Afstande. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Afstande - Dan Sleigh страница 13

Afstande - Dan Sleigh

Скачать книгу

ry langs Xenophon en vra oor sy ervaring uit. Die man stel natuurlik belang in sy bevelvoerder se vriend; word hy ’n wins of ’n las vir die afdeling en die regiment, iemand wat in die pad gaan kom, gedurig beskerm moet word en uit gevare gered moet word? Xenophon antwoord hom in frases, teësinnig: Hoplite, van sy sestiende jaar. Later, met die hulp van sy oom, kaptein in die stadswag tot met die oorgawe aan Sparta.

      “So,” sê Agasios, “jy is bekend met bagasiemuile, kampe in heuwels en berge, swaar en ligte infanterie, ruitery, offisiere se onkunde, Zeus se weer en die kok se humeur. Dit is genoeg. Ons kan iets regkry.”

      Van die lang skofte ry, kry Xenophon skaafplekke aan sy dye. Die Grieke het nooit ’n ruitervolk geword nie, daarvoor is hulle land te bergagtig; nou oorweeg hy om ’n Persiese broek te dra, as hy dit te koop kan kry. Maar dit sal hom dadelik uitsonder as ’n sagte man. Waar dit moontlik is, lei hy sy perd of knoop hom aan ’n wa se reling en loop saam met die voetvolk. Húlle tel elke stok hout op vir wagvure en kookvure. Hy ken die gewoonte, tel ook hout op en dra dit saam. Proxenos frons daaroor: Die offisiersklas dra nie hout nie; jy verneder jou voor slawe, en wat meer is, hy verkies dat vriende by hom bly vir geselskap en advies. Daarvoor het hy aan Xenophon twee perde gegee.

      Na die winter is die veld vol water en vars jong weiding, en daar is blomme in die gras langs die pad, en voëls sing, maar Xenophon noem dit nooit nie. Hy skryf sy joernaal strak en saaklik soos Tukidides s’n oor die oorlog in die vaderland, sodat komende geslagte sal weet waarom, wanneer en waar dit gebeur het, hoe dit verloop het, wie die generaals daarvóór was en wie die politici daaragter. Tukidides noem net wat die marsorde en vordering aangaan, geen blomme en voëltjies nie.

      Die opmars

      Wat sou koning ArtaXerxes doen aan hierdie Xenophon wat sy land kom verken? Hy sou die spioen se oë uitsteek, die kwaaddoener se hande afkap, die verklikker sy tong laat behou om van die koning se genade te getuig, en hom laat gaan. Vir hóm, Nagri die droster en verraaier, wag die rooster, die brandoond, of om afgeslag en gesout te word. Hy moet ernstig waak teen oordaad in sy teks, die Vaders het hom vermaan om oor sy heilige opdrag te skryf asof hy eendag tussen die profete gereken sal word. Die Verlosser moet ook sien die sending het nie in ’n digter se droom gebeur nie, soos ongelowiges sê van die profete Esegiël en Daniël: “Daardie twee eunugs het te veel papawersap gedrink.” Miskien was dit wel so, om hulle geweldige pyn en bloeiende letsels aan liggaam en gees te vergeet. Hy sal sy boek noem Die Boek van Afstande. Die onderdele daarvan is verbonde, soos ’n landmeter se ketting is alles een.

      Nagri vind dele van Xenophon se joernaal traag, selfs vervelig. Naamlose soldate se daaglikse trek van rusplek tot rusplek, soos miere belaai en bewapen en met geen ander gedagte nie as om die man voor hom te volg, dag na dag, tree na tree, myl na myl, lyk eers vir hom van weinig belang. Is dit nie genoeg om te sê hulle het marsjeer van Sardis tot by Kunaxa nie? Veel later het hy Xenophon se bewustheid van afstande begryp, van myle gekoop met sweet, steiltes, sweepslae, en die belang daarvan vir God se eie soldaat.

      Die prins trek eers suidoos, vermy die barre heuwels en soek roetes waar hy lang skofte op groen gelyktes kan aflê. Na drie dae rus hulle waar ’n brug oor sewe bote gebou is, op die Persiese manier. Hulle diere wei daar by die Meander-rivier wat sestig tree breed, enkeldiep en traag heen en weer deur kort, harde gras kronkel. Kuros het self die brug laat maak.

      Xenophon teken besonderhede aan ingeval iemand die inligting nodig het: Hoe loop die koninklike hoofweg, hoe ver is elke skof, hoe lyk die terrein waaroor dit gaan, waar is rivierbote, brûe, driwwe, passe, verskansings op hoogtes, soutlekke vir die vee? Waar is skoon, drinkbare water, hoe breed word die Meander in die reënseisoen? Waar is weiding en fonteine, waarmee boer mense in hierdie streek, wat lewer elke distrik in elke seisoen vir voetsoldate om te eet?

