Kalmte in die malle gejaag. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers страница 7

Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

sluit, spikkels op jou voorkop te verf of op ’n spykerbed te slaap as jy meditasie en bewustelikheid begin verken nie. Die Indiërs was bloot die eerste mense wat noukeurig rekord gehou het van hul ondersoeke na wat binne-in hul koppe aangaan. Sedertdien is soortgelyke ondersoeke op allerlei maniere in ander wêrelddele en kulture gedoen – en soos die verhaal van Johann van Schalkwyk wys, kan selfs ’n Her­vormde seuntjie in die Mielie­driehoek dit op eie stoom doen.

      Die destydse Indiërs het hierdie verkenning van hul gedag­tewêreld en aandagvermoëns joga genoem. In die moderne Weste dink ons aan joga as ’n stel baie gesonde bewegings en posisies wat mens in ’n oefenateljee doen, maar vir die antieke jogi’s het dit iets anders beteken. Een van die bekendstes onder hulle was ’n man genaamd Patanjali, wat ’n teks genaamd die Joga-soetras geskryf het. Die naam beteken eintlik maar net “die Joga-geskrif” en dit begin met die volgende woorde: “Kom ons bestudeer nou joga. Joga is wanneer die lawaai in jou gedagtes tot bedaring kom. As jy dan kyk, sal jy die werklikheid sien.”

      Soos jy sal merk, is daar niks vreeslik volksvreemd of omstrede aan wat hy daar sê nie. Hy herhaal maar net wat ons in die vorige hoofstuk gesien het. Daar is ’n geraas in jou kop en as jy dit sou stilmaak, sal jy die regte wêreld om jou helderder waar­neem. Maar Patanjali voeg ook iets by. Hy sê daar is ’n metode om die blaffende honde in jou kop stil te maak. Hy noem dié tegniek joga en volgens hom behels dit om stil op jou bas te sit en kyk of jy kan agterkom hoe die geraas in jou kop werk. Geen strekoefeninge nodig nie.

      Eeue later het Christenmonnike in die Weste met soortgelyke tegnieke vorendag gekom en dit “kontemplatiewe gebed” noem. Toe sielkundiges in Amerika so 40 jaar gelede begin om die Indiese tegnieke van destyds op te diep en in te span, het hulle dit die naam mindfulness gegee. In Afrikaans stry mense nog oor wat die mees gepaste vertaling is. Voorstelle wissel van “aandagtigheid” tot “bedagsaamheid” en is nie een vreeslik inspirerend nie. Die maklikste term is eintlik sommer net “bewustelikheid”, en ek gaan dit vorentoe meestal gebruik. Die woord maak nie regtig saak nie. Die sleutelelement waaroor almal saamstem is dit: As jy aandag gee aan jou gedagtes en die wêreld om jou, kan dit jou saai en stresvolle wêreld behoorlik omtower.

      AS JOGI’S en monnike te hippierig vir jou smaak klink, is daar goeie nuus. Ook breinwetenskaplikes het die laaste paar dekades met toenemende entoesiasme die uitwerking van volgehoue aandag op mense se brein en gemoed bestudeer.

      Dis nie iets waarvan mens naastenby genoeg in koerante lees nie, maar die breinwetenskappe is in die onlangse verlede deur ’n omwenteling. Nie te lank gelede nie het mense nog geglo die brein is ’n orgaan wat aanhou ontwikkel totdat mens iewers in jou laat tienerjare of vroeë twintigerjare volwassenheid bereik, waarna dit ophou groei. Ja, jy kan op 30 of 40 nog klein veranderinkies in jou brein aanbring, soos wanneer jy nuwe herinneringe vorm, maar die regtig belangrike goed, jou persoonlikheid, jou talente en jou geluksvlakke, word om en by 25 vasgegiet en gaan nie sommer weer verander nie. As jy dus ’n beneukte vrou of ’n droefgeestige man is, moet jy maar vrede maak daarmee, want dis die persoonlikheid waarmee jy eendag gaan sterf.

      Tipies van die eksperimente wat dié opvattings oor die brein versterk het, was een deur die navorsers Philip Brickman en Dan Coates van Northwestern University in Amerika in die 1970’s. Hulle het twee groepe geneem: ’n groep mense wat kort vantevore die plaaslike staatslotery (met wenbedrae van tot $1 miljoen) gewen het, en ’n groep wat kort vantevore die gebruik van hul bene in ’n ongeluk verloor het. Die navorsers het vraelyste en onderhoude gebruik om albei groepe se geluksvlakke te meet en, soos jy kan verwag, was die loterywenners in die wolke terwyl die nuwe parapleë erg neerslagtig was.

      Maar dit was nie waar die studie geëindig het nie. Minder as ses maande later het Brickman en Coates weer almal se geluksvlakke gemeet en tot hul verstomming agtergekom almal is omtrent net so gelukkig soos hulle was voordat hulle die lotery gewen of in die ongeluk was. Die vreugde van ’n lotery-boerpot en die hartseer daarvan om verlam te wees, waai blykbaar verbasend vinnig oor. Brickman en Coates se gevolgtrekking was dat elke mens ’n “standaardvlak van geluk” het waarna jy telkens terugkeer, ongeag wat gebeur.

