Kalmte in die malle gejaag. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers страница 9

Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

’n swembroek of leotard, met ’n salige glimlag op haar gesig. Tik maar die woord meditation in Google Images in en jy sal sien wat ek bedoel.

      Die werklikheid, daarenteen, is heeltemal anders. Meditasie behels dat jy lang tye roerloos sit, of jy lus is of nie. Jou lyf raak soms seer en jou gedagtes loop mal draaie met jou. Dit kan geweldig ongemaklik raak. Maar dit is juis as mens deur daardie ongemak bly sit dat meditasie jou help leer om iets moois in die mees onverwagte plekke te vind.

      In Tibet is daar ’n legende oor ’n ou wyse man wie se studente hom gevra het om hulle die toppunt van sy wysheid te leer. Hulle was oortuig hy kan hulle iets van die geheime van die kosmos vertel, maar al wat hy gedoen het, was om te buk, sy kleed op te tel en sy agterwêreld vir hulle te wys. Sy geplooide boude was vol eelte van letterlik jare se sit op sy meditasiekussing. Sy boodskap was duidelik: As jy wys wil word, sit stil op jou alie en kyk wat gebeur.

      Die tyd het nou aangebreek om prakties te raak. Hierdie en die volgende hoofstuk bevat dus aanwysings oor hoe om te mediteer. (As jy die raad mooi volg, gaan jy dit hopelik kan doen sonder om met eelte op jou boude op te eindig.) Ek weet maar te goed hoe mense boeke soos dié lees. Almal hou van die staaltjies en die interessante inligting oor breinwetenskappe, maar as dit by die paragrawe kom wat jou vra om ’n oefening te doen, slaan die meeste mense dit gewoonlik oor. Ek weet, want dis wat ek doen.

      Tog wil ek opreg vra dat jy dit oorweeg om van die tegnieke op die proef te stel. Die geringste tikkie bewustelikheid in jou dag is waardevol, maar ’n meditasiepraktyk sit jou bewustelikheid op steroïede. Daar is geen beter manier om jou brein wakker en jou oë oop te maak nie. Ek het die laaste twee dekades baie wyse mense leer ken en loshande die meeste van hulle stem saam as jy bewustelikheid wil kweek, gaan jy een of ander tyd moet leer om te mediteer.

      Daar is verskeie vorme van meditasie, ingesluit metodes waar jy eksotiese dinge visualiseer en snaakse ligte sien, maar dis nie die tipe meditasie wat ons gaan doen nie. As jy mediteer soos wat ek verduidelik, gaan jy nie van jou sitplek opstyg nie, jy gaan nie visioene sien nie en jy gaan nie spookstemme hoor nie. Jy gaan net leer om jou wonderlike lewe helderder waar te neem.

      Een van die beste beskrywings wat ek al gehoor het van hoe bewustelikheidsmeditasie mens help, kom van Klasie Wessels, ’n Johannesburger wat in die veld van persoonlike en leier­skapsontwikkeling werk. Hy vergelyk mens se raserige gedagtes met ’n wilde perd. Dit hardloop die wêreld vol en hoe meer jy dit onder beheer probeer bring, hoe wilder skop dit teë. Uiteindelik is daar twee fases in die proses om daai perd aan jou kant te kry. Eers moet jy hom kalmeer sodat jy sy leisels kan vashou. En tweedens, nadat jy die perd getem het, kan jy hom na bestemmings ry waar jy allerlei nuwe ervarings kan hê.

      Ons gaan dus nou na ’n paar meditasietegnieke kyk waarmee jy die mal perd van jou gedagtes tot bedaring kan bring sodat jy sy leisels in jou hande kan neem. Dan sal ons in latere hoofstukke kyk hoe jy met daai perd na wonderlike nuwe plekke soos medelye, dankbaarheid, vrygewigheid en vrede kan reis.

      Reg? Hier gaan ons.

      Voordat jy gaan sit

      Sommige mense kan sommer op ’n stoel of meditasiekussing neerplons en begin mediteer. Maar baie kan nie. Veral as jy iemand is wat baie in jou kop lewe of erg angstig is, raai ek jou aan om jou eerste meditasiesessie met sowat vyf dae uit te stel. Doen eers die volgende oefening een keer per dag, elke dag, voordat jy na die kussing skuif:

      Gaan stap elke dag ’n entjie in jou buurt of iewers in die natuur. Dalk saam met die hond. Maar sonder enige mensegeselskap.

