Verbode liefde. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Verbode liefde - Malene Breytenbach страница 4

Verbode liefde - Malene Breytenbach

Скачать книгу

Emile. Hy wou so graag saamkom. Hy sal jou mis. Waarom wou jy hom nie saamnooi nie?”

      Marian haal haar skouers ergerlik op. “Ek wil hom nie verder aanmoedig nie. Hy wil net verloof raak en ek is nog nie reg daarvoor nie. Miskien sal ek nooit reg wees daarvoor nie. Ek wil weer vry wees, sonder ’n klewerige aanhangsel.”

      Morag lag vrolik. “Klewerige aanhangsel klink darem baie sleg! Die arme man is dolverlief op jou, seker oor jy so mooi is – en moeilik om vas te pen. Dit maak mans mos mal as ’n vrou hard to get speel.”

      “Ek spéél nie hard to get nie. Ek is werklik besig om vir hom te vlug. Vergeet nou eers van Emile en kyk na die verruklike uitsig. Daar lê ons voorvaderlike tuiste droommooi voor ons.”

      Die jong man wat vir ’n groep Kanadese toeriste as gids optree, begin naby hulle hard praat met ’n swaar Skotse aksent. Marian draai haar kop en luister na hom.

      “Die eiland Mull se kuslyn is vierhonderd en tagtig kilometer lank,” vertel hy. “Dis ’n bergagtige gebied en die hoogste piek is Ben More, wat negehonderd ses en sestig meter hoog is. Mull is ’n natuurliefhebber se droom. Dis nou wel Oktober en somer verander in herfs, maar u sal nog betreklike goeie weer hê. Hier is baie wild en voëls, en in ons waters is daar dolfyne, walvisse, haaie en robbe.

      “Mull se kroonjuweel is die dorp Tobermory, in Gaelies ‘Tobar Mhoire’, wat St Mary’s Well beteken, waarheen ons nou op pad is. Dit sit in ’n amfiteater van heuwels en word die mooiste hawe in westelike Skotland genoem. Dis ook een van die veiligste hawens in die Hebride. Tobermory is geleë op die Aros-skiereiland en is die grootste dorp op Mull. In 1788 is die dorp deur die British Fisheries Society gebou, as ’n beplande nedersetting, en die enigste whiskydistilleerdery op die eiland is daar. Soos julle weet, is whisky moedersmelk vir ons Skotte.”

      Die mense lag gedienstig. Marian geniet sy geesdriftige verteltrant, al ken sy die meeste van die feite.

      “Tobermory se bevolking was eens oor die tien duisend mense, maar weens die Clearances en die aartappelhongersnood wat Skotland en Ierland getref het, het die meeste mense geëmigreer – totdat daar nou meer skape as mense op Mull is. ’n Fabelagtige skip van die Spaanse Armada, die San Juan de Sicilia, is in die baai van Tobermory opgeblaas en het daar gesink. Dit lê nou nog daar op die seebodem, versteek onder sand.

      “Heelwat rolprente is al op Mull geskiet, danksy die skoonheid van ons omgewing. Tobermory se helder geverfde geboue en bote in die hawe vorm ’n pragtige prentjie. Ons het ook verskeie kastele waar rolprente verfilm is. Ek noem ’n paar van die rolprente: Red Isle, Entrapment, Highlander, Eye of the Needle, Kidnapped, I Know Where I’m Going en When Eight Bells Toll. In die omgewing is ook tonele geskiet vir die Harry Potter-films.

      “Kastele soos Duart en Moy is reeds in die Middeleeue gebou. Die vernaamste clans was MacLean, MacLaine, MacKinnon, MacQuarrie en MacDonald. Die clan chiefs het kastele gebou, maar in daardie dae het die gewone mense in klein huisies genoem sjielings gewoon. Hulle was meesal huurboere of pagters.

      “Duart Castle naby Craignure dateer uit die dertiende eeu en is waarskynlik vir die MacDougalls gebou. In die laat veertiende eeu het dit die setel van die Clan MacLean geword. Tydens die sestiende en sewentiende eeu was die MacLeans een van die belangrikste clans in die Westelike Eilande. Die familie is egter in die sewentiende eeu hier weg, want hulle was koningsgesindes wat die Stuarts na die Skotse troon wou terugbring en hulle is gevolglik verdryf. Die Britse regering het die kasteel ’n tyd lank oorgeneem. Daarna was dit ’n ruïne, maar in 1911 is dit gekoop en gerestoureer deur sir Fitzroy Donald MacLean en het dit weer die setel van die clan-hoof geword. Die rolprent Entrapment met Sean Connery (wie se ma terloops ’n MacLean was) en Catherine Zeta Jones is gedeeltelik daar verfilm.