      Dis amper soos ’n selfregulerende termometer wat homself telkens aanpas om weer by dieselfde temperatuur op te eindig. As jy na geluk neig, is dit die gemoedstoestand waarna jy altyd gaan terugkeer. As jou brein na swartgalligheid neig, dan is dit iets waarmee jy maar moet leer saamleef. Ons weet uit eie ervaring daar is mense wat blymoedig is ondanks wat met hulle gebeur en ander wat net nooit ophou mor nie. Onthou daardie frase, dit gaan nou-nou weer belangrik raak: jou “standaardvlak van geluk”.

      Die uitstekende nuus is dat dié verstaan van die brein die laaste jare nogal op sy kop gekeer is. Dalk het jy al die woord “neuroplastisiteit” gehoor. Dink aan “neuro”, wat brein beteken, en “plastisiteit”, wat so bietjie klink na iets wat gerek, gestrek en gebuig kan word. Die jongste navorsing toon ons breine het ’n merkwaardige vermoë om tot op ons oudag te verander en allerlei nuwe vermoëns aan te leer. As jy een deel van jou brein gereeld oefen, raak dit soos ’n spier al sterker en kan jy later al meer nuwe dinge daarmee doen. Die sielkundige Donald Hebb het ’n slagspreuk vir neuroplastisiteit uitgedink wat mens deesdae wyd teëkom: “Neurons that fire together, wire together.”

      Een van die bekendste voorbeelde van dié verskynsel is Londen se taxibestuurders. As jy al ooit in die Britse hoofstad was, sal jy weet daar ry oral sulke effens outydse pikswart taxi’s rond. As jy in een klim, kan jy maar enige straat of buurt in daardie enorme stad noem en die taxibestuurder ry reguit soontoe. Dikwels sonder ’n GPS. Om as ’n taxibestuurder in Londen te registreer, moet jy ’n volle 25 000 strate uit jou kop ken en 20 000 landmerke kan vind. Toe navorsers die breine van Londense taxibestuurders bestudeer het, het hulle gesien daardie deel van die brein wat mens help om rigting te vind, is baie meer ontwikkel as by die res van ons. Nes ’n spier wat mens dikwels in die gim oefen, het die deel van hul breine wat hulle baie gebruik, aangehou en aangehou ontwikkel.

      Soortgelyke toetse het getoon dat die deel van die brein wat jou linkervingers beheer by violiste buitengewoon sterk ontwikkel is. Studies van blinde en dowe mense toon dat hul breine hulself ingrypend aanpas om op te maak vir die funksies wat hulle verloor het.

      Jy kan jou brein voorstel as ’n lappie grond iewers in die Bosveld. As ’n paar bokke en vlakvarke elke dag met dieselfde roete na die watergat loop, trap hulle mettertyd ’n paadjie uit. As hulle dié paadjie genoeg kere uitgetrap het, gaan dit ander diere nader lok wat dieselfde paadjie gaan gebruik omdat daar nou minder gras en doringbosse is wat weerstand bied. Dié diere gaan op hul beurt die paadjie nog dieper uittrap. En kort voor lank gaan daar ’n supersnelweg deur die Bosveld lê. Die brein werk net so – dink dieselfde tipe gedagtes oor en oor, en die roete waarlangs daai gedagtes in jou brein loop, word al dieper en dieper uitgetrap totdat gedagtes baie makliker daarlangs kan vloei en dit mettertyd ’n gewoonte of selfs ’n gevestigde deel van jou persoonlikheid raak.

      Nou ja, dalk wonder jy wat dit als met meditasie en bewustelikheid te doen het. Kortliks, ’n paar jaar gelede het die neurowetenskaplike Richard Davidson van die Universiteit van Wisconsin-Madison in die VSA besluit om ’n klomp Boeddhistiese monnike, wat almal al meer as 10 000 uur se meditasie agter die blad het, na sy laboratorium te nooi sodat hy hul breine kon bestudeer. Davidson het hulle meditasie- en aandagoefeninge laat doen terwyl hy hul breine met behulp van FMRI- en EEG-masjiene ontleed het. Sy gevolgtrekking? Omdat dié ouens oor jare heen so baie gemediteer het, is hul prefrontale korteks (wat positiewe emosies soos vreugde, altruïsme en tevredenheid reguleer) heelwat versterk. Daar was ook minder aktiwiteit in die dele wat stres en aggressie aanvuur. Trouens, in die brein van een monnik, ’n Fransman genaamd Matthieu Ricard, wat al 25 jaar lank gemediteer het, was die gammagolwe (wat op diepe ontspanning dui) die sterkste wat nog ooit aangeteken was. Die media het hom amptelik die “gelukkigste man op aarde” genoem.

      Dit bring ons terug by daardie “standaardvlak van geluk” waaroor ek ’n paar paragrawe vroeër geskryf het. Davidson en ander se werk het bewys mens

Скачать книгу