1 Recce, volume 2. Alexander Strachan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan страница 10

1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan

Скачать книгу

en aangetrek. Die burgerdrag is dan in die drasakke gesit.

      Met die eerste ontplooiing het 1 VK se Bravo-groep onder bevel van kapt Hannes Venter gedurende die dag in twee Dakotas van­af Durban na die Buffalo Range-vliegveld naby Chiredzi in Rhodesië gevlieg. Nadat hulle die Limpopo-rivier oorgesteek het, het die vlieëniers ’n hoogte van sowat 90 m bokant die grond gehandhaaf, wat binne reikafstand van AK47-vuur was. Die vlieëniers was onervare en het gereken hulle vlieg laag genoeg. Hulle het boonop ’n formasie gevorm met die tweede Dakota wat ’n vliegtuiglengte skuins agter die voorste Dakota gevlieg het.

      Dit het die vliegtuie baie kwesbaar gemaak en Venter het die gesagvoerder van die Dakota, kapt Jaap du Preez, gevra om eer­der op boomtophoogte te vlieg. Du Preez het hom nie aan dié ver­soek gesteur nie. Met die terugvlug het hulle dieselfde roete gevolg en net voor die Limpopo-rivier onder hewige AK47-vuur deurgeloop. Du Preez se Dakota was vol koeëlgate. Dit was ook die laaste keer wat die Dakotas nie op boomtophoogte gevlieg het nie.

      Ná ontplooiings is die groepe weer in Rhodesië by die voorste taktiese vliegveld opgepik en na Durban se lugmagbasis gevlieg. Sodra die vliegtuig in Suid-Afrika se lugruim was, het die operateurs die Rhodesiese uniforms uitgetrek en hul burgerdrag aangetrek. Hulle het meestal in die nag by Durban se lugmagbasis aan­gekom. Voor sonop was die operateurs al terug in hul basis op die Bluff – nog voordat die res van die eenheid vir die dag se werk aangemeld het.

      Soms het die Recce-groepe direk van Durban na die voorste taktiese vliegvelde soos Mabalauta gevlieg, mits die aanloopbane geskik was vir die Dakotas om daar met ’n swaar vrag te land en op te styg.

      Venter en AO2 MJ (Yogi) Potgieter het vóór die 1 Recce-ontplooiings die SAS, Selous Scouts en RLI besoek om meer van die Rhodesiese operasionele doktrine, uitrusting, beplanning, uitvoe­ring, en so meer te wete te kom. Dit was ’n inligtingsbesoek van drie weke en hulle het die geleentheid gebruik om ook die Tak HK’s te besoek. Terwyl Venter by die Selous Scouts was, het hy saam met hul bevelvoerder, ltkol Ron Reid-Daly, beweeg. Hulle het onder meer ’n Joint Operational Centre (JOC) besoek en Reid-Daly het aan almal vertel dat Venter sy adjudant is en dat hy hom in die reserwemag gewerf het. Dit was ’n ongemaklike situasie maar skynbaar het almal Reid-Daly se verduideliking aanvaar en geen vrae gestel nie.

      Van Desember 1977 tot Desember 1979 is groepe van 1 Recce bykans voltyds ontplooi, hoofsaaklik in Mosambiek se Gaza-provinsie. Hierdie gebied het onder die operateurs as die Russian Front bekend gestaan weens die groot aantal Russiese en Oos-Duitse raadgewers wat saam met die vyandelike magte ontplooi was. Operasies is ook in Zambië en elders uitgevoer maar op kleiner skaal.

      Die Russian Front het ook so bekend gestaan as gevolg van die ongenaakbaarheid van die terrein en die aggressiewe Frelimo-opvolgaksies. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse sol­date na die Russiese oosfront verwys as die Russiese Front en dit is as ’n straf beskou om daar ontplooi te word. Net so het die Rhodesiese magte tong in die kies na Gaza verwys as die Russian Front.

      In die twee jaar is sowat 143 Recce-operateurs van 1 VK, 2 VK, 4 VK en 5 VK in Rhodesië ontplooi. Hulle is hiervandaan na Mosambiek ontplooi met die doel om die vyand deur middel van gevegspatrollies te ontwrig en ook hul logistieke steun in die wiele te ry. In Gaza is daar hoofsaaklik op die spoor- en kraglyn tussen Malvernia en Maputo en op die aangrensende pad gekonsentreer. Die Recces se ander teikens was die gewapende observasie- en masjiengeweerposte wat in ’n lugafweerrol ontplooi is om Dakota-infiltrasies aan te val.

      Valskermafgooistroke was ongemerk en die springers het gewoonlik in bome geland – dit was eintlik wonderbaarlik hoe min beserings voorgekom het. Een van die ernstiges was lt Douw Steyn wat in ’n sandelhoutwoud deur die bome geval het. Met die lan­ding het ’n droë tak deur sy Waxie-stewel in sy voet gesteek. Die besering was van so ’n aard dat hy later afgevoer moes word.

