Kalmte in die malle gejaag. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers страница 5

Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

’n rassis wat iets op Twitter geskryf het – alles dinge waaroor jy weinig beheer het, maar wat jou bloeddruk opjaag.

      En dan begin jy wonder, gaan jy ooit aan hierdie konstante stres kan ontsnap of is jy nou maar eenmaal so gemaak?

      WALTER MUESSE, ’n Amerikaanse kenner van bewustelikheid en meditasie, vertel ’n storie wat dié konstante geraas en gekla in mens se kop nogal oulik illustreer. Soos baie van ons wat al grys hare het, is hy effens tegnologies gestrem. Eendag wou hy homself bederf deur ’n fliek by die DVD-winkel uit te neem. Toe hy by die huis kom, die skyf in sy masjien druk en daarna begin kyk, kom hy iets vreemd agter. Terwyl die aksie op die skerm afspeel, lewer twee stemme deurgaans kliphard onnodig kom­mentaar oor wat gebeur. Twee karakters sal byvoorbeeld besig wees om oor ’n muur te klouter terwyl hulle ’n skelm jaag, dan sê die stemme van iewers agter die kamera: “Ons het lank gewonder wie eerste oor die muur moet spring” of “Jy sal sien die een ou dra ’n blou broek en die ander ou dra ’n rooi broek.” Wat is dit, het Walter gewonder, een of ander vorm van postmoderne rolprentkuns? Die stemme het so geraas dat hy glad nie die storie kon volg nie.

      Dis toe dat sy gesin nader staan en verduidelik DVD’s het ’n verstelling wat dit vir jou moontlik maak om ’n bykomende klankbaan te speel waarop die regisseur en van die akteurs vertel hoe hulle die fliek gemaak het. Dis eintlik gemik op mense wat klaar die fliek deurgekyk het en nou meer oor die storie agter die storie wil weet.

      Vir Walter was dit ’n aha-oomblik. Hy het besef hy het die perfekte metafoor gevind vir hoe ons koppe werk. Ons lewe speel soos ’n fliek voor ons af en dis asof ons die hele tyd in ons kop daarop kommentaar lewer. “Ek wonder wat het my vrou met daai kyk bedoel?” of “Ek wens hierdie dag was al verby, dis aaklig” of “Ek is nie lus vir hierdie vergadering nie”. Aanhoudend en aanhoudend. Natuurlik is die stemme in ons kop soms nuttig; jy wil dinge deurdink en gepaste planne maak om jou lewe te bestuur. Maar wanneer jy dieselfde ou argument die vyftiende keer in jou kop voer of jouself die soveelste keer daaraan herinner dat jy nie van jou werk en jou kollegas hou nie, moet jy jou afvra of die stemme regtig iets bydra en of hulle nie besig is om jou ware lewe met hul stories te bederf nie.

      Kyk mooi, sê Muesse. Die meeste van die tyd is die stemme nogal negatief. Hulle praat oor dinge wat in die verlede verkeerd gegaan het, dinge wat in die toekoms verkeerd kan gaan, en dinge waarvan jy op die oomblik nie hou nie. Dis hoe jou kop gemaak is. Dis daardie beheptheid met hipotetiese probleme ver in die toekoms of doer in die verlede wat oermense gehelp het om te oorleef.

      Ons sê dikwels iemand se “kop raas”. As jy dit sê, bedoel jy die persoon is bietjie koekoes en hoor stemme wat hom snaaks laat optree. As iemand se kop regtig erg raas, sal hy dalk op die sypaadjie sit terwyl hy om die mond skuim en kliphard met die stemme in sy kop stry. Almal loop gewoonlik ’n draai om hom en hoop hy kry hulp van êrens.

      Maar dink mooi daaroor: Jou kop raas ook maar. Jy praat net nie hardop terug met die stemme nie. En jy het geen idee hoe om hulle af te skakel nie.

      Hoef hierdie geraas noodwendig ’n probleem te wees? Party mense – veral tieners – geniet al die drama wat binne hul skedels afspeel. Maar soos Muesse met sy DVD agtergekom het, kan die stemme soms so raas dat jy nie meer die ware storie van jou lewe kan volg nie. Het jy al ooit uit die stort geklim en besef jy was so diep in jou gedagtes verdwaal dat jy nie weet of jy jou hare gewas het nie? Hoe gereeld staan jy soggens voor die medisynekassie en probeer onthou of jy reeds jou pille gedrink het? Het jy al in jou motor geklim en in die verkeerde rigting gery omdat jou gedagtes baie ver van die stuurwiel en jou roete was? Al dié dinge gebeur omdat ons so in ons koppe se storie verdwaal dat ons vir die wêreld om ons blind is.

