Hartstog in Malawi. Lizet Engelbrecht

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartstog in Malawi - Lizet Engelbrecht страница 3

Hartstog in Malawi - Lizet Engelbrecht

Скачать книгу

sy staan en tuur oor die pragtige tuin en swembad. Sy rol haar nek en voel die spanning in haar skouers saamtrek. Vanaand is haar laaste semi-beskutte aand en sy beplan om dit ten volle te geniet en te ontspan. Die eerste keer besef sy hoe gespanne sy die laaste twee weke was – vandat sy verplig is om die opdrag te aanvaar. Sy het één rustige, ontspanne aand nodig voor sy môre na John Auther begin soek.

      Voor haar geestesoog roep sy die foto’s van John Auther wat sy in die lêer gevind het op. Die enigste beskikbare foto’s van hom is van ongeveer drie jaar gelede. Hy is skraal, met swart hare, ’n ligte vel en ’n hoogmoedige uitdrukking in sy oë. Niks besonders nie, was haar onmiddellike vroulike beoordeling.

      By die eetsaal steek Rochelle vas en bekyk ’n houtsneewerk. Hierdie visarend is ’n besonderse kunswerk, dink sy en buk om die prys op die kaartjie te lees. ’n Kelner staan gereed en lei haar na ’n kleinerige tafeltjie. Hy oorhandig die wynlys aan haar.

      Terwyl sy ’n skemerkelkie geniet, gly haar blik ondersoekend oor die gaste. Sy het nie ’n kennersoog nodig om te onderskei tussen die sakemanne en opgewekte toeriste nie. Sy verlang huis toe, na die sekuriteit, gemak en bekendheid van haar lewe. ’n Plek waar sy soos elke aand haar skoene onder die tafel kan uitskop omdat hulle haar druk.

      “Is u gereed om te bestel?” vra die kelner en hou sy notaboekie gereed.

      “Dankie, ek sal u damesfilet neem. En kan ek slaai in plaas van ’n gebakte aartappel kry?”

      Hy bevestig met ’n kopknik en sy vervolg: “Ek sal ook ’n peper- …”

      Die murmeling van stemme het skielik vervaag en haar kelner se aandag is ongetwyfeld elders. Die atmosfeer is tasbaar en ’n ongewone stilte vul die saal. Geïnteresseerd kyk sy om.

      Twee paar oë ontmoet.

      Kaptein Costa, dink sy dadelik terug aan die lughawe-insident terwyl sy ’n krieweling teen haar nek voel opkruip. Sy kyk hom waterpas in die oë. Hoekom vrees of respekteer almal sy teenwoordigheid so? wonder sy. Hoekom word hy soos goud behandel?

      Hy steek in sy spore vas en staar na haar. Sy blik gly emosieloos maar openlik oor haar liggaam.

      Rochelle voel onmiddellik weer ontsenu, maar haar brein skop behoorlik vas teen sulke snobisme en ’n verbete trek skuif oor haar gesig. Waarom betrag hy haar so uit die hoogte? Of wag hy dat sy moet buig en hom as “U Hoogheid” aanspreek?

      Nonsens! besluit sy ergerlik en draai parmantig haar rug op hom, terwyl die bloed warm deur haar are bruis en haar hart onbeheers bokspring. Gemaak aandagtig bestudeer sy haar spyskaart. Sy oë … Daardie koue, donkerblou oë, daar is iets bekends aan hulle, maar sy kan nie haar vinger daarop lê nie.

      Of is dit net omdat sy ’n renons het in mense en veral mans wat hooghartig en snobisties is? wonder sy. Wie dink hy is hy? Hulle leef nie in die agtiende eeu waar mense onderdanig buig en vroue opsy staan, of hulle hoof laat sak sodat ’n welgestelde verby kan beweeg nie.

      “Kan u asseblief u bestelling herhaal?” onderbreek die kelner haar stomende gedagtes.

      Sy kyk op. Kaptein Costa het verdwyn en die murmeling van stemme zoem nogmaals deur die vertrek. Die atmosfeer is weer ontspanne en gemoedelik, dis net haar hart wat nog kaperjolle maak.

      “Kaptein Costa?” vra sy.

      Die kelner beaam met ’n kopknik.

      “Hy is bekend hier. Is hy in die weermag of lugmag?”

      Die kelner glimlag en verduidelik dat dit ’n benaming is wat die plaaslike mense aan hom toegeken het om hulle eerbied en dankbaarheid te betoon.

