Aanspreeklikheid. Jaco Fouché

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Aanspreeklikheid - Jaco Fouché

Скачать книгу

tot my deurdring, nie besonder hard nie, maar aanstootlik. Ek gaan uit om ’n ent te gaan stap en voor die motorhuise kom ek die wit jong man teë wat vir my sê: “Dag, oom!” En my salueer. Ek groet mompelend terwyl ek merk dat hy na die vrou se motor op pad is en daarin klim. Maar dis nie my besigheid nie en vir vyftig minute stap ek deur Sandbaai tot ek kalm is en terugkeer.

      Die musiek het intussen opgehou. Miskien het die opsigter kom gesig wys. Die gesprek gaan egter harder as voorheen voort.

      “Daar is daardie nag ’n paar mense dood. Ek het gestaan en kyk hoe brand die plek. Wat moet jy doen? Jy meng nie in met daai mense nie, dis jou dood loop soek daai. Suid-Afrikaners weet nie hoe erg dit kan raak nie. En dit gaan nog hier gebeur. Kyk, ek werk meestal droog …”

      Die voordeel van die spanning wat hulle by my skep, is dat ek langer ure in die manuskrip sit, bloot omdat ek nie kan ontspan nie. Dus kry ek ’n moeilik leesbare stuk leeswerk uit ’n Encyclopaedia Britannica uit die agtienhonderds afgehandel terwyl ek goeie aantekeninge maak.

      Halfelf die aand besef ek dis warm en bedompig en waag ek dit om die balkondeur oop te maak. Dis nou stil. Voor my teen die berg skyn ligte geel en amber. Voëls, dalk fisante, raas in ’n oop veldjie tussen die huise. In die tuin skuins onder my is daar niemand, hoewel die tuindeur oop­staan en lig in ’n trapesium oor die gras val. Ek sien iets in die lig sit. Dis die hondjie, ’n wit-en-taankleurige diertjie. Dis eintlik ’n mooi gesig, rustig en verwelkomend en treffend, maar ’n skaduwee val in die trapesium en die hondjie skuif onder ’n struik in.

      Dis die vrou wat uitkom, sigaret in die hand en opkyk asof sy die sterre wil sien voor sy my opmerk en na my kyk waar ek in my eie woonstel se lig op my balkon staan. Haar oë lyk groot in haar gesig.

      “Het hy geraas?” vra sy. “Ek het gesien jou balkondeur is toe.”

      “Nee,” sê ek. “Ek het niks gehoor nie.”

      “Jy lieg. Hy raas verskriklik. Ek is keelvol. Ek moet iets doen.”

      6

      In die slaapkamer het ek begin om snags ’n waaier aan te sit. Nie vir die lug nie, vir die geluid wat ander klanke uitkombers sodat ek minder oor my bure begaan is. Dit werk goed. Ek slaap langer en wanneer ek wakker is, werk ek lekkerder. Maar een nag is daar ’n kabaal wat geen waaier kan uitdoof nie. Dit kom uit die woonstel skuins onder my.

      Eers lê ek net in die hoop dat die opsigter die situasie onder beheer sal kry. Dan tref dit my dat die geluide van die tuin se kant af kom. Miskien hoor die opsigter dit nie uit haar woonstel nie. Ek staan op en loer deur die gordyne voor die balkondeur.

      Die tuin is verlig en drie mense gooi skaduwees daar. Die skaduwees maal om mekaar soos twee van die mense, mans, die derde tot bedaring probeer bring. Dis die vrou wat so skree terwyl sy op en af loop en die arms van haar wegstamp.

      “Loop hier uit! Ek wil julle weghê. Julle misbruik my.”

      “Soraya,” sê die man wat by haar bly. “Soraya, kom tot bedaring.”

      “Moenie vir my sê, kom tot bedaring nie. Jy het my kar gesteel.”

      “Ek is net gou shop toe. Jy het geslaap.”

      “Dis gebruik sonder verlof. Dis diefstal. Jy is uit! Nou.”

      Die mans lag. Een vat haar nogal onsag aan haar voorarms. Ek maak die deur voor my oop en stap in die donker op die balkon uit. Al drie is meteens stil.

