Kalmte in die malle gejaag. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers страница 8

Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

op die lang termyn volhoubaar geluk­­kiger te wees.

      Dink net watter enorme ontdekking dit is: Soos ’n voël takkies gebruik om nes te bou, kan jy meditasie gebruik om ’n brein te bou wat jy wil hê; een wat die vermoë het om volhoubaar gelukkiger te wees en minder stres te ervaar.

      Hoe doen mens dit? Die antwoord is bewustelikheid en meditasie.

      NÁ DIE EERSTE meditasie-aand in Bethnal Green, Londen, het ek ’n punt daarvan gemaak om elke week daar te gaan mediteer. Elke byeenkoms het bestaan uit twee korterige meditasiesessies, ’n koppie pepermenttee en ’n koekie. Ek en die ander mediteerders het nie juis met mekaar gesels nie, en ek het dit so verkies. Ek kon ’n slag bietjie stilte en alleenheid geniet. Ek het soms tydens die sessies onverklaarbaar treurig begin voel, en as ek ná die tyd op die rooi dubbeldoorbus huis toe gery het, was daar dikwels ’n knop in my keel terwyl ek deur die venster gekyk het na al die mense wat op die sypaadjie soos miere heen en weer skarrel. Ek het seker diep in my hart begin besef ek gaan moet terugkeer na Suid-Afrika, ’n werk kry en ’n grootmenslewe begin.

      Hierdie is nie ’n boek met kitsantwoorde nie. Meditasie het nie oornag my probleme opgelos nie. Toe ek so ses maande later terug is na Suid-Afrika, was ek steeds ’n dronkie sonder rigting. Ek het vir my ’n werk in Kaapstad gekry, ’n sosiale lewe in die stad probeer aanknoop en in ’n kothuis in Stellenbosch ingetrek. Maar iewers in my agterkop het ek bly terugdink aan Donder­dagaande in Bethnal Green.

      Ek het ’n vriendin van my meditasie-ervarings vertel en sy het my vertel daar is ’n plek in Robertson waar die mense meditasie en bewustelikheid onderrig. Hoekom gaan loer ek nie daar in en hoor wat hulle alles doen nie?

      Die volgende keer dat ek dus deur Robertson, ’n dorp sowat twee uur van Kaapstad, gery het, het ek stilgehou voor die huis waarvan sy my vertel het. Daar was ’n man met grys hare besig om iets in sy motor se kattebak te laai. Ek het nader gestaan en myself voorgestel.

      Hy was Rodney Downey. Die eens suksesvolle maatskap­py­direkteur en sy vrou, Heila, het ’n paar jaar vantevore op Robertson, ook bekend as “die dorp van wyn en rose”, kom aftree. Ná jare se studie onder ’n Koreaanse Zen-meester genaamd Seung Sahn, het hulle besluit om hul voltyds aan die studie en onderrig van meditasie en bewustelikheid te wy. Ek het verwag Rodney sou my net iets vertel oor hul klastye en dan weer koebaai sê, maar hy het my ingenooi en die saal gewys waar hulle mediteer.

      “Kan ek nie een of ander tyd saam kom mediteer nie?” het ek gevra.

      “Ja,” was sy antwoord. “Hoekom kom doen jy nie sommer volgende naweek saam die stilte-retraîte nie?”

      En toe bespreek ek vir my ’n plek.

      3

      SIT OP JOU BAS

      Jy hoef nie die vertrek te verlaat nie. Sit net daar en luister. Of moenie eens luister nie, sit net daar en wag. Of moenie eens wag nie. Wees net stil en alleen. Uiteindelik gaan die wêreld hom vrylik aan jou bied. Dit het geen keuse nie. Dit gaan in ekstase aan jou voete kom baljaar.

      – Franz Kafka

      TIENUUR DIE AAND van my eerste dag op retraîte het Rodney my voorgekeer waar ek na die voordeur mik om te ontsnap.

      “En nou?” het hy gevra.

      “Uhm,” het ek geantwoord. “Ek dink nie dit werk regtig vir my nie.”

      Wat ek eintlik wou sê was: “Goeie donder! Ek dink ek raak mal.”

