Kalmte in die malle gejaag. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers страница 10

Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

      Om regop te sit: Strek jou nek in die dak se rigting en moenie met jou rug teen iets leun nie. As jy op ’n stoel sit, skuif vorentoe op die sitplek sodat jou rug nie teen die leuning rus nie. Trek jou ken effentjies in na jou borskas toe om jou ruggraat te verleng, maar moenie moenie jou kop heeltemal vorentoe laat val nie. Jou kop moet steeds dak toe strek.

      Om stabiel te bly: As jy plat op die grond wil sit, kruis jou bene sodat jy op meer as een plek op die grond geanker is. Sommige mense kan albei bene voor hulle vou en met die maermerries plat op die grond sit (die Birmese posisie) of met een been gebuig met die voet op die oorkanste binneboud (die halwe lotus). As dit jou nie beskore is nie, kan jy jou bene kruis soos met storietyd in die kindertuin. Lekker. Sit op ’n kussing sodat jou heupe effens gelig is en jy jou bobene kan oopmaak.

      As jy op ’n stoel sit, behoort jy stewig te voel. As dit ’n baie hoë stoel is, kan jy ’n baksteen of dik boek onder elke voet sit as jy wil. Eksperimenteer en kyk in watter posisie jy ’n rukkie sal kan stilsit.

      Hou jou oë oop. Dis nie slaaptyd nie, dis tyd om wakker te word. As jy jou oë toemaak, gaan jy te maklik begin droom. Onthou, ons mediteer om te leer hoe om aan die wêreld om ons aandag gee, nie om in te sluimer nie.

      Hier is ’n goeie wenk wat ek by die meditasie-instrukteur Mervyn Croft van die Emoyeni-sentrum in Noordwes opgetel het: Voordat jy enigiets doen, sê eers vir jouself hallo. Jy het waarskynlik die hele dag rondgehardloop met jou gedagtes op ander plekke en was nie een oomblik vir jouself teenwoordig nie. Sit ’n oomblik, kyk wie dit is wat op jou meditasiestoel opgedaag het. Is dit ’n besige persoon, ’n haastige persoon, ’n rustige per­soon, ’n kwaai persoon? Wie dit ook al is, groet daardie persoon vriendelik en moet hom of haar nie oordeel nie. Wees gaaf; dis die persoon in wie se geselskap jy die volgende halfuur gaan deurbring.

      Rosyntjie-meditasie

      McGregor is ’n Bolandse dorpie bekend vir sy appelkoosboorde. Hester van der Walt en Lies Hoogendoorn, twee dames wat ’n paar jaar gelede daar afgetree het, vertel hulle het onlangs gehoor van ’n sielkundige wat ’n agt weke lange kursus oor mindfulness daar kom aanbied het. Hulle het ingeskryf, want hulle maak al geruime tyd werk daarvan om ’n meditasie­dissipline aan te kweek. Soggens sit hulle, met hul hond langs hulle, in die oggendsonnetjie op die stoep en mediteer. Hulle het gehoop die sielkundige, ’n Brit genaamd Rob Leipner, sou hulle meer kon leer.

      Maar wat Rob toe in die eerste sessie doen, was heel anders as wat hulle verwag het. “Hy het elkeen van ons ons hand laat uitsteek en met ’n teelepel ’n objek in ons palm geplaas,” vertel Hester. “Niemand het geweet wat dit is nie. Ons kon dit net bekyk. Eers later kon ons dit met ons vingers verken. Almal het gewonder wat dit is.”

      “Ek het gedink dis ’n stukkie hout,” voeg Lies by. “Maar toe raak ek daaraan en voel dis sag. Toe sê Rob ons kan dit in ons mond sit en met ons tong verken. Ons moes dit als vreeslik stadig doen. En toe sê hy ons kan dit middeldeur byt. En meteens trek die smaak deur jou mond!”

      Hester val weer in: “Hy het ook gesê let op wat jou tong doen terwyl jy dit eet en kou. Jy let vir die eerste keer in jou lewe op hoe jou kos in jou mond beweeg. Jy raak bewus van ’n hele nuwe wêreld van dinge wat andersins outomaties gebeur.”

      DIE EERSTE been van meditasie (om die wilde perd te tem) behels om te leer om jou aandag op een ding te fokus. In wese beteken dit jy kies om keer op keer jou aandag na dieselfde ding terug te bring wanneer dit dwaal. In die klassieke Indiese meditasie-handleiding, die Satipatthana-soetta, word ’n hele rits dinge voorgestel wat jy as fokuspunt kan gebruik vir jou aandag. Dit sluit in vuur, die kleure blou, geel of rooi; die dood, ’n lyk, ’n geraamte, vrede, eindelose ruimte en niks. Maar vir eers gaan ons nie so uitheems wees nie. Die eerste ding waarop ons gaan fokus, is ’n rosyntjie. Daai geplooide, gedroogde ou druiwe­korreltjie waaraan niemand ooit veel aandag skenk nie, al tref jy dit hoe gereeld in nageregte, in beskuit en in Paasbolletjies aan.

