Kalmte in die malle gejaag. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers страница 12

Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

hoe die spiere in jou bene voel of hoe jou voetsole op die grond voel. Die belangrike ding is dat jy aanhou om jou aandag telkens na die stap-aksie terug te bring wanneer jou gedagtes dwaal. Skop jou skoene uit as jy kan. Dit werk beter as jy kaalvoet is omdat jou voetsole baie gevoelig is. Die Viëtnamese meditasiemeester Thich Nhat Hahn het ’n pragtige wenk vir stap-meditasie: “Loop asof jou voetsole die aarde soen.”

      Wanneer jy begin om langer te mediteer, is stap-meditasie ’n nuttige tegniek. Op retraîtes wissel mense dikwels sit- en stap-meditasie met mekaar af.

      Stap-meditasie word aanbeveel vir mense met baie besige koppe of wanneer jy so angstig, senuagtig of kwaad is dat jy net nie kan stilsit nie. Dis oukei, staan op en doen stap-meditasie. Dis ook iets wat jy bedags in die openbaar kan doen sonder dat mense dink jy is mal. Dalk by die werk tussen die kantoor en die waterverkoeler, of langs die krieketveld as jou kind ’n wedstryd speel, of in die inkopiesentrum.

      IS DIT al? Ja, dit is.

      Soos enige mediteerder jou kan sê, dit is die maklikste sowel as die moeilikste ding wat jy nog ooit gedoen het.

      Een van my instrukteurs, Jennifer Woodhull, raai beginners aan om ’n kontrak met hulself te sluit. Moenie sê jy gaan vir die res van jou lewe elke dag mediteer nie, dis te intimiderend. Sê net jy gaan vir die volgende maand elke dag mediteer. Dis nie so intimiderend nie. Tien minute per dag vir een maand. Party dae gaan jy nie lus voel nie, maar as jy ’n kontrak het en jy weet jy kan ná die maand herbesin, sal jy makliker deurdruk. As jy die dag régtig, régtig gatvol is (miskien het jy die vorige aand net vier uur geslaap of jou kinders irriteer jou of die bure raas), gaan sit net vir 30 sekondes in jou meditasieposisie. Solank jou agter­wêreld met jou meditasiesitplek kontak gemaak het, het jy nie die roetine verbreek nie en kan jy die volgende dag weer probeer.

      ’n Ander uitstekende idee is om soms by ’n meditasiegroep in te loer. Vir party mense is dit ’n onontbeerlike deel van die proses en hulle erken dat hulle sonder die ondersteuning van ander mediteerders geweldig gaan sukkel. Sonder ’n instrukteur en medereisigers sou ek nie ver gevorder het nie. (Agterin die boek is ’n lysie met groepe. Daar is deesdae ook baie kerke, insluitend NG- en ander hoofstroom-gemeentes, wat stiltedienste hou met ’n vorm van meditasie. Kyk wat werk vir jou.)

      As jy op Sannieshof of Strydenburg woon, is daar waarskynlik nie ’n meditasiegroep in jou omgewing nie. Moenie moed verloor nie. Soek bietjie op die internet rond vir geesgenote waarmee jy kan gesels. Daar is baie gespreksforums en ondersteuningsgroepe op sosiale media. In hoofstuk 12 vertel ek van ’n WhatsApp-groep wat deur my vriend Garvey Dixon gelei word.

      Hier is nog ’n paar wenke wat kan help.

      •Stel ’n wekker om jou te laat weet wanneer jou meditasietyd verstreke is. Dan hoef jy nie pal na jou horlosie te loer nie.

      •Stel jou foon op airplane mode. Jy gaan jou vrek sukkel om stil te sit as jy dit heeltyd hoor pieng. Ek sweer daai goed is ontwerp om jou van jou meditasiekussing weg te lok. Of skakel dit sommer net af.

      •Prioritiseer. Sê byvoorbeeld: “Ek sal nie aandete eet/die TV aanskakel/begin werk voordat ek gemediteer het nie.”

      •Party mense hou daarvan om ’n motiverende stukkie, soos ’n gedig of Bybelteks, te lees voordat hulle begin. Ek doen dit nie, maar van my vriende meen dit verdiep hul meditasie baie.

      •Hou jou brein gesond. Eet minder suiker; hoë bloeddruk is sleg vir jou grysstof. Vermy kos waarvoor jy allergies is; konstante inflammasie maak amok tot aan die binnekant van jou skedel. Oorweeg ’n vitamienaanvulling. Die brein hou spesifiek van omega-3-vetsure, yster en vitamien B.

      Die klein jakkalsies

      As jy tot hier gelees het en nog nie probeer mediteer het nie, wil ek jou aanmoedig om dit nou te doen. Ek gaan vorentoe gesels oor hindernisse en struikelblokke en dit sal meer sin maak as jy dit al self teëgekom het.

