Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers страница 5

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

lewe lekker is. As jou lewe glad verloop, voel mens daarin tuis, maar as die hond op die mat gepoef het en jou baas was ongeskik, dan is die lewe nie meer lekker nie en mens voel ongelukkig.

      Kan ons ook leer om nie ons lewe weg te wens nie selfs indien dinge skeefloop?

      Een ding waaroor ek nogal baie bly is, is dat ek nie ’n jong man was in ’n tyd toe jong mans oorlog toe gestuur is om daar aan flarde geskiet te word nie. Ek het in 1994 gematrikuleer en het diensplig en die Bosoorlog met ’n paar gelukkige jare gemis.

      Dink maar aan die Tweede Wêreldoorlog. Dit was ’n tyd toe voetsoldate gereeld opdrag gekry het om te voet vyande met masjiengewere en kanonne te bestorm. As jy tydens dié oorlog ’n brief gekry het waarin die weermag jou oproep, het jy letterlik jou nooi of ouers gegroet asof jy hulle nooit weer gaan sien nie.

      Tydens dié oorlog het ’n Amerikaanse mediese professor, Henry Beecher, ’n studie gedoen van soldate wat ernstig gewond is. “Ernstig” in dié konteks beteken wonde wat die soldate so lelik vermink het dat hulle nie verder kon veg nie. Party se vlees is deur skrapnel oopgeruk. Party het ’n oog of ’n stuk van ’n hand verloor. Die soort goed wat mens se hele lewe vorentoe perma­nent sou versuur.

      Wat Beecher onder dié soldate gevind het, was in stryd met als wat hy oor trauma en pyn geweet het. Net 12 uur nadat hulle deur koeëls, bomme en skrapnel vermink is, het ’n kwart van die soldate (25%) vertel hulle voel slegs ligte pyn. Byna ’n derde (32%) het gesê hulle voel géén pyn nie. Altesame 75% van die gewonde soldate het gesê hulle het nie pynstillers nodig nie.

      Ek weet nie van jou nie, maar as ek dink hoe ek soms kla oor ’n verstuite vinger of ’n stywe nek, is dit nogal verstommend dat driekwart van ’n groep mans wat so erg vermink is dat hulle huis toe gestuur moes word, vir pynstillers nee dankie gesê het.

      ’n Mens se eerste raaiskoot sou wees dat die jong mans almal in ’n skoktoestand was en dat hul lyf een of ander natuurlike pynstiller afgeskei het. Maar Beecher het opgelet hulle het pynvry gebly lank nadat enige natuurlike pynstiller uitgewerk sou wees. Iets anders was hier aan die gang.

      Beecher het ’n radikale verklaring geformuleer: Elkeen van die soldate wat so pynloos met hul wonde saamgeleef het, was ouens wat danksy hul beserings huis toe kon gaan. Hul wonde het beteken daar was geen verdere kans dat hulle weer op Duitse of Japanse masjiengewere sou afstorm nie. Hul wonde was nie vir hulle iets wat hul lewe vorentoe sou bederf nie, maar iets wat hul lewe gered het. En omdat die wonde so welkom was, het hulle dit nie weggewens nie. Hulle wou dinge niks anders hê as om gewond te wees nie.

      Dit is baie moeilik om pyn te voel oor iets wat jy verwelkom.

      Beecher se gevolgtrekking: Die lyding wat jy beleef, word sterk beïnvloed deur die mate waarin jy jou wonde wegwens.

      Mens kan nog iets uit Beecher se ondersoek aflei: Net soos wat blydskap nie dieselfde ding as lekkerkry is nie, is swaarkry nie dieselfde ding as pyn nie. Pyn is iets wat oor jou pad gaan kom of jy nou wil of nie. Maar swaarkry het iets te doen met hoe jy op daardie pyn reageer.

      In ou Indië het hulle van pyn en swaarkry as twee pyle gepraat. Die eerste pyl tref jou as iets onaangenaams in jou lewe gebeur – jou motor word gesteel of ’n Duitser skiet jou met ’n Mauser in die skouer. Dis nie lekker nie en enige mens wat hul kop reg aangeskroef het, gaan dit probeer vermy. Maar ongelukkig is die lewe nou maar eenmaal so dat mens nooit hierdie eerste soort pyle heeltemal kan ontduik nie.

      Dinge raak interessanter wanneer die tweede pyl ons tref. Dié pyl is die emosionele drama en stories wat ons skep nadat ons van die eerste pyl bewus geraak het. Dis die taal waarmee ons die eerste pyl wegwens. “My motor is gesteel, hoekom gebeur sulke goed altyd met my?!” “Die Duitsers het my geskiet, ek wens ek was eerder een van die ouens wat sonder wonde van die slagveld teruggekeer het!” Dié tweede pyl is iets wat wel onder ons beheer is en wat ons kan vermy. Dis hierdie tweede pyl, die gekla en geworstel oor ons lot, die wegwens van ons lewe, wat in mindfulness “swaarkry” genoem word. Daardie swaarkry is die teenoorgestelde van blydskap.