      Van die Meander af bring een lang dagmars suidoos hulle by die sierlike wit stad Kolossae tussen los en lae heuwels op ’n boomlose vlakte. Die stad is ommuur, met torings op die hoeke, agter die muur is geboue van twee en drie verdiepings, gepleister en geverf. Die stadsvaders wag die prins met sout en brood in, hy is hulle eie satrap, maar hulle staan verward oor sy Griekse huurlinge. Waar gaan hy met die leër heen? Waarom vertoef hy hier? Geen antwoorde nie.

      Op die vyfde dag na hulle aankoms word ’n trompet op die muur bo die stadspoort geblaas: Die stofbank in die noorde is waarskynlik dié van voetvolk, en in die namiddag verskyn generaal Menon van Tessalië uit die heuwels met ’n duisend hoplitai en vyfhonderd peltastai. Hy is ’n vriend van prins Kuros, en het ’n swaai aan sy heupe en ’n houding asof hy en sy goed belangriker as ander is. Sy regiment moet van die eerste dag af vóór die Grieke marsjeer, en al praat die generaals daarteen, laat die prins dit toe. Hulle steek nie hulle ontevredenheid weg nie. “Ons sal sien wanneer Klearkos kom,” sê hulle.

      Kuros gee ’n nuwe rigting en hulle draai noordoos na Kelanae, waar sjah Xerxes tagtig jaar gelede tweemiljoen man gemonster het vir die opmars teen Athene. Hulle het die omgewing se bome almal afgekap en sy riviere daagliks droog gedrink.

      Xenophon ondersoek die jong stad van songebakte stene, gebore uit moderne oorlog en outydse fabels. By die groot rots waaruit die waterval van Marsyas vloei, het die prins ’n paleis en ’n vesting, deur sy vader gebou. Dit is ’n rots soos ’n kasteel, die fontein wat klinkend daarteen afstort, is genoem na die satir wie se vel Apollo afgeslag en in die vlak grot agter die waterval gehang het. Die vel word daar vertoon; dit lyk vir hom na ’n stuk motgevrete hondevel.

      Aan ’n roering, ’n onreëlmatige rimpeling in sy perd se maanhaar bo-op die skouerknop wanneer sy loop, sien Xenophon dat sy las het van ’n voorbeen. Hy lei haar na die hoefsmid toe. Die man voel die hele been van bo tot onder en kry ’n gevoeligheid en swelling langs die knie. “ ’n Spier,” sê hy. “Smeer dit môre en aand in met warm terpentyn.” Maar Proxenos sê: “Moenie vir jou verneder nie, Neef. Ek stuur ’n soldaat om dit te doen.” Maar hy behandel self sy perd. Kan die soldaat nie vir iets dringenders of nuttigers gebruik word nie? Kan hulle albei nie met rus gelaat word nie?

      Xenophon dwaal alleen. Hy is bekommerd oor ’n afwesigheid van broederskap in die regiment, asof Proxenos dink dit is genoeg as ’n generaal algemene bevele aan sy kapteins gee, goeie werk prys en lof van slegtes weerhou – niks meer word van hom verlang nie. Sy neef is van goeie oordeel en dapper genoeg, maar skeep die harde kern van veterane af wat die hart van sy offisierskorps en die gees van elke afdeling van sy regiment is. Hulle dra hom in die hart, maar hy dra hulle nie. Hy eet nooit saam met hulle nie, gee nie spesiale aandag aan hulle nie, erken nie individue deur sekere voorregte of ’n persoonlike woord nie, gee nie geskenke aan sy oudstes en voorstes nie. Hy kyk nie hoe hy die gewone man se lewe effens makliker en minder gevaarlik kan maak nie, hy ken nie eens almal se name nie. Dit is asof ’n leërkamp nie sy neef se natuurlike tuiste is nie, asof hy te beskaaf is vir voetsoldate, en sy slegstes dit weet en misbruik. Die gevolg is dat dit lyk of sommige dink hulle bewys hom ’n guns as hulle ’n bevel uitvoer.

      Daar is die geval van ’n soldaat met emmers aan ’n juk. Proxenos vra: “Gaan haal asseblief my perd by die smid, en bring hom hier.”

      Xenophon luister daarna; dit is nie goed genoeg nie. Die bevel moet wees: Gaan haal my perd. Enigiets meer is ’n gesprek.

      “Ek dra die hele dag water, my arms is af,” kla die man.

      Ander hoor en draai om te kyk. Orde in Griekse leërs is streng; oortreders word gerapporteer en voor die vergadering van kapteins geroep, strawwe word die volgende oggend afgelees en uitgevoer. Proxenos beveel, maar die man het elke keer meer as hy te sê. Toe sê die man se kaptein: “Verskoon my, Generaal. Laat ek dit hanteer,” en neem die soldaat agter die offisiere se tent in, slaan hom met die vuis tot hy belangstelling wys om die perd te gaan haal en gee hom daarna gevange aan die wag. Die volgende oggend kry hy ’n openbare loesing met latte deur die twee jongstes uit sy afdeling, een aan elke kant,

Скачать книгу