'n Week van passie. Hetta Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Week van passie - Hetta Kotze страница 5

'n Week van passie - Hetta Kotze

Скачать книгу

ruk by haar ma en dié se tweede man in Londen gekuier, en toe met ’n rugsak deur Wes-Europa getoer. In Switserland het sy haar hart uitgehuil omdat sy en Rheeder gedroom het om daar wittebrood te hou nadat hulle gekwalifiseer het.

      Aan die einde van daardie jaar het sy besef dat sy nie meer kan weghardloop nie. Sy het besluit om die gevreesde en aggressiewe siekte, kanker, trompop te pak en dit te help oorwin. Sy sou dit leer ken, en help om gevorderde behandelings en metodes te ontwikkel om dit te voorkom. Sy sou dit bestudeer totdat daar geen geheimenisse meer vir haar is nie.

      Sy het haar Zuma-jaar op die platteland gedoen en daarna in onkologie begin spesialiseer. Dit was spoedig vir haar duidelik dat dit nie so maklik gaan wees om dié vyand te verslaan nie. Professor Tayban het haar in haar tweede jaar genader en vir sy nuutgestigte kankernavorsingseenheid gewerf.

      Die hyserdeur gaan oop en sy dink aan Môreson se direkteur toe sy die knoppie na die vierde vloer druk. Sy skuld die man eintlik ’n verskoning.

      “Jy’s lekker vroeg,” sê Tiyika toe Wilmari by die ontvangstoonbank aanmeld.

      Wilmari beduie na Martha se leë kantoor. “Is suster in die sale besig?”

      “Sy kom nie vandag in nie, dokter.”

      “O.” Wilmari staan ’n oomblik besluiteloos. Sy wou Martha uitvra oor die man by die parkeerterrein.

      Tiyika tel haar notaboek op. “Ons kan maar begin wanneer jy gereed is.”

      Die jong kankerpasiënt, Bettie, se ma is vandag by haar. Wilmari voel dadelik aangetrokke tot dié besadigde vroutjie met die sagte stem. Sy pas by haar man, dink sy.

      Mabel Fryer stel haarself voor en bedank Wilmari vir haar openhartigheid met haar man in hulle gesprek die vorige dag.

      “Dit help,” sug sy. “ ’n Mens voel so magteloos en desperaat as hierdie goed met jou kind gebeur.”

      Bettie lê vandag lusteloos terug op haar kussing, die pop in haar arm.

      “Voel jy sleg, nooi?” vra Wilmari en Bettie knik.

      Tiyika kyk op haar notas. “Sy gaan vandag vir haar eerste chemoterapiebehandeling. Dokter wil sien hoe sy daarop reageer voor hy verder beplan. Daarna sal sy heel waarskynlik die buitepasiëntkliniek besoek totdat die behandeling voltooi is.”

      Wilmari frons. “In Bettie se geval sou ek aanbeveel dat sy vir die laaste paar behandelings weer opgeneem word en in isolasie gehou word tot haar bloedtelling na wense herstel het. Ek sal ’n nota op haar lêer maak.”

      “Dis die koste, dokter,” sê Mabel verleë. “Die mediese fonds is maar moeilik.”

      “Hulle betaal gewoonlik as ons die behandeling behoorlik motiveer,” stel Wilmari haar gerus. “Ek sal dit reël met die dokter wat Bettie behandel. Ons het al ’n paar soortgelyke gevalle in ander hospitale gehad.”

      “Dankie, dokter.” Mabel leun vorentoe en neem Bettie se handjie weer in hare.

      Wilmari en Tiyika stap uit in die gang.

      “Wil jy by ouma Tara Strydom aangaan?” vra Tiyika en beduie na die enkelkamer langsaan.

      Wilmari knik. “Daar was gister besoekers by haar. Ek sal haar graag wil ontmoet. Die diagnose is lewerkanker, as ek reg onthou?”

      “Ja.” Tiyika maak ’n aantekening in haar notaboek. “Sy is ses en sewentig en het twee jaar gelede ’n beroerte gehad wat haar aan die regterkant verlam gelaat het. Sedertdien woon sy by haar jongste seun. Ek verstaan dat al die kinders bydra tot haar versorging. Die tuisverpleegster wat haar al twee jaar lank oppas, kom elke dag Môreson toe om haar te was en na haar om te sien. Dis ’n baie hegte familie – daar is altyd iemand by haar.”