      “Wat gaan aan?” vra ek.

      “Oompie, gaan slaap jy eerder,” stel die lang man voor.

      “Hy wil nie weggaan nie,” sê die vrou vir my. “Ek sit hom uit.”

      Die twee mans en die vrou hou my dop. Dis my skuif waarop hulle wag.

      “Los haar uit en kom uit daardie woonstel.” Dit gebied ek.

      Hulle staan. Ek sê: “As julle nie loop nie, sorg ek dat almal, van die opsigter tot die beheerliggaam tot die naaste prokureur, van naderby na julle sakies begin kyk. Ek weet julle is met iets onheiligs besig.”

      “Loop!” sê die vrou. Die man het haar arms gelos en sy stamp hom nou hard teen die bors. Hy tree terug en kyk na sy maat.

      “Kom ons maak soos rokkof,” sê hy en klink kwaad. Hulle voeg my gemene kyke toe, maar gaan die woonstel binne.

      Die vrou bly in die tuin staan, haar aandag by my. Sy lig haar hand na haar gesig en dit lyk asof sy glimlag, hoewel dit moeilik is om in die strak lig te sê wat presies sy aan my te kenne wil gee. Ek kyk af na haar. Sy het ’n wit japon aan, met iets op die rug wat soos ’n geborduurde draak lyk. Daar is iets tussen ons, iets wat ek vir haar gedoen het en wat ek weet sy aanvaar in die een of ander seremonie wat ek nie mooi begryp nie. In die woonstel vloek een van die mans. Die vrou bly staan, haar rug na die deur en haar profiel nou na my. Die hondjie verskyn van onder ’n struik en sy buk by die diertjie. ’n Voordeur slaan toe. Daar is iets finaals aan die klank.

      7

      Sy klop my wakker. Ek maak oop in ’n suwwe T-hemp en kortbroek.

      “Haai,” sê sy soos ’n jong vrou. Sy lyk skoon en nuut, haar hare met blink knippies vasgesteek en rooisel aan haar lippe. Ek moet versigtig wees of ek verkyk my aan haar donker oë. Ek is soos ’n toeris in ’n eksotiese mark, omring deur verkopers, houtblaaie, bakke met kos, maar onseker wat ek kan optel om aan te peusel.

      “Hallo.” Ek probeer binnensmonds praat, verleë oor my oggend­asem.

      “Ek het croissants.”

      “Dis baie deurmekaar hier,” sê ek toe ek eenkant toe staan.

      “Ek vergewe jou.” Haar stem. ’n Melodie soos ’n windklingel.

      Sy tree verby my en kom my heiligdom binne. Ek kan die bottergeur ruik uit die papiersakkie in haar hand. As die vrou iets aan haar lyf gespuit of gesmeer het, ruik dit nie skerp nie. Daar is ’n prikkie aan my gewete omdat ek die vrou so koelbloedig na waarde probeer skat.

      “Het jy koffie?” vra sy vriendelik.

      Ek druk die voordeur toe. “Wat het nog verlede nag gebeur?”

      “Niks. Ek kan dit nie glo nie. Sommer net so en hy is weg. Al sy klere gevat. Dis al wat hy daar gehad het. Reis lig. ’n Man wat lig reis, moet jy nooit vertrou nie. Gee my enige dag liewer een met bagasie. So een sal bly waar hy is, geanker.”

      “Ek hoop nie hy kom terug nie.” Die water is aan die warm word in die ketel.

      “Dan kom druk ek op jou nommer.”

      My gesig vertrek seker, want sy voeg by: “Net ’n grappie. Hulle is weg soos diewe in die nag. Maak nou daardie koffie, man.”

      By gebrek aan ’n eetkamertafel eet en drink ons in die sitkamer. Ek het die boeke en skootrekenaar van die rusbank afgehaal en op die vloer parkeer.

      “So dis wat jy doen, jy maak jou bedags hier tuis en dan skryf jy?” Sy stoot aan ’n volume van die ensiklopedie. “Dis baie oud. Kan jy dit nog gebruik?”

      “Met

Скачать книгу