Aanspreeklikheid. Jaco Fouché

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Aanspreeklikheid - Jaco Fouché

Скачать книгу

haar bors is iets tussen koddig en skrikwekkend.

      “Kom in,” sê sy. Sy is iemand wat vinnig na ’n mens kyk, dan nie gou weer nie. “Jou vriend daar in jou woonstel. Jy het ongemaklik gelyk.”

      “Nee, wat. Verhoudings … dis mos maar ’n plig. En jy word ouer en sosiale dinge kry so ’n formele lagie oor. Kon netsowel saam met die diaken gekuier het.” Dis nie heeltemal waar nie.

      “Wens jy jy kan van mense vergeet? Altyd net in die oomblik leef?” vra sy. Sy het ’n melodieuse en geoefende stem soos dié van iemand wat les gee iewers.

      “Vergeet? Ek het my geheue nodig. Selfs al is herinneringe pynlik.”

      “Wat is dit wat jy onthou?”

      “Dat als ingewikkeld was. En dat mense nie dieselfde gebly het nie. Elke mens wat by ’n geselskap bykom, verander daardie geselskap só dat jy die betrokke mense skaars herken. Ek kon dit nie verstaan nie. Dit was asof hulle my in die steek laat.”

      “Ek raai jy hou van jou geheime,” sê sy met ’n laggie.

      “Miskien.” Ek lag nie saam nie.

      In uitleg is die woonstel soos myne, hoewel nie in meublement nie. Haar yskas is groter en daar is ’n skottelgoedwasser langs haar stoof. Die sitkamerdeel is deurmekaar. Op die rusbank en op ’n gemakstoel lê mans­klere. Die deur na die tuin staan oop. So dis hier, dink ek, dís waar hy haar geskiet het voor hy na die tuin is om daar te sterf. Dis iets om van kennis te neem, te stoor. Dis deel van die wêreld se geskiedenis.

      “Ons sien jou nie eintlik nie,” sê sy. “Maar jou balkondeur staan baie oop.”

      “Vir die luggie. Word bedompig in so ’n woonstel.”

      “Ek weet wat jy bedoel. Wil jy iets drink?”

      “Nee, nee,” sê ek. Die mansklere het my afgesit. Ek wil nie hier be­trokke raak nie. Die stemme uit hierdie woonstel en tuin is te hard, die sentimente te aggressief. Dwing ’n mens net om op te tree.

      “Glo jy aan ’n doel?” vra sy. Dis asof sy my toets, my diepte peil. “Mense wat met ’n doel oor mekaar se pad kom.”

      Ek vryf oor my ken. “Uh, nee, ek kan nie eintlik sê dat dit so werk nie.”

      Of dit iets vir haar beteken, weet ek nie, want sy sê nou: “Die opsigter sê jy was hier toe John my geskiet het.”

      Ek swig en gaan sit op die rusbank, op die punt, my bene uitmekaar, knieë op my elmboë. Ek het die opsigter vertel wat ek gehoor en gesien het. “Ons moet seker praat.”

      “Dit was so onnodig. Ek wil hê jy moet weet dit was ’n ongeluk.”

      “Ek het julle hoor stry voor die tyd.”

      “Ons was vies vir mekaar. Het al hoe meer vasgesit. As ’n verbintenis net goor kon begin en van daar af beter word, maar dit werk andersom. Miskien begin ’n mens met te veel verwagtinge. Maar daardie middag … hy het sy skietgoed skoongemaak. Dit was sy stokperdjie, die arsenaal wat hy aangehou het, ’n ding oor jonk wees en ure op die skietbaan en in die bos en waar hy ook al oral was. Gesê as iets gebeur, as ons aangeval word, is hy reg. Kom hulle deur die tuindeur, gryp hy die haelgeweer. Is dit die slaapkamervenster, die Glock. Pistool in die kar onder die sitplek, een in die boot. Niks wettig nie. Ek moes aan die polisie verduidelik hoekom ons met al die skietgoed gesit het. Amper was ék die een in die moeilikheid.” Sy het langs my kom sit, op die mansdenim, in die wanorde van die vertrek. Ek ruik ’n deodorant of seep. Die reuk herinner my aan my ma. Ek asem diep in.

