Onthou my. Helena Hugo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onthou my - Helena Hugo страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Onthou my - Helena Hugo

Скачать книгу

keer. “Dis te veel.”

      “My ma sê ek moet vir jou sorg. So, eet.”

      Sy skraap moed bymekaar, maak soos hy sê, eet en proe net sout.

      “En, hoe smaak dit?”

      “Lekker.”

      Stilte. “Janine … Toe maar, ons kan later praat.”

      Oupa Koen roep van die vuur se kant, sy braaitang in die lug. “Vleis is reg! Braaibroodjies ook. Ek en Abie was net gou hande.”

      Ouma Leen staan swaar op. “Kom, Jessie, ons gaan haal die slaai. Het julle mans nog plek?”

      Oupa Koen knipoog vir Janine in die verbyloop. Daar is ’n vetkring om sy mond, stukkies roet tussen sy tande. Uncle Abie kom staan voor haar en Bennie, vee sy mond met die agterkant van sy hand af. Dit is duidelik dat hy sy eerste tjoppie ook al in het. Amper lyk dit of hy haar wil soengroet. Sy staal haar by voorbaat, maar hy skud sy kop op sy stadige manier.

      “Shalom, Janine, dis goed om jou weer in ons midde te hê.”

      Hy lyk soos Bennie, Bennie oor veertig jaar. Haar gemoed skiet vol, sy eerlike toegeneentheid laat haar weerstand verkrummel. “Uncle Abie, ek kan nie vanaand op ’n beter plek wees nie.”

      Die woorde is uit. Dit geld dalk net vir een aand. Of het sy nou haar toekoms saam met sy enigste kind verseël?

      Jenny rem aan haar mou: “Mamma, wanneer kom Kersvader?”

      “Nou-nou, my Bytjie.”

      “Waar’s Daddy?”

      “Daddy is in Londen en die vliegtuie is vol.”

      “Ag, nee.”

      Uncle Abie hurk by Jenny. “Kersvader het nie ’n vliegtuig nodig nie, hy vlieg deur die lug met sy eie slee. Netnou land hy reg voor die deur met sy sak vol presente, uncle Abie belowe jou.”

      “Ek wil my Daddy hê.”

      “Maar jy hoor mos nou die vliegtuie is vol.”

      “Pa, los die kind.” Dis Bennie, heel verstandig. Hy haak by uncle Abie in en stap met hom weg.

      Janine trek haar dogter nader, hou haar teen haar. Jenny se verlange na Greg is soos ’n smeulende vuur wat kort-kort vlamvat. ’n Kind, dit weet sy, het ook gedagtes en gevoelens wat soms uitborrel. Dalk vermoed Jenny dat die vliegtuigstorie opgemaak is en grootmense nie te vertrou is nie, minste van almal haar eie ma. Jenny huil dat die trane so spat.

      Wat sê ek vir haar? Jou Daddy sal nie kom nie. Hy het ons weggegooi, vir jou ook.

      Sy haal ’n snesie uit, vee traantjies af, sê liewer niks.

      Jessie verskyn asof sy gestuur is. “Het jy seergekry?”

      Janine spel G-r-e-g sonder geluid.

      “Jy’s mos ’n groot dogter wat al kan tafel dek.” Sy dwing die snikkende Jenny sagkens saam met haar, druk ’n snesie in haar hande. “Vee af jou traantjies, voor ons saam met jou huil. Het jy grootmense al sien huil?”

      Jenny dink nie dis snaaks nie, sy huil harder.

      Janine weet hoekom. Sy het haar mamma te dikwels in trane gesien.

      Ouma Leen raak aan Jenny se voorkop. “Nie koorsig nie, net ongelukkig. Wil Ouma se kind ’n koeldrankie hê?”

      Bennie kom sit weer langs Janine, praat saggies. “Weet Greg Walker wat hy doen?”

      Sy sluk die knop in haar keel. “Hy is lief vir Jenny en sy vir hom.”

