Israel-reeks 11: Hooglied. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Israel-reeks 11: Hooglied - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 7

Israel-reeks 11: Hooglied - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

het. Hulle is voor drie keuses gestel. Die eerste keuse was jy oorhandig jou wapens en bly op jou land en leef soos jy altyd geleef het. Die tweede keuse was jy vertrek as jy nie bereid is om jou wapen te oorhandig nie. En derdens, as jy nie bereid was om te gaan nie en jou wapen behou, moet jy jouself voorberei om te veg. Al drie was moeilik. My oom het altyd gesê om destyds van sy wapen afstand te doen, was eintlik ‘soos om my vrou af te gee’.”

      Die ou vrou lag tandeloos: “Ek het twee paar skoene gehad, ’n nuwe paar en ’n ou paar. Toe sê ek: ‘Ek sal die ou paar aantrek om mee weg te gaan en die nuwe paar los vir as ons terugkom.’ Ons was so seker ons sal terugkom. Hulle het ons ooste se kant toe gevat, oos van Safed, na die Jordaan toe. Maar ons kon nie weer terugkom nie …”

      “En nou woon jy tog weer in Jerusalem, Aisha,” sê die rabbi.

      Sy wys na Ahmed. “My seun het my gehelp.”

      “En jy en jou seun het Israeliese burgerskap?” vra Moshe, al weet hy dit.

      Sy knik drie maal diep.

      Toe hulle terugstap, sê Simon: “Die storie het heelwat hoeke.”

      “Elke storie het …” antwoord die rabbi hom.

      14 Mei

      29 Iyar

      Op Maandag 14 Mei word die Amerikaanse ambassade in Jerusalem ingewy. Rivkah is aan diens en Marc, Natan en Simon besluit om die verrigtinge maar oor die televisie te volg, want daar is niemand om Chaya op te pas nie, aangesien Chaim en Hadassah die plegtigheid bywoon. Yhoshi is saam met ’n paar maats die stad in om sensasie te slaan uit die feesvierings wat oral aangaan.

      “Jy beleef omtrent gewigtige tye in Israel,” sê Marc met ’n grinnik vir Simon, bly dat hulle weer met mekaar Afrikaans kan praat.

      Natan is besig om Chaya op die mat besig te hou met blokkies bou.

      “Jy kan dit weer sê. Ek skeep ou Chagall af.”

      Voordat Simon verder kan praat, lui Marc se selfoon. Toe hy die naam oor die skerm sien flits, maak hy vinnig verskoning en gaan met die foon die slaapkamer in.

      Toe hy terugkom, gaan hy met ’n sug sit.

      “Die Palestyne by Gasa se grens het nou tot 40 000 aangegroei en 52 is reeds doodgeskiet …”

      “Onder die mense wat daar vreedsaam protesteer, is daar dié wat wil terugkeer na die land van hulle geboorte.” Simon klink ontsteld.

      Marc onderdruk ’n volgende sug. “Dis nie ’n vreedsame optog nie, Simon. Allesbehalwe. Dit is 40 000 mense met net een doel voor oë – om deur die grensdrade te breek en die land in te stroom. Nié om te kom tee drink nie, belowe ek jou. Om te moor en plunder. Van die leiers het hulle aangehits om die Jode se harte te kom uitskeur. En hulle plaas vroue en kinders in die voorste linie omdat hulle weet ons sal nie vroue en kinders skiet nie.”

      “Ag, dis gewoon propaganda. Jy gaan my nie vertel jy glo dit nie.”

      “Waarom sal ek dit nie glo nie, Simon? Ek het in twee oorloë in Gasa geveg. Ek het dit aan my eie lyf beleef.”

      “En wat van vanmôre se televisie-uitsending wat julle skerpskutters op die duine bokant die grens gewys het?”

      “Luister mooi na die woord. Skérp-skutters. Ons skiet nie sommer voor die voet alles wat beweeg dood nie. Daar word met absolute akkuraatheid te werk gegaan. Hulle weet wie hulle skiet. Daar kan soms ander mense in die kruisvuur beland …”

      “Met absolute akkuraatheid? Hulle vegters dra dan nie eens uniforms nie.”

      Marc kry ’n siniese laggie. “My vriend, jy weet nog niks van Israel se intelligensie nie. Wag maar, jy sal sien. Op die een of ander tyd sal Hamas wel aankondig dat soveel van hul operatives die marteldood gesterf het. Hul shahids. Hulle sal aan die algemene bevolking moet wys hoe hierdie mense vir húlle vryheid geveg het.”