      “Ek is jammer oor wat gebeur het,” sê ek terwyl ek uitblaas.

      “Is jy?” vra sy.

      “Hoekom stel jy dit so? Wil jy iets van my hê?”

      “Soos wat?”

      “Miskien voel jy ek moes iets gedoen het daardie middag?” vra ek, byna geïrriteerd. Miskien is ek te veel op my eie. ’n Mens vergeet gou hoe­veel draadwerk daar aan ’n gesprek kan wees.

      “Wat kon jy gedoen het? As jy afgekom het na ons toe, het jy jou dalk net in ’n koeël vasgeloop. John was in ’n verskriklike bui. Hy het moeiliker en moeiliker geword.”

      “So daar was nie juis rede vir sy gedrag nie?”

      “Watter ouerige man is nie moeilik nie? Dit maak ’n saak uit vir liewer ’n vriendin kry. Ek was die oggend dorp toe en toe ek terugkom, is hy aan die wapens skoonmaak en grumpy. En toe vra ek hom wat presies sy probleem is terwyl hy die magnum optel, sommer net so as ’n reaksie. En daar gaan die ding af en tref my. Liewe gode. Ek kon nie glo daardie stampgevoel is ’n koeël wat my tref nie. En die pyn in die hospitaal! Dis mal, wat gebeur het.”

      Ek sê liewer niks. Miskien moet ek verkas. Kyk of ek in die berg kan gaan stap.

      “En die man wat gedurig hier braai?” vra ek. “Ek moet vensters en deure toehou.”

      “Ek moet die huur inkry, dis al hoekom hy hier is,” sê Soraya. “Hy stel nie belang in my nie. Hou van my tuin en chat lekker met my. Maar ek het nie ’n band met hom nie. Hy is baie jonk, onthou. Daar is nie die ver­troue wat ’n mens as vanselfsprekend tussen ’n man en ’n vrou aanvaar nie.”

      “Jy het ook nie met my so ’n band nie en ek is nie jonk nie.”

      “Maar ek het tog so ’n band met jou. Jy was die mens naaste aan die ding toe dit gebeur het. Ek hoor jy was die eerste een om hom dood in die tuin te sien lê. Daardie soort van ding beteken iets.”

      Ek staan op en skud my kop. “Jammer, kan nie help nie. Wat ek gesien het, was toevallig. Daar was niks wat ek gesien het wat ongewoon was nie.”

      “Maar jy het tog gesien. En gehoor. Dis die situasie. Jy is betrokke, al wil jy nie wees nie. Jy het self gesê jy wil nie vergeet nie.”

      Ek stap na die voordeur. Soraya bly sit op die rusbank. Sy sê agter my aan: “Jou gedrag.”

      “Wat? Wat van my gedrag?”

      “Dis selfsugtig. Sodra jy iets vir ander mense moet doen, verloor jy alle belangstelling in hulle.”

      5

      Die spul raas weer. Dit begin vroegmiddag, die gestamp van ’n deur wat nie teen die seewind vasgemaak is nie, die gelag van mans wat uitsien na ’n drinkery, die gekap van braaihout op die sementstoepie voor die tuin­deur van die vrou se woonstel. Hulle praat hard, die man wat daar bly en een van die ander wat ledig hier in die blok ronddwaal. Ek het al ’n ver­skeidenheid onderwerpe aangehoor, sommige daarvan dinge wat ek laas in die army teëgekom het: besonder obsene grappe, hiperboliese ver­klarings van manlike mag ten koste van vroue, gays, oumense en kin­ders waaraan ek self deelgeneem het, als uitgedra deur my mond vol lemme. Dan, gou, warrel die eerste rook wit verby my oop balkondeur en ek staan op om toe te maak, in my eer gekrenk en ontevrede en magteloos.

      Soms is daar musiek, van die soort wat wit mans oproep tot krag­dadigheid en die drink van nog ’n bier sodat die volkstrots nie ondergaan nie. Vanmiddag word iets anders gespeel, ’n liedjie oor kokkerotte. Eers dag ek ek hoor verkeerd, maar nee, dis definitief wat besing word. Is ek al een met hierdie vrees dat

Скачать книгу