1 Recce, volume 2. Alexander Strachan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan страница 7

1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan

Скачать книгу

die SAW, en Walls het die behoefte geïdentifiseer dat ’n Suid-Afrikaanse skakeloffisier op Walls (toe nog bevelvoerder Combined Operations) se staf moet dien. SAW-skakeloffisiere is toe van Junie 1977 tot Augustus 1980 met gereelde tussenposes by COMOPS in die destydse Salisbury (vandag Harare) ontplooi. Met die ontplooiing van die skakeloffisiere was kol Minnaar Fourie reeds as militêre attaché in Salis­bury gevestig. Hy moes genl Malan op hoogte hou van die mili­têre en politieke situasie in die land.

      Die skakeloffisiere se pligte het persoonlike skakeling met Malan en Walls behels, asook voorligting ten opsigte van beplande oorgrensoperasies en lugsteun vir komende oorgrensoperasies. Hulle moes ook omsien na maritieme steun vir ooskusoperasies en die verkryging van spesiale uitrusting vir die Special Air Service (SAS), Selous Scouts en Special Branch.8 Die skakeloffisiere was terselfdertyd ten nouste betrokke by die verskaffing van nie-konvensionele wapentuig.

      * * *

      Kol Hans Möller, ’n valskermsoldaat en voormalige bevelvoerder van 1 Valskermbataljon, was die eerste Suid-Afrikaanse skakeloffisier wat na Rhodesië ontplooi is. Hy was toe aan Militêre Inligting (MI) verbonde. Die skakeloffisiere het almal by die King George VI-offisiersmenasie (KG VI) in die voorstad Borrowdale in Salisbury gebly. Hul verblyf was ’n luukse eenslaapkamerwoonstel eenkant in die offisiersmenasie se tuin wat as die King George VI VIP Flat bekend gestaan het.

      Vir sekerheidsredes is Möller in Salisbury toegerus met volle Rhodesiese uniform met die rang van kolonel. Sy “nuwe identi­teit” het nie altyd gewerk nie en hy is eenkeer trompop deur ’n Rhodesiër gekonfronteer: “Colonel, who are you?” wou hy weet, waarop Möller geantwoord het: “I am a Rhodesian officer on the staff of COMOPS.” Die Rhodesiër het egter geantwoord: “Sir, with respect, that’s not true because I know all the officers on the COMOPS staff and you are not one of them.”

      Möller was deel van die COMOPS-beplanningspan wat kruis en dwars oor Rhodesië gereis het en al die JOC’s besoek het. Die doel van die besoeke was om die operasionele behoeftes van elke JOC te bepaal asook spesifieke logistieke behoeftes waarmee die SAW die Rhodesiërs kon help.

      Die Combined Operations Team het soms ook Spesmagte se basisse besoek, soos Fort Bendura en Fort Buffalo Range. Die ba­sisse is uitsluitlik deur die Selous Scouts beman en hulle het daar voorligting ontvang ten opsigte van operasies, werkwyses, oplei­ding en die sukses al dan nie om gevange vyande “te laat draai”. Daar is dan ook bepaal watter steun die SAW sou kon gee en ’n inkopielys is oorhandig aan EMLC9, ’n hoogs gespesialiseerde en geheime ingenieursmaatskappy wat spesiale toerusting aan Spesmagte verskaf het.

      Hans Möller het tydens so ’n besoek met twee Zipras gesels “wat gedraai is. Groot was my verbasing toe ek op ’n vlug na Pretoria ’n sitplek langs dié twee here gekry het. Al wat ek later verneem het, was dat hulle onderweg was op ’n sending na die ‘buiteland’.”

      Möller het Rhodesië se behoeftes persoonlik aan genl Malan en genlmaj PW van der Westhuizen, hoof van staf inligting (HSI) van die Afdeling Militêre Inligting (AMI) oorgedra. Dit het wapens en ammunisie ingesluit en enige ander krygstuig wat die Rhodesiërs vir spesifieke operasies nodig gehad het of vir hul oorlogspoging as ’n geheel. Malan en sy topstruktuur het die verskaf­fing daarvan dan goedgekeur of afgekeur.

      By COMOPS was die eerste oggendterugvoeringsessie ’n al­ge­mene terugvoering oor wat die vorige 24 uur aan die operasionele front gebeur het. Met die tweede sessie is ook algemene terug­voering gegee en na gelang van die oggendsessie ook toekomstige operasies beplan. Die derde sessie het op ’n ad hoc-basis plaasgevind en spesiale operasies van strategiese aard is tydens dié sitting bespreek en beplan. Hierdie tipe operasies is in uiterste geheimhouding uitgewerk op die grondslag dat “net diegene wat moet weet” teenwoordig kan wees.

      Kol Fourie het uit die aard van sy aanstelling as militêre attaché in Salisbury toegang gehad tot inligtingsbronne wat nie altyd vir die skakeloffisiere toeganklik was nie. Hy kon en het ook waarde­volle insette gelewer ten opsigte van versoeke vir ondersteuning met operasies.

