Stormpad na Vadersrust. Dirna Ackermann

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Stormpad na Vadersrust - Dirna Ackermann страница 3

Stormpad na Vadersrust - Dirna Ackermann

Скачать книгу

gaan deur die garage die kombuis binne. Sy hoor die gelag in die eetkamer en glip ongesiens na haar kamer. Haar handsak en Bybel land op die bed, haar hoëhaksandale onder die bed en sy skud die bolla in haar nek los voor die spieël. Staan ’n oomblik na haar weerkaatsing en kyk.

      Lank en modelslank, het menige verkoopsdame al vir haar gesê. Te maer, dink sy, maar nie eens sjokoladekoek vir brekfis maak ’n verskil nie. Sy het probeer! Toegegee, sy het darem nooit ’n probleem om klere te kry nie.

      Moet haar pa se gene wees, want haar ma is donker, korterig en, nou ja, ronderig, maar vra gaan sy nie. Nie die moeite werd nie, het ervaring haar geleer. In die geheim het sy wel gesoek, en met die verloop van jare weer en weer gesoek, maar vergeefs. Sover sy kan agterkom, is daar nie eens ’n foto van hom in hierdie huis nie.

      Sy vroetel haar vingers deur die dik, blink stringe op haar skouers, ontknoop ’n kinkel hier en daar. Aarbeiblond, sê die haarkapper wat dit so nou en dan in toom moet hou, met ruiterlik erkende afguns. “Rooiblond” sal die woordeboek dit noem, maar volgens haar ma is dit rooi en klaar!

      Viooltjieblou noem Edward haar oë; pers is Pippie se oorwoë mening. Voeg daarby ’n vol, natuurlike rooipienk mond en poeierfyn sproete oor min of meer haar hele lyf en siedaar, ’n kleurkaart met ’n identiteitskrisis.

      Michaela druk ’n oomblik haar vingers teen die gloeiende kolle hoog op haar wange. Sy merk die ongewone glans in haar oë en storm badkamer toe met die wete dat die hitte nie alleen vir haar gloede geblameer kan word nie. Die tweebenige oorsaak se hartlike lag is saam met haar ma s’n vanuit die eetkamer hoorbaar.

      Terwyl sy koue water oor haar warm gesig spoel, was sy sommer ’n ongenooide traan of drie ook weg. Nelia Beekman het geen ooghare vir die man in haar dogter se lewe nie.

      Die man wat Michaela sommer wéét haar aanstaande lewensmaat is, al het hulle nog glad nie in daardie rigting gepraat nie. Dis sy fyn aanvoeling vir haar buie, die manier waarop hy verstaan wanneer sy voel soos sy vanoggend gevoel het – asof die ware Michaela êrens langs die pad van die wa afgeval het en dit net die afskynsel is wat hier rondloop. Die amper drie maande wat hulle nou saam is, het soos ’n oogwink verbygegaan.

      Die sjarmante blonde Edward met sy elegante klere, onberispelike maniere en duur motor beïndruk Nelia Beekman egter minder as die bure se Dobermann wat gedurig die groentetuin omskoffel in sy jagtog na iets wat niemand anders kan sien nie.

      Michaela tas toe-oë na die handdoek langs die wasbak, voel hoe dit deur haar vingers vloer toe glip en buk om dit op te tel. Sy knipper haar drupnat oë. Die donkerkop meneer Richardson, daarenteen, met daai glimlag van hom wat doer diep binne êrens begin voor dit in fyn plooitjies om sy swart oë kreukel, moet in Nelia se oë nog net vlerke ontwikkel.

      Maar gee kans, Kayne Richardson se krake sal nog wys. Hy is nog nie lank genoeg op die toneel nie. Op die oomblik is hulle betower deur sy swymelmooie uiterlike. Die soort uiterlike wat háár vingers laat jeuk om dit met houtskool op papier te verewig. Die mooi, sterk, bruingebrande hande wat ’n vierjarige optel asof sy brose porselein is en haar ogies soos sterre laat glinster.

      Michaela druk-druk aan haar rooi wange om nie nog kleur by te voeg nie. Watter vrou sal nie betower wees nie? Sy trek skewemond vir haar rooioog-weerkaatsing in die kollerige ou spieël van die medisynekassie bokant die wasbak.

      Wat het julle dan gedink? het sy sommer lus om vir niemand in die besonder nie en almal in die algemeen te vra. Dat sy sal jok? Nee! Sy is grootmoedig genoeg om te erken hy ís iets om na te kyk. Daardie skaars merkbare duikie in sy ken, die fronskeep wat sý heel waarskynlik al meer gesien het as die drie ander vroulike bewoners van hierdie huis tesame.

