Afstande. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Afstande - Dan Sleigh страница 14

Afstande - Dan Sleigh

Скачать книгу

sal hulp nodig hê. Dit lyk of kaptein Agasios dit verstaan en oor die regiment waak.

      Hier in Kelanae het Kuros ’n paleis met ’n park vol wilde diere. Hy nooi die Griekse generaals op ’n jagtog, maar antwoord nie as hulle vra waarom hulle noord trek nie. Hulle probeer sy strategie agterkom. Dit lyk of hy hulle in ’n wye kring agter om Pisidië lei, en hy sal soldy moet gee al veg hulle nie. Van een volmaan tot die volgende hou hy hulle in onkunde by Kelanae gelaer, tot Klearkos daar opdaag na ’n mars van die Swart Kus af, met duisend hoplitai, agthonderd Trasiese peltastai en tweehonderd Kretaanse boogskutters. Hulle skilde is swart, die letter ‘L’ vir Lakonië is in rooi dwarsoor geverf: Sparta!

      Klearkos se koms was ’n dag van belang, onthou Nagri, nie net vir prins Kuros en sy agterdogtige volgelinge in Kelanae nie, maar vir die somber koning ArtaXerxes in veraf Babilon én vir alle Jode wat as slawe in sy land gevange sit. Hy, Nagri, het self Klearkos se geweldige naam genoem aan die geheime leiers van sy mense in slawerny. Gaan Klearkos die Griek die verlosser wees van wie die profete gepraat het, die held wat vir die Jode voorspel is, die strydwa en perde van Israel waarvan geskryf staan in die Boek van Konings? Dan was hulle vryheid op hande. Vir die Vaders in ballingskap was generaal Klearkos se aankoms groot en welkome nuus. Die pionne wat God gaan gebruik in die spel van konings was nou voltallig en gereed op die tafel. In gefluisterde gesprekke het hulle na Klearkos verwys as merkavah. Die woord beteken “strydkar” in Joods. Waar is die merkavah nou, Nagri? Hoe vorder jou merkavah?

      Klearkos is groot, breed en woes bebaard. Wat van sy gesig te sien is, lyk of dit van klonte klei aanmekaar gegooi is. ’n Halwe oor hang soos ’n brak s’n, sy neus is weg, net twee gate sit tussen sy oë. Hy is ’n geweldige soldaat,’n verwerpte, ’n banneling, berug sonder ’n enkele vriend of vertroueling, selfs sy lyfwag en skilddraer word daagliks verwissel. Sy suksesse op die slagveld is ’n getuigskrif vir die Spartaanse opvoeding en sy lewe ’n beeld van die verskrikking wat daaruit spruit. Xenophon weet van sy reputasie van afpersing, roof, ’n slagting in ’n kamer vol gaste.

      Prins Kuros lag nou. Klearkos is sy troefkaart. Hy voel gereed en toegerus vir enigiets wat sy broer teen hom in die veld kan stoot. Hy laat vir die Spartaanse moordenaar blou en rooi baniere hys, tamboere slaan, trompette blaas, en nooi al die offisiere na ’n fees om hom te verwelkom.

      Die nuwelinge kry twee dae om te rus en gereed te maak, en op die derde oggend laat die prins sy huurlinge in die park by Kelanae aantree om elke offisier, onderoffisier en soldaat se naam, rang en plek van herkoms op te skryf. Twaalf Persiese klerke werk die dag lank aan naamlyste, terwyl die soldate onder die bome dobbel en wag op ’n beurt om voor die tafels te staan. Xenophon wens om ’n afskrif van al die lyste vir sy verslag, maar ken nog nie iemand wat die Babiloniese wigskrif in Grieks kan omsit nie. Hy gebruik self die kans om Proxenos se regiment se name in die regimentele joernaal te skryf, die generaal, sy kapteins, sy hoplitai en peltastai, die draers en ander nie-vegtendes, tot ’n totaal van elfhonderd-agt-en-twintig wat Nemesis uitdaag en hulle geluk in die suide gaan soek.

      Na die monstering is daar vir elkeen wildsvleis en soveel wyn hy wil hê, wat in baie gevalle weggedra word om met familielede te deel, maar ’n twis breek in die generaals se tent uit tussen Menon en Klearkos oor watter regiment vóór sal wees. Klearkos daag sy jonger opponent tot ’n geveg tot die dood met messe, die wenner neem die verloorder se regiment. Menon lag hom uit en sê hy sal sy kok stuur, dié werk met messe. Klearkos ruk Menon se goue wynbeker uit sy hand en kap sy oogbank daarmee oop, dat die vel ’n oomblik wit krul en dan donkerpers bloed tap.

      “Kom, kom, kom, poeftertjie,” sê hy en wink Menon nader met die vingers van sy duimlose linkerhand en staan met sy dolk gereed en wag, maar Kuros stap tussen hulle in.

