Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers страница 8

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

Brickman is ’n groep loterywenners in die Amerikaanse deelstaat Illinois bestudeer. Brickman het vasgestel al die wenners was direk ná hul wenslag baie gelukkig, maar het binne ’n maand of twee na hul ou vlak van blydskap teruggesak. Soortgelyke studies van parapleë het getoon hoewel mense baie hartseer is direk nadat hulle die gebruik van hul bene in ’n ongeluk of weens ’n siekte verloor het, is hulle binne ’n jaar of wat weer by dieselfde vlak van blydskap as toe hulle nog kon loop.

      Die gevolgtrekking wat lank wyd aanvaar is, was dat mense ’n ingebore “standaardvlak van geluk” het. Sommige mense se standaardvlak van geluk is hoog – hulle bly glimlag al gebeur wat ook al. Ander se standaardvlak van geluk is laag en hulle is maar moeilik om ooit op te kikker. Soms gebeur iets wat jou ’n bietjie van jou standaardvlak van geluk laat afwyk, maar kort voor lank neig jy maar net weer terug na hoe jy vooraf was. So gemaak, so laat staan.

      In die laaste twee dekades is dié prentjie van blydskap egter op sy kop gekeer. Sedert die eeuwending is ons kennis van die menslike brein radikaal verbreed – en dit het ook beïnvloed hoe kenners deesdae oor blydskap dink.

      Aanvanklik het studies op ape getoon dié diere se breine verander letterlik van vorm as hulle dieselfde taak oor en oor verrig. Die afgelope 20 jaar stel toenemend slim masjiene breinkenners in staat om ook te kyk hoe mense se breine verander as hulle sekere vaardighede of kennis inoefen.

      In 2006 is ’n beroemde studie van die breine van Londense taxibestuurders gedoen. Dit het geblyk taxibestuurders, wat elke dag hul weg deur Londen se ingewikkelde stelsel van omtrent 15 000 kronkelstrate moet baan, het veel meer sinapse in die deel van hul brein wat ruimte en navigasie beheer. Deur oor en oor die doolhof van Londen se strate te navigeer, het hulle die deel van hul brein versterk wat roetes moet memoriseer.

      Wetenskaplikes noem dit neuroplastisiteit, die vermoë van die volwasse brein om te verander en te ontwikkel na gelang van take of gedagtes wat mense oor en oor herhaal. Violiste het meer breinsinapse in die dele van hul grysstof wat die vingers beheer waarmee hulle die viool se snare manipuleer. Blindes het meer sinapse in die deel van hul brein wat die vingerpunte in staat stel om braille te lees. Deur dieselfde dinge oor en oor te doen of te dink, kan jy letterlik die fisieke werking van jou brein verander.

      Mens sou meen indien ons blydskapvlakke dan in ons brein vasgelê is, beteken breinplastisiteit dit moet moontlik wees om daardie vlak ook te skuif. En wraggies, toe breinkenners soos Francisco Varela en Richard Davidson studies doen van Oosterse monnike wat gereeld mediteer, het hulle bevind dié mense se breine lyk en funksioneer anders as die res van ons s’n. Hulle kan byvoorbeeld deur jare se meditasie hul breine leer om gamma­golwe te genereer wat van so ’n omvang is dat hulle meer vreed­saam en gelukkig voel as enige ander mense wat al gemeet is.

      Die gevolgtrekking vir ons boek: Nie almal word ewe gelukkig gebore nie, maar ons almal kan ons brein oefen om gelukkiger te word.

      Dis bemoedigend. Miskien vertrek jy op hierdie reis vanaf ’n plek waar blydskap vir jou vreemd voel. Miskien is dit ’n vaardigheid waarmee jy nog altyd sukkel. Jy is nie alleen nie. Baie van die mense wat ons in die volgende hoofstukke gaan ontmoet, het met ’n groot agterstand begin werk en stadig die vermoë aangekweek om vreugdevol te wees.

      Johan was ’n gevangene in een van Suid-Afrika se mees berugte tronke toe hy die reis begin het. Bronwen was ’n kwaai vrou wie se lewe haar so gefrustreer het dat sy letterlik in ’n oerwoud gaan wegkruip het. Michal het blydskap begin soek toe hy in die middel van ’n gruwelike en hatige egskeiding was. Belinda het mense vertel sy “is hartseer gebore”.