      Tog, as ’n vrou nie in haar pasoppens bly nie, sal sy aanhou wil kyk. En aanhou! Sy knyp die handdoek tussen haar knieë vas, spat weer koue water oor haar warm wange.

      “Miek-ka,” roep Nina in die gang, en die twee lettergrepe van die verkorting van haar naam word soos gewoonlik duidelik geskei. “Waar’s jy?”

      Toe sy antwoord kry uit die badkamer, storm-stamp sy die deur oop. “Ouma Nel sê ons wil eet …”

      Sy beskou Michaela skeefkop, hande op die heupe soos ’n ma voor ’n omgeëlliede peuter. “Hoekom huil jy, Micha?”

      “Ek huil nie, askoek, ek het net my gesig gewas,” keer sy vinnig. Sy vryf haar voorkop hardhandig droog en hang die handdoek netjies op sy plek.

      Die fyn gesiggie frommel in ’n frons onder die goudblonde krullebol – tot dusver die enigste sigbare nalatenskap van haar pa, Jason, die erfgenaam van ’n reeks eksklusiewe restourante. Onder meer die een waar emmers van Pippie en Michaela se sweet en harde werk bygedra het tot die finansiële nalatenskap wat Nina eintlik toekom.

      Michaela keer vinnig die gesprek weg van haarself. Hierdie engeltjie is besonder fyngevoelig vir emosionele nuanses. “Wat het jy alles by die dieretuin gesien?”

      Terwyl hulle hand aan hand eetkamer toe stap, word sy getrakteer op die voortreflikhede van Kayne Richardson.

      “As ek op sy skouers ry, kan ek álles sien, en hy is die slimste oom in die hele wêreld, hy weet álles van ál die diere in die héle wêreld,” gooi Nina haar arms wyd en huppel eintlik van opgewondenheid. Sy babbel asof sy bang is sy gaan nie toegelaat word om haar hele sê te sê nie. “En toe het oom Kayne vir my ’n blou roomys gekoop en ’n tjoklit en ’n koeldrank,” sy hyg asem in voor sy voortspoed, “en vir Mamma ’n rooi-en-geel-en-blou-en-groen krale-armband by die ronde tannies op die sypaadjie.”

      Sy bestorm die voorwerp van haar bewondering toe hulle die vertrek binnegaan. Pluk aan sy hand toe hy nie gou genoeg aandag gee waar hy met Nelia gesels nie.

      “Oom Kayne, oom Kayne, kan ons vir Miek-ka ook ’n armband gaan koop? Sy sê sy hettie gehuil nie, maar sy jok. Sy het!” word daar triomfantlik aangekondig, en almal se aandag draai na Michaela.

      Berge val op my, see bedek my, vloer gaan oop dat ek kan inval, pleit sy klankloos en dwing ’n glimlag na haar gesig. ’n Blinke, hoop sy.

      “Ek het net my warm gesig met koue water gelaaf, askoek, en water in my oë gekry,” lag sy.

      Sy vang haar ma se frons en Pepita se besorgde blik, maar weier volstrek om toe te gee aan die onsinnige begeerte om te probeer vasstel watter uitdrukking in die donkerkopman se ewe donker kyk luier.

      “Ek het amper gekook toe ek die kar ingetrek het. Ons kan op die oomblik daai garage uithuur as ’n sauna,” verduidelik sy gans te vinnig, voor sy op haar ma fokus. “Wat is daar waarmee ek moet help?”

      Nelia se skerp blik rus etlike oomblikke nog op haar dogter, voor sy die ander nooi om aan te sit by die tafel wat vroegoggend al klaar gedek is. “Jy kan kom help met die aandra. Alles is in die koelkas,” antwoord sy.

      Michaela volg haar gedweë kombuis toe. Wag vir die ondervraging om te begin, maar gee weer ewe gedweë pad toe sy ’n bak aartappelslaai en koue hoender in die hand gestop word en met ’n kopknik beveel word om dit op tafel te kry.

      Tydens die ete babbel Nina sonder ophou en word ’n paar maal deur Nelia vermaan. Michaela het sommer lus en skop die man oorkant haar se skeen. Dis hý wat die kind so vol suiker gestop het dat sy soos ’n opgewende veer eers moet afloop, en nou moet sy raas kry.

      Toe Pippie uiteindelik hard met Nina moet praat, gaan klim sy tranerig op Kayne se skoot. “Nou’s ek nie meer honger nie,” pruil sy en bêre haar kop teen sy skouer. Oomblikke later sak haar ogies toe.

Скачать книгу