      Die soldate in Beecher se studie het geen swaarkry oor hul wonde beleef nie, want hulle het nie daarteen geworstel nie. Hulle het nie die pyn weggewens nie, en die gevolg – so ongelooflik as wat dit op die oog af ook mag lyk – was dat dit hulle nie gepla het nie.

      Die volgende eksperiment kan mens help om op ’n baie liggaamlike vlak tussen pyn en swaarkry te onderskei:

      •Soek ongemak in jou lyf: Sit iewers waar dit stil is en kyk of jy ’n plek in jou lyf kan vind wat nie lekker voel nie. Dit hoef nie ’n oorlogswond of ’n kloppende migraine of iets te wees nie. Voel net deur jou lyf en kyk of daar iewers ’n deel is wat so ’n bietjie ongemaklik voel. Dalk is jou maag effens opgeblaas. Dalk is jou skouer effens gespanne. Dalk is daar ’n ligte pyn in jou tand. Kyk mooi totdat jy iets kry.

      •Bekyk dit van naby: Maak jou oë toe en fokus al jou aandag op daardie ongemaklike kol. Fokus daarop asof jy dit deur ’n mikroskoop bekyk. Draai die mikroskoop al hoe skerper en skerper in. Raak nuuskierig oor wat jy sien. Waar presies is die grens tussen die plek wat seer is en die pynvrye dele? Is die pyn warm of koud? Is die pyn net in een plek gesetel of beweeg dit in jou lyf rond?

      •Waaruit bestaan dit? As jy so aanhou kyk en jou verbeelde mikroskoop regtig skerp indraai, sal jy iets interessants oplet: Jy gaan sien pyn is feitlik nooit net een ding nie. Dit bestaan meestal uit ’n klomp sensasies wat op dieselfde plek saamkoek. Jou seer tand? Daar is waarskynlik ’n steekpyn diep in die tandvleis, ’n jeukerigheid aan die tandwortel, ’n brandende gevoel in die tand self. Als verskillende sensasies wat jy met jou halwe aandag onder die een etiket van tandpyn saamgevat het. Dieselfde geld vir jou gespanne skouer – daar is ’n spierspasmatjie in die skouergewrig, ’n harde drukking onder die vel, ’n moegheid in die been. Dis eintlik ’n hele allegaartjie van sensasies.

      •Vind die weerstand: Nou – as jy nog met ons is – kyk of jy die mikroskoop selfs ’n bietjie skerper kan indraai. Wat sien jy? Uiteindelik gaan jy waarskynlik oplet een van die sensasies waaruit jou pyn bestaan, is ’n soort krampagtige spasma van die spiere rondom die pyn. Jy gaan oplet jy is subtiel besig om die spiere rondom die pyn vas te klem, byna asof jy die pyn wil wegdruk.

      •Ontspan die weerstand: Kan jy nou jou aandag daar hou, en dan stadig daardie spierspasma laat ontspan? Kan jy ophou om die liggaamsdeel wat reeds in ongerief is nog verder ongemaklik te maak deur dit gespanne vas te klem? As jy die weerstand bewustelik versag, gaan jy voel dat die hele seerplek stadig ontspan, ’n gevoel van groter ruimte gaan in die ongemaklike liggaamsdeel ontstaan en die res van die pyn gaan ook effens versag.

      Dié tegniek werk nie altyd nie, maar dit werk gereeld. Soms lê ek snags in my bed en laat my bewussyn amper soos ’n laser­skandeerder my lyf op en af ondersoek vir ongemaklike plekke wat ek dan bewustelik ontspan. Dis ’n nuttige vaardigheid.

      Jou pyn en jou swaarkry is nie dieselfde ding nie. Jou pyn is die ongemak iewers in jou lyf waaroor jy nie regstreeks beheer het nie. Jou swaarkry is die kramp rondom die pyn waarmee jy dit probeer wegstoot.

      Die Japanse skrywer Haruki Murakami, ’n ywerige mara­thonatleet, het ook al dieselfde les geleer. Hoekom wens ons pyn in ons been weg as ons ’n spierspasma het, het hy gewonder, maar ons verwelkom dit as ons tydens ’n marathon ’n lekker brandgevoel in ons dye voel? Die pyn (oftewel die eerste pyl) is in albei gevalle dieselfde, maar

Скачать книгу