      Nadat Möller sowat tien maande (van Junie 1977 tot Maart 1978) as skakeloffisier in Rhodesië was, word hy terugverplaas na Suid-Afrika en hervat sy pos by MI. Nie lank nie of hy word na die Spesmagte-HK in Pretoria oorgeplaas as senior stafoffisier operasies leër (SSO Ops Leër). Hier dien hy op die staf van Spes­magte se bevelvoerende generaal, genlmaj Fritz Loots. Kapt (Vloot) Woody Woodburne was die SSO Ops Vloot en kol Karel van Heerden die SSO Ops Lugmag. Möller was die mees senior van die drie en genl Loots het hom aangewend as sy tweede in bevel (2IB) binne Spesmagte.

      Tydens Möller se ontplooiing by Spesmagte was hy baie nou betrokke by die toekomsbeplanning van die eenheid. Hy was onder meer gemoeid met die sogenaamde Serfontein-kommissie (1977–1979) wat aangestel is om Spesmagte se strukture en aanwending te ondersoek en aanbevelings te maak. Dit was ’n baie stimule­rende tyd vir Möller omdat hy ’n natuurlike aanleg vir en belang­stelling in hierdie tipe organisatoriese werk en ondersoeke gehad het.

      Hy word onthou as ’n baie gewilde offisier wat by almal aan­klank gevind het. Hy het ook op sportgebied uitgeblink en het vir Noord-Transvaal sowel as die Junior Springbokke op vleuel uitgedraf. Op die rugbyveld was dit bekend dat hy een van die moeilikste spelers was om grond toe te bring omdat hy ’n ge­weldige sterk hardloper was en besonder stewig op sy bene. Die hoogtepunt ná baie uitdagings in sy militêre loopbaan was sy aanstelling as bevelvoerder van kommandement Oos-Transvaal met die rang van generaal-majoor.

      * * *

      Kol Ewald Olckers vervang Hans Möller as skakeloffisier in Rho­desië. Hy en sy vrou, Isabel, en Tau, haar gemmerkat, vlieg op 19 April 1978 met twee tasse klere op ’n vlug van die Suid-Afrikaanse Lugdiens Salisbury toe. Op hul reisdokumente word die doel van hul besoek bloot as “on business” aangedui. Olckers het ’n onderneming van genl Loots gehad dat sy ontplooiing “net vir ’n jaar sou wees”.

      Nes Möller was Olckers ook ’n valskermsoldaat en voormalige bevelvoerder van 1 Valskermbataljon. Dit het egter ’n jaar en tien maande geduur voordat hy as skakeloffisier afgelos is toe kmdt André Bestbier, ook ’n valskermsoldaat, op 22 Februarie 1980 oorgeneem het. In Rhodesië was Olckers en Bestbier se funk­sies soortgelyk aan dié van Möller. Op die dag van Olckers se vertrek terug na Suid-Afrika (met gemmerkat en al) het duisende ondersteuners op die lughawe saamgedrom om Robert Mugabe in te wag.

      Olckers het Bestbier by genl Loots aanbeveel as die aangewese persoon om by hom oor te neem.10 Hy en Bestbier was goed be­vriend, het saam in die offisiersmenasie op Oudtshoorn gebly, saam vakansie gehou, sport beoefen en by geleentheid saam as kroegmanne opgetree.

      Olckers het baie goeie herinneringe aan die Rhodesiese fase. “Afgesien daarvan dat ek baie lekker gewerk het, het ek ook baie mense ontmoet en boonop goed leer Engels praat … later sou dit my goed te pas kom in Durban. Saterdagmiddae is ek in baadjie en das saam met Isabel vir afleiding na die Owners and Trainers se VIP-losie by Borrowdale Race Course. Dit was ook ’n instel­ling om ’n drankie te gaan drink by die Monomatapa-hotel.11 Met die naderende verkiesing is bykomende Recces onder dekking in Salisbury ontplooi en moes ek by meer as een geleentheid gaan vrede maak tussen die Recce-operateurs en die Filistyne.”12

      Met sy terugkeer uit Rhodesië word kol Olckers aangestel as die SSO Ops Leër by Spesmagte. Op 2 Maart 1981 word hy die eerste bevelvoerder van 1 Verkenningsregiment (1 VR), wat uit 1 Verkenningskommando (1 VK) ontstaan het. Hy was die bevel­voerder tot 30 Maart 1983.

      Olckers sou buiten sy sterk leierseienskappe ook deur sy man­skappe onthou word as die spreekwoordelike “man’s man”. Hy het op die Bluff in Durban saam met die manskappe geduik en saam by die walvisstasie visgevang. Verder het hy ook op die sport­veld uitgeblink en selfs vir die SA Leër rugby gespeel.

      * *

Скачать книгу