      “ ’n Tweede kasteel op Mull se ooskus is Torosay, die tuiste van die Guthries. Dis eerder ’n negentiende-eeuse herehuis as ’n ware kasteel. Glengorm-kasteel is in die bos noord van Tobermory en is in 1860 gebou vir James Forsyth. Hy was die laird van die Dervaig Clearances – een van dié wat honderde mense uit hulle tuistes verdryf het en hulle huise afgebrand het.

      “Verder noord lê nog ’n MacLean-vesting, naamlik Glenbogan-kasteel, wat oor die Atlantiese Oseaan uitkyk. Van daar af sien mens die eilande Rhum, Uist en Canna. Dié kasteel is in die vroeë agtienhonderds gebou vir sir Roderick MacLean en sy Engelse vrou, die dogter van die Duke of Moreland. Aan dié kant van die eiland is baie lochs, heuwels en woude en die natuurskoon is pragtig. Die MacLeans woon steeds in die kasteel en dis oop vir die publiek. Die huidige laird is ook ’n sir Roderick MacLean, soos die oorspronklike laird wat die kasteel of herehuis laat bou het. Benewens ’n landheer is sir Roderick ook ’n skrywer van historiese romans, en sy broer is die bekende avonturier en reisverhaalskrywer Iain MacLean. Die rolprente wat by Glenbogan verfilm is, is Red Isle en The Spanish Ship, sowel as ’n aantal dokumentêre rolprente oor die clans en die geskiedenis van die Clearances.”

      Morag, wat ook aandagtig gestaan en luister het, stamp aan Marian. “Ek kan nie wag om Glenbogan te sien nie. Dit klink absoluut fassinerend.”

      Marian knik, haar blik op die kleurryke hawe wat hulle nader, maar sy sien Iain MacLean se sterk gesig voor haar geestesoog. Hy moet tans hier wees, want hy neem seker weer aan die Tour of Mull deel. En miskien soek hy nog in hierdie herfs na die Spaanse galjoen die San Felipe de Valencia.

      Die seebries is byna snerpend koud en Marian wikkel haar blou sybokhaarserp stywer om haar nek. Sy het denims, ’n wolgevoerde parka en stewels aan, want sy het verwag om koud te kry. Die koue laat haar wange gloei en sy bibber effens. Die see lyk baie diep, en ysig, maar ’n flou sonnetjie helder alles op. Die lug is tintelend vars soos sjampanje en meeue krys bokant hulle.

      Hulle het gereël om in Tobermory te oornag en hoop om ’n motor te huur waarmee hulle na Glenbogan- kasteel kan gaan. Daar het hulle ’n selfsorg-kothuis vir twee weke gehuur.

      Die veerboot bereik die kaai en almal gaan aan wal. Marian en Morag het net groot rugsakke by hulle en is van die eerstes wat van die boot afstap.

      “Hier staan ons nou waar ons voorouers gestaan het voordat ons oupagrootjie en sy mense weggejaag is van hulle geboorteland,” sê Morag dramaties. “Dis ’n historiese oomblik.”

      “Ja, dit is,” stem Marian saam. Sy kyk met genot na die kleurryke geboue wat rooi, blou en groen geverf is.

      Terwyl almal wag vir hulle bagasie en kwetterend rondkyk, kom ’n groot Bentley stadig oor die kaai aangery, sodat mense moet padgee.

      “Kyk net daar,” merk Morag op. “So ’n motor word seker deur ’n chauffeur bestuur, en agterin sit ’n laird en lady. Wie sou hulle hier kom soek?”

      Die man wat voor uit die motor klim, is nie ’n chauffeur nie. Hy is groot en breedgeskouer en dra ’n tweedbaadjie en ’n kilt. Sy bene is gespierd. Sy trotse kop het donker hare en sy gesig is hoekig. Marian weet sommer hy het blou oë. Sy staan vasgenael.

      “Daardie man dra die MacLean-tartan,” prewel sy.

      “Liewe hemel, dis geen chauffeur daardie nie!” hoor sy Morag uitroep. “Dis ons vriend die skrywer – die verruklike Iain MacLean. ’n Mens sien sommer hy is verhewe bo die gewone sterflinge.”

      Hy stap byna tot by hulle, kyk een keer in hulle rigting en dan weer weg. Daar was geen herkenning in sy oë nie en Marian voel asof sy kan krimp van verleentheid. Hy het dwarsdeur hulle gekyk en hulle nie eens gegroet nie. Hy het hulle skoon vergeet.

      Maar waarom sou Iain MacLean tog vir haar of Morag onthou? besef sy. Hulle is niemand in sy oë nie. Hy het ook geweier om haar destyds te woord

Скачать книгу