      Tydens een van die valskerminfiltrasies in Januarie 1978 het sers Jack Greeff tussen klippe in die Lebombo-berg geland en sy enkelligamente geskeur. Hy het egter uitgehou en is saam met die span na hul teiken, ’n spoorlyn, en is eers later uitgevlieg. Onder die ander valskermbeserings was dié van kpl FL (Frik) Gouws wat met sy landing ’n tak deur sy bobeen gekry het en ook afgevoer moes word.

      Recce- en SAS-spanne was vir sowat sewe tot veertien dae en soms langer sonder steun ontplooi. Hierna is hulle óf onttrek óf afgewissel óf het aanvullings vir ’n verdere sewe tot veertien dae gekry. Hul taktiek was om myne op ’n pad te lê en die vyand deur middel van hinderlae aan te val. Dit het die gewenste resultate gelewer: wanneer die vyand op die pad beweeg het, is hul voertuie te voet deur ten minste ’n kompanie infanteriesoldate beskerm. Die gevolg was dat die vyand altyd ’n groot aantal troepe langs die pad moes ontplooi, wat ander ontplooiings beperk het.

      Tydens kontakte was daar as ’n reël gewoonlik verliese binne die vyand se geledere. Die verliese het hul veglus en spoed gedemp, wat die Recces dan die kans gebied het om na ’n veiliger area te onttrek. Dit was altyd ontplooiings met ’n hoë risiko wat grootliks bygedra het tot die beveiliging van Suidoos-Rhodesië en die noordoostelike grens van Suid-Afrika.

      Gedurende Desember 1977 het lede van Bravo-groep 1 VK onder leiding van kapt Hannes Venter met intensiewe opleiding begin. Die groep is ingelig dat hulle voorberei vir ’n Eheke-tipe19 operasie teen Swapo in Angola. Dit was egter weer een van die dekstories wat dikwels ter wille van geheimhouding opgedis is.

      Groot was die groep se verbasing toe hulle by Durban se lug­mag­basis aankom en twee Dakota-vliegtuie aantref wat gereed staan om hulle te vervoer. Normaalweg vind beweging na Suidwes-Afrika met ’n C-130- of C-160-vliegtuig plaas.

      Tydens ’n ander ontplooiing was die dekstorie byvoorbeeld dat die groep vir heropleiding na die Oudtshoorn-area vertrek. Om meer stukrag aan die dekstorie te verleen, is selfs die groot HF-radio-antenna op die Bluff deur die seiners in Oudtshoorn se rigting geswaai. Daar is deurentyd baie aandag aan die dekstories verleen sodat dit as volkome geloofwaardig moet voorkom en op dié manier almal (ook eie personeel) se aandag moet aflei van die werklike missie op hande.

      Op Durban se lugmagbasis het die groep in die twee Dakotas opgestyg en onderweg is hulle beveel om ander uniforms aan te trek. Pleks van die gebruiklike Swapo- of Oosblok-uniforms is die bekende Rhodesiese kamoefleeruniforms, wat in kartonhouers ver­pak en verseël was, uitgedeel. Vir die eerste keer het dit tot die groep deurgedring dat hulle eintlik na Rhodesië onderweg is. Tydens die eerste ontplooiing is nagelaat om Rhodesiese dollar aan die manne uit te reik en hulle moes in Rhodesië rande vir dollars verwissel. In toekomstige ontplooiings is spesifiek op hier­die aspek gelet.

      Die groep is gedurende die vlug deur Venter ingelig dat hulle saam met die SAS ontplooi gaan word en vir sekerheidsdoelein­des voortaan net Engels mag praat. Laat die middag het die twee Dakotas by Buffalo Range geland waar hulle onmiddellik deur die SAS-inligtingsoffisier en SAS-bevelvoerder welkom geheet en voorgelig is. 1 Recce en die SAS se Taktiese HK’s was by Buffalo Range, maar is na Mabalauta op die oewer van die Nuanetzi-rivier verskuif. Dit was hoofsaaklik vanweë sekerheidsredes en omdat die afstande na die operasionele gebied en reaksietye korter was van Mabalauta af.

      Mabalauta was ’n semi-permanente tentkamp waarvandaan die Recces en die SAS operasies na die Gaza-provinsie in Mosam­biek geloods het. Daar was verskeie loopgrawe om die basis. Die tente het onder groot bome gestaan en ’n mediese pos is in ’n tent van 4 m × 4 m ingerig. Die kleinerige ablusieblok was ’n permanente struktuur.

      Die basis was informeel in twee gedeel met die Recces en die SAS wat elk hul eie gedeelte gehad het. Elke groep het ook sy eie operasietent gehad van waar die operasionele bevelvoerders die operasies beheer het. Die manne het egter gemeng en oor en weer gekuier. Die gewoonte was om ná laastelig by ’n mortierput tussen die SAS- en Recce-deel van die kamp bymekaar te kom en ’n paar biere te drink.

      Die Nuanetzi-rivier

Скачать книгу