Hartstog in Malawi. Lizet Engelbrecht

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartstog in Malawi - Lizet Engelbrecht страница 4

Hartstog in Malawi - Lizet Engelbrecht

Скачать книгу

bloed warm deur sy are laat pomp. Hy maak die syvenster toe en draai terug na sy tafel. Gelukkig hoef hy haar nooit weer te sien nie en gelukkig het hy vroue uit sy bestaan verban.

      Langs sy een slaap spring ’n spiertjie en ’n kortstondige oomblik herleef hy ’n episode uit sy bittere verlede. Hy swets.

      Vroue beteken net moeilikheid en hartseer. Hy kners op sy tande. Daarbenewens sal hy nooit weer ’n vrou in sy lewe toelaat nie, omdat hy ’n belofte aan homself gemaak het om alles in sy vermoë te doen om dié keer sy privaatheid te beskerm.

      Almal hier ken hom – sy privaatheid ís sy lewe. Enigiemand wat dit ooit weer waag om sy privaatheid te skend sal duur betaal.

      3

      “Verdomp!” swets Rochelle hard terwyl sy die Kia-viertrek teen so ’n spoed langs die pad tot stilstand bring dat jy net stof sien trek. Sy ruk die roetekaart weer uit en bestudeer dit ergerlik.

      Die omgewing lyk nie bekend nie. Afdraaipaaie wat op die kaart aangedui is, kry sy nie en dit wat sy verwag het ’n dubbelpad sal wees, is net ’n smal strokie teer oorlaai met allerhande tipe verkeer. Swart teerslange het intussen vervel en weer bruin en stowwerig geword, en wat as ordentlike brûe op die kaart aangedui word, kan sy nie begin om te beskryf nie.

      Sy voel onnosel. Miskien hou sy die kaart onderstebo of ry sy in die verkeerde rigting. Dis nie dat sy ’n afhanklike persoon is nie – sy het op agtienjarige ouderdom haar ouerhuis verlaat om voltyds te studeer. En ofskoon die Matie-kampus slegs ’n paar blokke weg is van haar ouerhuis, het sy in die koshuis gebly en haar eie ding gedoen. As uitblinkerstudent in haar rigting is sy onmiddellik ná voltooiing van haar studie ’n pos aangebied, waarna sy haar eie blyplek gekry het. Sy is reeds jare lank onafhanklik, dis net dat sy so min haar bekende omgewing verlaat.

      “Kan ek nie net asseblief een ordentlike aanwysing kry nie?” smeek sy. Sy is besig om ’n dowwe hoofpyn te ontwikkel en die spanning knaag aan haar nekspiere.

      “Chellie, my kind, kruip maar net aan. Al die paaie kom iewers uit,” sou haar pa nou gesê het, tot groot ergernis van haar ma.

      Rochelle trek weg, maar meteens verlang sy na haar ouers.

      Haar gesin is juis een van die hoofredes hoekom Xavier nie haar vrese kan verstaan nie. ’n Beter gebalanseerde, standvastige en lojale gesin sal jy nêrens vind nie. Xavier glo dat haar vrees vir die onbekende geregverdig sou kon word indien daar geraamtes in haar of hulle gesin se kas was. Maar juis omdat hulle so normaal en ongekompliseerd is, voel hy sterk dat sy dié vrees kan en móét oorkom. Soms vermoed sy dat Xavier dink sy sit aan.

      Sy sit nie aan nie! Hemel, gisteraand toe die kelner skielik die drankie op haar tafel neersit, het sy so geskrik dat sy skoon lighoofdig was. Sy kon die sogenaamde kaptein wat die drankie gestuur het nêrens sien nie en ofskoon sy hom nie wantrou nie, kon sy nie die onbekende opsom nie. Hy is arrogant, dit weet sy, maar die restaurant, die kroeg, die hotel en haar kamer – alles was vreemd.

      Sy het gesoek na uitkoms, maar kon nie sien deur die angs wat haar oorweldig het nie. Sy kon nie die waarheid sien nie. Die vrees het haar hart so swaar omklem dat sy haar moes staal en harder moes praat om enige woorde uit haar keel te kry. Terwyl sy en die kelner gepraat het, het sy heeltyd gewonder: Het hy die drankie gestuur of iemand anders? Hoekom sién sy nie die man nie?

