Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers страница 4

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

waar my motor vroeër gestaan het, is niks. Net ’n leë parkeerplek waar ’n poeletjie reënwater in die maanlig glinster.

      Terwyl ons so lekker gesit en mediteer het, het iemand met my motor koers gekies.

      Die polisie sou my later vertel daar is ’n bende in Johannesburg wat in die steel van Volkswagen Polo’s soos myne spesialiseer. Teen die tyd dat ek besef het die motor is weg, is dit waarskynlik lankal reeds in ’n chop shop iewers in die middestad deur boewe uitmekaar gehaal.

      My ou silwer Polo’tjie was nie eens twee jaar oud nie. Die polisie vat baie lank om op die toneel op te daag. My vriend Henk sal my by my huis aan die Wes-Rand moet gaan aflaai.

      Die aand het lekker begin, maar nou suig dit behoorlik.

      Of hoe?

      ’n Vraag duik meteens in my gemoed op. “Wat verhoed my nou, in hiérdie oomblik, om vreugdevol te wees?” Ek weet nie waar die vraag so skielik vandaan kom nie. Ek is druk besig met oproepe na die polisie, ek moet planne maak om die volgende dag by die werk te kom, daar is nie juis tyd vir selfondersoek nie. Maar die vraag wil nie verdwyn nie. “Wat verhoed my nóú om vreugdevol te wees?”

      Ek dink daaroor. Wel, ek gaan die volgende week of twee by kollegas rygeleenthede kantoor toe moet bedel. Ek gaan môre by die Linden-polisiekantoor ’n klomp lang vorms moet invul. Dae se gesukkel met versekering lê voor. Ek sal die uitbetaling met duisende rande moet aanvul as ek ’n soortgelyke motor wil koop.

      Maar die dinge wat my pla, lê als in die toekoms. Hier, nou, waar die reëndruppels in die maanlig op Johannesburg se teerstrate glinster, wat verhoed my om gelukkig te wees?

      Nie veel nie, besef ek. Dis ’n aand van majestueuse storms. Ek het pas met drie vriende ’n waardevolle ervaring gedeel wat ek die res van my lewe sal onthou. My vriend Henk is hier om my in ’n moeilike situasie te ondersteun. Ek het op hierdie oomblikke heelwat om voor dankbaar te wees.

      Meteens voel ek lig.

      My weerstand teen die oomblik het verdwyn en daarmee saam ’n enorme klomp swaarkry.

      Dié aand raak ek stresvry en sonder woede aan die slaap.

      Wanneer ek ander vriende later van die ervaring vertel, skel een op my omdat ek nie kwaad is nie. Ek is in ontkenning, sê hy, en moet ’n berader gaan spreek om met my ware gevoelens in kontak te kom. Dis pateties om teëspoed sommer net so gelate te aanvaar.

      Maar ek dink nie daai vriend van my is reg nie. Vir my om kwaad te wees, sal niks uitrig nie. Dit sal beslis nie my motor terugbring nie.

      Trouens, as ek verbitterd geraak het, sou dit juis ’n vorm van ontkenning gewees het – ontkenning van die kosbare aand wat ek agter die rug het, ontkenning van die liefde van vriende wat my gehelp het, ontkenning van die gedruis van die reënweer wat later die aand weer opgesteek en my in my huisie aan die slaap gesus het.

      Ek kan eerlik sê ek wens nie dié aand uit my lewe weg nie.

      Blydskap is deesdae nogal ’n groot bedryf. Die positiewe sielkunde, ’n beweging wat wetenskaplik probeer vasstel wat gelukkige mense van ongelukkiges onderskei, het net meer as 20 jaar gelede kop uitgesteek. Groot maatskappye en selfs internasionale finansiële instellings soos die Wêreld-Ekonomiese Forum bestee miljarde rande om werkers gelukkiger (en sodoende meer produktief) te maak. Elke jaar verskyn dosyne selfhelpboeke met “happy” in die titel.

      En tog, soos wat ek borrels gehap het toe my oudkollega Marelize my gevra het waarom ek meestal vreugdevol is, is dit vir die meeste kenners verbasend moeilik om te sê wat presies blydskap regtig is.

