1 Recce, volume 2. Alexander Strachan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan страница 5

1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan

Скачать книгу

idee is dat hulle in ’n westelike rigting moet beweeg na die Klein Cunene-rivier. “Ons loop en ons loop en ons loop en dis ’n gedoente met kinders wat skreeu en huil en die ma’s wat hulle pro­beer stilmaak.” Dit is ’n helder nag. Omstreeks 04:00 sê Blaauw vir Queiroz volgens die suiderkruis loop hulle suid. Hy noem dit ook aan Tito en vra dat die konvooi gestop word.

      Savimbi is voor in die konvooi en nadat die boodskap hom be­reik het, kom hy aangestap. “Yes, Major, what is the problem?” Blaauw sê vir hom hulle beweeg nie in ’n westelike rigting nie. Hy wys vir Savimbi die suiderkruis reg voor hulle; ook die rooi­dag wat net-net in die ooste wil breek. Blaauw haal sy kompas uit en sê hy gaan dit nou in ’n westelike rigting stel. Savimbi dink ’n oomblik na, toe sê hy ferm: “Major, from now on you do the navigation.”

      Dit beteken Blaauw moet nou aan die voorpunt by Savimbi in die konvooi wees. Dit raak nou vinnig lig en hy maak nog ’n voor­stel. Hy vra dat Savimbi die konvooi verdeel. Die stof wat die vroue en kinders en die hele groep saam opskop, sal uit die lug deur die helikopters raakgesien word.

      Boonop is die vroue in pienk, wit, blou en helder rokke geklee; die troepe oorwegend in kakie en ou Portugese kamoefleerdrag. Blaauw stel voor dat die vroue met die bystand van ’n sterk eskort in ’n ander rigting gelei word, maar ook weswaarts. Savimbi gee dadelik opdrag dat die vroue saam met die bokke, hoenders en ander diere afsonderlik saam met die eskort (wat amper kompaniesterkte was) beweeg.

      Uit ’n militêre oogpunt is die beweging nou meer takties en ook baie vinniger. “Ek loop so en luister en ek sê vir Amilcar ek hoor ’n chopper. Hy sê: ‘Ja, dis beslis ’n chopper’. Ons hoor duidelik hoe kom hulle met die choppers al op ons spoor aan en hoe land die choppers telkens om troepe neer te sit.”

      Die groep loop al hoe vinniger. Sowat ’n uur later hoor hulle weer ’n helikopter aankom en weer eens word troepe afgelaai. Dit is ongelooflik warm oor die middaguur en die Recces beweeg met hul grootsakke op hul rûe. Toe hulle in ’n stadium stop, sê Savimbi: “Let my soldiers carry your big packs.” Blaauw sê vir Queiroz om te antwoord dat hulle Spesmagte is en gewoond daar­aan om hul eie uitrusting te dra. Die situasie raak toe baie snaaks want die president sê vir Queiroz: “Look at you. You look like a pack donkey.” Waarop Queiroz ewe pittig antwoord: “Mr President, I may be a pack donkey, but I am my own donkey.”

      Intussen agtervolg die vyand steeds die groep. Omstreeks 14:00 vlieg ’n Mig-21 van die westekant af oor hulle. Die groep bly onder die bome. Gelukkig is die gebied baie boomryk en nie savanna-veld nie. Vanuit die bos hoor hulle in ’n stadium voertuie aan hul linkerkant. Hulle hoor hoe die voertuie stop en troepe afklim – dis duidelik dat hulle stoppergroepe op die pad aflaai. Tito se stem is baie dringend: “Come Major, come Major, we must move before we get captured.”

      Hulle beweeg nou teen ’n nog vinniger pas deur die bos. Savim­bi se sekretaresse, Ana Isabel Paulino, is ook deel van die groep. (Savimbi het later met haar getrou.) Sy is nog jonk en hardloop met haar tikmasjien op haar kop. Dis ’n ou Olivetti en agter haar is ’n troep met ’n tafel op sy kop, gevolg deur nog ’n troep met ’n stoel op sy kop. “Dit was skreeusnaaks want daar gaat hulle tussen die struike en bome deur … Ana voor met haar tikmasjien, gevolg deur die troep met haar tafel, dan die een met haar stoel. As Savimbi stop, kom hulle in daai presiese volgorde tot stilstand. Ana gaan sit reg en as Savimbi iets sê, tik sy dit. Die getikte vel word dan in ’n tas gebêre. Tussendeur dreun die choppers oor ons. Ek kon nie help nie en het hardop uitgebars van die lag.”

      In ’n stadium bedaar die vyandelike bedrywighede effens en Blaauw gebruik die kans om radiokontak met Rundu te maak. Hy gee ’n vinnige situasierapport en sê vir kol Flip du Preez om op bystand te wees om hulle te onttrek want die situasie is baie plof­baar. “As die vyand met troepe van voor af kom, gaan ons heel­temal ingeboks raak. Skaars het ek die radio afgeslaan of Alcides Sakala kom na my toe. ‘The president wants to see you’,” sê hy.

