Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers страница 9

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

tronk toe gestuur.

      Sekerlik die naaste ding aan ’n lewende hel wat op hierdie aarde bestaan.

      Het jy al ooit die binnekant van ’n Suid-Afrikaanse manstronk gesien? Ek het al ’n klein bietjie werk in tronke gedoen en weet verseker ek sal nie ’n dag lank as ’n gevangene oorleef nie. Vandat jy inloop, word jy van agter tralies aangegluur deur lenige mans met tatoeëermerke op hul gesigte en die kyk van aasdiere in hul oë. Daar hang ’n boosheid in die lug.

      “Jy is sielkundig en geestelik in jou moer,” vertel Johan nou, byna 25 jaar sedert die tronkdeure agter hom toegeklap het. “Jy weet jy moet die wreedste bliksem word wat jy kan, anders gaan jy nie oorleef nie.”

      Johan het die tronksel ingestap waar bendelede, moordenaars en verkragters ingeprop was en hulle met die intrapslag gewaarsku. “As een van julle naby my kom, dop ek hierdie plek om!” het hy gebulder.

      En hy het sy belofte gehou. Die res van sy tronkjare het hy meestal in enkelaanhouding gebly omdat die owerhede gou besef het hoeveel chaos hy aanrig as ander gevangenes met hom moeilikheid soek.

      Johan praat nie oor wat hy in die tronk moes aanskou nie, maar as jy iets van die tronklewe weet, kan jy jou net indink wat in die wêreld rondom hom gebeur het. Dwelms. Doodslag. Verkragting. Vloeke en pynkrete wat snags tussen die selle weerklink. “Jy is in die boosste, mees vernederende plek wat jy jou kan indink. Elke dag is ’n oorlewingspel.” Party ouens se koppe haak uit, hulle skuim om die mond, smeer hul selmure vol ontlasting.

      Maar Johan het kopgehou. Hy het die ander gevangenes so bang gemaak dat niemand met hom wou sukkel nie. Die gerug het ontstaan dat hy 15 moorde op sy kerfstok het. Johan het die ander ouens toegelaat om dit te glo. “As ’n nuwe gangster die tronk ingekom het en met my wou sukkel, het sy pêlle hom op sy plek gesit.”

      Mettertyd is Johan in die Malmesbury-gevangenis vir geweldsmisdadigers opgesluit.

      En daar, vyf jaar nadat hy opgesluit is, het iets verander.

      ’n Stem het diep in sy gemoed begin praat.

      Dalk was dit daardie sagte stemmetjie waarvan Bente vertel, die stem van jou hart wat jou roep om tuis te kom. Hoe Johan dié stemmetjie bokant die geraas in die tronk kon hoor, weet nugter. Maar hy het iets gehoor en begin besef sy lewe kan nie op dieselfde trant voortgaan nie. Sy lewe was ’n gemors. Daar was geweld, daar was woede, daar was skaamte, daar was ’n magdom emosies, maar blydskap was nie een van hulle nie.

      Johan het iets onthou uit die dae toe hy Oosterse gevegskuns bestudeer het. Iets wat hy ook onder die Chinese in die mis­daad­wêreld teëgekom het.

      Hy het ’n vriendin buite die tronk gevra om vir hom die kontakbesonderhede te vind van iemand wat hom sou kon leer mediteer.

      Sy vriendin het na hom teruggekom met die adres en telefoonnommer van Heila en Rodney Downey, Zen-leraars van ’n plek genaamd The Robertson Dharma Centre.

      In klassieke Indië het hulle ’n metafoor gehad om die binnekant van ’n mens se kop te beskryf: Jou gedagtes is soos ’n dronk aap wat op ’n plaat warm kole dans. ’n Meer moderne metafoor is die binnekant van ’n tuimeldroër.

      As jy al ooit moeite gedoen het om stil te sit en stip te kyk wat binnekant jou skedel aangaan, sou jy waarskynlik opgelet het daar heers chaos. Een gedagte onderbreek die ander gedagte keer op keer. Dieselfde ou stories word oor en oor in jou gedagtes herspeel. Ou argumente op repeat. Allerlei vrese oor goed waar­oor jy geen beheer het nie. Negatiewe selfspraak. Skinderstories. Bisarre en onrealistiese fantasieë oor wat jy vir die onderhoud­voerder sal sê in jou eerste onderhoud nadat jy Wimbledon gewen het. Die grootste klomp strooi.

