopie op hul gesneuwelde makker. In die donker verberg hulle Du Toit se lyk in die digte bos ingeval die span onverwags moet begin hardloop vir hul lewe. Getrou aan Recce-tradisie sou hulle nie toelaat dat sy lyk in vyandelike hande val nie.

      “Willy Ward was die nuwe spanleier … Die volgende oggend kon ons nie die lyk kry nie, dit was mos donker toe ons by die plek aangekom het. Ons het Kokkie se lyk toe deur middel van die reuk opgespoor.”

      Die helikopter kom toe taamlik vroeg in en land in die nabyheid. Onder vyandelike vuur word Du Toit se lyk uitgelig. Steyn, wat beseer was – tydens sy valskerm-boomlanding het ’n tak sy stewel deurboor en in sy voet ingesteek – word saam met die lyk na die Tak HK afgevoer.

      Frelimo-soldate was steeds kort op hul hakke en die span begin dadelik weer hardloop nadat die helikopter opgestyg het. Hulle was nou te min in getalle om die Frelimo-oormag die stryd aan te sê. Uiteindelik is die span opgepik en na die Tak HK gevlieg waar ’n nabetragting onder bevel van kapt Hannes Venter plaas­ge­vind het.

      * * *

      Sedert 1976–1977 het Robert Mugabe se Zanla-guerrillas Rhodesië op ’n gereelde basis uit Mosambiek se Tete- en Gaza-provinsie geïnfiltreer. Zanla se strategiese plan was ook om vanuit die Gaza-provinsie die logistieke roetes in Suid-Matabeleland na Suid-Afrika te saboteer. In die loop van 1976 het die Selous Scouts ver­skeie logistieke Frelimo-Zanla-basisse in die Tete- en Gaza-provinsie aangeval. Hulle het ook gedeeltes van die spoorlyn tussen Malvernia en São Jorge do Limpopo vernietig of beskadig.

      Zanla het sy troepe by Xai-Xai aan die Mosambiekse kus saam­getrek. Hulle het opleiding in Tanzanië ontvang en is daarvandaan kuslangs na Xai-Xai vervoer. Hiervandaan is hulle per pad of spoor afgevoer na Aldeia da Barragem, Frelimo se brigade-HK in die Gaza-provinsie. Weens die Selous Scouts se aksies was die Zanla-guerrillas genoodsaak om te voet of per pad na die Rho­desiese grens met Mosambiek te beweeg.

      Gedurende Oktober 1977 het die Selous Scouts die verantwoor­delikheid om infiltrasies uit die Gaza-provinsie te beveg, aan die SAS Rhodesië oorhandig. Dit was in hierdie ongenaakbare opera­sionele area met min water en onbegaanbare sandelhoutwoude waar Suid-Afrika se Recces saam met die SAS militêr teen Frelimo en Zanla opgetree het.

      * * *

      Die Recces se voorbereiding en beweging na Rhodesië het altyd in groot geheimhouding geskied.18 Sodra die groepbevelvoer­ders die opdrag ontvang het om operateurs na Rhodesië te ontplooi, het die voorbereiding begin. Uitrusting, wapens en ammu­nisie is gepak, gekrat en genommer. Die groepsersantmajoor het ’n inhouds­lys van elke krat opgestel waarna elke krat geweeg is. Ter­selfdertyd het die operateurs hul persoonlike gevegsuitrusting nage­gaan en gereed gemaak vir die ontplooiing.

      Operasionele sekerheid (OPSEK) is gehandhaaf en niemand in die eenheid het geweet waarheen die groep onderweg was nie – niemand het ook vrae gevra nie. Maj Wessel Maree, 1 Recce se logistieke offisier, onthou OPSEK as volg:

      “Vanweë die operateurs se deurlopende opleiding het ons as onder­steuningspersoneel nooit geweet of die opleiding vir ’n spesifieke doel was (operasioneel) of net gewone opleiding nie. Sekere operateurs sou met die oggendparade nog in die eenheid wees, net om dan ’n ruk lank te verdwyn en eers weke of maande later terug te keer. 1.1 Kommando het sy eie store en stoorman gehad en die lede kon dus ontplooi word sonder dat die res van die een­heid daarvan geweet het. Niemand het ooit geweet presies wat die operateurs se program en take van dag tot dag sou wees nie.”

      Vir sekerheidsredes het die beweging na Rhodesië meestal ge­durende die nag plaasgevind, behalwe vir die eerste ontplooiing wat in die dag geskied het. Die groepe het altyd in burgerdrag met al hul toerusting na Durban se militêre lughawe beweeg. Dakota-vliegtuie van die SA Lugmag is gebruik om die groepe na Rhodesië te vlieg. Sodra die vlieëniers gerapporteer

Скачать книгу