Susanna M Lingua-keur 11. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M. Lingua страница 10

Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

voor die hotel staan terwyl Lizelia die hotelrekening vereffen. Hierna groet sy die bestuurder en stap dan na die wagtende motor.

      Edoardo ontspan op die voorstoep saam met sy swaer en sy enigste suster toe die motor voor die villa stilhou. Lizelia is dadelik van die twee vreemdelinge bewus toe sy uit die voertuig klim, maar sy hoor gelukkig nie toe die baron se suster saggies op Italiaans uitroep nie. “My wêreld, wat ’n pragtige meisie! Inderdaad ’n meesterstuk uit die hand van die Skepper.”

      “Van wie praat jy nou eintlik, Tina?” wil die baron met ’n ligte frons weet.

      “Ek dink dit is jou bruid, want sy het so pas uit jou motor geklim, Edoardo,” verduidelik sy suster.

      Die edelman kom dadelik orent toe hy Lizelia se voetstappe hoor nader kom. Hy herken haar dadelik aan die sagte aroma van haar parfuum. Dan hou hy sy hand na haar uit terwyl hy haar groet en voel hoe sy haar koel handjie in syne plaas.

      “Laat my toe om my suster, Tina, en my swaer, Marco An-dretti, aan jou voor te stel, Lizelia.” Hy wend hom na sy suster en vervolg afgetrokke: “Lizelia is die meisie met wie ek vanoggend in die huwelik tree. Haar naam is op die oomblik nog Lizelia Heyns.”

      Lizelia erken die bekendstelling op Engels. Dan nooi Edoardo haar om te sit.

      “Ek dink nie daar is meer tyd vir gesels nie, Edoardo,” keer Tina voordat Lizelia kan gaan sit. “Julle sal nou dadelik moet gaan aantrek as julle nie laat wil wees vir julle eie troue nie.”

      “Ja, ek dink ook ons moet gaan verklee sodat ons die plegtigheid agter die rug kan kry,” laat die edelman onverskillig hoor. “Jy sal vir Lizelia moet gaan wys waar haar kamer is, Tina. Miskien is daar iets waarmee jy haar kan help. ’n Bruid het mos altyd iemand nodig om haar te help aantrek.”

      “Dit is werklik nie nodig dat iemand my help aantrek nie, Edoardo. Ek is heeltemal in staat om dit self te doen,” maak Lizelia dadelik beswaar, want vir haar voel dit glad nie of hierdie huwelik haar aanstons een van die adellike De Mashatini- familie gaan maak nie. Vir haar is hierdie huwelik niks anders as ’n klug nie, en in der waarheid sal haar posisie dieselfde wees as dié van die baron se talle ander werknemers. Sy beplan dus hoegenaamd nie om op familiêre voet met sy vername familie te verkeer nie.

      “Ek hoop nie jy beskou dit as voorbarig nie, maar ek het alreeds vroeër vanoggend jou bruidsuitrusting en alles wat jy nodig sal hê op die bed neergesit,” gesels Tina vriendelik terwyl hulle met die trappe oploop na die tweede verdieping toe. “Ek veronderstel jy het alreeds by die hotel gebad, dus sal ek jou net gou help om aan te trek. Die gaste bestaan uit ’n paar ooms, tantes, neefs en niggies. Hulle sal nou enige oomblik hier aankom, en ek weet hulle sal graag met jou kennis wil maak voor die seremonie begin.”

      “Dit is baie vriendelik van u, mevrou Andretti,” sê Lizelia gespanne en met ’n geforseerde glimlaggie.

      Tina gee haar nie kans om meer te sê nie, want sy help haar byna dadelik reg: “Aangesien jy op die punt staan om my skoonsuster te word, Lizelia, sal dit meer gepas wees as jy my liewer Tina in plaas van mevrou Andretti noem.”

      “Ja, ek moet seker. Maar ek sal eers daaraan gewoond moet raak,” sê Lizelia sag en gelate. “Julle is almal vir my so … vreemd. Ek ken Edoardo nie eens goed nie, en dan is daar ook nog die taal wat ek glad nie verstaan nie. Ek sal nie eens ’n woord van die huweliksbevestiging …”

      “Dit is presies waar jy verkeerd is, Lizelia,” val Tina haar laggend in die rede. “Ek weet nie hoe my broer dit in sy blinde toestand reggekry het nie, maar die predikant wat die huwelik gaan voltrek, kan baie goed Engels praat.”