      “Klearkos, jy lei,” sê hy. “Menon, kom na my tent toe.”

      Van Kelanae af trek hulle twee dae noord, verby gehuggies waar dit lyk of daar net ’n hond of ’n hoenderhaan woon, want die landsvolk het voor hulle satrap die heuwels in gevlug met wat hulle kan saamdra of wegjaag. Wat kom soek hy hier, só ver in die vreedsame noorde?

      Daarna trek hulle tussen steil heuwels deur en volg smal klipperige riviere op in valleie waar weerskante honderde appelbome soos wit skuim in blom staan. Aan die einde van dié sappige streek lê die Pottebakkersmark, ’n dorp van vierkantige tente onder die rook van ronde oonde soos byekorwe. In die heuwelhange is wye, persrooi kleigate gegrawe. Hier is die beste Persiese erdegoed te koop, geverf met patrone van blomme en blare in grasgroen, blougroen, baksteenrooi en helderblou op wit soos jy nooit in die vaderland sien nie.

      Maar wat kom maak hulle hier? Die soldate wonder waarom hulle na erdeflesse moet kyk as hulle vir oorlog betaal word. Die rede word geleidelik duidelik, want hulle draai hier oos en trek dae aaneen oor wit, klipperige skuinstes waar duisende dierespoortjies lê soos herders hulle vee die bruin wildernis in jaag, tot hulle op die moerassige Kaistervlakte kom. Sy roete was dus agter om Pisidië; die sogenaamde rebellie en die lang trek noord was alles skyn om die koning se spioene te mislei. So meen die Grieke, en só skryf die amptenaar Xenophon in sy joernaal die dag voor hulle die Kaistervlakte bereik.

      Twee jaar later glimlag Nagri stil oor sy weldoener se destydse naïwiteit. Die Grieke het nie vir koning ArtaXerxes geken nie. Hy is nooit mislei deur die eenvoudige, dom, vals skuiwe van sy enigste broer nie. Hy het presies geweet waar en hoe sterk sy teenstander is. Sy inligting oor die man en sy doelwit was altyd vars en korrek. ArtaXerxes het van Klearkos se aankoms ook geweet, en dit was vir hom van groot belang, maar veel, veel belangriker vir die Jode wat al die eeue lank in sy land in slawerny gehou word.

      Die koningin van Kilikië

      By die moerassige Kaisterrivier lê die leër van donkermaan tot volmaan, oningelig, gefrustreerd, verveeld en gepla deur digte swerms bruin muggies. Dit is ’n ongerieflike kamp, die water is modderig en die trekvee loop snuiwend om die poele, maar wil nie drink nie. Brandhout is onverkrygbaar. Die soldate vloek en kla: Waarom gee die man nie hulle geld nie, jy voer tog jou hond anders volg hy jou nie? Groepies harde manne waag dit om naby Kuros se donkerblou tent om geld te gaan skreeu. Hulle het meer as drie maande lank nog niks gekry nie, die rantsoene wat uitgedeel word, is nie genoeg nie en al het die dorpsmark wyn en lekkergoed, is hulle beurse leeg en die tafels swart van vlieë. As jy daar koop, kan jy op bloederige maagwerk staatmaak.

      Kuros is ontsteld oor die geskreeu en eis dat hulle gestraf word. Behandel hulle net regverdig, sê die generaals, vrye Grieke mag regmatig eis.

      Kuros wag hier op iemand, hoor die soldate. Iemand kom die prins hier besoek. Dit veroorsaak gissing en ’n bietjie afleiding. Net ’n vrou sal hom so lank laat wag. En toe daag ’n geleide ruiters inderdaad op, met ’n dame en bediendes in ’n bedekte reiswa. Die Grieke drom rondom die prosessie saam om te hoor of daar geld vir hulle gekom het.

      Die aand word die generaals na Kuros se tent genooi. Xenophon, wat by die veldtafeltjie sit en skryf het, weet aan die geroep van wagte dat dit middernag is toe Proxenos, rooi geëet en gedrink, oor ’n tenttou val en by die opening inkruip.

      “Sy is mooi, Neef,” sê Proxenos. Hy hou aan die tentpaal vas en breek met bolwange ’n wind op. “Ek het omtrent regoor haar gesit. So ’n armlengte. Kon aan haar raak.”

      “Wie is sy, Proxenos?” Xenophon hou die nuuskierigheid uit sy stem.

      “Haar naam is Epaksatjie.” Proxenos hik en kry met die derde probeerslag die naam gesê. “Epiaksa. Koningin van Kilikië. Kon aan haar vat.”

      “En haar saak met Kuros?”

      “Ons pad loop deur hulle land. Sy is mooi, hoor. Haar man het afkoopgeld gestuur sodat Kuros nie sy land kom plunder en haar saamvat nie, soos hoe-se-naam destyds met daardie Helena. Ken jy daai storie? Sy

Скачать книгу