      “Ek weet nie. Dit klink nie vir my kosher nie. Mense protesteer vreedsaam oor hulle hul land verloor het en hulle word daarvoor doodgeskiet. Ek dink julle weermag se reaksie is … Ek dink dis disproportionate. Wat is die Afrikaanse woord?”

      “Simon, die idee dat die IDF se reaksie oordrewe en buite verhouding is, is die PA se manier van sê: ‘Nie genoeg Israeli’s is dood om selfverdediging te regverdig nie.’ Dis eintlik ’n ander manier van sê: ‘Hoekom tree julle Jode nie aan om doodgemaak te word soos julle altyd gedoen het nie?’ ”

      “Marc, ek ken jou nie so nie.”

      “Nee, jy ken my nie so nie, want ek het nie vroeër geweet wat die stryd om oorlewing inhou nie. Wat regtig hier aangaan, kom jy net agter as jy hier woon.”

      “Wonder jy nie ook soms hoe dit moet wees om soos die mense in Gasa te lewe nie?”

      “Wat ek wel wonder, is wáárom hulle so lewe. Waarom hulle Hamas toelaat om hulle so te laat lewe, terwyl die leiers self in ongelooflike weelde lewe en nooit op die gevegsfront teenwoordig is nie. Waarom kom sit hulle nie om ’n onderhandelingstafel nie? Waarom is vroeëre aanbiedings van grond vir vrede nie aanvaar nie? Israel het uit die hele Gasa onttrek. Elke liewe Jood wat daar gewoon het en die onbenutte sandduine van vroeër laat floreer het met die uitvoer van groente, druiwe, blomme, you name it. Ons het die sprinkelbesproeiingstelsels vir hulle laat agterbly. Gasa het my vroeër aan Stellenbosch laat dink, weet jy, Simon? Groen en mooi met rooi teëldakhuise en wingerde. Die setlaars is met geweld en met pynlike skuldgevoelens deur hul mede-Jode daar uitgegooi. En nou? Hulle het alles vernietig. Nou is daar niks van oor nie. Nou kry Israel die skuld dat hulle in sulke haglike omstandighede lewe.”

      Marc is uitasem ná die lang, emosionele relaas. Hy neem hom voor om homself te bedwing. Ook omdat hy merk dat Natan hulle angstig dophou.

      “Daar is te veel mense op ’n klein stukkie grond. Wat kan jy verwag?” vra Simon.

      Marc, wat Natan se weerloosheid ken, bedwing sy emosie en praat sagter.

      “Ek kan miskien verwag dat die enorme Arabiese lande rondom hulle die Palestyne sal help met hul oorbevolking. Soos Israel ná 1948 gedoen het met die meer as 800 000 Jode wat uit Arabiese state verdryf is. Al word Hamas as ’n terroristebeweging beskou, ontvang hy miljoene dollars en euro’s uit goedgesinde lande van regoor die wêreld wat blindelings die Palestynse narratief glo. Wat doen hulle daarmee? Bou hulle hospitale, klinieke, skole, biblioteke of crèches? Of selfs net skuilkelders vir hul mense soos ons by elke huis in Israel doen? Nee, hulle grawe tonnels tot onder Israel en koop wapens aan van Iran en nou Turkye ook. Die res steek die leiers in hul sakke.”

      Simon reageer nie daarop nie. Natan het met die gemmerkatjie in sy arms langs hom op die rusbank kom sit. Die kind se nabyheid maak hom rustiger sodat hy stilbly. Chaya het teen Marc se knieë kom opstaan en suig driftig aan haar fopspeen. Hy leun oor na haar bottel tee wat op die toonbank staan, tel haar op sy skoot en gee dit vir haar om te drink.

      “Ek is nie lus vir argumenteer nie, Simon,” sê hy ná ’n rukkie, self kalmer. “Jy is nou hier in die land. Asseblief, vind by enige iemand anders as by my uit wat regtig hier aan die gang is. Ek kan my indink dat dit jou ontstel oor jy jare lank uitgelewer was aan die media se propaganda en blatante leuens. Ek kan nie jou sienswyse verander nie. Net jyself kan uitvind wat die werklike toedrag van sake is. Ons moet asseblief nie dat hierdie soort gesprekke ons vriendskap loop versuur nie.”

Скачать книгу