      “Jou broer kom my voor as die soort man wat alles in die lewe sal regkry, maak nie saak of hy blind is of nie,” sê Lizelia onwillekeurig.

      “Jy het hom nogal reg opgesom,” verklaar Tina met ’n sagte laggie. “Dis presies hoe hy was toe hy nog die gebruik van sy oë gehad het. Dit lyk my darem nie of sy blindheid hom te veel verander het nie – ek dink dit was baie bedagsaam van hom om vir die Engelssprekende predikant te sorg.”

      Hulle stap die kamer wat vir Lizelia gereed gemaak is binne. Te midde van al die spanning, kommer en senuweeagtigheid wat sy op die oomblik verduur, kan Lizelia nie help om beïndruk te voel met al die weelde wat haar selfs in hierdie vertrek omring nie. Dit is nie duur, moderne meubels nie, maar kosbare oudhede van eeue gelede waarmee die hele villa binne gemeubileer is.

      Lizelia word nie eintlik tyd gegun om haar weelderige slaapkamer te bewonder nie, want haar aanstaande skoonsuster stoot die kamerdeur versigtig toe en waarsku haar dat hulle nou baie gou sal moet maak.

      Wat vir Lizelia ’n heuglike dag moes wees, is vir haar ’n onrusbarende dag vol kommer en spanning. Net die gedagte aan haar moeder se lewe en gesondheid weerhou haar daarvan om van die villa en sy mense af weg te vlug. Sy voel op die oomblik soos ’n masjien sonder ’n wil en sin van haar eie. Maar eindelik is sy in haar spierwit bruidsgewaad geklee.

      “Jy is inderdaad die mooiste bruid wat ek nog ooit gesien het, Lizelia,” hoor sy Tina met openlike bewondering sê. “Dit is net jammer dat jou bruidegom jou nie vandag kan sien nie. Hy sal nooit weet hoe pragtig jy vandag lyk nie.”

      “Dankie vir die mooi gedagte, Tina,” sê Lizelia met ’n hartseer glimlaggie. “Maar ek het nog nooit ’n lelike bruid gesien nie. In elk geval, ons moet seker nou afgaan.”

      “Ja, die familie is seker al almal in die tuin waar julle huwelik voltrek gaan word,” sê Tina en hou die kamerdeur vir Lizelia oop.

      Daar is ’n opgewonde gefluister onder die twintigtal gaste toe Tina en die bruid hulle verskyning in die tuin maak. Marco en Edoardo, wat by die gaste gesit het, kom dadelik orent en die blinde bruidegom word deur sy swaer na ’n tafeltjie gelei, waar die predikant wag om die edelman en sy bruid in die eg te verbind.

      “Hoor jy hoe hard fluister die gaste, Lizelia?” vra Tina saggies. “Hulle is almal in vervoering oor my broer se skone bruid.”

      “Ag nee, jy verbeel jou dit,” laat Lizelia met blosende wange hoor. “My spieël het nog nooit vir my gesê dat ek buitengewoon mooi is nie.”

      Dan is hulle by Edoardo en Marco, en Tina is genoodsaak om te swyg.

      Lizelia neem die arm wat Edoardo na haar uithou, en is meteens steurend bewus van haar skamel lengte langs hierdie lang, swartgeklede man wat oor ’n paar minute haar wettige eggenoot sal wees.

      Alles verloop vir Lizelia soos ’n onwerklike droom. Sy hoor hoe die predikant hulle man en vrou verklaar, maar sy is nie eens daarvan bewus dat Edoardo, behalwe die trouring, ook ’n fabelagtige verloofring wat uit twee yslike blou diamante bestaan aan haar vinger steek nie.

      Eers toe sy hom saggies langs haar hoor sê: “Ek het nog nooit ’n vrou met sulke fyn handjies teengekom nie,” kyk sy af na haar hand en merk die twee blou diamante wat so groot soos ertjiepitte is. Sy besef dadelik dat die verloofring slegs bedoel is om die skyn voor die familie te bewaar. Sodra hulle vertrek het, sal sy die ring weer vir hom teruggee.

      Die predikant vertrek dadelik nadat hy die egpaar gelukgewens het, om sy gebruiklike oggendbesoek by die hospitaal af te lê. Hierna word hulle deur die familie gelukgewens, foto’s word deur ’n paar verslaggewers geneem, en dan gaan sit almal aan vir ’n feestelike noenmaal.

      Sjampanje vloei vrylik, maar Lizelia drink net een glasie en sy merk dat Edoardo dieselfde doen.

      Die

Скачать книгу