      Mettertyd maak hierdie konstante stroom negatiewe sce­nario’s en kwellinge in jou kop jou nie net blind vir die wêreld om jou nie, dit lei ook daartoe dat jou liggaam – wat nie altyd tussen werklike en denkbeeldige probleme kan onderskei nie – ’n volgehoue stroom streshormone afskei wat bydra tot hart­probleme, verswakte immuniteit, spysverteringsprobleme, angs­versteuring, depressie, seksuele disfunksie en sommer ’n groot klomp eksistensiële angs op die koop toe.

      So gaan dit aan totdat jy jou eendag betrap waar jy soos Rodney op die stoep sit, ’n diep sug gee en teenoor jouself erken: Die lewe is net nie meer so lekker nie.

      HET JY al ooit snags in jou bed gelê en luister hoe die honde in jou buurt blaf? Dit begin altyd met een brak wat iewers in iemand se erf raas. As hy lank genoeg deurdruk, begin ’n tweede in ’n agterplaas daar naby saam blaf. En as daar eers twee is, vat dit net ’n paar tellings vir die kettingreaksie om in te skop. Kort voor lank is daar ’n kakofonie van rasende honde die hele buurt vol. Party huil soos wolwe, ander hol al in die rondte en blaf vir hul eie stert (mens kan dit sommer aan hul stemme agterkom), nog ander spring teen die heining sodat jy die planke kan hoor klap.

      As jy mooi luister en lank genoeg jou aandag by die honde hou, hoor jy soms iets merkwaardig. Daar breek ’n oomblik aan waar al die honde, die hele spul, eensklaps soos een hond ophou blaf. Byna asof hulle dit vooraf afgespreek het. Die een oomblik is daar nog ’n oorverdowende geraas; die volgende oomblik is die nagstilte so diep dat dit onder jou vel inkruip. Miskien blaf daar iewers nog ’n verdwaalde hond wat dalk nie die memo by die ander gekry het nie, maar mettertyd raak hy ook stil. En dan is dit asof die nag self lewendig raak. As jy dan jou aandag spits, let jy op hoe ’n hele magdom klanke die leemte binnestroom. Krieke, wind, motors in die verte, die plafon wat kraak, die yskas wat saggies luier. Selfs die bloed in jou are.

      Gestel jy kon dieselfde ding beleef met die honde wat so in jou kop raas. Gestel jy kon jouself net een oomblik uit daai geraas verwyder en ’n stil plek vind waar jy die res van die wonderlike wêreld hoor.

      Hier volg nou die belangrikste paar paragrawe in die boek. Is jy reg daarvoor?

      Probeer gou die volgende: Sit net daar waar jy is, jy hoef nie jou bene te kruis of enigiets snaaks te doen wat die mense om jou gaan laat opkyk nie. Maak jou oë toe en let op al die geluide wat jy kan hoor.

      Nee regtig, moenie net aanhou lees en my opdrag ignoreer nie. Doen eers gou wat ek vra.

      Maak toe jou oë.

      Luister.

      …

      Het jy hulle ’n halfminuut of so toegehou? Het jy iets gehoor? Probeer gou weer. Kyk hierdie keer of jy ’n bietjie langer kan luister. Sit eers die radio of jou iPhone af. Maak weer jou oë toe en luister watter geluide daar om jou is. Dalk stemme iewers. Insekte. Lugreëling. Dalk verkeer. Hou aan luister. Dalk hoor jy iets in jou gebou tik of kraak. Hou aan luister. Die wind – hoor jy dit? Hou aan luister … As dit vir ’n oomblik voel asof daar geen geluide is nie, wag net … Hoor jy dalk iets doer in die verte? ’n Motorenjin of ’n vliegtuig? Wat nog? Wat hoor jy waarvan jy ’n minuut gelede heeltemal onbewus was toe jy in hierdie boek verdiep was?

      As jy dié oefening gedoen het – en ek hoop opreg jy het – sou jy ’n paar dinge agtergekom het. Jy sou opgelet het dat die klanke in jou omgewing meer volop en uiteenlopend is as wat jy besef het toe jy nie met aandag geluister het nie. Jy sou ook opge­let het dat die oefening ontspannend is. Maar die belangrikste van alles: Die stemme in jou kop was vir ’n oomblik heelwat stiller. As jy regtig met jou volle aandag en nuuskierigheid bewus was van wat in die wêreld om jou aangaan, kan jou aandag onmoontlik na die verlede, die toekoms of een of ander veraf gebeurtenis dwaal.

      Welkom by die kuns van bewustelikheid.

      HOE HET ek self hierdie dinge ontdek?

      Hier rondom die jaar 2000 was daar ’n paar jaar lank ’n reëling dat jong Suid-Afrikaners wettig ’n ruk in Engeland kon gaan woon en werk. Dit is ’n “werksvakansievisum” genoem en het

Скачать книгу