      Wanneer mense ná hul eerste meditasiesessie hul oë oopmaak, is die eerste ding wat hulle sê dikwels ’n half verbaasde, half teleurgestelde: “Maar daar het dan niks gebeur nie.”

      Dis natuurlik nie waar nie – daar het baie gebeur. Daar was heelwat aktiwiteit om hulle, in hul liggame en in hul koppe. Wat hulle eintlik bedoel is dat niks “bonatuurlik” gebeur het nie. Hulle het nie gevoel of hul gees hul liggaam verlaat of dat alles wit word, die heelal soos Een voel of alle stres uit hul liggame wegsmelt nie.

      Dis verstommend hoe diep die gedagte in ons onderbewussyn ingeprent is dat meditasie jou in die een of ander gewysigde bewussynstoestand moet plaas. Vandag nog is daar mense wat meen meditasie “maak jou oop vir geeste” of gee jou bonatuurlike ervarings. Helaas moet ek daai borrel bars. Ek mediteer al jare lank en het tientalle, selfs honderde, mediteerders leer ken wat saam dekades se meditasie-ure agter die rug het. Ek het nog nie een gesien wat deur ’n gees oorgeneem is of in die lug opgestyg het nie. Dit werk nie so nie.

      Meditasie is die normaalste ding op aarde. Dit maak jou bewus van hoe jou normale gedagtes werk, hoe dit voel om in jou normale lyf en in jou normale omstandighede tuis te kom. Dit help jou sien dat al hierdie normale dinge vol skoonheid is as jy net weet hoe om dit raak te sien. Hou op om ’n vuurwerkvertoning te verwag.

      Sommige mense kla soms dat meditasie hulle aanvanklik ’n bietjie meer gestres maak. Hulle voel angstig as hulle na die geraas in hul koppe en hul asemhaling kyk. Die antwoord vir dié mense is nie ’n maklike een nie, maar laat ek eerlik wees: Op die kort termyn kan meditasie inderdaad stresvol wees. Dit maak jou bewus van allerlei dinge wat jy nie voorheen opgelet het nie, allerlei probleme in jou denkpatrone en in jou lewe. Maar om daarvan bewus te raak, stel jou in staat om iets daaromtrent te doen.

      Op die lang termyn laat meditasie wel jou stres afneem. Breinstudies bevestig dat langtermynmediteerders die vermoë ontwikkel om hul breingolfpatrone van die gebruiklike alfa- of beta-golwe na veel stadiger theta- of delta-golwe om te skakel. Bewustelikheid maak dus jou stres minder, maar nie dadelik nie.

      As jy intussen werklik iets aan jou stres wil doen, kan jy ’n paar dinge aan jou leefstyl verander. Drink byvoorbeeld minder koffie. Dis verstommend hoe baie mense kla oor stres, maar dan pomp hulle hul liggame heeldag vol kafeïen. Wat verwag hulle?

      AS DIT enige troos is, jy is nie die eerste persoon wat sukkel om te mediteer nie. Meer as twee millennia gelede is daar in Indië handleidings opgestel met raad vir spesifieke hindernisse. Hulle het vyf uitgesonder: begeertes, afkeer, luiheid, kriewelrigheid en twyfel. Kom ons kyk vinnig na elk van dié vyf voordat ek vertel watter kure werk die beste vir my en die mediteerders wat ek ken:

      1.Begeertes

      Moenie jou meditasie laat bederf deur jou begeerte oor hoe dit moet wees nie. Daar is artikels en boeke oor mediteerders wat allerlei hemelse ervarings het; hulle kry ’n warm gevoel in hul hart en raak bomenslik gelukkig. So ’n ervaring kan baie lekker wees, maar is ook ’n groot slagyster, want dit veroorsaak dat jy met jou volgende meditasie gaan probeer om daardie gevoel te herhaal. Dan gaan jy al die ander ervarings miskyk wat wel in jou lewe opduik.

      My eerste naweek by die Downeys in Robertson is effens in die wiele gery omdat ek verwag het om weer die betowerende oomblikke te beleef wat ek in Bethnal Green in Londen ervaar het. Die gevolg was dat ek die hele naweek van my eerste retraîte spyt en geïrriteerd was. Die doel met meditasie is juis om wat ook al in die oomblik gebeur bewustelik te beleef, nie om dit teen die een of ander verwagting op te weeg nie.

      2.Afkeer

      Net so is daar ook dinge in meditasie wat mens kan afskrik. Dis dikwels ongemaklik. Dis dikwels vervelig. Vir my was die truuk om dié “slegte”

Скачать книгу