      Miskien stap jy klaar elke dag. Hierdie is bietjie anders. Maak van jou wandeling ’n bewustelikheidsoefening. Kyk of jy jou gedagtes by die stap kan hou. ’n Goeie tegniek is om te kyk watter kleure jy kan sien. Jy kan selfs een kleur uitsonder – rooi werk gewoonlik goed. Terwyl jy ’n halfuur lank in stilte wandel, kyk met oop oë rond en let op waar jy oral rooi gewaar. Dalk ’n posbus, ’n motor se remlig, ’n blom, iemand se T-hemp, ’n padteken. As jou aandag dwaal, gaan jy iets mis. Bring dus jou aandag keer op keer terug na waarmee jy besig is. Moenie kwaad raak as jy sukkel om te konsentreer nie, dis bloot ’n oefening om jou bewus te maak van hoe gereeld jou aandag dwaal. As jy agterkom jou gedagtes is op hol, dan beteken dit die oefening werk. Geluk, jy mediteer.

      Gebruik dié vyf dae om gewoond te raak daaraan om bietjie gehaltetyd saam met jou eie bewustelikheid deur te bring. Dalk wil jy dit sommer nou al gaan doen voordat jy verder lees.

      Gaan sit

      Die eerste ding wat jy nou moet doen, is om plat te gaan sit, stil te bly en nie te beweeg nie. Dit klink nie te erg nie, maar as jy dit kan regkry, is jy driekwart daar. Jy moet egter hou by die manier wat ek hier beskryf: Gaan sit op ’n kussing (of ’n stoel). Bly stil, selfs al pieng die foon om te sê daar is ’n boodskap. Moenie roer nie, selfs al voel jy krapperig of al raak jou voet aan die slaap of al is daar ’n jeukerigheid in jou linkerneusgat. Sit soos ’n berg. Kyk wat gebeur.

      Daar is ’n mooi aanhaling van die skrywer Franz Kafka, wat dit nogal raak opsom: “Jy hoef nie die vertrek te verlaat nie. Sit net daar en luister. Of moenie eens luister nie, sit net daar en wag. Of moenie eens wag nie. Wees net stil en alleen. Uiteindelik gaan die wêreld hom vrylik aan jou bied. Dit het geen keuse nie. Dit gaan in ekstase aan jou voete kom baljaar.”

      Die ekstase-deel gaan nie te gou gebeur nie. Ongerief en kriewelrigheid gaan eers by jou voete kom baljaar, maar kyk of jy in elk geval kan stilsit.

      Deesdae is daar baie mense wat meditasie-onderrig gee en jou vertel die eerste prioriteit is om gemaklik te wees. Hulle praat dikwels in strelende, vertroostende stemme en sê dinge soos: “Wanneer jy ongemaklik begin raak, verander van posisie. Dis net wat in jou kop aangaan wat belangrik is.” My instrukteur is nie een van daai mense nie en ek ook nie. Die meeste van die geskuifel en gekrap en gerek en gestrek wat ons doen as ons moet stilsit, is maniere om ons aandag af te trek. Jy wil juis leer om aandag te gee, nie net wanneer dit lekker is nie, maar ook – veral ook – wanneer dit nie lekker is nie. Jy wil juis leer om die skoonheid in selfs die ongemaklike oomblikke te sien, en dit gaan nie gebeur as jy heeltyd vir ongemak weghardloop nie.

      Heila se instrukteur, Seung Sahn, het ’n leuse gehad: “As jou lyf beweeg, beweeg jou kop.” Hy het ’n punt.

      Prakties gesproke sou ek sê die meeste mense kan minstens ’n halfuur lank stilsit sonder om te roer. Maar moenie van die begin af so ambisieus wees nie. Probeer eers tien minute op ’n slag. As jy voel jy het dit onder die knie, kan jy dit tot vyftien minute strek. Gaan so aan totdat jy ’n halfuur lank kan stilsit. Jy kan probeer om dit selfs langer uit te rek, maar staan liewer ná 40 minute op sodat die bloed ’n bietjie in jou bene kan vloei. Min mense mediteer in elk geval aanvanklik langer as 30 minute.

      Tweedens moet jy ’n geskikte plek oorweeg. Jy weet mos hoe dit voel as jy in ’n ou kerk of katedraal, of in ’n botaniese tuin, sit – die ruimte laat voel jou sommer dadelik rustig en oop. Neem dus in ag watter impak ’n plek op jou het. Moenie sommer net in jou deurmekaar bed regop sit nie. Oorweeg liewer iewers in die tuin of op die stoep. Party mense het ’n hoekie iewers in die huis wat hulle elke dag vir meditasie gebruik. As jy dit nie regtig kan mooimaak nie, kan jy minstens ’n foto van iets kosbaars of ’n blommetjie daar neersit wat jou herinner dat jy nou in ’n spesiale ruimte is. Sommige mense verkies ’n godsdienstige simbool.

      Hoe moet jy sit?

      Jy het dalk al prentjies van Oosterlinge gesien wat kruisbeen kiertsregop sit en mediteer. Dis baie nuttig as jy so kan sit, maar dikwels is dit vir Westerlinge moeilik omdat ons nie daaraan gewoond is om op die grond te sit nie. Jy mag dus op ’n stoel sit. Ek self sit op ’n lekker dik kussing op die vloer, maar dis nie verpligtend nie.

      Twee

Скачать книгу