      Het jy al ooit ’n koei dopgehou? Koeie is eienaardige diere. Anders as ons mense wat ons kos een maal klaar kou en dan sluk, kou koeie dieselfde gras oor en oor. Vroegoggend kou hulle ’n klomp gras in ’n weiland af en sluk dit in, en vir die res van dag bring hulle daardie selfde gras oor en oor in hul mond op sodat hulle dit kan herkou. Ek het iewers gelees die gemiddelde koei maak 40 000 kakebeenbewegings per dag.

      Ons gedagtes is baie soos ’n koei se kouery. Dieselfde ding oor en oor, oor en oor.

      As wysheidsleraars sê ons moet die geraas in ons lewe minder maak om die stem van ons hart te kan hoor, dan bedoel hulle nie net ons moet die TV afskakel en iewers gaan sit waar ons nie meer die verkeer in die strate kan hoor nie. Veel belangriker is dat ons moet leer om die geraas binne ons kop tot bedaring te bring.

      Die tweede pyl waarvan ons in die vorige hoofstuk gepraat het, die katastrofegedagtes wat ons swaarkry soveel vererger deur ons heeldag te herinner aan wat in ons verlede verkeerd gegaan het en wat in die toekoms kan skeefloop, maak ’n baie groot deel van die geraas in ons kop uit. Die geraas is die stem wat jou vertel dat jy eerder ’n ander lewe moes gehad het.

      Dalk het jy al van meditasie gehoor. Party mense dink medi­tasie beteken om wit ligte te visualiseer of te droom dat jy op ’n wolk sweef. Maar meditasie soos ek dit ken, en soos ek dit by my leermeester Heila Downey geleer het, beteken bloot om die geraasknoppie in jou kop af te draai en te luister na wat anderkant die geraas aangaan.

      Niemand kan hul kop heeltemal stilmaak nie. Maar wat jy wel kan doen, is om jou aandag te leer skuif van die oppervlakkige geraas na die werklikheid rondom en binne jou.

      Sonder die kalmte en stilte wat jy deur meditasie aanleer, is dit baie moeilik om te hoor wat jou hart vir jou oor blydskap wil sê.

      Ek vind dit nuttig om aan die binnekant van my kop as ’n digte woud te dink. Al die gedagtes en stories wat ek myself oor en oor vertel, is soos blaarryke bome wat my wêreld verdonker en my uitsig belemmer. Soms verdwaal ek heeltemal tussen al dié bome en weet ek nie na watter kant toe ek met my lewe moet beur nie. Meditasie is om een baie hoë boom te kies (verkieslik jou asemhaling) en al jou aandag na daardie een boom te bring. As die ander bome jou aandag aftrek, dan bring jy dit net weer terug na die hoë boom van jou asemhaling. Mettertyd gaan dit voel asof jy met daai boom opklim, al hoe hoër op in jou asemhaling totdat jy bo die res van die woud uitstyg. Daar is ál meer ruimte, ál meer stilte rondom jou, en uiteindelik bevind jy jouself waar jy hoog bo die ander boomtoppe is. Dis nie dat die ander bome ophou bestaan nie, die gedagtes dwaal steeds daar onder rond, maar jy het meteens perspektief, jy kan ver verby die ander bome sien en jy weet watter rigting om met jou lewe in te slaan.

      Soos wat jy daar vanuit jou hoë boom afkyk, sal jy enkele van die ander boomsoorte begin uitken, jy sal patrone oplet in die geraas wat jou vrede so versteur.

      Die sielkundige Jonathan Haidt het ’n nuttige lys saamgestel oor van die tipiese gedagtes wat so in ons koppe raas en ons in die lewe rigting laat verloor. Hier is van hulle:

      •Katastrofering. Jy oordryf dinge wat in jou lewe verkeerd is en vertel jouself dinge wat jou hopeloos laat voel. “Ek sal nooit weer gelukkig wees nie.” “Hierdie tipe ding gebeur altyd met my.” “Alle hoop is verlore.” Hierdie soort gedagtes is omtrent altyd irrasioneel. As jy bo hulle uitstyg, kom jy agter hulle is op baie skrapse bewyse gegrond.

      •Toekomsvoorspelling. Ons laat dikwels scenario’s in ons kop afspeel van hoe ons dink die toekoms gaan uitdraai. Maar is dit nuttig? Omtrent die enigste ding wat ons met sekerheid van die toekoms weet, is dat dit altyd anders uitdraai as wat ons verwag.

      •Ou

Скачать книгу