      Vandag is hulle almal nes Franciskus my ikone van blydskap.

      Selfs al is jou omstandighede uitsigloos, kan jy dit verander.

      Hier’s hoe:

      DEEL 2

      ’N BLYE HART

      HOOFSTUK 1

      LUISTER

      DIE CHAOS IN JOU SKEDEL

      Dit moes ’n bloedbad gewees het.

      Die lyk van ’n Chinese haaivinsmokkelaar word in Kaapstad gevind. Hy is aangerand en gewurg. Sy keel is afgesny.

      Die polisie bevind dis die werk van die Chinese mafia. Die skuldiges word in hegtenis geneem. Die aanklagte is ontvoering, gewapende roof, moord …

      Die meeste van ons lewe doelbewus baie ver van die grusame misdaadwêreld waar hierdie soort ding gebeur. Ons sien dit in flieks, maar kom verder nooit naby daaraan nie.

      So hoe verklaar mens Johan Stander se teenwoordigheid in die beskuldigdebank? Hoe het ’n jong man uit ’n voorstedelike, middelklashuis in Kuilsrivier in die middel van dié smerige en wrede storie beland?

      Ja, Johan was as tienerseun aan die Tegniese Hoërskool Kuilsrivier ’n bietjie meer bakleierig as die meeste ander seuns, maar dis nie vreeslik ongewoon nie. Hy was ook buitengewoon groot: ver bo 100 kg, die gevolg van kranige liggaamsbou en skopboks.

      Terwyl sy klasmaats naweke vir sakgeld in Shoprite gewerk het, het Johan in Kaapstad se nagklubs as uitsmyter begin werk. Uitsmyters is die groot deurwagte wat jou met ’n paar vuishoue uitsleep as jy in ’n kuierplek moeilikheid maak. Daar is sekerlik baie ordentlike ouens wat as uitsmyters werk, maar daar is ook mans wat dié soort werk as ’n eerste trappie gebruik om by georganiseerde misdaad betrokke te raak. Johan was een van laasgenoemde tipe.

      Dit was die vroeë 1990’s. Dwelms is in klubs verhandel. Twee Chinese misdaadgroepe was in ’n turfoorlog op Kaapstad se strate gewikkel. Johan is gaandeweg deur die onderwêreld ingesuig.

      “ ’n Chinese ou sou met ons kontak maak en vra of ons hom sou beskerm. Dan sê ons ja, sekerlik. Dan, ná ’n paar maande vra hy of ons vir hom ’n pakkie sou optel, en ons sê ja, sekerlik. En dan nog later laat weet hy ons daar is ’n ou wat hom probleme gee, sal ons die ou gaan uitsorteer in ruil vir so R10 000 of R15 000, sal ons hom in die hospitaal sit? Dan sê ons ja, sekerlik. En dan laat weet hulle ons daar is iemand wat hulle geld skuld, sal ons die geld gaan terugkry op watter manier ook al nodig is … ?”

      Johan het ’n misdaadgroep se tatoeëermerke gekry. Meteens was die outjie van Kuilsrivier ’n groot lig in die skaduwêreld.

      “Ek kon by ’n restaurant instap, my tattoos wys, en mense staan op om vir my plek te maak. En as ek wil betaal, dan sê hulle ek hoef nie te worrie nie, my rekening is klaar betaal. Dit was ’n power trip.”

      En toe ruk dinge handuit.

      ’n Man word vermoor.

      Johan en sy makkers word aangekla.

      Hulle word op borgtog vrygelaat en slaan op die vlug, gaan skuil in die berge anderkant Worcester, waar die polisie hulle weer vastrek.

      Die nuusmedia gons. Huisgenoot berig oor Johan, ’n man “wat ’n wildvreemdeling vir geld verwurg het. Wat bygestaan het terwyl sy slagoffer se keel afgesny is”.

      In 1995 beslis die hof Johan Stander, net ’n paar jaar gelede ’n doodgewone hoërskoolseun van Kuilsrivier, verdien die swaar­ste moontlike straf. Hy spring die galg vry net omdat die kon­stitusionele hof die doodstraf afskaf terwyl

Скачать книгу