Kalmte in die malle gejaag. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers страница 11

Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

’n poncho, gesit en mediteer. Mettertyd het dit meer draaglik geraak. Aanvanklik net 15 minute op ’n keer. Later het ek begin agterkom ek het ’n toleransie vir ’n bietjie pyn en ongerief, en ek het begin om 20 minute lank te sit. Nog later was dit 25 minute, en uiteindelik ’n halfuur.

      Soos ek daar gesit het, het ek dinge begin hoor wat ek nooit voorheen in my die buurt opgemerk het nie. Byvoorbeeld hoe baie honde blaf, asof hulle mekaar oor die heinings heen geselskap hou. Dis daar wat ek die eerste keer agtergekom het dat daar patrone aan hul blaffery is. Hulle begin stadig en sit een-een stem by, en soms hou almal eensklaps gelyk op. Op daardie stil aande het ek ook begin sien hoe dieselfde gedagtes oor en oor in my kop opduik – “Wat as my buurman my nou sien?”, “Wat het D bedoel met daai kortaf stelling by die werk vandag?”, “Sjoe, ek rook te veel.” Ek het verstaan dat elkeen van dié gedagtes belangrik was, maar dit het nie vir my sin gemaak dat hulle oor en oor in my kop opduik lank nadat ek elkeen reeds 30 keer deurdink het nie. En hoekom was dit oorwegend dinge waaroor ek my bekommer eerder as dinge wat my gelukkig maak?

      Ek was 25 jaar oud en het begin besef hoeveel van my eksistensiële angs deur die geraas in my kop veroorsaak word, en hoe moeilik dit is om beheer oor daai geraas te kry.

      STAPPIES EN die rosyntjie-meditasie is uitstekende maniere om op te warm vir ’n formele meditasiedissipline, maar jy wil uiteindelik by die hart van die tradisie uitkom. Daarvoor is daar twee onontbeerlike tegnieke: asem-meditasie en stap-meditasie. Ek hoop dat jy, nadat jy dié boek gelees het, dit sal oorweeg om dié twee tegnieke deel van jou lewe te maak.

      Asem-meditasie

      As jy al ooit ’n bietjie meditasie geleer het, is die kanse nege uit tien dat dit asem-meditasie was. Dit is hoe meditasie sedert die vroegste eeue onderrig is, dis waarvan sielkundiges en neuroloë gewoonlik praat as hulle meditasie bespreek, dis wat jy gaan leer as jy saam met my en my instrukteurs op retraîte kom – en dit werk soos ’n bom.

      Dis ook die eenvoudigste ding wat jy jou kan indink.

      Elkeen van ons haal sowat 22 000 keer per dag asem. Al wat asem-meditasie behels, is om daarvan bewus te word. Dalk dink jy dat jy klaar van jou asemhaling bewus is. Maar is jy regtig? Was jou laaste asemhaling diep of vlak? Was dit lank of kort? Het jy tot in jou maag asemgehaal of net in jou longe? Het jy warm of koue lug ingeasem? Dié vrae laat jou waarskynlik nou meer aandag gee aan jou asemhaling, maar wat van ’n minuut gelede? Was jy toe hoegenaamd bewus daarvan?

      Meditasie leer jou om dieselfde aandag na jou asemhaling te bring wat jy in die vorige oefening na die rosyntjie gebring het. Gebruik soveel sintuie as moontlik: Wat voel jy? Hoor jy? Ruik jy?

      Gaan sit in jou meditasieposisie. Neem kennis van hoe jy voel en spreek met jouself af dat jy vir die volgende tien minute glad nie gaan beweeg nie. Dis regtig nie lank nie. Verskuif nou jou aandag na jou pens. (Dis die deel net onder jou naeltjie en word in Japannees jou hara genoem.) Kyk wat gebeur met daardie area wanneer jy asemhaal. Dit beweeg langsaam op en af, op en af. Kan jy jou aandag daar hou? Wat let jy op? Die spoed van jou asemhaling wissel. Soms is dit vinnig, soms stadig. Moenie die spoed probeer beheer nie, laat dit natuurlik gebeur. Neem net kennis.

      Dit is nie ’n probleem as jy verkies om jou asem dop te hou soos dit by jou neusgate in en uit beweeg nie. Ek verkies my pens, maar dalk is jy ’n neus-mens.