      “Hy het haar in die steek gelaat.”

      “Ek ook.” Sy kan haar tong afbyt. Dit het uitgeglip en boonop voor hom.

      Hy het gehoor, want hy verskuif sy gewig, vou sy arms asof hy sy woorde tel. “Julle kry swaar.”

      Bennie kry haar jammer en dit mag nie! “Ons sal regkom. Almal is so goed vir ons, netnou lag sy weer.”

      Janine weet sy stry teen haar beterwete. Jenny word oorlaai met goedheid, maar sy het alles verloor wat vir haar bekend was. Dis nie meer winter nie. Die seisoen het gedraai in een dag en een nag. Sy het son gekry, see en sand, oumas en oupas, speelgoed om hare wat agtergebly het, te vervang. Dis te veel, maar dis nie genoeg nie. Sy mis haar Daddy.

      Liewe Here, sy is ek, toe ek vyftien jaar gelede hier aangekom en my snags aan die slaap gehuil het. Ek het Ouma en Oupa ’n lewe gelei oor my mamma en my pappa. Hoekom vir Jenny verkwalik?

      “Jou ouma is raadop.”

      Dit neem ’n sekonde of twee voordat Bennie se woorde by haar insink.

      Jenny knibbel aan ’n broodjie, sy loer na hulle, haar oë blink van trane.

      “Jenny-by, kom sit hier by Mamma.”

      Jenny wil nie. Sy druk die broodjie met albei hande onder haar ken in en staan waar sy staan. Bennie maak sy bene reguit, laat rus sy hande op sy knieë, kyk af. Wat dink hy nou? Dat sy hulpeloos is, ’n hopelose ma? Sy kry lus om op te spring, Jenny te gryp, saam met haar te gaan huil tot hulle albei uitgehuil is. Maar oupa Koen en uncle Abie maak hul verskyning en ouma Leen roep almal bymekaar sodat Oupa die tafelgebed kan doen. Bennie hou sy hand na Janine toe uit. Sy ignoreer dit en vou haar hande op haar skoot.

      “Hemelse Vader, ons dank U vir onverdiende gawes.” Oupa se stem bewe, hy is aangedaan. “Seën die voedsel wat vir ons voorberei is deur gewillige hande. Dankie vir ons samesyn met familie en goeie vriende. Ons dink aan eensames en armes, oues van dae en siekes in hospitale en tuis. Ons bid dit alles met die vergifnis van ons sondes, amen.”

      “Amen,” beaam uncle Abie en Bennie.

      Die vroue, soos dit hulle betaam, volg byna onhoorbaar. Oupa Koen se woorde hang nog in die lug. Wat meer wil die Here hoor as dat hulle almal saam, en van sy seën afhanklik is?

      “Julle kan kom skep, elkeen vir homself.” Dis ouma Leen wat haar deel doen. Sy lyk moeg, haar taak raak by die dag gewigtiger.

      Janine vat ’n kleinbordjie, kies die sappigste happies vir Jenny wat haar kop skud en die vredesoffer wegstoot. Ouma Leen paai en Janine praat mooi. Jenny weier en amper beland die bord op die grond.

      “Te veel worsies?” vra Ouma. “Is sy nie honger nie?”

      “Sy is, vir ’n roomysie!” Oupa Koen sit sy arm om Jenny. “Dankie, Oupa?”

      “Dankie … Oupa.” Jenny glimlag met Greg se glimlag, die ene kuiltjies en selfgenoegsaamheid.

      Janine wil beswaar maak. Dis verkeerd om moedswillige kinders met soetgoed te paai, maar sy sien nie kans vir nog struweling nie. Jessie is buitendien klaar op pad yskas toe. Janine laat dit daar, kies vir haar ’n tjoppie met min vet en gaan sit langs Bennie wat sy braaivleis geniet asof niks hom ontstel het nie.

      Om die tafel gaan dit vrolik. Oupa Koen en uncle Abie vertel visstories.

Скачать книгу