      Blydskap is nie dieselfde as lekkerkry nie. Jy kan op ’n seiljag in die Middellandse See sit, met supermodelle wat jou voete masseer en nogtans diep bedruk voel omdat die kaviaar vanoggend nie koud genoeg was nie en jou lewe so half sinloos voel. En dan sit jy eendag in die werk se kafeteria, eet ’n toebroodjie by ’n linoleumtafeltjie, jou lyf doodmoeg omdat jy die dae wegsloof om jou huisverband te betaal, en meteens word jy oorspoel deur ’n gevoel van algehele saligheid, asof jy presies is waar jy moet wees en alles oukei gaan uitwerk.

      Trouens, mens kom blydskap verbasend dikwels teë op plekke waar die lewe allesbehalwe lekker is. Bosko het beslis nie ’n lekker tyd in die tronk gehad waar hulle hom ná sy skynteregstelling gemartel het nie, maar tog vertel hy dit was die gelukkigste dae van sy lewe. Atlete wat die Comrades voltooi en vroue wat aan babas die lewe skenk, vertel hulle is op daardie oomblik baie gelukkig – maar hoewel ek self nooit een van dié twee ervarings gaan hê nie, is ek redelik seker dis nie lekker nie.

      Ek was selfs nogal gelukkig nadat my motor gesteel is.

      So as blydskap nie lekkerkry is nie, wat is dit?

      Mindfulness kan ons met die vraag help.

      Dalk het jy al van mindfulness en meditasie gehoor, of selfs ’n kursus bygewoon waarin jy geleer is om jou asem dop te hou en jou aandag na die huidige oomblik terug te bring. Baie mense dink mindfulness beteken om aan die hier en nou aandag te gee, maar mindfulness is meer as dit. Mindfulness is ’n baie spesifieke tipe aandag: Dis om aan jou huidige omstandighede aandag te gee “sonder om te kies of te keur”.

      As jy iemand op en af kyk en hulle in jou gedagtes oordeel, is jy nie eintlik mindful nie, jy sit net in jou eie gedagtes vas. Mindfulness is om met ’n oop gemoed jou volle aandag na die oomblik te bring en niks te begeer óf weg te wens nie. Meditasie is ’n tegniek waarmee mens mindfulness inoefen.

      Eeue lank reeds skryf wysgere mindfulness voor vir mense wat meer blydskap in hul lewe wil vind; en deesdae doen al hoe meer sielkundiges en breinwetenskaplikes dieselfde ding.

      Laat ek verduidelik hoekom.

      Mindfulness het op die oog af nie ’n baie bevredigende definisie van blydskap nie, maar wat dit wel het, is ’n baie goeie definisie van ongelukkigheid.

      Mediteerders noem ongelukkigheid “swaarkry”. Diegene wat van ou Indiese filosofie hou, noem dit soms “doekkha”, die woord vir swaarkry in die Indiese taal Pali. Swaarkry/doekkha, sê hulle, is die gevoel as jy jou eie lewe wegwens. In die ergste gevalle kan dit selfdoodgedagtes behels, maar dit hoef nie heeltemal so morbied te wees nie. Die meeste van ons het elke dag klein oomblikke waarin ons wens ons het eerder ’n ander lewe gehad. Jy sit in ’n verkeersknoop en jy wens met jou hele hart jy was nie daar nie. Jy baklei met jou eggenoot en jy smag na ’n ander lewe waar jy nie na dié geneul hoef te luister nie. Jy het ’n hoofpyn, ’n stukkende rekenaar, ’n kankerdiagnose, enigeen van ’n groot ver­skeidenheid vorme van teëspoed en jy dink by jouself: Kan dit nie net verby wees nie, kan hierdie stuk lewe nie net van my weggeneem word sodat ek daarvan kan vergeet en eerder ’n lewe kan hê waarin ek tuis voel nie?

      Daardie gevoel is swaarkry.

      En as swaarkry dan is om nie in jou eie lewe tuis te voel nie, dan is blydskap waarskynlik die teenoorgestelde. Blydskap is die gevoel as jy in jou eie vel en in die bestaande oomblik met al sy skete en kwale tuiskom. Blydskap is as jy besef: Hier kan ek wees, ek hoef nie hiervan weg te vlug nie.

      Sedert Bosko byvoorbeeld 20 jaar gelede byna tereggestel is, benader hy elke dag, selfs die moeilikes, die verveliges en die pynlikes, as ’n gawe en wens hy niks meer weg nie. Hy is

Скачать книгу