      Savimbi wil toe weet met wie hy oor die radio gepraat het. Blaauw sê hy het Rundu ’n opdatering van die situasie gegee. “But you are forbidden to speak on the radio,” sê Savimbi. “Because the enemy in the aircraft will hear what you are saying. The MiGs can hear everything you say.” Blaauw verduidelik dat hy op ’n hoëfrekwensieradio (HF-stel) praat terwyl die vliegtuie almal op baie hoëfrekwensie (BHF) is en hom dus nie kan hoor nie. Savimbi is duidelik nie gelukkig nie. “You must not do that,” sê hy net.

      Hulle beweeg voort en die namiddag gaan hulle deur ’n shona. Savimbi kondig aan dat hulle daar gaan rus. Ana het klaar weer ’n vel papier in haar tikmasjien en begin verwoed tik. “In daardie stadium het Gert begin siek word. Hy ontwikkel ’n koors en ek sien sommer dadelik dat dit malaria is en Amilcar gee hom ’n klomp malaria-tablette in.”

      Abel, Blaauw se lyfwag, sê daar is ’n watergat in die shona; hulle kan hul leë waterbottels daar gaan hervul. Blaauw het ’n waterbottel aan sy lyf maar die res is almal leeg en saam met sy radio in sy rugsak. “Ek gee toe sommer die hele rugsak vir hom aan, wat ’n fout is, want mens doen nie so iets nie. Abel vat ook leë waterbottels by Amilcar. Hy en ’n paar ander is toe daar weg met die waterbottels en die rugsak. Hulle wag, maar dit is doodstil, nie ’n geluid nie. Die volgende oomblik breek daar ’n hewige kontak uit en Blaauw besef dadelik dis by die watergat.

      “En hier kom ’n troep aangehardloop, uitasem … hy sê daar is ’n groot waterpan en dis net daar waar die vyand se opvolggroep hulle geslaan het terwyl hulle nog water skep!” Blaauw vra vir Tito wat van Abel? “Abel has been killed,” sê Tito. “Dit ook nog,” dink Blaauw. Hy besef dat sy rugsak met die radio ook nou daarmee heen is. “Gelukkig het ek al my radiokodes by my en die radio is van Britse oorsprong, so dit kan nie na Suid-Afrika teruggespoor word nie.” Die enigste probleem is dat kol Jan Breytenbach se naam op die pamflet in die radiosak geskryf is.5

      Queiroz het ’n bystaan-radiostel by hom, so hulle is nie van die buitewêreld afgesny nie. “Maar daar is Abel nou net weg, dood, en saam met hom my rugsak en die radio.” ’n Paar Unitas is dood­geskiet maar ’n klomp het dit reggekry om weg te hardloop en is iewers die bosse in.

      Die groep pak onmiddellik op en beweeg met ’n hardlooppas by die tydelike stelling uit. Teen die namiddag stop hulle en Savimbi vra dringend vir Blaauw om ’n noodonttrekking per helikopter aan te vra. Blaauw praat dadelik met Rundu. Du Preez sê op grond van sy vorige situasierapport het hulle reeds twee Pumas na Omauni gestuur om op bystand te wees by 32 Bataljon se operasionele basis. “Ons moet vanaand nog onttrek word aange­sien die vyand weet waar ons is en ons is besig om ingeboks te raak,” antwoord Blaauw. Hy stel Savimbi in kennis dat die heli­kopters hulle omstreeks 22:00 sal kom uitlig: “But Mr President, how big is your group?” wil hy weet. Savimbi sê dat hy nie met minder as 31 mense kan gaan nie. “Ek sê vir hom dis onmoontlik, die choppers kan nie met 31 mense opstyg nie en dan is daar nog ons drie Suid-Afrikaners ook. Die choppers gaan met vol brandstoftenks inkom en hulle sal nie daai vrag kan lig nie.

      “Maar Savimbi sê vir my: ‘I would like to extract 60 people.’ Nou wil hy sowaar 60 mense onttrek! Ek sê vir hom ’n Puma-helikopter kan ’n maksimum van 12 mense neem, so dit is heel­temal buite die kwessie. Hy sê: ‘Okay, wait.’ Ná ’n rukkie kom hy terug: ‘I can’t go with less than 31; I must take out 31 people.’ Ek sê vir hom staan by, ons sal sien of dit moontlik is.”

      Dit word nou vinnig donker en die helikopters moet omstreeks 21:00 by Omauni opstyg om 22:00 by Blaauw-hulle te wees. “Net hierna trek ons egter mortiervuur, selektiewe vuur, kwelvuur … Hulle is nie 100 persent seker van ons posisie nie en gooi dus 60 mm-mortiere in die kol waar hulle vermoed ons is.”

      Die mortierbomme laat Blaauw besef dat ’n onttrekking nie nou moontlik is nie. Hy kontak Rundu per radio en sê die woord “abort”. Die uitlig is te riskant want hulle trek mortiervuur uit alle rigtings.

Скачать книгу