      Gaan nou oor na die volgende stap. Soos jy inasem en jou longe vol raak, tel geluidloos (in jou gedagtes) een. Laat die ­inaseming sy natuurlike verloop neem. Soos jy begin uitasem en jou longe leeg raak, tel twee. In: Drie. Uit: Vier. Hou so aan tot by tien. Kyk of jy die hele tyd jou aandag by jou asemhaling kan hou. As jy by vyf of ses kom en jou aandag begin dwaal, stop net daar en begin voor. Jy sal gou merk dat jou aandag dikwels dwaal. Sommige mense sukkel aanvanklik om drie te haal, maar dit maak nie saak nie. Daar wag nie ’n prys as jy tot by tien kom nie. Die tellery is net ’n manier om jou aandag by jou asemhaling te hou. Elke keer as dit dwaal, begin weer by een. Wanneer jy tien gehaal het (en dit gebeur nie sommer nie), begin weer by een. As jou aandag ’n duisend keer dwaal, bring jy dit ’n duisend keer terug na jou asemhaling toe. Dalk dwaal jou aandag na jou werk, of iemand wat met jou gestry het, of gisteraand se 7de Laan. Geen probleem. Keer net weer terug na een en gee aandag terwyl jy asemhaal.

      MOENIE JOUSELF pak slae gee as jou aandag dwaal nie. Dis heeltemal normaal. Elke keer wanneer jou aandag dwaal, gee dit jou ’n wonderlike geleentheid om te oefen om dit terug te bring. Onthou jy neuroplastisiteit? Die deel van die brein wat jy so oefen, word sterker.

      Boonop kan jy jouself op die skouer klop elke keer as jy hoegenaamd oplet dat jou gedagtes dwaal. Dit is klaar vordering op die pad na bewustelikheid. Dink net hoe dikwels in jou lewe jou gedagtes jou op sleeptou neem sonder dat jy dit eens besef.

      Let op na die stemtoon waarmee jy jouself aanspreek as jou aandag afgedwaal het. Moenie soos ’n laerskoolonderwyser wees wat “Aandag!” skree nie. Wees vriendelik. Sê: “Haai, Johannes ou mater, jou aandag het gedwaal. Kom terug.” Onthou, jy is ook hier om te leer om vir jouself goed te wees. Daar is genoeg mense wat jou heeldag oordeel, jy hoef dit nie tydens meditasie ook nog aan jouself te doen nie.

      Wat gaan jy in die proses leer? Jy gaan leer dat jou aandag baie meer dwaal as wat jy gedink het. Jy gaan ook sien dat baie van die gedagtes wat in jou kop opduik totale twak is, ’n gekla oor dinge wat lank verby is of ’n getob oor iets wat waarskynlik nie eens gaan gebeur nie. Een van my instrukteurs beskryf dié gedagtes as “jou brein wat poep”. Dis net ’n klomp nonsens wat afgeskei word en dit sal mal wees om daaraan vas te klou. Laat dit opduik, sien dit vir wat dit is en laat dit op ’n briesie wegwaai terwyl jy na jou asem terugkeer.

      Stap-meditasie

      Hierdie tipe meditasie het jy moontlik reeds gesien in een van daardie dokumentêre films van National Geographic waarin mense in Sri Lanka of Thailand stadig-stadig soos ’n trapsuutjie heen en weer drentel terwyl hulle stip na die grond voor hulle kyk.

      Ook in ons kultuur stap mense op en af wanneer hulle angstig of op hul senuwees is. Baie tieners doen dit op hoërskool terwyl hulle die antwoorde op langvrae memoriseer. Dis asof ons instinktief weet dat heen en weer stap jou so ’n bietjie tot bedaring bring. Die probleem is egter dat ons dit gewoonlik vreeslik gejaag doen met ons skouers op ’n knop getrek. Stap-meditasie is daarenteen ’n manier om jou knaende gedagtes tot bedaring te bring en meer bewus te word.

      As jy mooi kyk, sal jy sien elke tree bestaan uit vier aksies:

      •Tel jou voet op.

      •Beweeg jou voet vorentoe.

      •Sit jou voet neer.

      •Verplaas jou gewig van die agtervoet na die voorvoet.

      Nes asemhaling is stap gewoonlik nie iets waaraan jy in die loop van die dag aandag gee nie. Maar wat sou gebeur as jy van elke deel van die aksie bewus raak? Doen dit so: Kies ’n stukkie grond van sowat tien meter lank. Gaan staan aan die een kant. Hou jou hande agter jou rug of voor jou vas. Jou arms moenie los swaai nie. Staan orent soos ’n soldaat en maak seker dat jou kop nie vooroor hang nie.

      Lig dan jou regtervoet op en voel dit.

      Beweeg die voet vorentoe en voel dit.

      Sit die voet neer en voel dit.

      Verskuif jou gewig van jou linker- na jou regtervoet.

      Herhaal die proses met jou linkervoet.

      Doen dit baie stadig. Dit is nie ’n resies nie. Neem so lank jy wil om die ander kant van jou looparea te bereik. Wanneer jy dit bereik, draai rustig om en stap

Скачать книгу