      “Hmm … iets soos ’n opperhoof of hoofman?” vra sy.

      ’n Glimlag sprei oor sy gesig en hy knik sy kop herhaaldelik.

      Terwyl sy smul aan haar geurige maaltyd, warrel Rochelle se gedagtes weer ongevraag na kaptein Costa. Sy frons. Hoekom sou die plaaslike bevolking ’n wit man so vereer? Aandagtig sorteer sy haar slaai: blare eenkant, tamatie in die middel en die olywe en kaas aan die ander kant van haar bord. Ingedagte wonder sy hoe die lenige man met die koue oë en grys aan sy slape die amp van kaptein bekom het.

      “Aa!” sug sy beterweterig en ’n stout glimlag kruip om haar lippe. Kaptein Costa het sekerlik sy eie vrouekamp of ’n harem vol vroue. Hy het natuurlik ’n magdom skape en beeste as vergoeding betaal – lobola vir sy vroue. Hy is natuurlik vele vaders se skoonseun.

      Miskien moet sy eerder die hoogmoedige kaptein uit haar gedagtes skuif en op haar werk konsentreer, maan Rochelle haarself. Die man na wie sy môre begin soek, sal absoluut die teenoorgestelde van kaptein Costa wees.

      Sy verwag dat selfs die gelaatstrekke van sir J.C. Auther sou verander het. Sy is oortuig daarvan dat hy aansienlik ouer as op haar foto’s sal vertoon en bes moontlik sal sy hare gryser wees, of is hy dalk nou bles. Die reeds maer man sal na alle waarskynlikheid gewig verloor het en sal nou sieklik en bleek vertoon.

      Wat eens ’n streng blik en regop houding was, sal nou vervang wees deur die gelaat van ’n gebroke man. ’n Man wie se siel elke dag die afgelope drie jaar bietjie vir bietjie gesterf het as gevolg van hartseer, verlange en weemoed. Sy gevreesde persoonlikheid sou hy in Portugal agtergelaat het. Sy verwag ’n mistroostige, moontlik bejammerenswaardige houding sonder enige veglus.

      Haar opdrag, hoe delikaat ook al, behoort nie te moeilik te wees nie.

      Costa se blik beweeg vir die soveelste maal die aand na die eenrigtingglasvenster.

      Sy is beeldskoon, kan hy nie anders as om te dink nie, en proe die wrang smaak in sy mond. Haar slanke liggaam, golwende hare en die aanvallende trek in haar oë het hy onmiddellik herken. Hy frons. Selfs by die lughawe het die aggressiwiteit in haar oë hom opgeval. Maar dis nie al nie. Iets anders hinder hom, hy kan net nie sy vinger daarop lê nie.

      Hy neem ’n sluk van sy rooiwyn en betrag haar aandagtig. Sy lyk na ’n innerlik sterk vrou, een wat kry wat sy wil hê, dink hy terwyl sy blik afkerig gly oor haar rok wat soos ’n tweede vel aan haar sit. Sy is modieus geklee, definitief nie van Malawi nie, en die wyse waarop sy kort-kort haar hare oor haar skouers skiet, gee hom die gevoel dat sy dit gewoonlik op ’n ander manier dra. Wat aan die vrou pla hom dan?

      Hy neem nog ’n sluk wyn, rol dit in sy mond … In haar oë is versluierde vrees. Hy draai sy kop effe skuins en kyk haar ’n oomblik stip aan. Ja, dis wat dit is. Daar is verskuilde vrees in daardie bruin oë van haar.

      In sy skik dat hy die geheim opgelos het, roep Costa die kelner nader.

      ’n Oomblik oordink hy sy besluit, maar plaas dan tog die bestelling en vra die kelner om die drankie aan die dame met die golwende hare te gee. Sy blik volg die kelner tot by die kroeg. Die drankie lyk aanloklik en hy sien hoe die kelner die glas blink vee voor hy met die skinkbord in sy hand wegstap.

      By haar tafel neem die kelner stelling in en sê iets wat Costa nie kan hoor nie.

      “Nee, dankie,” antwoord sy hard en hy merk die twee rooi kolle op haar wange. “Ek aanvaar nooit drank van vreemde mans nie.”

      Vaagweg kan Costa die kelner se verbouereerde reaksie uitmaak.

      “Ek is jammer en ek wil jou nie ontstel nie. Dis duidelik dat julle kaptein Costa nie teenkanting gewoond is nie, seker veral nie van vroue nie, maar ek kan dit ongelukkig

Скачать книгу