      The Dharma Centre, Heila en Rodney Downey se plek, is ’n Victoriaanse gebou wat van buite net soos enige ander woonhuis in die straat lyk. Maar as jy eers binne is, kom jy gou agter hier is iets anders aan die gang. Omdat hulle albei onder ’n Koreaanse Zen-meester studeer het, is groot dele van die sentrum volgens temas uit die Verre Ooste ingeruim. Daar is ’n Zen-tuin van gruis wat mense af en toe stadig hark. Daar is ’n klein Japannese teehuisie (een van daai met die dun mure wat soos papier lyk) waar jy privaatgesprekke met ’n instrukteur kan hê oor hoe dit met jou meditasie gaan. En daar is ’n enorme groentetuin waar retraîte-gangers soms in stilte die spinasie, tamaties, beet en appelkose bewerk wat vir die gemeenskaplike etes aangeplant is.

      Maar die belangrikste plek is ’n groot saal eenkant op die erf. In dié saal vind jy rye ronde swart pofkussings waarop mense aldag en heeldag sit en mediteer. Beginnende kort ná vyfuur soggens sit hulle ’n halfuur op ’n slag kruisbeen sonder om te roer. As jy al die halfure van stilsit bymekaar tel, beloop dit so tussen ses en sewe uur se meditasie per dag.

      En selfs as jy nie in die meditasiesaal is nie, handhaaf almal op die retraîte ’n gees van diepe aandagtigheid. Die retraîte-gangers bestaan uit uiteenlopende mense – jong meisies wat na studente lyk, middeljarige mans wat waarskynlik by die huis tandartse of ouditeurs is, afgetredenes uit nabygeleë dorpies, en wat nog. Jy sal nie weet wat enige van dié mense se eintlike storie is nie, want almal loop met hul oë pal op die grond voor hulle en sê nie ’n woord nie. Kos word gemaak, badkamers word geskrop en keer op keer vind almal hul weg na die meditasiesaal sonder dat enigiemand iets sê.

      “Kyk,” wou ek eintlik vir Rodney sê, “’n halfuur se meditasie elke Donderdagaand in Londen was oukei. Maar hierdie is ’n perd van ’n ander kleur. My knieë en bene is lam. Ek voel of die gedagtes in my kop beserk geraak het. Een oomblik wil ek almal om my vloek, die volgende oomblik wil ek aan die slaap raak. En boonop weet ek vir ’n feit my vriend Jan hou vanaand ’n partytjie langs die Eersterivier en as ek nou ry kan ek nog voor middernag daar wees wanneer die verrigtinge net begin opwarm.”

      Maar mens is mos te ordentlik om reguit te praat, so al wat ek kon uitkry, was: “Dit werk nie so goed vir my nie.”

      Terugskouend besef ek Rodney was wys. Hy het nie ’n drama van my ontsnappingspoging gemaak nie, net mooi verduidelik die pad tussen Robertson en Worcester is gevaarlik so laat op ’n Saterdagaand, so hoekom gaan slaap ek nie, druk die laaste paar ure deur en ry dan die volgende middag terug nie? So is ek maar terug na my matrassie op die solder waar ek tussen al die ander manlike retraîte-gangers geslaap het.

      Toe ek die oggend wakker word, was ek effens kalmer en het ek besluit om tot ná middagete deur te druk om die retraîte enduit te sien.

      Dit was op pad uit die volgende middag dat ek die eerste keer regtig met Heila gesels het. Sy is in ’n meer senior instruk­teurs­posisie as Rodney gekwalifiseer en was die eintlike leier van die retraîtes, maar ek het nooit die kans gekry om met haar self te praat nie. Sy het naby die voordeur agter haar lessenaar gesit en toe ek verbystap, het sy met ’n vonkel in haar oog opgekyk. “Ek hoor jy het probeer wegloop.”

      Ek vertel haar toe ek wil nog mediteer, maar ek is nie seker of dit die plek vir my is nie. Sy het gelag en gesê daar is ’n paar ander plekke in Kaapstad wat ek kon uittoets. En so is ek daar weg, vas oortuig dat ek die Downeys nooit weer sou sien nie.

      Hoe kan mens dit verklaar? Drie maande later was ek weer voor hul deur om nog ’n retraîte te probeer. Vandag, 16 jaar later, is Heila Downey steeds my persoonlike instrukteur. En die eerste belangrike les wat sy my geleer het, het ek al in my eerste naweek by hulle opgetel: Meditasie is nie maklik nie.

      EK WIL niemand afskrik nie. Maar ek weet wel baie mense pak meditasie deesdae aan in die hoop dat dit altyd lekker en ontspannend gaan wees. Dié wanopvatting word dikwels in sjampoe-advertensies en gesondheidstydskrifte versterk. Wanneer daar iewers ’n artikel oor meditasie

Скачать книгу