      Ouma Tara kyk moeg op toe hulle binnekom. Langs die bed sit ’n middeljarige vrou haar hand en vashou. ’n Swart vrou is besig om tandepasta op ’n tandeborsel te sit.

      “Dis dokter Neveling, mevrou Strydom,” sê Tiyika hard. “Sy doen navorsing hier in ons afdeling en wil jou graag ontmoet.”

      Ouma Tara knik. “Dag, dokter.”

      Die woorde kom moeilik en Wilmari moet mooi luister om dit uit te maak. “Het u pyn?” vra sy.

      Ouma Tara skud haar kop.

      Wilmari trek die lêer uit die rakkie aan die onderpunt van die bed om dit te bestudeer. Sy merk dat die dosis morfien, wat deur middel van ’n plakkertjie onder ouma Tara se skouerbeen toegedien word, reeds hoog is.

      “My ma is eintlik net hier vir ’n paar chemoterapiebehandelings,” sê die vrou langs die bed. “Sy het ’n knop in haar skouer ontwikkel en dit hou aan groei en veroorsaak baie pyn. Toe het die spesialis gesê hulle gaan die knop bestraal om die gewas te verklein. Hulle doen nog waarneming, en sal Maandag met die behandeling begin.”

      Wilmari plaas die lêer terug en lê haar hand op ouma Tara se arm. “Daar loop ’n perdestert van senuwees van die nek af deur die skouer,” verduidelik sy vir die dogter. “Dis waarom dit vir jou ma soveel pyn veroorsaak as die knop daarteen druk.”

      Sy glimlag vir ouma Tara, wat haar nou onrustig lê en dophou. “Kan ek u gou ondersoek?” vra sy hard, en die ou vrou knik.

      Wilmari ondersoek haar vlugtig en vra nou en dan ’n vraag, wat deur die dogter of die hulpverpleegster beantwoord word. Dan groet sy vriendelik en beweeg saam met Tiyika na buite.

      “Ons het eintlik die kamer nodig,” sê Tiyika gedemp, “maar die nagsuster het haar uit die saal hierheen geskuif omdat haar dogter nou snags by haar wil slaap.”

      “Wanneer is die diagnose gemaak?” vra Wilmari.

      Tiyika kyk na haar notas. “Drie weke gelede. Volgens die familie is die spesialis se prognose dat haar lewensduur drie tot ses maande kan wees.”

      Wilmari skud haar kop. “Hou haar in die enkelkamer, verpleegster, sodat die familie haar kan besoek. Verwys asseblief enige navrae oor die besluit na my. Ek glo nie dit gaan vir ouma Tara nodig wees om bestraal te word nie. Dis een van die aggressiefste kankers wat ek nog teëgekom het. Hou julle die pyn goed onder beheer?”

      “Ja, dokter. Ons gee ’n morfienstropie by wanneer die plakkertjie nie genoeg is nie,” knik Tiyika.

      “Dis goed.”

      Toe hulle weer by die saalontvangs kom, staan ’n slanke vrou met lang blonde hare vir hulle en wag. Sy groet Tiyika en steek dan haar hand na Wilmari uit.

      “Bly om jou te ontmoet, dokter Neveling. Ek is eintlik hier om jou vir ontbyt by die koffiewinkel te nooi. Ek is Salomien Bruwer, Môreson se bemarkingsbestuurder.”

      “Aangenaam,” glimlag Wilmari toe sy die vrou se hand skud. “Ek het juis vroeg vanoggend toe ek die koffie ruik gedink ek moet daar uitkom. Dit sal heerlik wees.”

      Sy huiwer en kyk na Tiyika. “Net nog een saak, verpleegster: weet jy van enige klagtes oor vreemdelinge wat snags in die parkeerarea ronddwaal?”

      Tiyika en Salomien verwissel ’n vinnige blik en Tiyika lyk meteens bekommerd. “Waarom … vra dokter?”

      “Net

Скачать книгу