      Dit werk as volg: Gaan sit in jou meditasieposisie en onderneem om die volgende paar minute nie onnodig rond te skuif nie.

      Vat nou ’n rosyntjie en sit dit op jou oop handpalm. Vat sommer baie tyd, ’n paar minute, en voel die rosyntjie soos dit daar op jou palm lê. Kan jy die gewig hoegenaamd voel? Is die vel waarop die rosyntjie rus meer sensitief as die res van jou hand? Kan jy iets omtrent die rosyntjie se tekstuur agterkom sonder om dit te beweeg?

      Stap twee: Kyk nou van naderby na die rosyntjie. Moet dit nie op jou hand rondrol nie; laat dit net daar lê en kyk daarna asof dit die eerste rosyntjie is wat jy in jou lewe teëgekom het. Allerlei rimpels en klofies. Kan jy sien hoe dit kol-kol ligter of donkerder is? Kan jy die pitte sien? As jy dink jy het alles gesien, kyk weer van nog nader. Kyk daarna soos die mense na prof. Deikman se vaas gekyk het. Draai die rosyntjie ná ’n paar minute om en bekyk die ander kant op dieselfde manier.

      Stap drie: Rol die rosyntjie nou liggies tussen jou vingerpunte rond. Hoe voel die tekstuur? Is dit ’n sagte of harde rosyntjie? Hoe voel die voue en ongelykhede op die rosyntjie se oppervlak? Doen dit ’n paar minute lank.

      Nou kan jy die rosyntjie onder jou neus hou. Ruik daaraan. Hoe ruik ’n rosyntjie? Moenie te gou opgee en net sê jy ruik niks nie. Probeer weer. As jy werklik niks ruik nie, verken ’n oomblik hoe ruik niks.

      Sit nou die rosyntjie in jou mond. Moenie dit kou nie. Laat dit net op jou ondertande rus. Wat gebeur? Jou mond gaan waarskynlik begin speeksel afskei. Dalk voel jy hoe die spiere in jou kaak saamtrek soos hulle hul voorberei om te kou. Dalk kom jy agter dat jy in jou gedagtes fantaseer oor hoe daai rosyntjie gaan smaak.

      Nou: Nadat jy die rosyntjie sowat drie minute lank daar laat lê het, bring jou bokaak stadig af en byt deur die rosyntjie. Voel hoe skeur die vel. Voel hoe stroom die smaak deur jou mond. Voel hoe word die smaakkliere op verskillende plekke in jou mond geaktiveer: agter op jou tong, boaan die binnekant van jou kieste. Rol die stukkies rosyntjie stadig in jou mond rond en kou dit langsaam. Nes jy voel jy is reg om te sluk, stop, en kou dit verder, so stadig as jy kan.

      Wanneer jy uiteindelik sluk, laat die rosyntjiestukkies stadig in jou keel af beweeg en voel hoe ver jy dit met jou aandag kan volg. Kan jy die rosyntjie nog voel as dit in jou maag land? Kan jy voel hoe die smaak nog lank nadat jy gesluk het in jou keel en mond draal? Dalk is daar nog ’n stukkie iewers tussen jou tande wat jy kan loswikkel, suig en sluk.

      As jy dit als baie bewustelik doen, kan dit jou tot 15 minute neem.

      Magtig, daai was nou ’n lekker rosyntjie.

      Nou vra ek jou, hoe eet jy gewoonlik rosyntjies? Meestal terwyl jy rugby kyk. Die rosyntjies is met grondboontjies gemeng. Jy vat hulle so by die hand vol, gooi hulle in jou mond en sluk hulle af sonder om eers daaraan te dink. As daar soveel betowering in een rosyntjie opgesluit is, dink net wat jy alles mis as jy 50 rosyntjies afsluk sonder om aan een aandag te gee.

      Besin ’n oomblik oor hoe bewustelikheid jou belewenis van ’n enkele rosyntjie heeltemal op sy kop gekeer het.

      Bewustelikheid kan dieselfde met enige ander ervaring doen.

      4

      SIT VERDER OP JOU BAS

      NÁDAT EK ’n naweek lank by die Downeys gemediteer het, was ek effens dikbek dat dinge nie uitgewerk het soos ek wou nie, maar tog het ek nog nie heeltemal moed verloor nie – ek het steeds onthou hoe ek in Londen iets belewe het wat my meer teenwoordig in my eie lewe laat voel.

      Dus

Скачать книгу