      Sy was oortuig dat die drankie gedokter is, dat iemand haar dophou en onwelvoeglike planne met haar het. Sy het skoon haar eetlus verloor en toe boonop die hele nag nagmerries gehad. Dieselfde nagmerrie wat sy reeds die afgelope twee weke elke aand beleef, maar verlede nag het dit ’n stertjie bygekry. Soos die vorige veertien nagte het sy haarself wakker gesoebat, haar lakens deurweek as gevolg van die angssweet en haar liggaam uitgeput deur die hewige geveg wat sy beleef het. Dis presies dieselfde geveg oor en oor.

      Vanmôre het sy ’n uur vroeër as beplan die hotel verlaat in die hoop dat sy nooit weer vir kaptein Costa hoef te sien nie. Haar ou nagmerrie is genoeg, sy kan verduidelik waar dit vandaan kom, maar die nuwe stertjie raak nou te erg.

      Vlugtig loer sy weer na die roetekaart. Liwonde-reservaat, volgens die roetekaart, is slegs ’n skrale 250 kilometer van Blantyre. Volgens haar berekening sou die rit nie langer as drie uur neem nie. Onkundig het sy natuurlik nie tyd bereken vir ’n smal kronkelpad wat voortdurend vol kinders, bokke, smouse, honde en katte is nie. En sy het ook nie besef dat dit die een klein dorpie op die ander is en dat jy selde vinniger as 80 kilometer per uur ry nie.

      Rochelle glimlag innerlik. Toeter en toet het vandag ’n nuwe betekenis gekry.

      Verslae dink sy aan die aantal mense wat sy tot nou toe gesien het. Massas sonder einde; soos miere wat heuning ruik, borrel hulle voortdurend uit en skarrel rond. ’n Opvallende verskynsel is die hoeveelheid fietse – verstommend!

      Malawi is ’n klein landjie. ’n Bietjie groter as die Krugerwildtuin, en twintig persent van die oppervlakte word deur die Malawimeer bedek. Met ’n bevolking van twaalf miljoen is dit een van die digs bevolkte lande in Afrika. Sy het baie mense verwag, maar sóveel mense sou sy nimmer as te nooit kon raai nie.

      Skielik moet sy weer rem trap vir die vale. Nogmaals swets sy – iets wat sy normaalweg nooit doen nie. ’n Fietsryer met ’n hele boel lewende hoenders, kop onderstebo oor die stuurwiel vasgemaak, en ’n boerbok op die saal vasgegespe, het reg voor haar ingery.

      Onmiddellik vererg sy haar bloedig en wil sommer op haar toeter lê, maar toe laat die komieklike prentjie haar skaterlag. Die meeste onvoorsiene komplikasies is eintlik so snaaks dat dit bomenslike inspanning verg om nie te lag nie, besef sy. Nogmaals reik sy na haar kamera om die kostelike affêre op film vas te vang voor sy verder aankruie.

      “Nee, nee!” kreun sy moedeloos toe nog ’n padversperring voor haar opduik.

      Behendig bring Rochelle die Kia tot stilstand. Dis nou die derde padversperring. En soos by die vorige twee is daar weer eens net ’n blou bordjie wat lees: Stop. Police.

      ’n Paar meter verder is die versperring oor die middel van die pad opgerig. ’n Beampte in uniform kom nader. Dieselfde twee vrae in dieselfde gebroke Engels: “Waarheen gaan u? Het u enigiets om te verklaar?”

      Ritmies trommel sy met haar naels op die stuurwiel en probeer die gejaagde gevoel afskud. By die vorige punte is ander voertuie deursoek; letterlik alles word uitgepak, oopgemaak en ondersoek. Sy was tot dusver gelukkig.

      Sy byt op haar onderlip en ’n angssweet slaan yskoud op haar vel uit toe die beampte wys sy moet langs die pad aftrek. Sonder haas stap hy om haar motor. By haar venster steek hy vas en vra: “Lisensie, asseblief.”

      Woordeloos oorhandig sy haar rybewys. Sy is waaksaam en elke sintuig is op hom ingestel.

      Die beampte bestudeer haar lisensie oneindig lank.

      “Tringels, asseblief,” vra hy met die rybewys nog in sy hande.

      “Ekskuus?”

      “Tringels, asseblief.”

      Dis die enigste woorde wat hy herhaal, maar die ongeduld slaan ongetwyfeld in sy stem deur. Agter haar lê ’n minibusbestuurder op sy toeter en in haar truspieël kan sy sien hoe die passasiers by die vensters uitpeul om tamaties, vis, vetkoek, ensovoorts te koop.

      “Ek is jammer, meneer, maar ek het nie die vaagste benul waarna u verwys nie. Kan u vir my verduidelik wat dit is waarna u soek?” vra sy benoud.

      Met

Скачать книгу